Effe ligsinnige, lekker dekadente Kersfeesdroom

Ekskuus, maar ek het besluit “somerkersfees” word dalk te hoog aangeslaan. Hierdie jaar droom ek van Kersfees in ‘n ver, vreemde land:

Nie Duitsland waar alles tradisioneel in wit getooi is en elke gesin idillies om ‘n kaggelvuurtjie Stille Nacht sing nie. Ook nie die Amerikaanse weergawe met Jingle Bells en eggnog nie.

Nee, hierdie jaar droom ek van Ysland. Jip. Ysland. Ek hoor sommer die kollektiewe “Wat?! Hoekom?” van almal wat hier lees. Ontspan. Toe ek laas getel het, was meeste van my varkies nog in hulle effe lendelam hokkie.

Maar ek het die lekkerste ding oor Kersfees in Ysland raakgelees, en dit verklaar my vreemde wens: Jólabókaflóőđ (spreek uit Joula-bouka-floth) word vertaal na iets soos “boeke-oorstroming” en is ‘n Kersfeestradisie wat ontstaan het na die Tweede Wêreldoorlog toe dit baie moeilik was om enigiets, behalwe papier, na Ysland in te voer. Boeke was dus die voor-die-handliggende Kersgeskenk. Vandag word die meeste boeke steeds tussen September en Desember gepubliseer – Kerstyd is dus oestyd vir uitgewers, skrywers en boekwurms in Ysland. Boeke oorstroom letterlik die winkelrakke en selfs kruideniers- en drankwinkels verkoop gedurende dié tyd boeke!

In die meeste Ysland-huise koop mense vir mekaar boeke. Sommiges koop ‘n boek vir elke familielid, maar ‘n algemene tradisie is ook dat elkeen ‘n boek bring en dan kies elkeen weer ‘n boek uit die hele versameling.

Maar dis nie al nie …

Volgens Alda Sigmundsdóttir, ‘n Yslandse blogger, is die Kersfees-hoogtepunt vir baie van haar landgenote om sodra hulle hulle nuwe Kersfeesboek ontvang het, snoesig in die bed te klim met sjokolade en die boek te lees. Hou in gedagte dat die temperatuur in Desember tussen -2 en 4 grade wissel, en dat Desember in Ysland net 5 ure daglig bied! Die bed is dus duidelik die beste plek.

Waarvoor kan ek nou méér wens? Drie van my gunsteling-dinge, en dit is boonop tradisie … so mens is eintlik so half verplig om dit te doen!

Vrede, vreugde en snoesige, soete saligheid … dit klink vir my na ‘n hêppie boekwurmkrismis.

Gleoileg jól! Dis Yslands vir “Geseënde Kersfees”.

Advertisements

Oor niksdoen en slim swieties

Ek is nie baie goed met niks doen nie. Moenie ‘n fout maak nie, ek kan vrek-lui wees. Maar dit beteken nie ek hou van NIKS doen nie. Ek wil net graag kies wat ek wil doen, waar ek dit wil doen, en teen watter tempo ek dit wil doen. Om op die bed te lê terwyl die waaier my koel maak, en na mooi musiek te luister, is mos nie niksdoen nie? Om vir ure lank ‘n lekker boek te lees tot ek aan die slaap raak, en dan te slaap as die meeste ander mense wakker is, is ook mos nie niksdoen nie? Of om vir die see of die mooi berge te kyk …

Een van die min dinge waarvan ek net mooi niks gehou het in my skooljuffrou-dae nie, was eksamentoesig. DIT was niksdoen! Op en af en op en af in die gangetjies … en as jy sien ‘n kind sukkel of maak ‘n fout, mag jy nie eers help nie; vir ure aaneen! Ek het aangebied om tuin te maak, karre te was, klasse te vee, vraestelle te merk, as ek net nie hoef toesig te doen nie, maar niemand wou ooit vir my voorstelle val nie. Gelukkig, in die laaste paar jaar, het ek gewalifiseer om amanuensis te doen – ek kon vir kinders met leer-, lees- en skryfprobleme hulle vraestelle voorlees en partykeer selfs vir hulle skryf. Uiteindelik het “toesig” nie meer niksdoen beteken nie. By my nuwe werk kon ek kies of ek wil toesig doen of nie – geen pryse vir wat ek gekies het nie! Nee dankie – ek wil niksdoen in ongekontroleerde omstandighede!

