Categories
Motivering

Opdateer en oorbegin

Gisteraand toe ek my rekenaar wil afskakel, sê hy: “Aikona! Ek gaan nié nou afskakel nie.” ‘n Groepie uitbundige wit kolletjies doen ‘n nimmereindigende dansie in die middel van die skerm en lig my in dat hy nou besig is om te update, dat hy ‘n hele rukkie daarmee sal besig wees, dat hy in die proses ‘n paar keer gaan restart en waarsku my ferm om nie die rekenaar af te skakel nie.

Kyk, ek laat my nie sommer intimideer nie, maar goed dan – as dit die opdrag is, stry ek nie. Ek kom nie naby die sleutelbord om af te skakel nie en gaan maak maar ewe gehoorsaam reg vir slaaptyd. Toe ek bietjie later gaan loer wat aangaan, word ek darem ingelig dat hy nou 24% klaar is met sy prosedure.

Vanoggend begin ek werk en kom na ‘n kort rukkie agter dat dinge subtiel verskil. O ja, onthou ek. Dis natuurlik nou die resultaat van gister se nagtelike Update and Restart! Maar alles werk baie goed, en ‘n hele paar dinge werk beter – meer vaartbelyn en sommer in die algemeen slimmer.

Nie ‘n slegte idee nie, dink ek. Sou dit nie gaaf wees as my brein en binnegoed ook so oornag kon update en restart nie? Die ou spinnerakke wat in al die hoekies vassit, kan gerus maar ‘n slag verdwyn. My ou geykte maniere van dink en doen … al is ek nou al so gewoond daaraan (juis omdat ek so gewoond is daaraan!) maar ek is seker daar is beter maniere om dieselfde dinge te dink en te doen.

En die hele restart-idee … ek het ook al in die verlede agtergekom dat dit nogal ‘n magiese proses is. As ek vasbrand en die tegnologie my totaal onderkry en die vervlakste rekenaar net nie wil luister wat ek sê nie, het restart al ‘n paar keer my probleem opgelos. Ek verstaan nie hoekom nie, maar dit werk. Begin net oor. Sit alles af. Trek sommer die muurprop uit. En begin van voor af. Dan is alles beter.

Ek gaan dit ‘n nuwe gewoonte maak om kort-kort die rekenaar se resep te volg. Dateer op. Kom net bietjie by – alles wat nuut is, is nie boos en verkeerd nie, inteendeel: party nuwe goeters is regtig oulik. Dink bietjie nuut. Alles waarmee ek grootgeword het, is beslis nie goed nie, en ‘n groot deel daarvan was in elk geval blatante nonsens. Ek het al hóéveel keer gelê en eet, en ek het nog g’n horings gekry nie, om ‘n voorbeeld te noem. Daar is ook meer belangrike voorbeelde, maar ek politiek en godsdiens mos nié hier nie!

En ja, die opdateerdery is sekerlik ‘n skok op ‘n ouerige sisteem soos myne – vandaar natuurlik die noodsaaklikheid van ‘n oorbegin daarna. So, dan sal ek dit ook doen. Elke kort-kort oorbegin. Vars wegspring. Dit klink vir my goed. Wees gewaarsku, soos my rekenaar ewe oorlams gesê het: This will take a while. Moenie aan my peuter terwyl dit besig is om te gebeur nie!

Foto: Lillian Csernica

Categories
Motivering

Saadjies vir later … ‘n kykie na die vordering!

Dit is omtrent 10 dae later, en sowaar – die Kwala-daisies waaroor ek net nou die dag hier geskryf het, begin opkom!

Juis omdat ek begin moeg raak vir die inperkings-mure, was die klein groen wonderwerkies vir my ekstra spesiaal! Ja, ons het hulle in die donker, onder die grond begrawe, maar hulle laat hulle nie vaskeer nie. Kyk net hoe kraak hulle die aarde wat hulle probeer inperk het!

In my verbeelding hoor ek die aarde kraak …

As ek een-een na hulle kyk, is hulle maar nog bitter klein, en ek besef dat daar nog baie kan verkeerd gaan, maar aan durf, vasberadenheid en ‘n gesindheid van “ek-sal-my-nie-laat-onderkry-nie” is daar geen tekort nie.

Onbenullig? Klein? Kyk wat kan ek doen!

Die klein kragtoertjies inspireer my ook sommer om op elke gebied waar dit vir my voel die wêreld, my omstandighede, my emosies of wat-ookal is besig om te swaar op my te druk, net diep asem te haal, my vuiste te bal, op my tande te byt en (al is dit dan net in my kop) dit uit te basuin: “Hier kom ek! Kyk hoe sterk is ek! Moet my nie onderskat nie! Hou my dop – een van die dae blom ek!”

En dan moet ek net eenvoudig na bó beur – na die lig toe!

