Categories
Uncategorized

Hier is drake! Bly weg …

‘n Karakter in ‘n boek sê vir iemand: “Here be dragons” toe hulle praat oor ‘n nuwe fase in hulle verhouding. Toe hy vra, verduidelik sy dat die eerste kartograwe op die on-ontdekte dele van kaarte drake geteken het, en dan dié woorde daarby geskryf het. Natuurlik het ek dadelik gaan kyk of Google vir my prentjies daarvan kan wys.

Die oorspronklike vorm was blykbaar hic sunt dracones en daar is ook sprake van hic sunt leones wat beteken “hier is leeus” – monsters wat vir die destydse mense seker net so vreesaanjaend soos drake was. Die Latynse frase kom skriftelik glo net op die Hunt-Lennox aardbol voor, maar tekeninge van drake en allerhande monsters is volop op ou kaarte. Hierdie vreemde wêrelde wat op die antieke kaarte só aangedui is, is vandag bekende plekke, soos Australië, Amerika en die Noordpool.

Image result for here be dragons

Die moderne mense is (soos ek) so deur hierdie draak-mites bekoor, dat dit deesdae in baie speletjies en selfs op moderne kaarte gebruik word. Dit is volop in die wêreld van letterkunde, as titels en temas van ‘n menigte werke. Daar is ook ‘n gebruik daarvoor in die rekenaarwêreld, blykbaar wanneer daar gepraat word van rekenaarkodes wat onverstaanbaar is maar wat wel nog werk – dit word dan gebruik om ander programmeerders te waarsku om nie daaraan te probeer verander nie, omdat dit blykbaar grootskaalse chaos tot gevolg sal hê. (Die rekenaarwêreld is vir my ook maar ‘n groot onontdekte see, meestal in elk geval deurspek met chaos!)

In die heerlike internet-swerftog waarop ek deur die fiktiewe karakter gestuur is, ontdek ek dat die ou kaarte eintlik kunswerke was. Ek sien duidelik in my verbeelding hoe die kunstenaar, uitgedos in ‘n pofbroek en valletjieshemp, by lamplig met ‘n versameling swierige vere en glas-inkpotjies sy kaarte sit en teken. Daarna moet dapper seevaarders sy kunswerke gebruik om die oseane op hulle seilbootjies aan te durf – ten spyte van sy prentjie-waarskuwings van slangerige gediertes wat uit die golwe loer!

Die getekende monsters, dink ek, het seker party mense afgeskrik, maar ander is dalk juis daardeur aangespoor. Wat vir een ou ‘n bangmaak-monster is, is mos vir die volgende ou ‘n interessante gedierte wat ondersoek moet word! Dankie tog, want as almal weggeskram het van wat destyds as draakneste uitgebeeld is, was ons wêreldjie vandag dalk baie kleiner!

Die lewe is ook mos maar so: daar is altyd plekke waar ons nog nie was nie, en ons word vertel (soms deur onsself) dat daar monsters wag om ons te verskeur. Ja, daar is selfs mense wat dit as hulle plig beskou om ander te waarsku teen die bose en gevaarlike onbekende waar niks goeds wag nie. En tog, as ons daar kom, is daar nie regtig ‘n vuurspuwende gedrog wat wag om ons op te vreet nie. Dalk iets onbekends, ja – moontlik selfs ‘n paar uitdagings wat trotseer moet word, groot golwe, hoë berge of diep afgronde; miskien selfs ‘n skrikmaakding of twee met skerp tande. Maar ons kan dit nie altyd vermy nie.

Gelukkig is daar mense wat kaarte kan teken – slim mense wat dalk nog nie self daar was nie, maar nietemin weet waarvan hulle praat. Ons moet dan net vertrou dat wat hulle ookal voorspel, skrikwekkend mag wees maar waarskynlik nie dodelik gaan wees nie. Ons moet dan maar diep asemhaal, op die skippie klim, oë toeknyp en die monsters gaan konfronteer! Gewoonlik is dit die moeite werd. In baie gevalle is die draak ‘n dierbare krimpvarkie of ‘n onskadelike verkleurmannetjie … dit is altyd ‘n ontdekking wat gemaak moet word, ‘n les wat geleer moet word, of ‘n vaardigheid wat aangeleer moet word. En meestal, amper altyd, ‘n lewensmedalje wat wag om gedra te word!

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

14 replies on “Hier is drake! Bly weg …”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s