Ek het tydens my Thailand-verblyf begin leer van meditasie – soos my leermeester dit verduidelik het, die kuns om na die spitsverkeer te kan kyk sonder om op een van die voertuie te spring. Net toe te laat dat dinge DEUR my kop gaan sonder om dit toe te laat om IN te gaan. Bewus te wees van myself as deel van my omgewing, eerder as my omgewing as die bepalende faktor. Dit is voorwaar ‘n kuns, en ek het dit nog nie naastenby bemeester nie. Maar ek werk daaraan.

Ek moet nou die anderdag wag vir studente wat eksamen skryf. Alles wat ek in my kantoor kan doen, is gedoen. Nasienwerk op datum. Admin reg. Nie een van my geselsmaats is naby nie. Al die aanlyn-koerante is gelees. Die tydjie wat oor is, is eintlik te kort om iets nuttigs te begin. Ek begin deur my laaie snuffel (daar is net drie) en kom op ‘n pakkie lekkergoed af: ‘n klein boksie Smarties. Eet is mos nie niksdoen nie, het ek dit netnou genoem?

20181116_142132_resized

Ek gooi die veelkleurige sondetjies op my handpalm uit en is verbaas oor die kleure, of eintlik oor die gebrek daaraan. Ek eet dit nie gereeld nie, en die laaste keer dat ek dit wél geëet het, onthou ek, was in die fliek – ek het dit dus net geproe, en nie bekyk nie. Die blink kleure wat ek onthou, is weg, en in die plek daarvan is dowwe, amper vaal, matterige kleure. Ek besef dadelik dat dit hoogs waarskynlik iets te doen het met preserveermiddels, en dat dit seker ‘n goeie ding is. Ek onthou ook die taai, besmeerde handjies van my twee meisiekinders toe hulle klein was en nie kon verstaan dat mens dié lekkertjies net so een-een uit die pakkie moet haal nie. Hierdie “nuwe” kleure gaan dalk minder mors, en minder taai wees.

Nadat ek die eerste lekkertjie se buitelagie afgesuig en die soet binnekant geproe het, besef ek: nee wat, dit proe maar dieselfde. En dit tref my dat hierdie Smarties, net soos hulle naam sê, eintlik ‘n slim les inhou: die buitekant is nie belangrik nie – die blink lagie is regtig maar net oppervlakkig, veroorsaak gewoonlik ‘n gemors, is nie goed vir jou nie en kom so maklik af. Buitendien, of dit nou tyd, ouderdom, swaarkry of afwesigheid van perserveermiddels (of grimering, of botox, of watookal) is wat die blink laat verdof het, dit maak nie saak nie! Dis die hart wat tel.

Verkeerde antwoord!

Deesdae is confetti mos nie meer aanvaarbaar nie, tensy dit bio-afbreekbaar en eko-vriendelik en wat nog alles is. ‘n Paar jaar gelede vra ek dus rond hoe ‘n mens rys kan kleur om dit in die plek van confetti te gebruik. Ek vra onder andere op Facebook. Nou ja. Ek het dosyne voorstelle gekry van goeters waarmee die bruidspaar gegooi, bestrooi en besprinkel kan word – van springmielies tot bossies kruie, blommetjies en sade. Maar my oorspronklike vraag – HOE kleur ek RYS – is tot vandag toe nie op daardie platform beantwoord nie.

Manlief behoort aan ‘n houtwerkersgroep, ook op Facebook. Ons giggel gereeld oor hierdie ding van mense wat nie ‘n vraag kan beantwoord nie. Of altans, nie WIL beantwoord nie. Iemand sal ‘n foto van ‘n kassie plaas, en vra waarmee dit geverf kan word. Onmiddellik gaan die sluise oop – ‘n stortvloed verontwaardigde houtwerkers wat gil dat hout nie geverf moet word nie, onder geen omstandighede nie, hoekom wil jy dit verf, hoe kan jy die hout so sonder respek behandel, skuur dit af, olie dit, vernis dit, verbrand dit liewer … maar nie een wat sê WAARMEE dit geverf kan word nie. My aarde, dis mos my kas, as ek dit wil verf … maar blykbaar is houtwerkers nie soos ek aanmekaar gesit nie. Die vraag verdwyn maar net so tussen al die ongevraagde opinies en bly gewoonlik onbeantwoord.

