Categories
Die Lewe Positiwiteit

Moenie my borrel bars nie!

Ek dink nie ek hou baie van die term “die nuwe normaal” nie – eintlik, as ek eerlik wil wees, gee dit my ‘n hartlike kramp. Want normaal is vir my net normaal, nie nuut of oud nie. Maar ek is bereid om toe te gee, en ek het ook al in die verlede daaroor geskryf, dat ons moet oop wees vir nuwe dinge. Dus, eintlik weet ek nie regtig wat ek dink van die “nuwe normaal” nie, behalwe dat dit een van die nuwe gonswoorde is wat so saam met die Corona-virus in ons woordeskat ingesypel het.

Daar is ‘n hele paar sulke woorde wat voorheen nie bestaan het nie, of wat nuwe betekenisse aangeneem het so saam met die pandemie. Sosiale afstand, saniteer, infeksiekoers, grendeltyd, self-isolasie, kwarantyn, bioborrel … daar is baie – en ekskuus, maar verreweg die meeste het vir my ‘n negatiewe konnotasie. Behalwe sosiale afstand – daarvan hou ek, en daarop het ek nog altyd aangedring.

Lank voordat daar kruisies en strepies op supermark-vloere geplak is, het ek nooit naby aan die persoon voor my in die ry gaan staan nie. En ek het al vir baie jare die kuns bemeester om die persoon agter my met net ‘n “vriendelik, dog ferm” kyk te laat terugskuif sodat hy of sy nie in my nek blaas nie. Ek klim ook nie in ‘n oorvol hysbak nie, lankal nie!

Honderde kinders wat in my klasse was, kan getuig van die “bubble” rondom my tafel – jy mag nie daardie spasietjie betree nie, tensy jy ingenooi word. En alles op my tafel is daarby ingesluit – jy vat NIKS daar nie, selfs al is dit joune. Jy mag vra, ja – en as dit joune is, sal jy dit terugkry. As almal se boeke uitgedeel word, maar joune lê op die tafel, wil Juffrou vir jou iets sê … en as Juffrou dit in haar kop kry dat jy nodig het om met haar te praat, kan jy maar weet, jou boek (of iets anders) sal wel op die tafel beland! Ek weet daar is mense wat oor dié borrel-beginsel frons, maar vir ‘n baie “hands-on” juffrou soos ek, was ‘n klein ruimtetjie van my eie baie belangrik. Ek het bitter selde meer as 10% van my skooldag agter daardie tafel deurgebring, en dit was ‘n maklike manier om ‘n kind sover te kry om met my te móét praat.

Dit is eintlik onverstaanbaar dat ek, wat as een van sewe kinders in ‘n drieslaapkamer-huis grootgeword het, so ‘n ding het oor my persoonlike ruimte. Of dalk, waarskynlik, is dit juis as gevolg daarvan. Moenie verkeerd verstaan nie: ek het my grootword-jare so ineengevleg met my klomp sussies geniet! Ek het nooit ‘n behoefte gehad aan my eie kamer nie, nooit omgegee om ‘n klerekas (en selfs klere) te deel nie, dit geniet om so styf tussen my susse op die rooi kar se agtersitplek ingeryg te sit. So, die borrel-ding het seker maar saam met die grootword gekom. Al my naby-mense (en diere!) weet dat ek glad nie huiwer om naby aan hulle te wees en drukke en selfs soentjies uit te deel nie.

Foto: Steemit

Ek lees op ‘n slim webblad dat ‘n bioborrel ‘n biologies veilige gebied is, wat van die buitewêreld afgesluit is en waarin slegs ‘n beperkte aantal mense toegelaat word. Dus, al is dit deel van die “nuwe normaal” betreffende woordeskat en gebruikstaal, is dit nie vir my ‘n nuwe konsep nie. Ek het nou al vir baie jare só iets rondom my. Nou wel nie totaal afgesluit van die buitewêreld nie, maar beslis baie eksklusief ten opsigte van wie daarbinne toegelaat word.

