Categories
Uncategorized

Bietjie oud en baie eerlik

Hoe lank is ek nou in Thailand? Nee… dit kan nie net drie dae wees nie! My sintuie en brein is oorlaai met nuwe mense, nuwe kennis, nuwe smake en reuke…en natuurlik nuwe woorde. Die lekkerste woordjie wat ek tot dusver geleer het, is “nit-noi” – dit beteken “klein bietjie”. Dit sê nie net lekker nie, dit maak ook die Thai straatkos toeganklik vir my Vrystaat-tong!

Een ding wat in hierdie paar dae vir my verander het, is my idee van “oud”. Ek het gedink alles wat kom uit die era voor 1900 is oud, so ek sukkel om my kop om die idee te kry dat die ou stad waar ek my so loop en verkyk aan die straatverkopers, meer as 700 jaar oud is. 

Oud en nuut ontmoet mekaar oral: ons het ons vanoggend verkyk aan ‘n ou man op ‘n driewiel-fietstaxi wat op sy selfoon praat terwyl hy ry. Dié soort taxi’s is meestal deur die tuk-tuks vervang.

Reg agter my blyplek is ‘n enorme “night market”. Dié mense begin eers saans sake doen, maar die verstommende feit is dat hulle hulle ware deur die dag net daar los. Party pak dit in kratte en skuif dit onder die tafels in en ander sit seile bo-oor. Ek het die taxi-bestuurder vanoggend gevra of hulle nie bang is iemand steel die goed nie. Hy het nie verstaan hoekom ek dit vra nie. “Steal? But why steal?” 

Die stalletjies sluit letterlik alles in: daar is een waar mens ‘n massering kan kry of klein vissies aan jou voete kan laat knibbel, jy kan hemelse kos koop, cappucino, coke, appeltee of enigiets tussenin drink, ‘n pak volgens jou mates laat maak en dit oormôre afhaal, serpe, kunswerke, juwele, sakke, hoede, broeke … die lys is eindeloos!

En almal glimlag. Ek is sowaar in die “land of smiles” … 

Categories
Uncategorized

Skoene uit!

“Please to remove your jacket and shoes …” dit was nie die eerste woorde wat ek verwag het om op Bangkok se lughawe hoor nie. Jip,  ek is ongeskonde hier. 

Ons is ‘n groepie van 7 Suid-Afrikaners wat vanaf OR Tambo saamgereis het. Tweetjies is eintlik nog babas, het verlede jaar maar matriek geskryf. (Daar spring die juffrou/mamma in my natuurlik dadelik regop, veral toe Emma se broek skeur en sy boonop haar bagasie-kaartjie verlê…) Twee is in hulle laat twintigs en twee iewers tussenin. En ons dek alles van ‘n amper-borselkop tot dreadlocks en ‘n bolla – en dis net die mans!

Die lughawe is beslis nie ‘n weerspiëeling van die miernes-bedrywige Bangkok nie. Dis doodstil hier. Dankie tog, want al die immigrasie- en doeanebeamptes was almal so rustig en vriendelik. Of dalk is dit waar wat almal sê, dat die Thai-kultuur maar so rustig is, kom wat wil.  Ek het hoeka iewers op pad hierheen 5 ure verloor. Dit was nog 2 uur en toe is dit sommer 7 uur. Dit het al vantevore ook met my gebeur dat die tyd so weghol, maar toe was dit darem nie nodig dat ek my horlosie moes aandraai nie.

Terug na die shoes en jacket wat remove moes word. Toe ons almal kaalvoet of op sokkies die nuwe land betree, kon ek nie help om te wonder nie – sou die wêreld nie net makliker verteerbaar gewees het as ons elke dag gestroop van ons pelsjasse en polvye aangepak het nie?

Categories
Uncategorized

Asem in…

Toe ek ‘n kind was, was Welkom se publieke swembad ons uithang-plek (alhoewel ons eintlik meer “gespeel” en “gekuier” het want “uithang” was nog nie iets wat kinders gedoen het nie) en die hoogste duikplank was tot op ‘n stadium heeltmal taboe. Die kwaai lewensredder het jou gou verwilder as jy nie opgewasse gelyk het nie. (Nou wonder ek vir die eerste keer hoe hy daaroor besluit het, maar destyds het niemand hom bevraagteken nie – hy was immers ‘n grootmens.)

Toe breek die dag aan, na baie moedbymekaarskraap. Op met die (sjoe, so baie!) trappies, versigtig-versigtig oor die growwerige plank en toe op die randjie. Liewe aarde, dis  ‘n amper-onmoontlike sprong… maar nou is daar nie omdraai nie. Almal kyk en wag opgewonde om die rand van die “duikpoel”. Bravado. Ogies styf-styf toegeknyp, asem in en in en in … en spring! En toe ek (dankie tog!) die oppervlak bereik, my asem terughet en al die bekende gesigte sien, voel ek soos ‘n reus!

Wel. Ek voel nou weer soos toe my tone om daardie randjie gekrul het.

Dankie tog vir die Lewensredder en die bekende gesigte wat aanmoedig en op die wal wag …