Vanoggend oor die motor-radio vra ‘n aanbieder aan twee hoog-geleerde ateljeegaste ‘n vraag oor die ideologieë wat die Eerste Wêreldoorlog veroorsaak het. Woerts, glip die eerste Professor in ‘n gesprek oor armoede en ekonomiese ongelykhede in. Die aanbieder, baie diplomaties, probeer die gesprek terug na die onderwerp rangeer deur in leketaal na nasionalisme en fasistiese diktatorskappe te verwys, maar nee … Proffie nommer twee wil ook nie byt nie en haper oor die ouderdomme van die soldate en grense tussen destydse lande. Die stomme omroeper versteek maar haar frustrasie deur ‘n uitnodiging aan luisteraars te rig om in te bel en hulle menings of vrae te gee oor “ideologieë, asseblief, nie omstandighede nie” rondom die oorlog. Teen daardie tyd het ek my bestemming bereik en kon nie verder luister nie, maar ek het ‘n vermoede dat die twee slimkoppe dalk by die snit van die uniforms en die kalibers van die wapens gaan draai het voordat hulle by die onderwerp uitgekom het!

Wanneer het ons die kuns van vrae beantwoord afgeleer? Ek onthou hoe my laerskool-juffrou my geleer het om ‘n begripstoets se vrae te antwoord: as die vraag vra hoekom, dan antwoord jy omdat; as die vraag vra waar dan antwoord jy daar … en so aan. Ek dink ons fokus nie – ons luister nie om te hoor nie, maar eerder om te reageer, en dan is ons reaksie nie so lekker in die kol nie omdat ons die fyner nuanses van die vraag gemis het.

Dalk is ‘n deel van die rede ons huiwering om te erken dat ons nie die antwoord op die vraag ken nie. Ek babbel liewers ‘n irrelevante stortvloed as om te sê dat ek nie alles weet nie, of sê sinlose dinge soos: “Dis ‘n goeie vraag” of “Ek is bly jy vra dit” en omseil dan in elk geval die vraag!

Of dalk is ons almal besig om in robotte te verander – dis hoekom die kassier vanoggend toe ek haar vra hoe dit gaan, met ‘n teenvraag geantwoord het: “Plastic?” Sy het duidelik ook nie die sakvol lapsakke gesien wat ek voor haar neergesit het nie … dalk is sy nie daarvoor geprogrammeer nie.

Foto: http://www.behance.net

Hoe ookal, ek gaan probeer om fyner te luister en raker te antwoord. En al is dit eintlik nie aanvaarbaar om met ‘n teenvraag te antwoord nie, gaan ek as die nood druk, antwoord met: “Ek weet nie – weet jý?”

Wees gewaarsku!

As is verbrande hout, ja. Ek weet. Maar dink net, as daar waarskuwingsbordjies op die lewe se pad was … né?

Slaggate. Hulle is mos nooit op die regte tyd of plek nie. Onverwags. Glad nie net ná die bordjie nie. Altyd net daar waar dit amper onmoontlik is om betyds te stop, uit te draai of om te draai. Maar dink nou net, as daar ‘n bordjie was, net ‘n leidraad wat kon sê “stadig bietjie” of ten minste “haal diep asem, hier kom ‘n gat!” Dan sou die gat nog daar gewees het, maar die slag sou miskien minder fel wees…

Klippe wat val. Of rotse. Of net dinge wat jou uit die bloute tref. Sou dit gehelp het as jy vooraf geweet het dit kan dalk gebeur? Sou jy die plek vermy het waar die mure onverwags verkrummel en jou begrawe? Sou jy wegbly van die mense wat rotse op jou afrol wanneer jy gedink het hulle gaan klippe uit jou pad rol? Eintlik twyfel ek. Ek het al by baie sulke bordjies verbygery, dit gesien, vlugtig opgekyk … en aangery. En hier is ek nog, miskien met ‘n paar blou kolle, maar heel! En slimmer.