Categories
Motivering

Sing terwyl die bomme val

Ek het ‘n trotse reputasie as ‘n boekwurm, een waaraan ek gereeld werk. Van kleins af al, baie dikwels tot ergernis van ander, raak ek verlore in die wêreld tussen die blaaie van ‘n boek. Met die jare het ek darem ‘n bietjie meer selfdissipline aangeleer en minder huistakies en ander pligte afgeskeep om te kan lees, maar ek is nog steeds altyd besig om ten minste twee boeke tegelyk te lees.

‘n Deel van my bomskuiling

Ek weet nie of dit in die gene oorgedra is nie – my pa was ook baie lief vir lees en ten minste twee van my susse ook, maar ek was regtig meer trots as geskok toe ek uitvind dat my jongste meisiekind Wilbur Smith en Harry Potter verkies wanneer haar Engelse juffrou die voorgeskrewe boek in die klas lees! Dankie tog dat dié juffrou maar oë toegeknyp het en dat sy, toe ek haar eendag oor ‘n koppie koffie daaroor vra, verduidelik het: “Man, daardie kind ken haar voorgeskrewe boek uit haar kop uit!” (Die betrokke voorgeskrewe boek was George Orwell se Animal Farm en ek kan getuig dat sy dit wél baie goed geken het!)

In elk geval, lees is een van my groot liefdes. Daar is min genres waarvan ek nie hou nie. Ek het ‘n grootmens geword voordat ek die wonder van volwasse fantasie ontdek het: Game of Thrones was nog nie ‘n televisiereeks toe ek vir dae aaneen tussen kastele, konings, drake en ridders weggeraak het nie. Trouens, dit was eers toe die TV-reeks die boeke ingehaal en verbygesteek het, dat ek die laaste reeks móés kyk om my nuuskierigheid te bevredig. Biografieë fassineer my – mense het sulke verstommende lewens. Misdaad, moord, mediese fiksie gryp my aan. Distopiese fiksie solank dit nie té veel eise aan my verbeelding stel, en my positiewe denkwyse te veel uitdaag nie. Romantiese fiksie, solank dit nie te stroperig is nie. Selfs rillers, maar dit moet my darem nie te lank en te veel laat ril nie.

Historiese fiksie is egter my gunsteling. Veral oorlog-stories boei my, en dit sluit sommer alle oorloë in. Tog is stories wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel, telkens dié wat ek kies. Daar is net iets in die omstandighede, die drama en die karakters van daardie tyd wat my betower. Hitler, Churchill, Roosevelt, Stalin, Dunkirk, Auschwitz, Pearl Harbor, Stalingrad, Hiroshima … ek weet nie hoeveel boeke daaroor ek al gelees het nie, en elke keer is dit ‘n ander perspektief, ander hartseer, nuwe feite, en telkens val dit my op hoe dieselfde veldslag beide ‘n oorwinning én ‘n neerlaag is, afhangende van wie die hoofkarakter is. Ek moet erken dat ek gewoonlik terwyl ek só ‘n boek lees, heelwat tyd op die internet deurbring om plekke en gebeure na te gaan of nóg meer daaroor te lees. Feite is inderdaad dikwels vreemder as fiksie!

Een van die aspekte van daardie verskriklike oorlog wat my nog altyd aangegryp het, is die bomskuilings: bestaande kelders wat ingerig is vir mense om te skuil teen lugaanvalle, en ook spesiale strukture wat opgerig is vir daardie doel. ‘n Mooi ware storie waarop ek afgekom het, is dat Julie Andrews se pragtige sangstem juis in só ‘n skuiling ontdek is toe haar gesin met sang die tyd verwyl en die oorlog-geluide probeer demp het. Daar is mos, dankie tog, gewoonlik iets positiefs wat uit elke negatiewe situasie voortspruit.

Veral in Brittanje was daar baie huise wat nie kelders gehad het nie, en daardie mense is voorsien van sink-skuilings wat hulle dan moes oprig, in 1.2 meter grond moes begrawe en dan ook met ten minste nog 38 cm grond moes bedek. Mense het dikwels dan sommer hierdie grond wat bo-oor hulle skuilings moes wees, met blomme of meer gereeld met groente beplant, en selfs kompeteer oor wie in die buurt se skuiling die mooiste gelyk het, terwyl hulle dan ook die kos-skaarste help beveg het. Dit herinner my baie aan ons klomp wat so verbete bak en kook terwyl ons skuil!

‘n Anderson-lugaanvalskuiling uit die Tweede Wêreldoorlog wat nog behoue gebly het.

Dit is juis die skuil-proses wat my aan die dink gesit het, omdat dit soveel ooreenkomste het met ons huidige situasie. Ons kruip ook maar weg – in ons geval sit ons nie in die donker en luister hoe vliegtuie hulle dodelike vragte oor ons koppe afgooi nie, maar ons sit in ons huise en probeer ‘n onsigbare virus oorwin.

