My eie angel steek die seerste!

Ek maak gereeld die oppervlak van die swembad skoon. In die proses het ek al heelparty goggas se lewens gered: kewertjies, snaakse langbeengoeters, bye, selfs vlieë en ‘n paar spinnekoppe. Partykeer is hulle ongelukkig by red verby, maar baie van hulle het al ewe kordaat weggevlieg of -gekruip van die plaveisel waar ek die sif-netgedoente uitskud: bietjie mankoliekig maar beslis lewendig. Nou die dag kry ek ‘n perdeby. Versigtig tiep ek hom uit en hou hom dop. Eintlik lyk hy nog perdfris … maar die chloor het hom seker bedwelm of dalk het hy te veel water gesluk, want al wat hy wil doen, is rondkrul en -krioel: kompleet asof hy homself probeer raaksteek.

Onwillekeurig dink ek aan my eie spesie. Ons kan so hardkoppig daarop fokus om onsself te vernietig, ten spyte van ander se goedbedoelde reddingspogings en selfs teen ons eie beterwete. Hoekom?

Elke dag is die koerante en nuus-webblaaie vol van dié dinge wat hulle weet hulle lesers “geniet” – grusame moorde, gesinsgeweld, ongelukke, grafiese foto’s van slagoffers van elke denkbare gruwel. Gereeld is daar foto’s van mense wat by ‘n roudiens of selfs by ‘n oop graf van hulle dierbares afskeid neem: weerloos hartseer en uitgelewer aan kamera-lense en vreemde oë. Hoekom?

Op sosiale media word sulke “slegte” nuus duisende kere gedeel. Mense wat lankal nie eens meer in Suid-Afrika bly nie, lees slaafs elke berig en deel veral die negatiewes met almal van heinde en verre. Plaaslik is daar talle platforms wat eksklusief berig oor misdaad. Hoekom?

Wat is dit aan ander se smart wat ons so fassineer?

Buite die media, in ons persoonlike kringe, gebeur dieselfde. Maar dis erger, want nou gaan dit oor ons eie einas. Nie net glo ons maklik elke negatiewe storie nie, ons kan gewoonlik ook nie wag om dit te versprei nie. (Baie keer met ‘n verontskuldigende klousule aan die begin ingesluit, soos “Ek wil nie skinder nie …” of “Ek wil nou nie lelik wees nie …”) Stories wat op hoorsê gebaseer is, word ook goedsmoeds aanvaar sonder dat ons noodwendig ons logika inspan en bloot wonder: “Maar SOU so-en-so REGTIG so iets kwytraak? Indien wel, hoekom?” Die vangnet-klousule kom soms weer teen die einde, iets soos “Jy hoef my nie te glo nie … ” of “Besluit maar self…” Maar die gif is dan klaar ingespuit, en in te veel gevalle kring dit tog verder uit. Ons ontneem onsself ook dikwels van die voordeel van ons eie ervaring: klop dit wat ek van iemand hoor, enigsins met wat ek uit eie ondervinding sélf van die persoon weet?

Die groot hartseer is dat wanneer logika (dikwels eers later) inskop, die oorspronklike boodskapper self ook seerkry: vertroue gaan verlore, waardigheid bly in die slag … die gif se uitwerking kan nie omgekeer word nie.

Feit bly staan – anders as die kokkerot wat na ‘n klomp rondomtalies in die mikrogolf ongeskonde wegskarrel, of die langbeenspinnekop wat minus een been aanhou probeer wegkom, is meeste van ons soos die perdeby wat nà ‘n amperse verdrinking steeds die lewensredding-poging afskud en verbete rondkrul: vasbeslote om onsself vol dodelike gif te pomp. Hoekom, hoekom tog?

Advertisements

3 thoughts on “My eie angel steek die seerste!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s