Klippies wat spat. Ek is nooit seker of hierdie teken my waarsku teen klippies wat my gaan tref, of klippies wat ek op ander laat spat nie. Wat ek wél weet, is dat dit eintlik ‘n nuttelose teken is, want of ek nou die oorsaak van die klippies is en of dit mý voorruit is wat dit ontgeld, daar is nie veel wat ek kan doen om dit te vermy nie. Net soos ek in my daaglikse doen en late dikwels skade aanrig waarvan ek salig onbewus is, en ook baiekeer vir lang tye in ‘n onooglike merk moet vaskyk wat iemand onwetend, onnadenkend op mý uitkyk gemaak het. Miskien het ek liewer ‘n bordjie nodig wat my waarsku om op die groot, ongeskonde deel van my lewe se voorruit te fokus eerder as op die klein letseltjie wat ek nie wíl miskyk nie, maar ook nie laat regmaak nie, totdat dit ‘n onooglike kraak word wat alles bederf …

Draai af, want vorentoe sal jy nie kan omdraai nie. Ek moet erken dat daar kere was wat ek hierdie teken gesien het, daaroor gedink het, en dan tóg ‘n kans gewaag het. Van die dinge wat die grootste impak in my lewe gehad het, het uit sulke besluite gespruit. Kom ons probeer net nóg ‘n keer … kom ons maak die skuif … wat kan ek verloor deur net aansoek te doen … dalk is nóú die beste tyd … Ons kom almal by daardie oomblikke – soms is afdraai die beste, maar soms is deurdruk beter! Party mense het dit al malligheid genoem, ander het my laf genoem, ‘n kansvatter, selfs dapper (ek vermoed hulle het “simpel” bedoel, maar was diplomaties). Party het net meewarig hulle koppe geskud. Mens moet maar die paadjie ry voor jy sal weet, en ek dink nie ek is die enigste een wat sowaar ‘n onwettige U-draai knap anderkant só ‘n bordjie gemaak het nie. Ek het wel ‘n hele paar skrape, duike en boetekaartjies wat die lewe uitgedeel het om my te herinner aan my onbesonne noue ontkomings, maar ook ‘n medalje of twee en ‘n paar skitterblink trofeë, meestal in die vorm van onvervangbare herinneringe en wonderlike mense wat nie in my lewe sou wees as ek afgedraai of stilgehou het nie.

Die pad is langer as wat ek gedink het. Daar is nog ‘n klompie bordjies. Ek skryf weer. Intussen deel ek sommer ‘n lawwe een, net vir die lekker:

Af met sy kop!

Ná my vorige blog oor die drake wat op antieke kaarte uitgebeeld word, het ek die afgelope week besef hier is régtig drake. Hier. Naby aan ons, tussen ons.

Vuur-drake hardloop deur ons land se lieflike woude, berge en vlaktes en vreet dit op. Mense se lewens, besittings en drome word verswelg. Net soos die ridders in die ou stories teen die drake geveg het, is daar ridders wat die vuur-drake vreesloos konfronteer en baie keer die hoogste prys betaal. Met brandweerwaens, helikopters en vliegtuie storm hulle binne-in die gevaar in, en trotseer dié dinge waarvan nagmerries aanmekaargesit is.

Dwelmdrake blaas hulle stinkende vuur-asems oor ons jongmense uit. Kinders wat nog skoppelmaai moet ry om hoog te wees en net aan suistokkies behoort te suig, krul op sypaadjies rond en hallusineer onder die invloed van dodelike drekmengsels. Ridders in die vorm van paramedici, dokters, polisiemanne, ouers en onderwysers probeer baklei. Maar die drake is baie, en sterk …

Daar is baie drake, groot en klein, maar almal gevaarlik: korrupsiedrake, geweld-drake, werkloosheidsmonsters, haat- en wraakmonsters, resessiegedrogte, misdaadmonsters, negatiwiteitsdrake, eenoog-rassismegoggas, selftwyfelduiwels, selfsugslange … nog baie ander. Gelukkig is daar vir die meeste van hulle ridders wat moedig baklei.