En nou laat dink dit my – die wêreld darem net ‘n lekkerder plek wees as ons elkeen só ‘n borrel in ons denkwêreld kon skep: een wat ons self maak, en wat niemand anders kan bars nie. Hoeveel rustiger sou jy slaap as jy kon kies watter gedagtes in jou breinborrel mag wees? Hoeveel meer produktief sou jy wees? Minder bekommerd oor dinge wat waarskynlik nie gaan gebeur nie, en wat jy in elk geval nie kan verander nie? As alle bangmaak-fopnuus uitgesluit kon word, alle skinderbekke voor die spreekwoordelike hek moes omdraai, doemprofete nie oor die drumpel kon kom nie, kwetsende op- en aanmerkings ‘n U-draai moes maak voordat hulle gehoor kon word; as goor herinneringe saam met daardie ongebruikte adresse en telefoonnommers (en soms daardie rede hoekom jy eintlik winkel of yskas toe is!) in die vergeet-boksie kon beland … ai, dis mos nou ‘n droomborrel!

Ek gaan vandag nog aan myne begin werk.

Categories
Die Lewe Positiwiteit

Die ding met ‘n pad

Dit val my op dat ek opmerklik baie foto’s van paaie het. Dit laat my besef dat ek nogal ‘n ding het met paaie, en met foto’s van paaie.

Daar is vir my ‘n onbetwisbare bekoring aan ‘n pad, ‘n hek, ‘n heining … Toegegee, die foto van ‘n bruid en bruidegom wat doer voor in die pad stap met ‘n verflenterde ou bruin soetkysie in die voorgrond, se rug is dalk al bietjie hol, maar die hele idee van bagasie wat agtergelaat moet word, het tog meriete! Iewers was daar ‘n fotograaf met insig, of is dit nou weer net ek wat dinge sien wat ander nie verstaan nie?

Foto: Maryke Venter

Ek het ‘n foto van my twee “groot” kinders wat op hulle troudag lieflik en lagbek oor ‘n plaashek leun – dit is een van my gunstelinge. Hulle is nou eers twee jaar getroud en moes al ‘n hele paar hekke navigeer: ‘n nuwe besigheid, ‘n trek oor die blouberge Kaap toe, Covid wat die toerisme-hekke ongeskik en hardhandig in hulle gesigte toegesmyt het. Saam daarmee is daar ander drome en planne wat ook nou agter toe hekke moet wag. En dis maar net dié waarvan ek weet! Tog, die bekke bly meestal lag – al is die hekke nie almal oop nie, die paaie is nog daar. Gelukkig kan mens deur daardie hekke sien, en nog steeds fokus op wat daaragter wag.

Zevenwacht

Dan is daar ook ‘n foto in my versameling van bogenoemde twee hek-oopmakers wat saam met hulle kleinsus in ‘n pad afstap op ‘n pragtige wynplaas. Toe ek die foto geneem het, het ek gewéét die pad is vol klippe, steil en partykeer amper onbegaanbaar. Nou weet ek ook dat as ons mekaar mooi vashou, geen pad te moeilik kan wees nie.

Nieuwoudtville-omgewing: ‘n pad na wat?

Partykeer kan ons nie eens sien waarheen die pad lei nie. Die aanduidings is wel daar dat dit ‘n goeie plek kan wees, maar daar is tog ‘n risiko. Mens weet nooit regtig nie, en die harde waarheid is dat daar nie altyd ‘n lig vir elke pad is nie. Dis wanneer ons maar moet probeer … want anders gaan ons nooit weet nie.

Willemsrus, Namakwaland: ‘n dun strepie pad so tussen die mooi

Dikwels is dit nie regtig ‘n pad nie, net ‘n dun voetpaadjie: ‘n skaars-sigbare strepie waarin mens maar fyntjies moet trap om nie skade aan te rig nie, of nog erger, om nie skeef te trap nie. Dan moet ons maar stap, terwyl ons moedig (of koppig) hoop vir die beste – en ás daar dan ‘n geswikte enkel of ‘n nerf-af knie oor ons pad kom, sal die mooi dinge waarby ons verby is en wat nog voorlê, hopelik daarvoor vergoed.

