Categories
Humor

Kom ons hou prysuitdeling

Ek lees dat die Black Lives Matter-beweging in die VSA vir die Nobel-vredesprys benoem is. Donald Trump ook. Ek wil my glad nie uitlaat oor die meriete van hierdie benoemings nie. Wat my wel opgeval het, is die kontras – dit het jou seker ook getref toe ek BLM en Donald Trump hierbo so amper in een asem genoem het! Die prys is al 101 keer aan 135 mense of organisasies toegeken.

Interessant genoeg is die prys van 1914 tot 1918 nie toegeken nie, en ook nie van 1939 tot 1943 nie. In 1944 is dit aan die Internasionale Rooikruis toegeken. Heel gepas. As die hele wêreld fokus daarop om mekaar uit te moor, verdien niemand ‘n vredesprys nie. Die Rooikruis het die prys in 1963 weer gewen.

Ek wou nie eintlik oor die geskiedenis van die Nobelprys skryf nie. Die ironie van sommige van die benoemings, veral die BLM-Trump kombinasie, het my aan die dink gesit, en my laat besluit dat ek sommer self ‘n paar pryse wil uitdeel. Al my wenners is suiwer op grond van my persoonlike oortuigings gekies – party met my tong lekker stewig in my kies! Die pryse word in alfabetiese volgorde gelys. Ek wil tog nou nie hê iemand moet aanstoot neem omdat hy/sy voor of na iemand anders genoem word nie:

*Aanhoudende, herhalende en irriterende TV-advertensies: Outsurance

*Absolute onbeholpenheid en nutteloosheid: Nkosinjani Speelman (Die burgemeester van my woonplek – ek glo hy kan hierdie prys deel met baie van sy eweknieë in ander dorpe en stede)

*Arrogansie en oneerlikheid, swak leierskap en ‘n gebrek aan morele waardes: Jacob Zuma

*Buigsaamheid, aanpasbaarheid en taaiheid: Elke eienaar van ‘n klein besigheid wat weier om moed op te gee

*Dapperheid en onselfsugtigheid: Alle dokters, verpleegsters en ander gesondheidswerkers

*Dubbele standaarde: Die meerderheid strukture oor die hele spektrum van georganiseerde godsdiens (Die gevaar bestaan dat daar ‘n geweldige geveg gaan ontstaan oor die verdeling van hierdie prys, want elkeen hier dink mos hy/sy/hulle het alleenreg op alles!)

*Eindelose vernuwende denke en aanpassing: Elke onderwyser in alle fases van onderwys

*Geduld en deursettingsvermoë in die aangesig van meedoënlose teenstand en kritiek: Cyril Ramaphosa

*Grenslose geduld en takt: Regter Raymond Zondo (Ek wou hierdie prys aan my man toeken, maar ek wil nie van Nepotisme beskuldig word nie!)

*Ondeurdagte uitsprake sonder enige logiese gronde: Die Facebook- en ander sosiale media-brigade (Ek weet nie hoe gaan ons hierdie prys verdeel nie, maar toemaar … hulle sal nie agterkom nie!)

*Onnoselheid: Die spul wat na amper ‘n jaar nog steeds nie verstaan dat ‘n masker oor jou mond én neus moet wees nie. (Regtig – dit neem minder tyd om ‘n kleuter te “potty train”!)

*Onverskrokkenheid en eerlikheid, basies al die teenoorgesteldes van die prys wat aan Jacob Zuma toegeken is: Thuli Madonsela

*Relevante satire en humorsin in reklame: Nando’s

*Volgehoue pogings om teen alles en almal te wees, en soveel moontlik sinlose uitsprake te maak terwyl alle logika uitgedaag word: Julius Malema

En dan, laastens, ‘n prys wat ek só graag persoonlik sou wou oorhandig, net omdat ek regtigwaar geëerd sou wees om dié man se hand te skud. Ek sukkel om op te som waarvoor ek die prys sal toeken, maar dit is iets soos onbaatsugtige en onbevooroordeelde hulpverlening aan ALMAL wat in die nood is, wêreldwyd en sonder enige voorbehoud: Imtiaz Suleiman van Gift of the Givers.

