Categories
Die Lewe

Draai net jou kop!

Ons ry met die blommetjies-bus. Heerlik! Geen spanning oor bestuur nie, luukse wegsak-sitplekke, lugverkoeling, ‘n handige gaatjie waar ek my selfoon gelaai kan hou, genoeg beenspasie, selfs ‘n toilet net soos op ‘n vliegtuig … dit kan nie beter nie.

Wanneer ons stilhou, is dit asem-wegslaan mooi, en propvol vars nuwe kennis. Die mooiste blomme, met die lekkerste lekkersê-name: weeskindertjies, blouklokkies, fluweeltjies en spogfluweeltjies, klipbobbejaantjies, jonkmansknoop, lepelblommetjies, rukkeperdjies, varkiesknol, bokkeveldbontrokkies, pietsnotjies … En ek het altyd gedink dit maar net daisies!

Dis belangrik om nie die detail en verskeidenheid mis te kyk nie!

Selfs wanneer die bus ry, hou die lekker nie op nie. Marné, ons gids, vertel die geskiedenis van die omgewing, die name van die berge, wys rotsformasies uit, deel feite oor die Sishen-Saldanha spoorlyn wat kort-kort ons pad kruis, en raak kinderlik opgewonde oor die plate blomme waarby ons verbygaan. Een laatmiddag, op pad terug na ons basis in Vanrynsdorp, sê sy ons moet terugkyk sodat die blomme vir ons kan kyk. Dit roer iets in my binneste: kyk om, sodat die blomme vir jou kan kyk.

As ek vorentoe kyk, sien ek ‘n valerige Karoo-landskap, baie bekend vir ‘n Vrystater wat redelik gereeld die Karoo oorsteek. Regtig niks besonders nie (hoewel die Karoo tog vir my mooi is – die oopheid en grootheid, die altyd-daar horison, die blou lug en wit wolke bekoor my op ‘n vreemde manier.) Maar as ek net so effens uit my gemaklike sitplek wikkel en my kop so bietjie draai om terug te kyk, dan gebeur die wonder.

Iewers naby Garies kyk die dubbel-bittergousblomme vir ons …

Die hele landskap is oortrek met die mooiste kleure, behoorlik ‘n opsomming van alles wat ons daardie dag gesien het: wit, geel, oranje, pers, pienk, selfs blou en rooi! Deur die loop van die dag het die busbestuurder doelbewus die roetes só gekies sodat ons sonder moeite die beste kante van die blomme-rykdom kon sien, maar iewers het daar ‘n punt gekom waar ons moes terugdraai huis toe.

Daardie punt breek mos ook in die lewe aan – die plek waar jy nie meer verder vorentoe kan of wil nie. Dan draai jy maar om, en skielik lyk die vooruitsig maar vaal en onopvallend. Jy het dit tog alles al gesien, en alhoewel dit wel ‘n sekere bekoring inhou, is dit nou nie juis iets om “Wow!” oor te sê nie.

Doen jouself ‘n guns en kyk terug. Doen bietjie hersiening van die beste oomblikke waardeur jy geleef, gesukkel of gejaag het. Party daarvan het jy dalk misgeloop omdat daar ander dinge was wat jou uitkyk versper het. Waarskynlik sal jy na jou asem snak as jy besef dat jy dwarsdeur daardie “wow!”-oomblikke is sonder om regtig te besef hoe besonders dit eintlik was. Lig net jou boude, draai jou kop, en gee die blomme kans om vir jóú te kyk.

Dan, met permissie, gaan jy bly wees dat die Namakwalanders my geleer het wat die Afrikaans vir “wow!” is, en jy sal dit dalk saggies, met ontsag en dankbaarheid, in verwondering saam met my fluister: “Bliksem!”

Né?

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

4 replies on “Draai net jou kop!”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s