Ek hoop die ridders wen.

Elkeen van ons is ‘n ridder op ons eie, unieke manier. Inderdaad, teen die meeste drake wat my aanval, kan net ek sélf die finale kop-afkap hou toedien.

KnightandDragon

Die geluid van liefde

Ek pas mos hierdie jaar vir liefste Georgie op terwyl sy mensmamma haar drome in Europa rondjaag en vang. Die plesier wat ek uit die klein Pekingese kry, kan moeilik in woorde beskryf word: die manier waarop hy op sy rug omdop as ek afbuk en sê; “Ag kom ek vryf die ou seuntjie net bietjie…” en dan sy snork-snuifies van pure lekkerkry is maar net een van die dinge wat ek ontsettend gaan mis as May-Mari aan die einde van die jaar terugkom.

Middel-Augustus het sy gou-gou kom kuier en visum-admin kom doen. Toe sy Georgie vir dié rukkie kom haal, het sy vir my die mooiste geskenkie gebring: ‘n Balinese “mystic bell”. Nie net is dit ‘n klein kunswerkie nie, maar dit het die mooiste storie! “Storie” is nie eintlik die regte woord nie, want ek dink dit is absoluut waar, maar die mooiste stories is mos gewoonlik waar …

20180804_0931391234804644.jpg

Die klokkie is binne-in ‘n soliede balletjie in ‘n pragtige silwer “hokkie”. Die oorsprong is in Bali, maar dit word ook in Mexiko en ander Maya-kulture gemaak. Die idee is dat ‘n swanger vrou dit aan ‘n langerige ketting dra sodat dit op haar maag rus – behalwe die mamma se stem, gaan die fyn klankie van die klokkie dus die eerste klank wees wat die baba hoor sodra sy gehoor op 20 weke begin funksioneer. Elke keer as die mamma beweeg, gaan die sagte klankie die baba bereik. Die groot voordeel van die klokkie kom eintlik eers ter sprake as die baba gebore is, veral tydens voeding. Die kettinkie waaraan die klokkie is, word nou korter gemaak sodat dit op die borsbeen hang. Elke mamma weet dat voeding (bors- of bottel!) maar baie stresvol kan wees vir mamma en baba. Wanneer die baba nou die klokkie se geluidjie hoor, assosieer hy dit met die veilige tyd wat hy in die baarmoeder deurgebring het, en dit, tesame met die mamma se (hopelik) gerusstellende stem en susbewegings tydens die voeding, sal hom rustig en kalm maak. En, dit weet elke mamma ook, as baba rustig is, is mamma ook rustig!

Party kulture noem die klokkie ‘n “angel caller” of ‘n “harmony ball” – beide name maak baie sin. Meestal word die kunswerkie van ma na kind oorgedra en word dan natuurlik ook ‘n familie-erfstukkie. Dikwels bevat dit ook ‘n edelsteentjie – die verjaardagsteen of ‘n ander steentjie met betekenis.
Daar is ‘n bykomende gelofie / bygelofie / mite dat vir die res van die kind se lewe, as hy sy mamma nodig het, die geluid van die klokkie hom na haar toe sal lei, waar sy ookal is.

Die hele beginsel is vir my fassinerend en roerend – dit maak soveel sin dat positiwiteit reeds van voor geboorte af ‘n invloed kan hê! Ek het nie hiervan geweet toe ek swanger was nie, maar ek het wel baie met my twee babas gepraat voordat hulle gebore is. Ek het ook vir hulle musiek gespeel, en na hulle geboorte ook baie op die kombinasie van my stem en musiek staatgemaak om hulle rustig te maak.

Ek hoop maar net dat hulle noudat hulle groot is, nog steeds deur een of ander mistieke geluidjie na my toe gelei sal word as hulle my nodig kry …

Hier is drake! Bly weg …

‘n Karakter in ‘n boek sê vir iemand: “Here be dragons” toe hulle praat oor ‘n nuwe fase in hulle verhouding. Toe hy vra, verduidelik sy dat die eerste kartograwe op die on-ontdekte dele van kaarte drake geteken het, en dan dié woorde daarby geskryf het.  Natuurlik het ek dadelik gaan kyk of Google vir my prentjies daarvan kan wys.

