Categories
Uncategorized

Uit met ‘n “BÊNG”!

Ons klomp falangs is weke gelede ingelig dat daar op 15 September ‘n “retirement party” gaan wees. Daar is foto’s gewys van ‘n vorige soortgelyke funksie en ons het afgelei dat dit omtrent gelykstaan aan ‘n matriekafskeid in Suid-Afrika. In retrospek … dalk was dit bietjie erger, as mens in ag neem dat dit net deur volwassenes bygewoon is.

Woensdag is ons opgekommandeer vir ‘n dans-oefening. Dit was nogal ‘n uitdaging aangesien ons mos nie die instruksies kan verstaan nie. Maar ons het dapper vasgebyt en danksy die “monkey see, monkey do” beginsel, het ons na ons tweede oefensessie die twee danse onder die knie gehad. Soort van.

Asof die dansery nie genoeg was nie, is ons direk na die oefening in ‘n kar gebondel en na “David’s Bridal Fashion” toe gevat om rokke te huur. Streng instruksies om by wit, blou of grys te hou, is gegee. Gelukkig was David nie daar nie, want in dié bruidsalon wat tweedehandse rokke verhuur, is geen teken van ‘n aanpaskamer nie. My beleefde / benoude navraag oor waar om die armsvol rokke wat die vriendelike winkel-assistent oor my arm gehang het, aan te pas, is met ‘n skaterlag en “anywhere you like!” beantwoord. Ek en my kollegas het maar tussen die rye en rye rokke vir mekaar kywie gehou …

Vrydagoggend het die seremonie begin. Die juffrou wat aftree, is op ‘n groot, versierde dra-stoel tussen rye singende, juigende kinders deurgedra terwyl die res van die onderwysers singend agterna dans op die maat van “I will follow you”. Ek het al baie onderwysers, myself ingesluit, se laaste skooldag beleef, maar só iets het ek nog nooit gesien nie. Die optog het in die groot skoolsaal geëindig. Daar het die juffrou op die verhoog gesit saam met die skool se topbestuur en die kinders het haar met tradisionele Thai-danse en musiek vereer. ‘n Paar onderwysers het toesprake gemaak, en sy het self ook ‘n boodskap gehad vir onnies en kinders. Dit is gevolg deur ‘n baie plegtige seremonie waar wierook en kerse aangesteek is en die goeie geeste gevra is om haar te seën.

Toe begin die geskenke … ek weet nie hoe groot of klein pensioen in Thailand is nie, maar sy gaan beslis nie nodig hê om haar pensioengeldjies op elektriese toebehore of komberse te spandeer nie. (Ek verstaan natuurlik glad nie die logika van komberse nie … in die vyf maande wat ek hier was, het ek nie een keer ‘n kombers nodig gehad nie, en dit was nie eens die warm seisoen nie!) Ek het ook ten minste vier elektriese waaiers gesien, ‘n mikrogolfoond en ‘n hele paar “rice cookers” (min of meer soos ‘n prutpot). Dan ook nog baie kleiner, baie mooi versierde pakkies en koeverte.  Hierdie geskenke-proses is die aand by die formele funksie voortgesit.  Die geskenke is by die aand-funksie baie prominent uitgestal ook – drie massiewe tafels vol! Nogal logies, en interessant, is dat die persoon wat die geskenk gee, se naam groot op die geskenk verskyn – nie die ontvanger nie.

Tropiese Storm Doksuri wat van Viëtnam af oor die noorde van Thailand getrek het, het die aand se funksie vir ons falangs bietjie kompliseer, want die gietende reën het dit nie juis maklik gemaak om met ons fietse by die skool uit te kom nie. Maar wat, ‘n Boer, ‘n Zoeloe en ‘n Chinees maak ‘n plan. Ons het maar ons reënjasse en sambrele benut en ons kantoor by die skool as aantrek-kamer benut. En dit was die moeite werd!

Behalwe vir die skoolsaal wat in ‘n sprokiesland omskep is, was die kos absoluut héérlik … en nie minder nie as sewe verskillende geregte is een na die ander voor ons neergesit! Baie van die kos kon ek nie herken nie, maar (tot groot vermaak van my kollegas) ek probeer mos alles hier ten minste een keer, en alles was regtig baie lekker – van die neute en krapvleisies aan die begin, tot die heerlike vrugte aan die einde.