Wat ons ken as “inperking”, word in baie state in die VSA shelter-in-place genoem. Dit is vir my ‘n mooi term, met ‘n meer optimistiese ondertoon. Skuil in jou plek. As ek die woord shelter naslaan, kry ek mooi dinge soos beskutting, beskerming, toevlug … alles dinge wat ek elke mens toewens.

Ongelukkig weet ek dat nie elkeen ‘n huis het wat ‘n skuilplek of ‘n toevlug is nie. Vir daardie mense is hierdie inperk-tyd sekerlik ‘n nagmerrie. Vir my is die ergste van die skuiltyd dat ek van my kinders en hartsmaats afgesluit is. Gelukkig is die een met wie ek my skuiling deel, iemand wat sorg en help. Ek is jammer vir mense wat nie so gelukkig is nie.

Een van die dae kom ons uit, en maak vir ons ‘n nuwe werklikheid. Hopelik gaan ons dan ook dit wat oorgebly het van ons ou, bekende wêreld meer waardeer. Onthou hoe die wêreld verander het na Vigs ontdek is? Bebloede rugbyspelers wat voortspeel en later lyk asof hulle in bloed gerol is, is iets wat ons nou nie meer sien nie. Na 9/11 is lughawens totaal anders as toe ‘n mens toegelaat is om ‘n mes aan boord van ‘n vlug te neem, solank die lem nie langer as 4 duim was nie. Beide hierdie veranderings is goed. Na Corona gaan ons seker nie meer verjaardagkersies bo-op ‘n koek doodblaas en daarna daardie koek eet nie. Ons gaan ander se persoonlike ruimte meer respekteer, meer hande was. Sportmanne gaan minder lek, snuit en spoeg. Ouers gaan meer simpatie hê met onderwysers, ons almal gaan meer respek hê vir gesondheidswerkers. Openbare ruimtes gaan hopelik skoner wees – dit alles klink vir my goed.

Dit gaan nie meer toegelaat word nie!

Ja, dit is vreesaanjaend. Wêreldleiers lyk nie altyd of hulle weet waarvan hulle praat nie. In die VSA het al meer mense gesterf as tydens die Viëtnam-oorlog. Mense ly honger. Mense raak opstandig. Nie almal gehoorsaam die reëls nie. My kinders bly albei in plekke waar die virus ‘n baie groter werklikheid is as hier waar ek skuil. Dan moet ons maar soos Julie Andrews en haar gesin maak. Ons moet sing, al is dit dan net in ons gedagtes, om die bangmaak-dinge weg te jaag.

As Julie Andrews se stiefpa haar nie in die bomskuiling laat sing het nie, moes die wêreld dalk sonder haar stem klaarkom!

Categories
Motivering

Gebruik dié pretpark op eie risiko

Ek en my jongste besoek die skou. Dit is iets wat ons baie lank gelede laas gedoen het – die wêreld het mos feesbefoeterd geraak en goeie, outydse skoue het in die stof gebyt. Ons geniet dit, stap deur die sale en giggel lekker oor al die verkoopsmense se strategieë. Ons kyk na skilderye, speelgoed, klere, fieterjasies wat groente opkerf, handsakke, meubels, trekkers en perde wat karretjies trek. Ons koop oorbelle, pantoffels, olywe, chippies in ‘n boksie met onwaarskynlike sousies bo-oor. Waar anders gaan mens só ‘n verskeidenheid en kombinasie inkopies doen? (O ja, by ‘n fees …)

Ons maak ‘n draai by die pretpark en is betower deur die liggies en unieke musiek. Deur grootmens-oë en -ore lyk en klink dit seker anders as vir die eintlike teikenmark, maar die tuimelende en draaiende kontrepsies bekoor ons nogal. Die enigste een waarop ons graag sou wou klim, is die carousel met die perdjies, maar helaas, hulle is besig om daaraan te werk. Ons is maar tevrede met ‘n foto.

Die volgende dag is daar ‘n ongeluk by een van die ander ritte. ‘n Waentjie val om en drie mense kry seer. Nooddienste is vinnig daar, die mense word die volgende dag uit die hospitaal ontslaan. Natuurlik is daar ‘n hewige en baie aggressiewe woordestryd in die plaaslike pers en op sosiale media. Die skou se bestuur word uitgetrap, mense word aangeraai om dit nie daar naby te waag nie. Dieselfde ritte wat ons as baie mooi, goed onderhou, netjies en kunstig opgeval het, word beskryf as stokoud, verwaarloos, gevaarlik, heeltemal te duur … mense word aangeraai om almal te dagvaar, van die man wat die kaartjies by die hek verkoop, tot die skoubestuur en die eienaar van die pretpark. Gits, het die liggies en musiek ons só erg verblind? Ons was dan daar!

