Categories
nostalgie

Eet en drink vir onthou en dink

Ek luister na ‘n reisprogram en ‘n man vertel van sy ondervinding met die mense en kos in Portugal. My dierbare oud-kollega en absolute reis-rolmodel, Isabel, deel die mooiste foto’s van kos en speserye en mense in Marokko. Ek lees ‘n artikel raak oor ‘n stryery in koskringe oor die oorsprong van Maleier-kookkuns … en ek besef net weer hoe ‘n groot rol kos in ons kultuur speel.

Toe ek destyds in Thailand moes begin werk soek, het ek verkies om nie in ‘n stad te gaan skoolhou nie, en tot die meeste van my baie jonger kursus-kollegas se verbasing, was ek baie opgewonde om in ‘n “deep rural area” in die noord-oostelike hoek van Thailand geplaas te word. In retrospek moet ek erken dat dit dalk tóg effens onbesonne was! Ek sal nooit vergeet hoe die behoudheid al stywer om my hart getrek het soos die groot bus my al dieper in die nimmereindigende oerwoude ingeneem het, terwyl Engels geleidelik van al die padtekens verdwyn het nie – om nie te praat van die paniek toe ek in die middel van die nag by ‘n verlate busstasie afgelaai is met die naam van ‘n hotel op my selfoon as enigste verwysing na waarheen ek op pad is!

Nadat ek deur twee wild-vreemde Samaritane na die hotel toe geneem is (taxi’s werk nie meer ná middernag op die platteland nie) en daar met ope arms ontvang is, was my volgende smakie van Thai-hartlikheid later die oggend toe die hotel-eienaar aandring; “We drink tea!” omdat dit nog te vroeg was vir my bus (wat toe ‘n trok was!) die oerwoud in. My Thailand-blogs vertel van hierdie hotel-engel, Nillapong, maar vandag dink ek uit ‘n ander hoek aan my ondervindings daar: dat die meeste van my vriendskappe oor iets te ete of te drinke aangeknoop is, en dat die helderste herinneringe op een of ander wyse aan eet of drink gekoppel is.

Ek sal nooit vergeet hoe ek ‘n padda geëet het nie!
Ek het my Chinese buurvrou braaibroodjies leer eet, én haar geleer om dit te sê!

Plat op die grond, knie-aan-knie, op gevlegte grasmatjies is ek in Thai-huisgesinne verwelkom en soos ‘n koningin behandel terwyl ek op hulle heerlike tradisionele kos getrakteer is. Soos ‘n wafferse tiener het ek op warm aande agterop Thai-bromponies of op my eie groen fiets deur die strate van “my dorpie” gezoem en is oral deur inwoners voorgekeer om iets saam te eet of te drink. My huisbaas het gereeld op sy bromponie opgedaag met stapels heerlike vrugte – al kon hy amper niks Engels praat nie, het hy met ‘n breë glimlag en groot gebare beduie dat dit vir my is, want “you like, you like!” Naweke het die baas van die taalskool se man ons met sy rooi 4×4 diep die oerwoud ingeneem om daar te gaan werk – altyd met sakke vol padkos op die agtersitplek, afgesluk met soyamelk en coconut water – een van die min smake wat ek maar net nie kon leer liefkry nie. Die mense in die jungle villages het selde opgedaag sonder armsvol vrugte, groente of kruie. En een van my laaste en kosbaarste herinneringe aan my verblyf daar in die oerwoud is die vroutjie wat my met ‘n piesang getroos het toe ek so bitterlik gehuil het oor my weggaan …

Hierdie kuiers by ons blyplek het dikwels gepaard gegaan met saamsing-sessies ook. Jack (met die kopdoek) was die dorp se musikant.
Ek het daardie vissies help vang!

Hier in my eie huis word die lekkerste kuiers om die eetkamertafel gekuier – voor, tydens en na etes wat uit almal se gunstelinge saamgestel is. Van vroegoggend koffie en beskuit sommer in pajamas bo-op iemand se bed, of in die kombuis, tot laataand warm sjokolade of slaapteetjies … die innigheid en intieme saamwees gaan maar net dikwels gepaard met eet en drink. Dit is nie seisoensgebonde nie: in die winter is lekker dik sop, kerriekos en bredie of warm melkkos in aanvraag, maar daardie warm koffie binne-in die swembad op ‘n somermiddag, melk-ysies of roomys in die somerson bied ook heerlike agtergrond vir onvergeetlike tye. Net soos koffie uit die pienk fles saam met soetkoekies op die strand … dan is ons nog nie eens by prentjie-verjaardagkoeke of die Kersfees-oormaat van kleintyd tot onlangs nie!

Ek sal dit maar moet erken – kos is die kern van my hele herinnering-skat!

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

6 replies on “Eet en drink vir onthou en dink”

Ek is inderdaad geseënd. Ek werk nie voltyds nie. My Chinese leerlinge is nog nie terug skool toe nie, so die tutor-klasse staan nog stil. Ek is wel druk besig met ‘n opleidingsprogram wat ek vir ‘n TEFL-maatskappy skryf. Dit behoort my so drie maande amper voltyds besig te hou. Gelukkig geniet ek dit so, dit voel glad nie soos werk nie!

Like

Ons het vir twee jaar ‘n piepkuiken-buurvroutjie uit Thailand gehad. Anni en sy was dierbaar. Sy is terug land toe en ons verlang steeds, seker ‘n jaar later. Sy sou na twee maande teruggekeer het, maar het net nooit.

En dan is daar die porseleinfyn Danni en haar twaalfjarige dogter Danni wat groter as die tweezervatfyn mammatjie is. Dannie self lyk of sy 9 of tien kan wees.

En dan is daar die meeshoflike Danny wat werk by die miljoenerspenne en -horlosies.

Ons lewe is Thai.

Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s