Iewers tussenin was dit tyd vir die dansery, en ons falangs is ekstra hard toegejuig toe ons ons plekkies tussen ons Thai-kollegas inneem. ‘n Baie mooi video oor die loopbaan en lewe van Teacher Dares wat aftree, is op ‘n groot skerm vertoon, daar was weer toesprake en singery, en op ‘n stadium is ‘n groot bos blomme aan my oorhandig – ek weet nou nog nie of dit was om my welkom te heet of om koebaai te sê nie. Die skoolhoof het wel, toe hy dit vir my gee, gesê: “Welcome to Akatamunuaysuksa School! You happy?” maar dit is presies dieselfde rympie wat hy elke keer sê as hy my sien. Ek is redelik seker dit is sy hele Engelse woordeskat. Buitendien het ek in Juliemaand óók ‘n pragtige ruiker gekry vir welkom sê! (Ek het in Meimaand begin …)

Maar net soos Aspoestertjie se bal, moes ons aand ook tot ‘n einde kom. Die storm het net erger geword, en ons het besef dat ons fietse dalk nie die mas sou opkom as ons te laat vertrek nie. Sopnat gereën het ek so teen tienuur se kant met my groen fiets by my blyplekkie aangekom. En vir die hóéveelste keer die afgelope vyf maande het ek myself afgevra: het dit alles nou net régtig met my gebeur?

Categories
Uncategorized

Die kalkoen, die hond, die swaardvegter en die skoetermeneer

So met die grootword en oudword het ek geleer dat ‘n mens maar die heeltyd op- en afskuif op die voedselkettings van die lewe. Ja, die “pecking order” besigheid is maar ‘n tameletjie … maar my storie is meer tong-in-die-kies as skool- of kantoorpolitiek (dankie tog!).

 By my skool, soos by elke ander skool in Thailand waar ek al was, is ‘n hele klompie honde – almal goed versorg, en baie goed-geaard. Die kinders en honde verstaan mekaar, en ek geniet veral die klein hondjies, waaraan daar nooit ‘n tekort is nie, baie. Op die skoolterrein is ook ‘n hele paar hoenders, aangesien daar baie personeel op die groot terrein bly, en ook eende wat op die dam swem wat ook binne die terrein val. (Ek vermoed daar is ook ander lewende dinge in die lang gras om die dam, maar dit nou dadelik nét daar gelaat!)

 Onlangs het vier kalkoene ook hulle verskyning gemaak: ‘n groot mannetjie en drie wyfies. Ek het hulle gehoor voordat ek hulle gesien het, en aan my Thai-kollega se reaksie op die vreemde geluid, het ek afgelei dat die mense in hierdie dorpie nou nie juis aan kalkoene gewoond is nie. Ek het darem sonder te veel moeite verduidelik dat Turkey ‘n land is, ja, maar ook ‘n dier … en toe die kalkoenmannetjie en sy harem net daarna by ons kantoor verbyskrop, het hy darem verstaan! Maar nou die storie:

 Ek staan op die boonste verdieping en kyk hoe die kinders klasse wissel. Die M1’s (graad 7 in SA) doen dit so speel-speel. ‘n Paar skop ‘n bamboesballetjie rond, maar een seuntjie gewaar die kalkoene onder ‘n boom daar naby. Duidelik gefassineer, gaan hy nader om die vreemde gediertes te beskou. Hy was seker so ‘n meter van hulle af, toe die kalkoenmannetjie besluit nee wat, hy soek nie ‘n mens-mannetjie naby sy wyfies nie. Met ‘n vreeslike gekoeloe-koeloe-koeloe storm hy op die seuntjie af, wat baie vinnig weghol. Maar tipies seunskind, blaas hy nie die aftog nie. Nee, hy gryp net ‘n bamboesswaard (wat hulle in die LO-periodes gebruik vir Thai-gevegskuns) en gaan probeer weer.

 Van my uitkykpunt af sien ek twee goed wat hy nie sien nie: een van die skoolhonde kom nadergedraf, en die kwaai LO-onnie kom aangery op sy bromponie. Toe gebeur alles gelyk. Toe Kalkoen wéér vir  Seunskind storm, dié keer met meer oorgawe want die klein indringer is dan nou bewapen, storm Hond vir Kalkoen. Kalkoen koeloe, Hond blaf, Seunskind skreeu. LO-meneer druk die bromponie se toeter en blaas op sy immer-teenwoordige fluitjie. Balskoppende maatjies skater van die lag! Alles gelyk.  (Die falang op die boonste stoep vou natuurlik dubbel van die lag!)

Die beste kom nog: die hond en kalkoen laat spaander in verskillende rigtings: die lojale kalkoenwyfies lê rieme neer agter hulle meester aan, en die hond … wel, vir hom is dit “mission accomplished” – hy kon die kind van die kalkoen red, maar hy gaan nie die onnie aanvat nie. Ek het my al baie verstom aan hierdie mense se vermoëns op ‘n motorfiets, en hier sien ek toe nog iets wat my mond laat oophang: sonder om eers doodstil te stop, gryp die meneer die klein stouter aan die swaard-arm en toe ek weer sien, het hy hom agterop sy skoeter gelaai. En hy gee vet – kantoor toe!