Noord-oos Thailand, 2017 … ek het nie geweet wat om daardie draai wag nie – gelukkig dalk!

Ek glo nie dat ons elkeen se pad tree vir tree vooraf bepaal is nie – eerder dat ons eie keuses grotendeels ons pad bepaal. Te veel verkeerde keuses is al voor die deur van die “voorsienigheid” of iets dergeliks gelê, terwyl die waarheid eintlik is dat die verkeerde opsie uitgeoefen is, gewoonlik teen alle advies en logika in. Ek kan my nie vereenselwig met die idee dat ek ‘n hulpelose marionet is en dat my toutjies deur magte van buite getrek word nie. Nee wat – ek moet maar aanvaar dat party paaie vreesaanjaend is, met onbekende eindbestemmings, toe hekke en steil bulte. Maar wat ‘n groot avontuur!

Categories
Die Lewe Positiwiteit

Blessings … klein en groot

Dit is vandag presies 3 jaar gelede dat my “pelgrimstog” in Thailand tot ‘n einde gekom het. Daardie maande op die randjie van die Thai-feetjiebos het my lewe en manier van dink onherroeplik verander. Al het ek gegaan om kinders te gaan leer Engels praat, het ek ongetwyfeld baie meer by die mense van Thailand geleer as wat ek hulle kon leer. Nie van Engels nie, maar van ander, belangriker dinge.

Ek het ook amper elke dag dinge ondervind waarvan ek dikwels baie later eers die waarde besef het. Een daarvan was op die begindag van “Buddhist Lent” op die tempeltrappies van die klein dorpie Akatamnuai.

Omdat hierdie tyd saamval met die moesonreënseisoen, word dit ook die “Rain Retreat” genoem. Tydens dié tyd, wat ‘n volle drie maan-maande duur, bring die monnike en hulle leerlinge amper al hulle tyd binne-in die tempels en kloosters deur. Hulle mediteer en bestudeer hulle geskrifte. Buitekant gaan die lewe normaal aan, maar mense gee ook gewoonlik iets prys tydens hierdie tyd – hulle sal byvoorbeeld ophou vleis eet, ophou rook of meer aalmoese gee. Die begin van Lent word gekenmerk deur groot byeenkomste waar mense letterlik bakkievragte vol nie-bederfbare kos bring om die monnike deur die drie maande te help oorleef. Daarna gaan almal tempel toe vir ‘n seremonie.

Dit was my vaste voorneme om deel te wees van soveel moontlik Thai-kultuur as moontlik. Ek het dus ook my boksies melk en pakkies rys bygedra en is daarna saam met die hele skool tempel toe, reg oorkant die skool soos in die meeste dorpies. Ons moes almal wit aantrek en het elkeen ‘n klein bossie blomme saamgevat, mooi vasgebind saam met ‘n kersie en ‘n paar wierookstokkies. By die tempel moes ons met brandende kersies 3 keer anti-kloksgewys rondom die gebou loop – in stilte, terwyl ons ons gedagtes doelbewus besig hou met al die positiewe dinge wat die afgelope jaar gebeur het. Daarna, 3 keer kloksgewys, terwyl ons fokus op al die positiewe dinge wat ons onsself en ander toewens vir die volgende jaar. Onthou, dit alles gebeur terwyl die geur van blomme en wierook ons omgewe. Aan die einde van die stappery sit elkeen sy bossie blomme en wierook aan die voet van ‘n boom of plant neer as ‘n tipe offer – onthou, volgens hulle is die godheid teenwoordig in elke deeltjie van die natuur en in ons gedagtes.

Die feit dat my pragtige Santa-kind by my gekuier het, het alles nog meer spesiaal gemaak.

