Lagtalent

Daar is baie talente tussen ons uitgedeel. Ek is nie altyd so seker dat die verdeling baie regverdig is nie: party mense het baie gekry, ander min.
Ek het vir kinders skoolgehou wat nie net op die sportveld uitgeblink het nie, maar akademies ook sterre was – en dan het hulle nog mooi maniere gehad en gewoonlik was hulle sommer in die koor, die debatspan en net in die algemeen oulik! Meeste van hulle het net sulke oulike grootmense geword, met nog ouliker kinders – tog is daar baie ander kinders wat nie regtig iewers uitgeblink het nie, wat dit selfs nóg verder in die lewe gebring het.

Toe ek op hoërskool was, kon ek die meeste L.O.-periodes misloop deur my musiekjuffrou se arm te draai vir ‘n ekstra les, of deur by haar te gaan sit en teorie-oefeninge doen terwyl sy vir iemand anders klasgee. Partykeer moes ek egter die L.O.-ding doen. Gelukkig het ek ‘n wonderlike L.O.-juffrou gehad wat verstaan het van talente en dergelike geheimenisse. Toe ons eenkeer gimnastiek moes doen en ek regtig nie kans gesien het om oor ‘n hoë kas bollemakiesie te slaan nie, het sy vir my verduidelik wat die verskil tussen talent en vaardigheid is: mens word met ‘n talent gebore, en ‘n vaardigheid kan jy aanleer en inoefen. Ek dink haar punt was eintlik dat ek, as ek haar wou toelaat om my te leer, sou kon oefen om oor daardie houtbesigheid te tuimel. Ek kon haar egter oortuig dat springtalent nié in my are ingebore is nie, en ek is toegelaat om die hoepels en kegels vir haar reg te pak terwyl my anders-gesnaarde maats grasieus deur die lug gevlieg het. (Dit het gehelp dat sy ook my Afrikaans-onnie was en skryf- en redeneertalent seker hoër op haar prioriteitslys was as springtalent!)

Ek het nooit sover gekom om my gimnastiekvaardighede te verbeter nie. Wat ek wél uit daardie situasie geleer het, is dat daar tóg sekere dinge is wat mens kan aanleer – kunsies, truuks wat die lewe ligter maak – ‘n positiewe ingesteldheid is een daarvan. Nee, dis nie om verspot en ligsinnig met die lewe om te gaan nie. Dis ook nie om te ontken dat daar wél situasies is waar hartseer jou verstom en verlam nie. Dit is meer ‘n vermoë om deur die hartseer of die swaar te kan kyk en te besef dat daar wel binne-in daardie donker situasie tog iets ligs is.

Ek lees ‘n siniese opmerking op facebook oor mense wat “swymel” as ‘n lomp meisiekind met ‘n geleende fiets in ‘n rugbypaal vasry. My eerste gedagte is “Siestog!” – nie vir die meisiekind wat geval het, of haar ma wat op ‘n kragwoord betrap word nie, nee – vir die man wat nie die pret daarin kan raaksien nie. Ai tog man – ja, die paal is groot en duidelik, die slag was hard en seer, maar die moedeloosheid van daardie ma, só duidelik hoorbaar in daardie nou-beroemde drie woordjies bly snaaks. Maar net soos Marelize nie die paal kon sien nie, kan party mense nie die humor raaksien nie … en dit is hartseer.

Ek dink daar is sekere talente wat ons miskyk. Veral daardie waarvoor mens nie medaljes kan kry nie, soos die amper-genoemde een hierbo: die talent om dinge te kan geniet! Dit moet ‘n talent wees om in dieselfde wêreld as duisende ander mense te lewe, en tog meer pret daaruit te kry as die ander.

Of uit die teenoorgestelde perspektief gesien – dit moet ‘n gebrek wees om nié in staat te wees om humor raak te sien in ‘n situasie wat vir baie ander mense plesier verskaf nie. Dit moet ‘n gestremdheid wees om nie ‘n skaterlag, of ten minste ‘n giggel of ‘n glimlag te kan uitkry as ‘n klomp ander mense hulle daarin verkneukel nie.

Niks is nét sleg nie – kyk mooi. En as jy nie kan lag daaroor nie, glimlag ten minste deur jou trane.

Advertisements

9 thoughts on “Lagtalent

  1. So raak geskryf, Christa, en ek deel jou siening geheel en al. My lag raak met tye minder, om net maar weer tussen die trane deur te breek. Dis ñ gawe, glo ek, om soos jy ook altyd ñ ligpunt te vind.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s