 Ai, ‘n lekker lag bly darem lekker, maar moenie die lessie mis nie: los die skoolkalkoene UIT!

(En: Thai-kalkoene, net soos die hoenderhane, praat Afrikaans!)

 

Categories
Uncategorized

So wie’s nou wie?

Byskrif: Dít is wat die lewe met ons maak!

Van tyd tot tyd word die harde steeltjies, doppe en merkies waarmee ons die lewe ingekom het, of wat ons later opgedoen het, deur die mes van die Sisteem of partykeer die Gemeenskap (of Gemeente!) af- en uitgesny. Dit is nie noodwendig ‘n slegte sny nie – sommige van daardie harde kolletjies of kneusplekkies maak ons nie juis ‘n groter aanwins vir die ander bestanddele van ons Slaai nie.

 Partykeer is dit nodig dat ons skilletjies heeltemal moet afkom. Ons het nodig om te sien dat onder die skil ons wel nie almal presies dieselfde lyk nie, maar dat die verskille wat oorbly nie werklik so belangrik is nie. Die omhulsels steek buitendien baiekeer ons lekkerste en sappigste deeltjies weg.

 Dan kom die Rasper, die Meule, die Voedselverwerker. Of die Lewe. As dié masjien met sy ongenadige harde kantjies en geniepsige tandjies met ons klaar is, lyk ons anders.

Maar dis nodig, sodat ons tot ons reg kan kom in die mengsel tussen al die ander. Party is soet, ander is krakerig. Daar is dié wat ons asems wegslaan en dié wat ons laat huil. Party is meer pittig as ander. Hier en daar is ‘n surigheidjie ook. Party gee eintlik net kleur, en neem sommer die ander se geur aan. Dikwels gooi die Lewe ons almal saam met nóg ‘n smakie, ‘n olierigheidjie of iets anders net om ons lekker te laat meng of ons ware geur te verbeter.

 As die resep reg is, die verhoudings in proporsie en die eters nie té vol fiemies nie, werk dit uit. As ons net nie elkeen aandring daarop om die botoon te voer nie, eerder op die saamwees fokus, en die bymiddels waarmee ons saamgebind word met grasie aanvaar, is die deurmekaar besigheid eintlik nogal lekker: dié mengelmoes wat die lewe maak!


 Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

 

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

Categories
Uncategorized

Sappalot of slappap?

Ek het gelees dat wanneer mens vir ‘n lang tyd in ‘n ander land gaan bly, jy deur verskillende fases gaan – die eerste is die wittebrood-fase, wanneer jy dink alles van jou nuwe tuiste is wonderlik. Dan, onvermydelik, kom die fase wanneer jy onvergenoegd en negatief raak oor jou gasheer-land.

Nou ja, ek is mos maar aweregs en links van die regering. Ek glo nie ek het juis by bogenoemde program gehou nie. Eerstens het ek nooit gedink ALLES in Thailand is wonderlik nie. Byvoorbeeld hulle belaglik-moeilike alfabet: nee man. As ek dit net kon lees, sou ek dalk al die taal  kon praat! En ek haat dit om nie te kan lees wat op die padtekens en winkelvensters staan nie!

Die natuur is pragtig, maar ek moet sê ek is nie juis betower deur die dierelewe hier in Asië nie: veral nie die soort met skubbe nie. My oorlewings-tegnieke op daardie gebied behels onder andere ontkenning en weiering om die werklikheid aan te spreek; so dit daar gelaat.

Ek het nou net meer as drie weke oor voordat ek huis toe gaan – so as ek onvergenoegd en negatief moet raak, beter dit nou gou gebeur. Ek wonder egter of dit gaan. Inteendeel, al tel ek die slapies af voordat ek weer my man, kinders en ander geliefdes sien, is hier tog ‘n hele paar goedjies wat ek sal mis.

Eerstens, die veiligheid. Ek twyfel of ek by die huis teen skemeraand, of in die donker, op my fiets (ja, ek het ‘n fiets in Suid-Afrika – onder spinnerakke in die tuinhuisie!) sal kan klim en iewers heen ry. Ek gaan beslis nie daar vergeet om my deur te sluit as ek gaan slaap of werk toe gaan nie. Hier los ek my eerste pakkies in my fiets se mandjie terwyl ek my volgende inkopies doen. Ek sit sommer my beursie en selfoon op die rak neer omdat ek albei hande nodig het om die ware te bekyk. Ons kantoor by die skool het nie eens ‘n sleutel nie. Ondenkbaar in Suid-Afrika – eintlik sommer plein onverantwoordelik: mens dóén dit nie!