Die puriste moet my nou maar kruisig en woorde soos “afgodery” of “hippie” mompel, maar ek dink, of nee ek wéét, dit is een van die mooiste rituele wat ek nog ooit bygewoon het. Niemand het gepreek nie – my eie gedagtes moes my leer dat ek baie het om voor dankbaar te wees in my verlede en baie om voor te hoop in my toekoms: mits ek op die positiewe kan fokus. Dit was vir my hartbrekend spesiaal om dit te kon deel met honderde mense wie se taal ek nie kon praat nie, maar wat my sorgsaam en geduldig deur elke stap van die spesiale feesviering gelei het, en my nooit een keer in al die maande uitgesluit laat voel het omdat ek uit ‘n ander kultuur kom nie.

Op die trappies van die tempel, net voordat ons begin stap, hoor ek skielik uitroepe en my een kollega sê met groot dringendheid in sy stem: “Don’t move! Freeze!” My eerste gedagte is onmiddellik dat daar seker ‘n slang in die blombedding langs my is. (Daar was ongeskik baie slange daar tussen die ryslande en oerwoud, en die feit dat niemand ooit een doodgemaak het, het my nie juis gerusgestel nie.) Yskoud geskrik, vries ek natuurlik sonder moeite. My bene is in elk geval te lam om te beweeg. Tog, die mense se gesigsuitdrukkings strook nie met iets vreesaanjaend nie. Inteendeel, almal kom versigtig, amper eerbiedig nader, baie van hulle glimlaggend en met hulle selfoonkameras gereed.

Toe sien ek dit: ‘n pragtige skoenlapper het op my skouer kom sit. Uit al die honderde toegewyde Boedhiste, kies hy ‘n westerling! Die rede vir die opgewondenheid sluit baie nou aan by die denkwyse waarvan ek gepraat het – dat die hele natuur en elke mens goddelik is. My kollegas en leerlinge het opgewonde beduie dat ek “very specially blessed” is. En ek het dit besef. Al was my eerste gedagte dat my grootse slang-vrees waar geword het, was dit inderdaad ‘n mooi en spesiale seëning.

Hoe dikwels gebeur dit? Dit wat ons verlam van vrees, gebeur nie en ons word mateloos, amper ongemerk, deur klein dingetjies gebless. Dankie, Thailand, dat ek kon leer dat ek partykeer moet “freeze” en fokus op die positiewe, en dat klein persentjies dan onverstaanbaar, onverwags en onverdiend op my skouer kom sit.

Categories
Positiwiteit

Hol deur die hopies!

Ek het, soos waarskynlik baie mense, my huishou-gereedskap effens opgradeer tydens hierdie grendeltyd. My gewone besem het plek gemaak vir ‘n deftige groenerige rubbermodel wat glo stof en hare aantrek soos ‘n magneet. Ek het wel ‘n baie sterk vermoede dat my huis-engel, Magdalena, dié groen gevaarte na die kas toe sal verban en sê die oue werk beter, net soos sy al met ‘n hele versameling ander fênsie hulpmiddels gedoen het wat ek oor die jare aangeskaf het.

Nietemin, die vloer-towenaar werk myns insiens baie effektief. Ek staan elke keer verstom oor die hoeveelheid stof en hondehare wat my huis se vloere produseer. Ter versagting, hier bly ‘n man wie se lewenstaak dit is om stof te maak (in die proses maak hy ook darem mooi en handige houtwerk-items!) en twee Pekingese wat baie lief is om buite te gaan modder of sand haal en dit dan oral in die huis te kom “neersit”. En hulle hare is natuurlik ook ‘n nimmereindigende verhaal.

Ek gee glad nie om nie, my drie huismaats se stowwe en hare vee ek met ‘n glimlag op – vanoggend het Mika my juis ewe vrolik begelei met sy vrolike liedjie waarin hy plegtig verklaar dat big girls inderdaat beautiful is. So ek het heerlik agter my besem gedans en gesing, en elke keer as hy sing van die curves in all the right plaaa-ces!!!! het ek sommer ekstra flambojant my rubber-dansmaat oor die vloer geswaai.

Luister hierna en probeer om nie te glimlag nie!

