Eendag was daar sewe sussies …

Eintlik was daar eers net drie: Ronel (Meisie), Ansa en Christa. Hulle het nie meer ‘n mamma gehad nie, maar hulle was baie lief vir mekaar, en vir hulle pappa, al kon hy partykeer baie kwaai wees. Die kleinste sussie was net twee, maar die twee groot sussies was al 10 en 12. Hulle wou partykeer by maatjies gaan kuier, maar hulle pappa wou dit nie toelaat as hy nie daardie maatjies se ouers geken het nie. Daar was ook in ‘n ander huis in dieselfde dorp, twee sussies wat nie ‘n pappa gehad het nie: Bren en Elsabé.

Ansa en Bren was saam in die klas, en hulle het groot maats geword. Eendag het Bren vir Ansa genooi om by haar te gaan kuier, en Ansa wou graag gaan. Maar sy het geweet haar pa sou eers Bren se ma moes ontmoet voordat hy dit sou toelaat …

Die troue! 6 Maart 1965 Bren en Elsabé staan by hulle nuwe pappa, Christa staan voor en dan Ansa en Meisie langs Mamma.

Natuurlik! Dit was nie baie lank nie, toe trou die pappa van drie met die mamma van twee. En daar het almal toe sommer ‘n mamma EN ‘n pappa. Die “twee kleintjies”, Elsabé en Christa, het sommer gou maats geword, al was daar ‘n ouderdomsverskil van vyf jaar tussen hulle. Elsabé het baie daarvan gehou om vir die poppe en teddies onder die wasgoed-draad skool te hou, en in die proses het Christa ook sommer geleer tel en skryf. (En baie pak gekry, want Elsabé was nogal ‘n kwaai juffrou, opgedres in Mamma se hoë skoene en blou kamerjas.) Twee pare boude het gereeld saam gebrand: daar was gesteelde kondensmelk betrokke, onwettige fudge-makery, lag in die kerk, luidrugtige spelery op ‘n Sondagmiddag as die grootmense wou slaap …

Die nuwe gesin het in ‘n drie-slaapkamer mynhuisie gebly, in ‘n singel met ‘n voëltjienaam. Daar was net een badkamer, en die vyf sussies moes twee kamers en selfs hangkaste deel. Die groot kinders het met hulle fietse skool toe gery, die kleintjies met die groen bus. Niemand het toe gewonder hoe ‘n gesin met vyf kinders op ‘n myner se salaris regkom nie – aangevul deur die opbrengs van tallose Tupperware “partytjies” waarheen Mamma in haar blou Volla gebrul het. Die stasietrok het dan berge groot bokse kom aflaai wat in plastieksakke moes verdeel word, tot eindelose frustrasie van al die meisiekinders wat natuurlik daarmee moes help. (Die bokse het darem lekker speelgoed geword, en die groter kinders was onverklaarbaar baie flukse huiswerkdoeners sodra daardie trok sy aflewering gedoen het!) Pappa het wel ook ekstra sweiswerk gedoen, maar die kinders het net geweet dat daar altyd genoeg brood en grondboontjiebotter was vir na skool, en elke Sondag heerlike kookkos én poeding!

Almal is redelik gereeld in die kar gelaai vir ‘n heerlike aand by die inryfliek. Op spesiale geleenthede het Pappa en Mamma mooi aangetrek en by die dorp se deftige Italiaanse restaurant gaan uiteet. Eenkeer ‘n jaar is hulle see toe ook nog! Mamma se geel Bernina het die mooiste uitrustings uitgebrom – dit is dikwels bietjie verander wanneer dit van groot sus na kleiner sus aangestuur is. (Destyds se Crimplene was onvernietigbaar en sekerlik nie bio-afbreekbaar nie!) Niemand was ooit honger nie, en almal kon altyd deur ‘n ring getrek word.

Meisie, Pappa, Mamma, Christa, Elsabé, Ansa en Bren iewers by die see in 1966

In 1968 is ‘n sussie gebore, en twee jaar later nóg enetjie. Karen en Sarita was nou die nuwe “twee kleintjies” en almal het help bederf – Christa was oortuig dat Sarita eintlik haar eie, lewende pop was. ‘n Volle sewe sussies – toe Sarita gebore is, was Ronel al op onderwyskollege, maar op een of ander manier het almal altyd oral ingepas: in die huis, in die kar, om die tafel. Met sewe meisiekinders is dit onafwendbaar dat daar kêrels sou bykom, en steeds het almal ingepas – die klavierstoeltjie en kombuis se blou asdrommetjie moes wel ingespan word vir sitplek, maar daar was altyd plek en kos vir almal, vlerkslepers inkluis.

Natuurlik was daar storms ook – in watter huis vlieg sussies mekaar nie in die hare nie? Kan twee gesinne heeltemal soomloos gelas word? Waar is die huis waar die kinders nie stout is en gestraf word nie? Watter tieners klap nie deure nie? Is daar iewers ‘n ma van ‘n huis vol dogters wat nie dreig om die polisie, die welsyn en die dominee te bel nie? Die twee mees gevreesde woorde in die huis was: “Kom verby!” Enige woord met “stief” vooraan was verbode.

Die hele “netbalspan” op Ansa se troue in 1977.