Dan die vrugte: ai, die vrugte. Ek hoop Adam en Eva het die paradys waardeer. Die oorvloed vrugte hier bly vir my verstommend, en ek kan nie gewoond raak aan die feit dat dit so goedkoop is nie. Dit is ook nie dieselfde as in Suid-Afrika nie. Koejawels, byvoorbeeld, is wit. Waatlemoene is kleiner, omtrent so groot soos groot spanspekke by ons, en heelwat soeter.  Groot piesangs, soos dié waaraan ek gewoond is, is duurder as die klein, soet “kai” piesangs wat in groterige trosse verkoop word. Ek het al druiwe gekoop waarvan die korrels 4cm lank was – ja, ek het dit gemeet – sulke langwerpige korrels, en amper pikswart. Die “dragon fruit” wat wel in SA te kry is, maar peperduur, is hier volop en spotgoedkoop, en ‘n mens kry wittes en pienkes om van te kies.

En dan natuurlik, die pynappels. By die mark is ‘n vrou wat nét pynappels skil. Dit kos 25 Thai baht (bietjie minder as R10) vir ‘n gróót pynappel wat sy teen ‘n verbysterende spoed met ‘n gruwelike groot mes skoonmaak. Die pynappels hier is nie net groter as dié wat ek in SA ken nie; dit het minder skerp stekels op die skil, die skil is groener en die vrug binne-in is geler. En dit is stroop-stroopsoet! Die Thai-woord vir pynappel is “saparot” wat natuurlik “sappalot” uitgespreek word: dit klink sommer soet en sappig!

wp-image--96026326

Hier is ook vrugte wat ek nog nooit in SA gesien of geproe het nie: rambutan (my gunsteling), longkorn, mangosteen, durian en jackfruit. Ek ken nie Afrikaanse name vir hulle nie. Met die uitsondering van die durian en jackfruit wat vir my bietjie vreemd en ryk is, is dit alles heerlik.

wp-image--1146045428
RAMBUTAN buite en binne

Die straatmarkies is natuurlik nog iets wat ek sal mis. In my tuisdorpie kan ek in één straatjie alles koop van ‘n buiteband vir my fiets, tot klere, skoene en onderklere, vars vrugte, rou of gaar eiers, gebraaide hoender, roerbraai groente, gebraaide of gestoomde of “sticky” rys, yskoffie of -tee en roomys – sonder om van my fiets af te klim! Stalletjies word óf saans met seile toegemaak óf dit vorm deel van ‘n motorfiets en word huistoe gery om môre net weer terug te kom!

 Maar nou ja, niks is perfek nie. Ten spyte van al hierdie heerlike kos wat oral te koop is, en mielies wat baie volop is in roerbraai en op die stronk gebraai, is hier nêrens mieliepap of mieliemeel te kry nie. Dit is nogal taai vir ‘n Vrystater, en nie eens my twee SA-kollegas is juis simpatiek nie: een is ‘n Zoeloe en een is ‘n Kapenaar. So, nee, ek gaan my nie aan biltong en skaaptjoppies vergryp as ek tuiskom nie: ek sien in my geestesoog heerlike mieliepap – slap, met botter en suiker …

Categories
Uncategorized

Ek is doodernstig oor my epitaaf *

(*Fênsie woord vir grafskrif)

 Ek hou nogal van lewe, hoor. Meer spesifiek, ek hou vrek baie van mý lewe. (Pun intended.) So, ek dink nie eintlik baie aan my eie dood en begrafnis nie. Begrafnisse is in elk geval ook glad nie my koppie tee nie. (Tel dit? Vir ‘n pun, bedoel ek…)

 Ek het nog nooit juis tyd afgestaan aan beplanning vir my begrafnis nie. Gekgeskeer, ja … soos dat “Great balls of fire” en “Another one bites the dust” gespeel gaan word. En daardie foto’s wat elke jaar van die onderwysers geneem MOES word by my laaste skool – ek het gesê dit is sodat daar altyd ‘n vars enetjie kan wees vir die begrafnisbriefie. Ek dink mens spot maar oor dít waarvoor jy eintlik bang is. Want ons kan stry soos ons wil, ons ken nie doodgaan nie, en mens is bang vir dit wat jy nie ken nie.

