Categories
nostalgie

Roomys-rykdom

Ek het grootgeword in die tyd van roomyskarretjies – drie- of vierwiel-fietse met ‘n vierkantige houer voorop. Die roomysverkoper het ‘n klokkie gelui en ons het dan straat toe gehardloop en hom voorgekeer. Ek onthou goed hoe my groter sussies my moes oplig sodat ek binne-in kon kyk na die koue lekkerte en dan my keuse kon maak. Die roomyse wat ons kon bekostig, het 3 of 5 sent gekos. Daar was ook so ‘n dubbele een, met twee stokkies, wat mens kon deel as jy dit versigtig in twee gedeel het met ‘n mes. Daar was sjokolade oor die boonste punt, maar dit was duur … ‘n hele 9 sent.

Toe ek groter was, het mens waentjies gekry wat sulke temerige deuntjies gespeel het, en draairoomyse verkoop het. Dit was te duur vir ons, maar gaandeweg het hulle die ander roomyswaentjies verdring totdat hulle klokkies nooit meer in die strate gehoor is nie. Daar was wel in my hoërskooljare ‘n paartjies wat by die bushalte gestaan het. Dit was in ‘n doodloopstraatjie agter die een hoërskool – al die busse het daar bymekaargekom met kinders wat hulle van al die skole af aangery het, en daar moes ons dan oorklim in die busse wat na die onderskeie woonbuurte toe gery het. Ek het nooit by hulle roomys gekoop nie, omdat ek altyd te bang was ek sal die bus verpas. Of dalk het ek nie geld gehad nie, of ek was dalk net nie lus vir roomys so ná ‘n lang skooldag nie. Miskien het die feit dat ek nie die klokkie al van die vorige straat af gehoor het, my sente in my kouselaai bymekaar gemaak en opgewonde by die hek gewag het nie, die betowering gesteel …

Ek weet dat die roomyse wat vandag in die supermarkte in deftige yskaste lê, seker baie lekkerder is as doerietyd se karretjie-roomys. Dit word waarskynlik in meer higiëniese toestande gemaak, vervoer, en verkoop! Die foeliepapier waarin vandag se roomys toegdraai is, kom maklik af, en klou nie op party plekke vas sodat jou vingers later taai is van sukkel om dit af te kry nie. Tog verlang ek terug na daardie ondervinding: die geluid van die klokkie, die sussies wat mekaar in die huis roep, dan die koue “rokie” wat uit die bek van die roomysman se waentjie in my gesig blaas as hy die dik deksel oopmaak, my sussies se hande om my lyf terwyl ek uitsoek, die trots van my éie geldjies in die vereelte hand van die glimlaggende roomysman neersit, en daarna die oopmaak en eet op die gras voor die huis …

Foto: twinklediaries.com

Wat presies is dit nou eintlik wat my so nostalgies maak? Die roomys? Verlang na my susse? Sommer net kleintyd se rykdom-in-armoede? Ek weet nie. Ek vermoed dit kom saam met die besef, so op dag 126 van hierdie grendeltyd, dat die groot rykdom in die klein dingetjies lê – daardie wat selfs nog minder as 3 sent kos.

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

4 replies on “Roomys-rykdom”

Ek het nét hierdie week ‘n man op ‘n rooi fiets met ‘n Ola roomys kas-ding gesien ry en gewonder of verkoop hy enige iets? Hy moet seker as ek hom raakgesien het? Kom ons hoop iemand kry ook daai kinderlike vreugde, vandag nog!

Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s