Ek herkou daaraan. Ons hou van die gevaarlike ritte in die lewe se pretpark. Ons hou ook van baklei. Beskuldig. Verwyt. Wil altyd iemand voor die bors druk met ‘n kwaai wysvinger en sê: “Dis jóú skuld!” Ek neem nie verantwoordelikheid vir my besluit om op die potensieel gevaarlike masjien te klim nie.Dis nie my eie skuld dat ek die waarskuwings ignoreer het nie. Ek kyk die “eie risiko” deeltjie mis. Ek kyk net vas in die “pret” gedeelte. Maar as dit skeefloop – dan soek (en kry) ek iemand om te blameer. Mense wat op geen manier betrokke is nie, ken skielik elke detail, en versamel ywerig nóg detail, gretig om elke grusame brokkie te glo en te versprei. Nog erger: baie mense wat self jare gelede, indien ooit, ‘n pretpark besoek het, praat met groot outoriteit oor die toestand van die ritte, die regsprosesse om te volg en wie nou eintlik die skuldige is. Hulle deel raad uit, en oordeel links en regs, fel en sonder genade.

Die slagoffers self? Hulle is doodstil, waarskynlik iewers besig om ‘n seerplek te versorg, te kyk hoe ‘n seer blou kol stadig groen en geel word en dan verdwyn, ‘n nagmerrie-oomblik te probeer vergeet, ‘n beseerde ledemaat versigtig weer te begin gebruik. As hulle gelukkig is, is daar ander wat hulp aanbied – ‘n salfie aansmeer, pleisters aandra, inhak vir daardie eerste treetjies op die wankelrige “nuwe” bene. Hopelik sal hulle iewers in die toekoms weer voor ‘n pretrit staan, na die mooi liggies en anderwêreldse musiek luister, en besluit om tóg weer te ry.

Categories
Motivering

Fokus op Jane se boude!

Die instruktrise by die gym moedig my en my mede-… uhm … wat sal ek dit noem? Al wat by my opkom is die Engelse woord “sufferers” … slagoffers? Nee, ons kies mos om te oefen! En ek geniet dit nogal! Maar terug by die latlyf-meisiekind wat moet toesien dat ons fluks oefen: sy sê gereeld ons moet “focus …” gewoonlik noem sy dan liggaamsdele wat op daardie oomblik brand of pyn of bewe. Sy wil eintlik hê ek moet dink aan die ferm bo-arms wat ek wil hê, eerder as hoe ek oor die weg gaan kom as my arms morsaf breek. So, ek fokus!

As ek daarna gou stop vir melk, brood en vrugte, moet ek hárd fokus wanneer ek op pad na die betaalpunt stadig deur die drukgang van sjokolade en ander lekkernye moet skuifel. Dit help nogal as ek dan terugdink aan die pas-afgelope oefensessie. Fokus.

Later onthou ek hoe ek en my vriendinne doer in die tagtigs in die plattelandse skoolkoshuis waar ons almal gebly het, saam geoefen het op die maat van Jane Fonda se langspeelplate. Sy was ‘n goeie twintig jaar ouer as die meeste van ons, maar op die omslag van die dubbelplaat het sy gepronk in ‘n oefen-uitrusting wat haar pragtige, stewige agterstewe ten toon gestel het: ons doelwit.

Daardie Septembervakansie het ons ‘n groep kinders vergesel op ‘n toer in die Drakensberge. Teen ‘n baie steil berghang, toe ‘n paar van ons begin dink aan moed opgee, kom ‘n uitasem-stemmetjie van agter af: “Dink aan Jane Fonda se boude, julle!” Toe fokus ons weer, en klim verder. (Maar ek laat my nog steeds nie vertel dat my voorsate daardie berge kaalvoet oor is nie!)

Ek ontdek ook sommer agterop dié stukkie nostalgie (ja, ek bêre dit nog!) ‘n brokkie lewenswysheid oor ‘n mens se ouderdom en lyf:

Dit is ‘n nuttige talent, dié fokus. Blok alles uit wat jou dalk kan belemmer, dink nét aan dit wat jy wil bereik. Weier hardkoppig om te glo dat daar enigiets is wat tussen jou en sukses kan kom. Glo onwrikbaar dat jy alles, enigiets kan doen. Kyk nét na jou beplande doelwit en moenie toelaat dat moontlike struikelblokke of lekker versoekings jou aandag aftrek nie. Moenie eers jou kop draai vir ‘n vinnige kykie nie. Ignoreer moegheid, pyn en bewerasies. Byt vas.

Só kom jy oor enige berg, en miskien, as jy regtig hard werk, kry jy nog mooi boude ook.

Foto: Vkool.com