Die oorspronklike vorm was blykbaar hic sunt dracones en daar is ook sprake van hic sunt leones wat beteken “hier is leeus” – monsters wat vir die destydse mense seker net so vreesaanjaend soos drake was. Die Latynse frase kom skriftelik glo net op die Hunt-Lennox aardbol voor, maar  tekeninge van drake en allerhande monsters is volop op ou kaarte. Hierdie vreemde wêrelde wat op die antieke kaarte só aangedui is, is vandag bekende plekke, soos Australië, Amerika en die Noordpool.

Image result for here be dragons

Die moderne mense is (soos ek) so deur hierdie draak-mites bekoor, dat dit deesdae in baie speletjies en selfs op moderne kaarte gebruik word. Dit is volop in die wêreld van letterkunde, as titels en temas van ‘n menigte werke. Daar is ook ‘n gebruik daarvoor in die rekenaarwêreld, blykbaar wanneer daar gepraat word van rekenaarkodes wat onverstaanbaar is maar wat wel nog werk – dit word dan gebruik om ander programmeerders te waarsku om nie daaraan te probeer verander nie, omdat dit blykbaar grootskaalse chaos tot gevolg sal hê. (Die rekenaarwêreld is vir my ook maar ‘n groot onontdekte see, meestal in elk geval deurspek met chaos!)

In die heerlike internet-swerftog waarop ek deur die fiktiewe karakter gestuur is, ontdek ek dat die ou kaarte eintlik kunswerke was. Ek sien duidelik in my verbeelding hoe die kunstenaar, uitgedos in ‘n pofbroek en valletjieshemp, by lamplig met ‘n versameling swierige vere en glas-inkpotjies sy kaarte sit en teken. Daarna moet dapper seevaarders sy kunswerke gebruik om die oseane op hulle seilbootjies aan te durf – ten spyte van sy prentjie-waarskuwings van slangerige gediertes wat uit die golwe loer!

Die getekende monsters, dink ek, het seker party mense afgeskrik, maar ander is dalk juis daardeur aangespoor. Wat vir een ou ‘n bangmaak-monster is, is mos vir die volgende ou ‘n interessante gedierte wat ondersoek moet word! Dankie tog, want as almal weggeskram het van wat destyds as draakneste uitgebeeld is, was ons wêreldjie vandag dalk baie kleiner!

Die lewe is ook mos maar so: daar is altyd plekke waar ons nog nie was nie, en ons word vertel (soms deur onsself) dat daar monsters wag om ons te verskeur. Ja, daar is selfs mense wat dit as hulle plig beskou om ander te waarsku teen die bose en gevaarlike onbekende waar niks goeds wag nie. En tog, as ons daar kom, is daar nie regtig ‘n vuurspuwende gedrog wat wag om ons op te vreet nie. Dalk iets onbekends, ja – moontlik selfs ‘n paar uitdagings wat trotseer moet word, groot golwe, hoë berge of diep afgronde; miskien selfs ‘n skrikmaakding of twee met skerp tande. Maar ons kan dit nie altyd vermy nie.

Gelukkig is daar mense wat kaarte kan teken – slim mense wat dalk nog nie self daar was nie, maar nietemin weet waarvan hulle praat. Ons moet dan net vertrou dat wat hulle ookal voorspel, skrikwekkend mag wees maar waarskynlik nie dodelik gaan wees nie. Ons moet dan maar diep asemhaal, op die skippie klim, oë toeknyp en die monsters gaan konfronteer! Gewoonlik is dit die moeite werd. In baie gevalle is die draak ‘n dierbare krimpvarkie of ‘n onskadelike verkleurmannetjie … dit is altyd ‘n ontdekking wat  gemaak moet word, ‘n les wat geleer moet word, of ‘n vaardigheid wat aangeleer moet word. En meestal, amper altyd, ‘n lewensmedalje wat wag om gedra te word!