Categories
Uncategorized

Piesang-terapie

My goed is vroegdag al gepak, danksy die getroue hoenderhaan met wie ek van Dag 1 af ‘n liefde-haat verhouding gehad het.  My kamer is blinkskoon en alles teruggeskuif waar ek dit oorspronklik gekry het. Teacher Yod kom my 10 uur haal om my busstasie toe te karwei.

 Buurvroutjie Fei is vroegdag by my. Sy “volunteer” as Chinees-onderwyser in Thailand – China betaal haar salaris, maar sy mag nie binne ‘n jaar teruggaan nie, selfs nie eens vir ‘n vakansie of ‘n familie-krisis nie. Daar is 200 sulke Chinese, wat verlede jaar afstudeer het, in Thailand. China maak seker Chinees is Groot. Sy sit op my matras en kyk hoe ek my laaste goedjies inpak, help my om my rugsak toe te maak en vertel van haar gesin. Ons drink groen tee en eet joghurt – dis al wat in my yskas oor is.

Teacher Yod daag op en Fei bars summier in trane uit. Ek hou darem my pose so effens. Teacher Yod, ook mos fyn gesnaar, snik saam met Fei. Hy laai vinnig my twee stukke bagasie op sy bakkie terwyl ek vir Fei groet en boender my in. Fei waai met altwee hande en daar trek ons – om die draai by die rysland waar die lang swart slang bly.

 Daar is elke uur op die halfuur ‘n bus stad toe. Partykeer is die een laat en die ander vroeg, sodat die skedule eintlik maar net op geluk berus. Dit is nét so onvoorspelbaar watter variasie gaan opdaag: ‘n oranje trok met oop kante, of ‘n oranje bus met oop deure. Wat wel verseker is, is dat dit oranje gaan wees, en kort-kort gaan stop om mense of goeters of mense met goeters op- of af te laai. Nog voor die busstasie sien ons ‘n bus in die pad indraai. Dis 10 oor 10, so die halftien bus is laat, of dalk is die halfelf bus vroeg. Teacher Yod stop, spring uit en swaai arms.  Dis hoe dit werk, ja. Die bus stop. Net daar in die hoofstraat groet ons – teen dié tyd huil hy behoorlik. Ek laai maar self my rugsak in die bus en hy kom agterna met die klein tassie. “Bye-bye, my mom! Good luck! Text me!” ‘n Stywe druk, en weg is ek.

Ek neem gou ‘n foto deur die agterruit van die bus, en toe besef ek – dit is die laaste sien van die dorpie waar ek vyf maande gelede doodbenoud met ‘n trok aangekom het. Akat Amnuay, wat ek mý dorpie begin noem het.

Tóé loop die trane. 

Na omtrent so 20 minute kom skuif die ou vroutjie wat oorkant die gangetjie sit, langs my in. Sy is beslis in haar laat 70’s of dalk selfs ouer, maar sy dra ‘n helderpienk pet met baie blinkers en “New York” op. Sy slaan-slaan saggies op my rug en praat met my. Haar stemtoon sê baie duidelik iets soos, “Toemaar, toemaar, wat dit ookal is, dit is nie so erg nie,” al verstaan ek nie ‘n woord nie. Natuurlik laat dié tipiese Thai-optrede my glad nie ophou huil nie – inteendeel!  Ten einde raad gaan kry sy met ‘n swaar sug haar mandjie by haar sitplek. Sy pluk ‘n piesang uit, skil dit halfpad af en druk dit in my hand. Heeltyd praat sy. Nou kom daar gebare by wat beduie: “Stoppit nou. Eet!”

Ek stop dit. Ek eet my piesang. Help kalium vir koebaai-sê-weemoedigheid? Seker.

Toe ek ewe soet die piesang opgeëet het, en ordentlik in Thai dankie gesê het, gee sy my ‘n vrolike hou op die rug en glimlag breed – net hier en daar ‘n tand. En wat haar woorde sê, weet ek nie, maar haar stem, haar glimlag en haar lyf sê: “ Nou toe, sien jy! Dis glad nie so erg nie! Oor ‘n week is jy by die huis! Smile!”

Toe smile ek.

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

7 replies on “Piesang-terapie”

Leave a comment