‘n Facebook-sessie saam met Ghandi

Dit was Mahatma Ghandi wat gesê het ‘n mens kan ‘n land se beskawing en moraliteit meet deur na die toestand van die diere in daardie land te kyk. Ek stem saam … mense wat diere en ou mense nie versorg nie, is barbaars. Ongelukkig kry mens hulle in alle lande. Maar dis nie my punt nie. Vandag is ek dankbaar dat Ghandi nie sosiale media beleef het nie, want as hy het, sou hy met sy hande in sy hare (wat hy nie eens gehad het nie) gesit het. Want o genade … as beskawing, moraliteit, intelligensie, ENIGIETS getoets moes word aan wat mense daar aanvang, sou die hele mensdom jammerlik gedop het!

Ek wil nie eers regtig iets sê oor die politiek en godsdiens wat op daardie platforms bedryf word nie – my eie blog-reël is mos dat daardie twee onderwerpe hier verbode is. Maar as ons op soek is na voorbeelde van arrogansie, selfsug, vooroordeel … die lys negatiewe woorde hou net aan … dan is die plasings oor daardie twee onderwerpe die perfekte plek om te begin soek. My pa het my hoeka geleer dat ‘n mens nie in ordentlike geselskap daaroor praat nie.

Ek wil eintlik meer lighartig wees. Ai, ek kan giggel … partykeer sommer hardop lag, vir mense se vrae, en erger nog, die antwoorde. Net vanoggend lees ek dat iemand vra: “Hoe kan ‘n mens jou hare permanent swart hou sonder om dit te kleur?” Ha-lou-hou! Het jy mooi gedink voordat jy dit gevra het? (Of is jy dalk ‘n reïnkarnasie van genoemde Mahatma Ghandi, met ‘n effe beperkte kennis van hare?)

Die anonimiteit van die sosiale media werk mos soos steroïedes – mense raak sterk en slim en kan die vreeslikste goed kwytraak. Hulle vat mekaar kaalvuis aan, en dikwels vergeet hulle dat hulle nie regtig anoniem is nie, al sit hulle veilig tuis of waar ookal. Bekendes in my gemeenskap het al woordgemeen geraak ook dinge soos slaggate, honde wat blaf, stout kinders en al daardie dinge waaroor ons in die goeie ou dae dalk vir mekaar sou knor oor die heining, sonder dat die hele wêreld (letterlik!) daarby betrokke kon raak!

Ek is natuurlik self ook skuldig. Ai, ek kan darem my tyd mors … Ghandi én my pa sou gefrons het oor die ure wat ek verwyl met kyk na video’s oor onbekendes en bekendes se kinders en troeteldiere en kortpaadjies om dinge te doen soos kaste organiseer, tuinmaak, naaldwerk doen, huise bou met afval, skoene maak met plastiekbottels, matte vleg  … en so aan. As ek al daardie ure kon terugkry, sou ek nie eens die kortpaadjies nodig gehad het nie.

Tog … ek hou kontak met Erika, Nicola en Louise in Engeland, kyk lekker na al hulle manewales en sien hoe hulle kinders grootword. Ek weet waarskynlik meer van hulle doen en late as van baie van my ander oud-leerlinge wat net hier in Suid-Afrika bly. Ek gesels met oud-kollegas in Mississippi, Doha en Christchurch, hou kontak met baie oud-leerlinge en skoolmaats orals. Hannelie het nou die dag die Two Oceans gehardloop, Amri het graad gevang, Ruan is as prokureur toegelaat, Ella gaan groot in die Kaap. Wernher rits die wêreld vol rond, Jaco neem die mooiste foto’s, Andrew se kinders het die mooiste diere en hy werk op die interessantste plekke.  En so aan.

Dit is belangriker as  die paar simpel dinge wat ek dalk daar in die kuberruim aanvang, of ander se simpelhede waaroor ek my so verkneukel. 

Jammer, Mahatma … ek lyk maar partykeer so bietjie barbaars. Eintlik is ek vrek beskaafd en baie slim, en ek het ‘n paar superkragte ook nog. Net nou die dag het ek ‘n “Nametest” speletjie via Facebook gespeel wat dit bevestig het …

 

 

Advertisements

3 thoughts on “‘n Facebook-sessie saam met Ghandi

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s