Categories
Die Lewe

Pasmaats

Ek sien ‘n mode-artikel in ‘n tydskrif waar dinge wat glo goed bymekaar pas, saam groepeer word. Soos swart en wit, rompe en stewels … jy kry die idee. Later snuffel ek op sosiale media en sien hoe mense uitsprake maak oor dinge waarvan hulle duidelik nie kennis het nie, kommentaar lewer op artikels wat hulle ooglopend nie gelees het nie en woorde gebruik wat hulle nie kan spel nie. Die besef tref my: as ons meer gereeld pasmaats gebruik het, sou die wêreld dalk ‘n bietjie beter, makliker, sagter gewees het.

Natuurlik is daar die dinge wat ons almal wéét hoort bymekaar, en ons tref hulle selde een-een aan (in mý huis, in elk geval!) – soos sop en brood, fliek en springmielies, slappap en botter, swem en koffie … maar dan is daar ongelukkig kere wat een pasmaat kaal staan sonder sy maatjie.

Neem nou byvoorbeeld woede en kalmte. Daar behoort ‘n wet te wees wat jou verbied om jou te vererg sonder om diep asem te haal. (Ja, ek praat van en met myself!) In dieselfde kategorie val passie en balans. Dit is sekerlik omdat hulle ook soos ek gedink het, dat die ouer mense so gereeld gebid het vir krag en genade. Daardie twee is pasmaats – sonder genade gaan krag in die meeste gevalle dodelik gevaarlik wees.

Dan is daar drome en harde werk. Walt Disney word dikwels onvolledig aangehaal: dit is nie waar dat ‘n mens alles kan doen waaroor jy kan droom nie – dit verg dekselse harde werk! Ja, die koning van fantasie hét gesê “If you can dream it, you can do it,” (alhoewel hierdie beroemde woorde blykbaar deur Tom Fitzgerald, wat vir Disney gewerk het, gesê is) maar hy het ook gesê: “If you have a dream, turn it into a goal” en “All our dreams can come true if we have the courage to pursue them.” Enige dromer weet dat die skep en bereik van ‘n doelwit, en die moed om dit waar te maak, bitter harde werk is!

‘n Ander paartjie wat tog te dikwels geskei word, is sukses en nederigheid. Ons arme wêreld loop krom onder die las van mense wat sukses behaal het, en toe vergeet het dat hulle dit eerstens nie alleen reggekry het nie, tweedens nie alleen in stand kan hou nie, en derdens op die ou einde nog maar dieselfde mens is as vóór hulle sukses. Ek glo daar het nou name by jou opgekom – party dalk wêreldberoemde figure, en ander dalk mense (of monsters) wat jou lewenspad gekruis het.

Moraliteit en lojaliteit. Ja, hulle rym selfs! Dis goed en wel om ‘n stel morele reëls te hê, en daarsonder sien ons mos hoe die wêreld wreed en lelik raak. Maar pak tog maar die toga en hamer weg waarmee jy so graag oordeel. Wat jý as reg of aanvaarbaar beskou, is nie noodwendig die begin en einde nie. Buitendien het jy nie altyd al die feite nie, en ken jy gewoonlik nie die konteks waarbinne die optrede wat jy so verdoem, gebeur het nie. Temper jou vuur en swael maar ‘n bietjie met deernis, en veral met lojaliteit. Daardie kennis, vriend of familielid wat oor jou selfgemaakte werklikheid se grense getrap het en wat jy toe met een dramatiese swaai van jou toga en een genadelose kap van jou hamer gevonnis het … verdien hy of sy nie iets meer nie?

Deftigheid en opregtheid. O, ek het ‘n DING oor pretensie. Daar is tye, baie tye, wanneer ‘n goeie skeut “kommin” nodig is! Die meeste van die tyd, inderdaad, is dit in my oë beter om net te wees soos jy is, te sê wat jy voel en te doen wat jou binnegoed vir jou sê om te doen. Natuurlik moet jy jou oordeel aan die dag lê en darem nog basiese maniere en goeie smaak aan die dag lê. (Verwys terug na woede en kalmte …) As mense net wil besef dat aangeplakte deftigheid presies dít is: aangeplak! En daai gom steek aan die kante uit. dit maak borrels in die middel en die ergste van alles, dit gaan nie hou nie …

Dit is nou maar eenmaal soos grondboontjiebotter en konfyt, soos kort rokkies en hoë skoene – hulle kan een-een werk, maar saam is hulle beter!

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

3 replies on “Pasmaats”

Christa, g’n wonder ek is dankbaar om jou deel van my leeswêreld te hê nie! Wens net ek kan jou van aangesig tot aangesig ontmoet, want ek is, in goeie Afrikaans, mal oor jou manier van dink.🤗

Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s