Categories
Die Lewe

Moeilike mens

As iemand sê: “Ek wil nou nie moeilik wees nie …” dan weet ons mos – hier kom moeilikheid! Net soos ons dadelik regskuif vir ‘n sappige skinderstorie sodra iemand reken dat hy of sy “nou nie wil skinder nie.” Maar wat presies is dit om moeilik te wees?

Wat is ‘n moeilike mens nou eintlik? As daar dan nou iets soos ‘n moeilike mens is, moet daar mos ook ‘n maklike mens wees – wat is dit? As iemand as ‘n moeilike mens beskryf word, is dit ‘n kompliment of ‘n belediging?

In my ondervinding word die term “moeilike mens” dikwels gebruik as ‘n verskoning vir pleinweg ‘n mislike mens. Iemand wat sommer dwars en befoeterd is, en self nie in staat is om ‘n aanvaarbare verskoning daarvoor uit te dink nie, is baie lief daarvoor om hom- of haarself te beskryf as ‘n moeilike mens. As ek die term dan in reguit, eerlike taal moet probeer vertaal, sou ek dus uitkom by iets soos “vol strooi, sonder geldige rede iesegrimmig, taktloos en onbeskof”.

Maak geen fout nie, ek kry gereeld my eie moeilike oomblikke. Ek raak moeilik, bitter moeilik, oor sekere dinge. Skynheiligheid maak my onmoontlik moeilik. Mense wat hulleself die reg toe-eien om ander te oordeel en dan sommer luidkeels verkondig dat een of ander individu of groep hel toe sal gaan, so asof hulle sélf die sleutels van die hemel hou – ja, hulle maak my verby moeilik. Mens-monsters wat kinders, ou mense en diere verwaarloos … mense wat lieg, en dink die res van die mensdom is te dom om dit agter te kom … mense wat hulle monde uitspoel oor dinge waarvan hulle niks weet nie … mense wat hulle mag misbruik … pretensieuse mense … mense wat nie ekskuus kan sê nie … die lys is lank. Dit maak my moeilik – dan verloor ek my humeur, my selfbeheer, my maniere en blaas stoom af.

Ek erken ruiterlik dat hierdie stoom-afblasery nie ‘n goeie ding is nie. Dis nie bevorderlik vir ‘n beeld as ‘n waardige en voorbeeldige, of selfs net ‘n ordentlike vrou nie. Die woordeskat wat ek soms gebruik in die proses van stoom-afblaas, is nie wat my ouers my geleer het nie, dis nie wat ek my ouers of ander rolmodelle ooit hoor gebruik het nie, dis nie wat ek my kinders doelbewus geleer het nie (maar ons weet mos almal hoe maklik kinders die donkerder skakerings van taal aanleer …) en dis nié ‘n goeie voorbeeld nie. Maar dis ten minste eerlik! En dit hou net vir ‘n kort rukkie aan, dan is dit verby – dit verander darem nie die hele ekke in ‘n “moeilike mens” nie. Of so hoop ek!

Dis darem ook nie asof ek heeldag en aldag loop en stoom afblaas nie. Ek probeer om nie soos ‘n dronk soldaat met ‘n outomatiese geweer oral skote af te skiet en mense om my af te maai nie. Meestal probeer ek gaaf wees, ander help, die aarde oppas, lief wees vir amper almal (ek trek die streep by boelies en korrupte politici) en oopkop wees oor mense wat anders as ek dink, glo en leef.

So … die beste waarvoor ek dan seker kan probeer, is dat mense wat my ken, my nie as ‘n moeilike mens sal beskryf nie. Moeilik om te verstaan, ja, daarmee kan ek nog saamleef; selfs moeilik om van te hou. Maar nie sommer net ongekwalifiseerd moeilik nie. Dan liewer befoeterd, beneuk, kwaai, vol strooi, humeurig, plofbaar – maar verkieslik eerlik!

Dis mos maklik!

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

9 replies on “Moeilike mens”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s