 Daar is baie interessanthede rondom die dood en dit wat net daarna gebeur. Boeddhiste glo aan verassing, en ek stem saam: ons mors die aarde genoeg op terwyl ons lewe; ons behoort nie daarná ook nog so baie spasie op te eis nie. Hier in Thailand raak begrafnisse blykbaar soms nogal vrolike geleenthede en drink (nie tee nie, nee!) en dobbelspeletjies met kaarte en domino’s is glo ook gewilde aktiwiteite. Vuurwerke word dikwels geskiet, en my leermeester vertel dat dié geraas is om seker te maak die “spirit” pla nie die familie nie! Wanneer die lyk uit die huis verwyder word, kan dit nie die normale roete volg nie, ook sodat die gees nie weer kan terugkom in die huis in nie. Mense breek dus partykeer ‘n gat in ‘n muur of vloer vir hierdie doel. (Onthou, die meeste Thai huise staan op pilare.) Aangesien dié brekery nie juis prakties is nie, is dit gebruiklik om piesangblare te gebruik om dié laaste paadjie en die trappe te versteek. Ek het dikwels my man belowe dat ek, as sy tweede vrou ‘n nare stiefma is, by hulle sal spook. Gelukkig is my kinders nou al groot, maar ek wil nog die piesangblaar sien wat my sou flous!

 Rondom die meeste Thai tempels is ornamentele strukture waarin die as van belangrike mense bewaar word. Soms is daar foto’s  buite-op en ek het al blomme, wierookstokkies en kerse ook daar gesien, asook water, koeldrank en lekkergoed en selfs briefies en prentjies of ander ornamentjies. Op hierdie “huisies” is gewoonlik ‘n naam en datums om aan te dui wie se laaste rusplekkie dit is.

 Dit bring my by die punt: as ek nou kon of moes kies, wat sou ek wou hê moet op my storie se laaste boekmerkie geskryf staan? Ek kan aan baie dinge dink – soos hoe lief my mense vir my was, hoe oulik, mooi en slim ek was, hoe arm die aarde sonder my is … ai, hier spot ek alweer. Nee wat, ek dink ek sal tevrede wees met iets soos: “Sy het wraggies hard probeer.” En dan kan elkeen wat dit raaksien (en ek hoop sowaar nie baie mense gaan dit gereeld beskou nie!) maar self invul wát dit is wat ek probeer het. Want dis waar. Ek traai, hoor!

 

Foto: askideas.com

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

Categories
Uncategorized

Uitdeel en vat

Die oosterse mense glo mos baie sterk in karma. Ja, “ons” mense ook, maar net wanneer ons iemand verwens. Dan, in plaas van om sommer hardop te wens die ou wat jou te na gekom het se kierangs braai behoorlik, sê ons ewe polities korrek en filosofies: “Toemaar, Karma (asof dit ‘n kwaai vrou of ‘n goeie atleet is) sal hom/haar inhaal!” Ja, né? Dankie, Karma, dat jy my vuilwerk vir my doen!

Ek het vir die eerste vytien jaar van my loopbaan vir boerkinders skoolgehou. Toegegee, nie almal se ouers het geboer nie, maar dit was ‘n boerderygemeenskap. Alles het om boerdery gedraai. Ja, dit was boeremense daai . Taf. Maar met die sagste harte.  Hulle het meer gegee as ontvang, en ek is vir altyd dankbaar dat ek daar kon leer van skoolhou, van kinders, van grootmense en van bid – vir reën en sommer vir alles. ‘n Nuwe seun (destyds in standerd 9), wat van ‘n groot plek af gekom het, vra  een oggend na saal-opening: “Juffrou, julle moet bietjie vir my sê as dit nou genoeg gereën het, hoor.” Ewe verbaas wou ek weet hoekom dan? “Nee, ek wil net weet wanneer kan ek bietjie ophou bid vir reën!” Die kinders het hom baie daaroor gespot, maar dalk was hy baie wys – ons moet weet wanneer ons nou genoeg ontvang het: wanneer ons bid, en wanneer ons net besig is om te lewe! En dan moet ons bietjie uitdeel – goeters, gedagtes, omgee, alles!

Die volgende tien jaar was ek by ‘n tegniese skool. Die seunskinders daar was ook van die tawwe soort, en net soos die plaaskinders oor wie ek vir lank lang trane gehuil  het, het hulle geglo: “As jy dit kan uitdeel, moet jy dit kan vat.” Dié filosofie het nogal baie gehelp met die algemene orde en dissipline in die skool. Maar dit was voor die dae van … wat? Toe orde en dissipline nog regtig belangrik was. Soos Laurika sing: dit was die goeie ou dae!

Ek het my amptelike loopbaan by ‘n “gewone” skool afgesluit. (Is daar so iets?) Dié keer is ek terug na my “roots” toe en het vir mynkinders, soos ek was, skoolgehou. Nie almal se ouers was myners nie, maar dit was ‘n myngemeenskap. Taf.

En nou is ek in Thailand, diep in die platteland by ‘n skool met meer as 2000 kinders. Die meeste se ouers het klein besighede of is bestaansboere. Hier en daar is ‘n paar wat meer welaf is. Nie almal is ryk nie, nie almal is slim nie. Maar dierbaar. En ja, jy raai reg. Taf. Om hier tussen die ryslande, slange en permanente hittegolwe te oorleef, móét jy taf wees.

