Categories
Uncategorized

Klikbek-bordjies

My stad is eintlik maar net ‘n groot dorp – ook nie te waffers groot nie. Vier motors voor my by die verkeersirkel beteken ek sit vas in die verkeer. Vanoggend ry ek ‘n paar draaie en sien skielik ‘n hele klomp unieke nommerplate raak. In die enkele kilometers is daar ‘n ADONIS, ‘n HUNK en ‘n NINJA. ‘n Windmakerige rooi motortjie sê ewe kordaat: MYNE.

Nou dink ek só: sou dit nie gerieflik gewees het as mense sulke uitlap-bordjies op hulle voorkoppe of agterstewes kon dra nie? Ek sou dan sommer met die instap geweet het wie is GROOTBEK, RASSIS of BOELIE. Ek sou nie onverhoeds betrap kon word deur ADDER, SKINDERBEK of SKELM nie. Miskien sou ek meer simpatiek kon optree as die plaatjie my kon waarsku dat ek hier met MENSSKU of SENUWEEBOL te doen het!

Ja, goed, ek weet dit is verkeerd om mense te etiketteer. Maar gun my tog maar my verbeeldingsvlug, en as dit sal help, plak maar die bordjies op my ook vas. BOEKWURM kom dadelik by my op. TJANKBALIE. FLIEKVLOOI. AGIE het lekker min letters, daai ene sal nie eens duur wees nie!

Ek dink nou aan die groot groen busse wat ons kleintyd van ons skole na al die verskillende woonbuurte karwei het. Bokant die bestuurder was so ‘n ronde kontrepsie met die verskillende voorstede se name. Hy kon ‘n slingertjie draai en dan het die bus se bestemming in ‘n venstertjie verskyn wat ons dan moes help om in die regte bus te klim. ‘n Soortgelyke slingerding sou dalk kon werk vir mense soos ek, wat sommer ‘n paar maal per dag ‘n ander uithangbord nodig het. Vanoggend het ek nog heel positief en entoesiasties opgestaan, maar so deur die loop van die dag na melankolies en sommer plein lui oorgeslaan. ‘n Gemiddelde werksdag begin dalk met PRODUKTIEF maar netnou-netnou moet die waarskuwing GEFRUSTREERD duidelik vertoon word. Op dae as die selfdissipline yl is, moet MOEILIK of SKUINS BENEUK noodgedwonge wys hoe die wind waai.

‘n Ander moontlikheid is natuurlik die baniere wat agter ligte vliegtuie aangesleep word, gewoonlik om belangrike gebeure uit te basuin. Ek sien in my geestesoog daardie baniere agter mense wapper:  EK DINK NIE VOOR EK PRAAT NIE! (Myne, ja!) MOENIE VANDAG MET MY SUKKEL NIE! Dit sal baie help, nie waar nie? Iets soos WEES VANDAG GEDULDIG MET MY, EK KRY SWAAR kan die lewe vir alle betrokke partye bietjie ligter maak. ‘n Belangrike en nuttige een sou wees EK HET GEEN HUMORSIN NIE!

Die beste nommerplaat vir my sou seker wees: DROMER. Ek weet … maar dit bly lekker.

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

6 replies on “Klikbek-bordjies”

Leave a comment