Maar hier is ons nou, meer as 50 jaar later. Pappa en Mamma is kort na mekaar in 1996 en 1997 oorlede. ‘n Simpel motorongeluk in 2007 het vir Ansa gesteel. Maar ons ander ses besef elke dag meer en meer hoe bevoorreg ons was om mekaar te kry, saam groot te word, en saam met die ouer word te kan onthou. Ons doen moeite om by mekaar uit te kom, al bly ons ver van mekaar af, kuier saam tydens “Sussie-naweek”, onthou en lag baie meer as wat ons huil. Mans, kinders, kleinkinders, selfs diere is nou al deel van die familie. Groot en klein gebeure, blydskap, hartseer en bekommernisse word elke dag gedeel op ‘n WhatsApp-groepie (selfs ‘n stoute grappie so nou en dan), en ‘n nuwe handwerkprojek word trots gedeel saam met foto’s van ‘n mooi dingetjie in iemand se tuin, ‘n lekker resep of ‘n oulike kleinkind.

Bloed is dikker as water, ja. Maar ons is die trotse bewys dat “stiefsussie” nie ‘n regte woord is nie en dat sussiebande baie sterker as bloedbande is!

Sussie-naweek 2017
Agter: Christa, Sarita, Elsabé en Karen. Voor: Meisie en Bren
Sussie-naweek 2019: Sarita, Christa, Karen, Bren en Elsabé. (Die MS-gogga wou nie vir Meisie toelaat om dié keer saam te kuier nie.)

Advertisements

7 thoughts on “Eendag was daar sewe sussies …

  1. Wat ‘n voorreg was dit gewees om met daardie ‘grénd’ bruidjie op die groepfoto getroud te kon wees. Groot voorreg gewees om ook deel van al daardie sussies te kon wees.

    Ek sou graag vir ma Sarie ‘n medalje wou gee wat kans gesien het om ‘n kits familie van 3 (plus twee = 5 dogters) in te neem en voor reg te staan. Sy moes waarlik baie lief gewees het vir pa Tom. Dit het nie by daardie 7 geeïndig nie, maar was uiteindelik 7 dogters en 2 skoonsusters (Corrie en Marie) wat deel was van daardie huishouding. Pa Tom het altyd gesê dat hy ‘n “heerlike lyding” onder die vroumense gehad het.

    Vir my was dit heerlik om almal te ken en ‘n pad mee te stap.

    Vir pa Tom sou ek ook graag ‘n lansie wou breek. Hy was my beste vriend en ware pél, al was hy my skoonpa. Wat besonders was, was dat ek nie kon optel dat hy enige onderskeid tussen sy 7 dogters getref het nie. Almal was sy kinders (geen stiefdogters nie).
    Wat verder vir my besonders was, was die pragtige verhouding tussen pa Tom en ma Sarie. Hul liefde vir mekaar was so duidelik sigbaar en ons as kinders kon maar net daarop voortbou.
    Ek het ook ondervind wat dit was om in ‘n ware godvresende huis opgeneem te word.
    Kerk toe gaan was ononderhandelbaar vir stokkiesdraaiers.

    Ek was redelik in my pasoppens vir ma Sarie, maar het ‘n spesiale plekkie vir haar gehad. Sy het 2 dinge teen my gehad, maar ons twee kon dit darem oor ‘n ou ‘fyn-parmfientjie-en-coke’ geniet wanneer ons alleen was (brandewyntjie en coke).
    Sy sou dit teen my gehou het dat ek vir pa Tom leer brandewyn drink het (hy het whisky gedrink) en verder dat ek hom in die aankoop van sy Honda Goldwing ingepraat het en daarmee gehelp het.
    Sy sou my met daardie paar oë ‘n kyk gee.. en sê…André jou bliksem!… maar ons twee het mekaar goed verstaan. Ek mis haar en elke jaar in Augustus(29ste dink ek) dink ek aan haar.
    Saam saam het ek en sy ons eie likeur konkoksie aangemaak (kondensmelk/koffie/ brandewyn of whisky).
    Sy was kwaai, maar ek het haar ‘gelaaik’.
    Ek dink sy het ‘n goeie bydrae gelewer met die opvoeding van die 7 dogters.
    Ansa sou altyd sê, wat sy as jong dogter van die lewe moes weet, het ma Sarie vir haar geleer, en sy het haar geëer vir die sonskyn wat sy teruggebring het in daardie sombere omstandighede na ma Susan se dood, asook die liefde wat sy vir pa Tom gegee het.
    Ma Sarie, ek eer jou daarvoor!

    Vir pa Tom mis ek elke dag.
    Hy was die mees positiewe mens wat ek geken het.
    Sy deur was altyd vir my oop, met raad en daad sonder enige finansiële bystand. Hy het gesê ‘… geld het ek nie, maar vir die res kan jy op my reken.’
    Ons kon alles deel, tot dit wat sy dogters nie eens van hom geweet het nie, tot met diep godsdienstige sake.
    Hy het sy ouderlingsamp so ernstig opgeneem, dat hy selfs by sy predikant wat in sy wyk gewoon het, huisbesoek afgelê het, en seker gemaak het dat alles ook is wel in daardie huishouding.
    Hy sou ook nie skroom om die predikant te spreek indien hy met iets nie saam gestem het in die Sondag se preek nie.
    Sovér ek weet, was hy ook al die jare sondagskool onderwyser wat al 7 sy dogters deur katgeseklas gesit het.
    Voorwaar ‘n merkwaardige skoonpa, vertroueling en beste vriend.
    Dit was ‘n voorreg om deel te kon wees van jul familie.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s