Ons verskil almal, maar op die ou einde is ons maar almal dieselfde, en moet ons kan vat wat die lewe uitdeel. Dalk meer belangrik, ons moet kan uitdeel wanneer dit nodig is. As ons tog net kon sien waar en wanneer dit nodig is, sou arme ou Karma darem baie meer tyd gehad het om te ontspan!

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.

Categories
Uncategorized

Sopnat, doodbenoud… maar rooibek!

Net my lipstiek het bly sit. En dis net omdat dit daai duur soort is wat praat- en soen- en eet- en reënproef is. Nie dat ek hier in Thailand soene kry nie, maar ek praat en eet lekker! Maar reën … ai tog. Ek kry amper seer dat my Vrystaat-tong dit sê, maar regtig. Genoeg is nou genoeg.

Ek het vanoggend soos baie ander oggende my helder-oranje reënjas aangetrek (of eintlik óórgetrek want dit is so ‘n mantel-gedoente wat bo-oor my én my rugsak pas!) en die pad skool toe op my groen fiets aangevat. 

Toe ek die eerste draai by die rysland vat – daar waar ek gewoonlik onwillekeurig my voete so bietjie oplig want dis net daar waar ek vir die langste slang wat ek nog ooit in lewende lywe gesien het, moes wag om die pad oor te steek – toe sien ek: hei, hierdie pad lyk nie soos altyd nie!

Die pad was lanklaas droog, en ons weet al om tussen die modderplasse deur te vleg. Na die vloed het dit nog nooit regtig heeltemal droog geword nie. Maar vanoggend, na die hele nag se harde reën, was dit nét water. Selfs erger as tydens die vloed. Miskien het die grond nou uiteindelik nie meer plek vir nog water nie. Teen die tyd dat al hierdie gedagtes deur my kop is, was ek al by die teerpad. Ek kon gou stop en my romp ‘n bietjie optrek – teen die tyd was die onderste 10cm al sopnat. Maar wat – niks erger as wat ek al deurstaan het nie.  Oor die pad, draai. Waai vir die mense by die winkeltjies links. Draai en vat die lekker afdraende na die skool se syhek. Nes elke oggend…

 Oeps.

Die pad is ‘n rivier. Letterlik. Ek weet nie waar die water vandaan  gekom het, of waarheen dit op pad was nie, maar dit was baie. As dit nie so ‘n steil afdraende was nie, het ek dalk gestop, maar toe ek weer sien, is ek besig om vir die eerste keer in my lewe, op ‘n fiets te ry terwyl die voet wat op die onderste trap is, onder water is! Nodeloos om te sê, die water wat my van onder af natgemaak het, was heelwat erger as die wat van bo af op my neergegiet het.

Ek het vlugtig oorweeg om te stop, of om te draai, maar voordat ek kon besluit, was ek al by die skoolhek. Binne die skoolterrein was dit beter – nog steeds baie nat, maar ek kon darem weer altwee my voete sien. Sopnat tot bo my knieë, maar ongeskonde, pluk ek my reënjas af. Gelukkig is my hare baie kort, en dit was binne twintig minute droog. My romp was die heeldag nat. Gesiggie skoongewas – behalwe vir daai duur lipstiek. So dis ek vandag: plat haartjies, bleek gesiggie, maar rooibek!

My kollegas wat my blyplek deel, het een-een aangekom, almal met groot oë – aan hulle vertellings kom ons agter dat die water al dieper geword het. Maar ons is almal veilig en betyds. 

En wat leer ons? Bly net aan die gang, hou net jou rigting en jy sál daardeur kom, wat dit ookal is! Rooibek, as jy gelukkig is.

Categories
Uncategorized

The whole to-do about coffee

I always associated Asia with tea, so it came as a surprise to discover that coffee is actually a Big Thing in Thailand, especially here in the north. In fact, Thailand is third on the list of coffee exporters in Asia. Growing and drinking coffee is a matter of pride. King Bhumibol, who is being mourned at the moment after his death in October 2016, initiated coffee farming as a replacement for cultivating opium poppies. His project was a resounding success, judging by my experiences so far.

 I spent quite some time here before I started drinking coffee regularly. This was mainly because of the heat – I was constantly drinking water to prevent dehydration / spontaneous combustion / going up in steam, so any thought of a hot beverage never even entered my mind. Then two things happened: a fellow South African who happens to be a coffee lover arrived and figured out that the “teapot” in our office is actually a kettle. And I discovered a quaint little shop that sells heavenly iced coffee!

Coffee machines are very common around here. Even in small, seemingly traditional and apparently primitive shops a sophisticated coffee dispensing machine offering a selection of coffees very often gleams anachronistically somewhere on a counter or table. In supermarkets coffee takes up three or four times more shelf space than tea, and while there are only four or five brands of tea to choose from, the selection of coffees is invariably vast!

