Daai draaideur

Ek bly naby aan ‘n hospitaal. Ek gaan redelik gereeld soontoe – gelukkig nie omdat ek siek is nie, maar daar is baie gerieflik ‘n klein tak van my bank in die voorportaal en die OTM is lekker veilig om te gebruik. Dis altyd helder verlig, daar is baie parkeerplek, vriendelike sekuriteitswagte is altyd aan diens, en so aan. Daar is net een struikelblok: daai draaideur.

Die hospitaal se ingang is ‘n enorme glas-draaideur: van daardie soort wat self draai, ‘n mens moet net inklim, saamloop en weer uitklim. En dit is nou net daar waar my geaardheid (of liewer, my gejaagdheid) in die pad kom. Sien, die deur draai net-net stadiger as my normale spoed. En moenie dink ek kan die deur ‘n bietjie aanhelp nie! O nee, daar is groot plakkers wat mens verbied om aan die deur te raak – ek sidder om te dink wat sal gebeur as ek dit sou waag: sê nou die deur gaan staan doodstil en ek is binne vasgekeer soos ‘n vis in ‘n akwarium? Of ligte en sirenes gaan af en ‘n gewapende taakmag storm my? Nee wat, ek byt maar op my tande en stap stadiger, handjies ver weg van die glas …

Met my laaste besoek aan die geldmasjien sien ek ‘n kennisgewing wat baie beleefd om verskoning vra vir enige ongerief, maar die OTM gaan binnekort verwyder word. Hulle verwys kliënte ewe hulpvaardig na twee ander nabygeleë masjiene – een by ‘n vulstasie (nie so veilig nie) en een by ‘n groot supermark (nie 24 uur oop nie). Ai tog, dink ek. Ek gaan die masjien mis. En, besef ek, die draaideur!

Ek besef dat ek meer sulke draaideure in my lewe nodig het. Goeters wat in my pad spring en skree: Hokaai! Stadig! Los! Moenie druk nie! Pas jou tempo aan! Hou op hol!

Só ‘n deur op mens se pad is miskien nie altyd gerieflik nie, maar dit is tog nodig dat ons elke nou en dan net ‘n bietjie stadiger beweeg en raaksien dat daar anderkant die glas ander mense is, elkeen met sy eie spook of skaduwee of vrees wat hom jaag. In die hospitaal se geval is dit dalk toetsuitslae wat gehaal moet word, ‘n geliefde wat besoek moet word, ‘n tandartsafspraak, X-strale … hopelik is dit nie altyd negatief nie, baie keer is die uitslae mos goeie nuus, of die besoek is by ‘n nuwe aankomeling. Tog … ‘n bietjie briektrap is meestal goeie medisyne.

Ek sal miskien ‘n ander draaideur moet kry om my te herinner. Dalk moet ek maar net meer gereeld die tuisnywerheid en geskenkwinkeltjie daar in die hospitaal se foyer besoek net om daardie briektrappery te oefen. Of waarskynlik moet ek bloot in my eie kop draaideure, spoedhobbels, verkeersirkels en rooi ligte kry wat sê: Hokaai bietjie!

So iets, dalk?
Advertisements

8 thoughts on “Daai draaideur

  1. Oe-ee, en het ons almal nie daai draaideure nodig nie. Watter mooi beeldspraak gebruik jy hier om so bietjie stadiger te gaan.
    Stop and smell the roses. Besoek maar die geskenkwinkeltjie elke dan en wat ter herinnering van jou, draai die briek so effens aan. XX

    Liked by 2 people

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s