Categories
Humor

Binne-in die masker …

Dikwels ontdek mens ‘n onverwagte voordeel in iets wat jy oorspronklik as ‘n las sien. ‘n Vinnige voorbeeld is die plastieksak-kopery by die winkels. Oorspronklik was dit ‘n irritasie. Maar ek het gou besef dat die alewige opeenhoping van sakke iewers in ‘n kombuiskas die éintlike irritasie was, en dat dit toe glad nie so erg is om my eie mooier, groter en sterker inkopiesakke saam te vat winkel toe nie. En dis sommer omgewingsvriendelik.

‘n Meer onlangse ontdekking wat ek (met my tong in my kies) ontdek het, is die dra van ‘n masker in die openbaar. Enigeen wat al ooit ‘n passassier in my motor was, weet dat ek “hardop dink” as ek bestuur – of kom ons noem dit maar by die naam – ek praat baie met myself! Dit help my regtig om beter te bestuur as ek dinge vir myself uitwys, of as ek met ander bestuurders praat. Dinge soos: “Dink jy régtig dis slim om so verkeerd om die sirkel te gaan, Mevrou GP?” of “Gaan jy nou sowaar hier voor my indruk, padvark?” en “Ag nee man, gaan jaag op ‘n ander plek!” is seker vir my passassiers vermaaklik of dalk selfs bietjie vreesaanjaend, maar dis maar my manier.

Nou dat ek gemasker moet rondbeweeg, kom ek agter dat my pratery ook buite die motor uitbeweeg het. ‘n Hele paar keer vra ek kwaai binne-in my masker: “Weet jy sowaar nou nog nie dat jou mond én jou neus moet toe wees nie?” Dit help niks, maar dit laat my beter voel! “Nee man, hou jou kind se hand vas!” “Aag komaan pappa, koop nou maar die swietie …” “Die beginsel van in ‘n ry staan is nie só moeilik nie, is dit?” en soortgelyke gedagtes word nou in my masker gemompel – woerts, dis van my hart af en niemand het dit gehoor óf gesien dat ek met myself (of met hulle) praat nie.

Toe my skoolhoof my in my eerste jaar van skoolhou daarop wys dat ek tog nie soggens in die personeelkamer so geïrriteerd moet wees as ‘n sekere kollega te veel te sê het nie, het ek heel verontwaardig gesê: “Maar, Meneer, ek het nie ‘n wóórd gesê nie!” En daar leer hy my op sy kalm manier ‘n groot waarheid oor myself toe hy met ‘n glimlag sê: “Jy, Juffrou, hóéf nie ‘n woord te sê nie.” Ek het van daardie dag af regtig probeer om my gesigsuitdrukkings te beheer, maar ai, dis moeilik. Eintlik onmoontlik, al het ek darem al geleer om dit effens te versteek. Maar hier kom die masker nou handig te pas: met net die oë wat uitsteek, is dit darem net die helfte so moeilik!

My meisiekind het nou die dag tydens ‘n foongesprek gesê sy kan hóór hoe rol ek my oë! Ek het so lekker gelag, maar nou ja … dit is maar hoe dit is. Buitendien het sy dié gawe, of tekort aan gesigbeheer, by my geërf.

As die maskers afkom, sal ek weer hard moet oefen aan my kalm gesig, en seker maar op my tande moet byt. Maar tot dan bly dit waar dat daar áltyd iets is om voor dankbaar te wees.

Categories
Humor

Slaap, of nee wag, wakker bly

Die inperking mors met my slaap-patroon. Onlangs lê ek die venster en dophou, wagtend vir die son om op te kom terwyl ek luister na die voëltjies wat solank begin oefen vir die dag se konsert.