 The drinking of the coffee here is an experience on its own. My first cup of hot coffee was in the office of Mr Arm, the PE teacher and one of my first and dearest friends at school. He informed me that his recipe was “two coffee, two sugar” and I politely declined the sugar. Little did I know that the recipe included only half a cup of water! Obviously the end result is VERY strong, bitter black coffee. (Milk has never even been mentioned.) But the companionship, laughter and warmth that come with this brew make it worth while and I enjoy at least one coffee session with the PE staff in their office every week. I guess I am addicted – I’m not sure if it’s to the caffeine, though!

During a recent visit to a neighbouring village, Khan Takla, I had hot coffee with milk for the first time. The small, half-filled cups, containing no more than five mouthfuls, should have served as a warning. The first mouthful brought one word to mind: sweet! Then, after swallowing for the second time: strong! And after the last mouthful, something like: mmmm – wow! Nobody ever asked if we wanted coffee; the cups of what looked more like hot chocolate than coffee just kept on appearing in front of us. Not having the benefit of English communication (ironic … it was at an English competition!), I did not really know how to stop the flow. So I drank. Or rather, I guzzled. Needless to say, I was bouncing off the walls at the end of the day.

Yes, they do drink tea. Green tea, herbal tea and iced tea, and probably some other varieties as well. But for me, Thailand has given new meaning to the invitation: “Let’s do coffee!” 

 

 

Categories
Uncategorized

Die punt is … is daar ‘n punt?

 So … my stêrre het mos gejeuk vir Thailand en ek gaan al amper weer huis toe ná 5 maande. Ek weet van heelwat wenkbroue wat gelig het oor hierdie lawwigheid. So … was dit nou die moeite werd?

 Kom ek doen bietjie voorraadopname.

Wat HET ek gedoen?

 ·         Ek het geleer dat ek baie minder van skoolhou weet as wat ek gedink het. Bietjie laat om dit nou uit te vind, maar nou ja.

·         Ek het saam met olifante geswem. Regtig.

·         Ek het “white water rafting” gedoen, al het ek nog altyd gesê dis net mal mense wat sulke goed doen. Ek dink ek was reg.

·         Ek het deur oerwoude en oor berge gery, diep in die Thailand-platteland in. Ek kon die pad sien verbyflits deur die houtvloer van die trok waarop ek gery het. Ek was angsbevange en het geweet ek gaan dit nie maak nie. Ek was verkeerd.

·         Ek het dorpies en skooltjies tussen oerwoude en ryslande besoek, en gesien dat die mense daar ‘n ander, dalk dieper beskawing het as gesofistikeerde stadsbewoners.

·         Ek het ontdek en beleef dat mense nie in ‘n sekere god hoef te glo om goddelike eienskappe te vertoon nie. Ook dat Boeddhiste gelukkiger is as enige ander geloofsgroep met wie ek nog te doen gehad het. En veral, dat hulle niemand probeer oortuig van hulle leefwyse of filosofie nie.

·         Ek het geleer dat respek ‘n baie goeie plaasvervanger is vir … amper alles!

·         Ek het gevoel dat dit net so bevredigend is om vir ‘n 18-jarige in Thailand te leer om sy naam in Engels te skryf as om vir ‘n begaafde 18-jarige in Suid-Afrika te help om ‘n onderskeiding in ‘n eksamen te kry.

·         Ek het besef dat ek te veel goeters en dinge opgegaar het en besluit om eenvoudiger te leef as ek teruggaan Suid-Afrika toe.

·         Ek verstaan nou dat mense nie mekaar se taal hoef te verstaan om mekaar te verstaan nie.

·         Ek het die geweld van die natuur beleef en gesien hoe mense wat amper al hulle besittings verloor het in die vloede, steeds glimlag, mekaar help, wag vir die son om uit te kom, en weer begin.

·         Ek het besef hoe lief ek my mense in Suid-Afrika het.

·         Ek was vir die eerste keer sedert ons in 1982 ontmoet het, langer as twee weke weg van my man af. Ek het oorleef. Sover. Maar net-net.

·         Ek het besef ek sal nie, soos ek oorspronklik beplan het, ‘n jaar hier kan bly nie. Ek het my fout erken, my planne verander, en niks daarvan oorgekom nie.

·         Ek het die wonders van Skype, Whatsapp video calling en stemboodskappe ontdek.

 Hierdie lys raak heelwat langer as wat ek gedink het. Ek kan nog aangaan … maar nee wat: ek sien ek het nie my tyd gemors nie.

 ·         O ja. Ek het ‘n padda geëet.

Categories
Uncategorized

Hoeveel bloed is in ‘n klip?

