Categories
Uncategorized

Kan die gay boer asseblief ook in vrede ‘n maat soek?

Ek was pas in die hoërskool toe ek in ‘n kategese-klas my nuutverworwe kennis van “letterlik en figuurlik” en van simboliek in letterkunde probeer toepas het. Onbesonne, stout, rebels, sommer voortvarend, dalk bietjie van die duiwel besete – ek weet nie wat die grootmense my alles genoem het nie. Wat ek wél weet, is dat ek tydelik uit die Sondagskoolklas gestuur is om te “besin”.

Ag hemel tog. Dit is amper vyftig jaar later en ek glo stééds nie dat Noag regtig twee van elke dier in ‘n houtskip gejaag het nie. Of dat Jona in die vis se maag oorleef het nie. Dit was die twee dorings in die ouderling se vlees doerietyd. Noag en Jona. Of nee, daardie dorings was in mý vlees. Ek was die doring in die ouderling se vlees. Gelukkig was my pa óók ‘n kategeet, nogal met hoë aansien, en ek dink dit het my bas gered van sensuur of ‘n ander dergelike skande.

Later het ander dinge ook tussen my en die letter-vir-letter en vers-vir-vers interpretasie van die Bybel kom staan. Soos daardie versie wat sê dat die ongehoorsame kind buite die dorp met klippe doodgegooi moet word, terwyl die stoute verlore seun met soveel deernis deur sy pappa terugontvang is. Die twee wou maar net nie vir my saampraat nie. Maar om in die sewentigs groot te word, het my geleer om maar liewer in stilte te wonder. Een ding het ek wél besluit, so in daardie stilligheid: as ek eendag groot is, sal ek hierdie dinge mooi bestudeer en vir myself uitpluis.

Ek het. ‘n Graad in Bybelkunde en Bybelse Argeologie, baie gesprekke, preke, debatte, bietjie lewenswysheid en klomp jare later glo ek nog steeds dat die mooie Bybelstories (wat in baie ander kulture en godsdienste soortgelyke eggo’s het) nie letterlik vertolk kan word nie. Nog véél minder mag die Bybelse voorskrifte en wette letterlik opgeneem word! Ons samelewing sou uitgewis wees (en ek sou destyds ‘n pynlike tienerdood gesterf het) as al die ongehoorsame kinders gestenig moes word, om maar een te noem. Ja, ek het dit vir myself uitgepluis. Ek verstaan dat nie almal dit gedoen het nie, en ek verstaan dat nie almal dit op dieselfde manier gedoen het nie. Dit is reg so. Oortuigings is immers persoonlik.

Maar dorings in die vlees … hulle bly. In dié geval is dit my middeljarige vlees wat sukkel. Ek word moedeloos kwaad, magteloos geïrriteerd en sommer pleinweg de josie in vir mense wat die kerk, die geskiedenis, die Bybel, die tradisie so kan misbruik vir hulle eie kleinlike oordeel.

‘n TV-program waarin loslopende boere lewensmaats soek (op sigself vir my nie ‘n “lekker” beginsel nie, maar beslis en verstaanbaar vermaaklik), word verdoem tot in die buitenste duisternis omdat ‘n gay boer daarop toegelaat word. Mense noem mekaar die verskriklikste goed, belowe helse strawwe, spreek vloeke uit, sien die wegraping op die horison en draai kort duskant moord en doodslag – dit alles is eintlik heel normaal op sosiale media, maar wat in dié geval vir my ekstra bitter smaak, is dat 90% van die oordele uitgespreek word met ‘n Bybelversie daarby.

Nou kyk. Van die héél dierbaarste en liefste mense wat ek ken, is gay. Van die wonderlikste ouers waarmee ek al te doen gekry het, se kinders is gay. Ek het al geblog oor die baie groot stuk deernis en verstaan wat ek het vir hierdie mense. Hulle is ook my mense. Los hulle uit! https://christainthailand.wordpress.com/2017/07/15/daai-donker-kas-2/

So, jammer – of nee, ek is NIE jammer nie – as jy aan hulle vat, vat jy ook aan my. Kry in hemelsnaam jou kop skoon, of as jy dit nie kan doen nie, temper ten minste jou tong!

Die predikant wat doer in die sewentigs moes beslis of ek mag teruggaan Sondagskool toe, en of ek verban moes word, is later jare self “in die amp gestuit” (watter pretensieuse term!) omdat hy van sy vrou geskei is. Sjoe. Ek het nooit eens geweet hoekom hulle geskei is nie – wat ek wel weet, is dat ek vandag sonder om lank te dink aan twee vooraanstaande kerk-ampsdraers kan dink wat in buite-egtelike verhoudings betrokke is of was. En dat ek aan talle, talle gay pare kan dink wat in jare-lange verhoudings is wat vir baie ander ‘n voorbeeld van lojaliteit, getrouheid, onselfsugtigheid en liefde is! Natuurlik weet ek ook van baie jongmense se ontsettende wroeging, en van ouer mense se hartseer en frustrasie oor ‘n hele lewe wat in ‘n kas geleef moes word.

Ek het nie ‘n TV-program, ‘n geskiedenisboek, Bybelversie of ‘n verwysing uit die Koran nodig om my denke te regverdig nie. Ek kén wel ‘n verhaal van ‘n man wat tydens sy kort, 30-jarige aardse lewe onbaatsugtig liefde aan almal uitgedeel het met wie sy pad gekruis het: tollenaars, haweloses, prostitute en ander randfigure inkluis. Is dit só onrealisties om aan te neem dat daar gay mense ook in sy binnekring toegelaat sou word? Dit is opgeteken dat hy wél eenkeer sy humeur in die openbaar gruwelik en indrukwekkend verloor het: toe ampsdraers van ‘n kerk hulle reëls op ‘n selfsugtige en onwaardige manier toegepas het. Ek wonder wat sou sý standpunt gewees het oor ‘n jongmens wat beledigende name toegesnou word omdat hy ‘n maat soek wat by hom pas?

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

7 replies on “Kan die gay boer asseblief ook in vrede ‘n maat soek?”

Weet jy, dis vir my so hartseer dat mense so uitvaar teen hom. Wat hy doen agter toe deure het niks met niemand te doen nie, nog minder sy heil eendag na hierdie lewe. Ek dink dis bleddie dapper en braaf van hom om dit te doen, en ek hoop van harte hy kry die meeste briewe en sommer liefde ook! Ek kyk nie die program nie, maar ek glo almal verdien liefde, ongeag.

Kan nie dink “Christene” gaan so tekere nie.

Liked by 1 person

Leave a comment