Skielik dink ek aan Rip van Winkel. Ek onthou breë trekke van die storie, maar die detail is vaag. Sodra ek opstaan, gaan ek die storie soek en lees, besluit ek. Ek moes geweet het dit gaan gebeur: die internet-soektog na die oorsaak, tydsduur, verklaring en ander besonderhede van Rip se slaapsessie, lei my op virtuele ompaaie en die ontdekking van allerlei interessanthede, bruikbaar sowel as totaal nutteloos (my gunstelinge is laasgenoemde!), oor die wêreld van dommel en dut.

Heelwat meer relevant as ou Slaapkous Rip se slapery, is die feit dat Randy Gardner in 1964 vir 264 ure, of 11 dae, wakker gebly het. Hy was nou wel net 16 jaar oud, maar ek kan nie dink hoekom enigiemand himself só sal wil straf nie. Die huidige Guinness wêreldrekord vir wakker bly is in 1977 deur Maureen Weston opgestel nadat sy vir 449 ure nie geslaap het nie, maar daarna het die Guinness-rekordeerders opgehou om rekords oor wakkerbly op te teken, aangesien hulle dink dit is te gevaarlik. Ek sê mos!! Een van die nadelige gevolge van te min slaap, is hallusinasies – dit verklaar dalk party van die dinge wat ek deesdae om my sien gebeur. Dit móét hallusinasies wees!

Bron: weirdfacts.org

Ek lees dat lank voor Rip van Winkel, daar ‘n Griekse seun genaamd Epimenides was wat aan die slaap geraak het terwyl hy na sy pa se skape moes kyk. Toe hy uiteindelik na 57 jaar wakker word, het hy die gawe van profesie gehad. (Ek wonder of sy pa nog daar was – ek weet wat mý pa sou gedoen het as ek my pligte so gruwelik versuim het!) Epimenides is ná sy dood deur sy landgenote as een van hulle baie gode vereer, maar dit het meer verband met sy heldedade in ‘n oorlog teen die Spartane as met sy oordadige middagslapie.

Reeds in die 14de eeu is die storie van Zellandine opgeteken – ‘n pragtige prinsessie van die fantasiewêreld Zeeland. Sy het op ‘n geheimsinnige wyse aan die slaap geraak terwyl sy besig was om te spin. Dié storie het nogal vreemde, tipies Middeleeuse intriges, maar uiteindelik word sy natuurlik deur ‘n prins wakker gesoen. Dit klink bekend, né? Ja, dit is op hierdie storie wat die Grimm-broers hulle 19de-eeuse sprokie van Prinses Aurora, of soos ons haar in Afrikaans ken, Doringrosie, gebaseer het.

Feministe spring glo vreeslik op hulle perdjies (seker almal merries, dié perde!) as hulle dié storie hoor, sien of lees. Hulle het groot besware teen die hulpeloosheid van die prinsessie, en die feit dat sy deur ‘n man gered word, nogal ‘n chauvinis wat haar sonder toestemming soen! Red nou ‘n nasie – wie wil nou jousélf wakker soen, en hoe doen jy dit in elk geval? Ek moet sê, my feministiese streep word in hierdie geval totaal uitgewis deur my liefde vir fantasie en romanse!

Terug na Rip van Winkel – volgens my navorsing het hy in die berge gaan skuiling soek teen sy vrou se vreeslike geneul. Daar het hy toe saam met vreemde mannetjies (wat toe eintlik spoke was!) aan’t drinke geraak en vir 20 jaar geslaap. Toe hy wakker word, ontdek hy dat hy die hele Amerikaanse Vryheidsoorlog (1775 – 1783) misgeloop het en dat sy vrou, soos al sy ander tydgenote, al dood is. Ek wonder waaroor hy die blyste was! (Eintlik wonder ek ook hoekom sy vrou hom nie gesoek het nie …)

Al my rondlesery oor slaap en wakkerbly het my nie veel in die sak gebring behalwe om ‘n redelike deel van ‘n ingeperkte Sondag in beslag te neem nie. Maar hoe ookal, ek stem saam met D.F. Malherbe wat so mooi oor die slapery gedig het: Wat is die slaap ‘n wondersoete ding…