Ek het ‘n broertjie dood aan mense wat nadat hulle tien minute in die buiteland deurgebring het, alles en almal in Suid-Afrika heftig kritiseer en lang asems het oor hoe sleg Suid-Afrika is. Ek gaan dit nie doen nie.  Inteendeel, ek verlang my half-morsdood huis toe: Zuma, petrolpryse, die munisipaliteit, slaggate en al! Ek geniet Thailand, maar ek is lief vir Suid-Afrika ek sien uit daarna om terug te gaan. Huis toe!

Skoolhou in Suid-Afrika was tot op die laaste dag vir my héérlik en ek het nooit die dae afgetel om daaruit weg te kom nie. Dit was vir my ‘n voorreg om op my laaste skooldag régte trane te kon huil oor my kinders, my kollegas, my skool en my werk! Ek het my skoolhoof in sy kantoor gaan groet, vir Ellen wat die tee maak, in die kombuis – en ek was albei kere regtig hartseer, sowel as met elke ander kollega en kind wat ek gegroet het. (Natúúrlik was ek meer hartseer oor party as ander, ek is darem nie só ‘n frats nie!)

Ook in Pretoria, by my “tweede werk” was dit ‘n vreeslike tranedal toe ek my laaste opleidingsessie afgesluit het. Ja, dit was baie druk, en baie lang ure, en baie organisasie, en die vergrootglas is baie naby gehou op alles wat in my vak gedoen is, en die minister, haar Direkteur-Generaal en hulle minions het ons geduld beproef, maar ai – dit was só ‘n groot uitdaging, en ek het saam met sulke wonderlike mense gewerk, en elke dag so baie geleer van mense, van my vak, van myself!

Tog, ek dink nie ek sal in Suid-Afrika weer kan skoolhou nie. Ek het nooit beplan om ná my Thailand-avontuur weer voltyds terug te gaan skool toe nie, maar daar was die moontlikheid in my kop van miskien bietjie aflos hier en daar. Ek het juis my laaste rukkie by die skool ekstra hard gewerk om alles eksie-perfeksie te los vir wie ookal iets by my moes oorneem. Mense het my daaroor gevra: “Jy gaan amper weg, man, ontspan!” My antwoord kon seker baie lank en filosofies gewees het, maar ek het maar volstaan met iets soos: “Ek wil nie half-gedoende werk los nie, want ek wil nie skaamkry as  ek dalk eendag weer hier kom nie.”

Nou weet ek nie meer nie – ek dink Thailand het dit vir my bederf.

Binne die eerste week, tydens my TEFL (Teaching English as a Foreign Language) opleiding, het ek begin besef dat wat ek vir meer as dertig jaar in Suid-Afrika gedoen het, dalk net so effens links of bietjie regs van die “bull’s eye” was. Om ‘n vreemde of tweede taal vir iemand aan te leer, behoort in die eerste plek PRET te wees. Dit help nie ek kan iewers op ‘n skedule afmerk dat ek talle gedigte, skryfstukke en taalkonstruksies afgehandel het, maar die student versteen wanneer hy in Engels aangespreek word nie. Ek het in my klasse altyd ‘n element van pret probeer inwerk, en my kinders kon darem almal ‘n gesprek in Engels voer, maar ek besef elke dag dat ons te veel, te vinnig probeer indruk en in die proses meer kwaad as goed doen. En, veral in die laaste paar jaar, administreer, toets en assesseer ons meer as wat ons onderrig.

 Moet asseblief nie dink ek is besig om te sê dat Thailand se onderwys-sisteem beter is nie. Glad nie. Hulle het hulle eie, enorme uitdagings en die blote feit dat dit so maklik is vir iemand wat pas in SA matriek geskryf het om hier Engels te gee, spreek boekdele. Dit is net die hele benadering wat soveel anders is. Hier is die Engels BAIE swakker as in Suid-Afrika. Selfs die Thai onderwysers wat Engels gee, kan dit amper glad nie praat nie. Skoolverlaters wat Engels as keusevak neem, kan nie hulle name met die Engelse alfabet skryf nie en verstaan nie eenvoudige opdraggies soos “Write your name” nie. Maar … en dit is ‘n gróót “maar” … sonder uitsondering is onderwysers en kinders meer ontspanne en veel gelukkiger.  Ons doen wat ons kan, met wat ons het – ons werk bitter hard, maar ons het ook baie pret. Ons is trots op ons werk, ja, maar ons besef ook dat daar net soveel ure in ‘n dag, en net soveel dae in ‘n week is. Ons bly by die skool tot amper 5uur elke dag, maar ons het nog tyd en lus vir kindwees en menswees.

 En dit, dink ek, is hoekom ek nie weer gaan inpas in my eie land se onderwysboks nie.