Na my dans-sessie met die oulike Libanese Brit, het ek ‘n paar stewige hopies op die vloer bymekaar gehad. Nou net vir die skoppie en klein besempie … maar toe ek my rug draai, besluit my getroue toesighouertjie, Liefie die kleinste Pekingese, dat haar mens-mamma darem nou nie die enigste verspotte wese in die huis kan wees nie. Soos blits woerts sy deur twee van my hopies, en laat verdwyn dit so te sê heeltemal. Wie kan nou raas as hierdie ogies vir jou kyk?

“Skuus, wou jy iets daarmee gedoen het?”

Terwyl ek die hopies gou weer bymekaarvee, besef ek dat Mika en Liefie my nou elkeen ‘n belangrike les oor my gedagtewêreld geleer het: Eerstens moet ek onthou dat die meeste minder-lekker takies tóg met ‘n glimlag afgehandel kan word. (Onthou Mary Poppins se Spoonful of Sugar…?) Sleepvoet is tog meer moeite as dans!

Tweedens: ek is heeltemal te lief daarvoor om nuttelose ou vuiligheid uit die verre én onlangse verlede se hoekies te gaan uitkrap en dit in hopies bymekaar te maak. Wat wil ek daarmee maak? Nee wat, ons het elkeen ‘n Liefie-woef in ons lewens nodig wat baldadig deur daardie hopies hartseer kan hol sodat dit uitmekaarspat en sommer verdwyn!

As ons nie daardie skoppie en besempie gou genoeg in die hande kan kry om self onmiddellik daarvan ontslae te raak nie, moet ons elkeen ‘n vrolike warrelwind van positiwiteit kry wat blitsvinnig daardie klein bergies verwyt, negatiwiteit, irritasie, selfbejammering, self-twyfel of watter vuilgoed ookal ons binnegoed ontsier, kan plat-hardloop!

Dankie, Mika en Liefie!

Categories
Positiwiteit

Die prys van ‘n goue tand

“Juffrou!” Hy roep my sommer twee keer in die besige winkel. “Ma’am!” Ek herken hom … wéét hy het links voor in my klas gesit en ‘Cry, the Beloved Country’ só geniet. Hy het bitter selde in sy boek gekyk maar elke woord wat ek gelees het, aandagtig gevolg. Tot my skande kan ek nie sy naam onthou nie, maar hy gee my nie kans om te bieg en te vra nie. Ek kry ‘n stywe druk (sommer so saam met handsak, pakkies, sleutels en alles!) en word vertel hoe lank gelede ons mekaar gesien het. ‘n Hele vyf jaar en vyf maande – ek voel dadelik bietjie beter oor die vergete naam.

Hy lyk swierig … skerppunt-skoene, das en hoed, en ‘n goue tand wat beslis nuut is. Natuurlik vra ek wat hy nou doen. “I’m just back from jail, Ma’am…” Hy lag uit sy maag oor my verstomming en verduidelik mooi dat dit niks ernstig is nie, net onwettige mynbedrywighede.

My besware word een vir een afgelag, en my bekommerde vrae word geduldig beantwoord: ja, dit is gevaarlik, maar die geld is so goed; ja, die tronk is nie lekker nie, maar as mens geld het, is dit makliker. Nee wat, ‘n kriminele rekord is nie só ‘n groot ‘drawback’ nie, veral as mens geld het. Ja, hy gaan dit weer doen, die geld is te goed om dit te los, en hy hét nou al die kontakte en vaardighede … En as hy gevang word, weer moet teruggaan tronk toe? Hy klop my gerusstellend op die skouer en troos dat die tronk net ‘n “temporary house” is, en dat hy nie by bendes en dwelms betrokke raak nie.

Toekomsplanne? Ja, hy doen ‘n kursus om ‘n eiendomsagent te word. Want nou dat “fees must fall” ‘n werklikheid is, het studente baie geld vir akkommodasie, veral in Johannesburg. “And almost everybody is a student now, Ma’am …” ‘n Voordeel is dat mens dit deeltyds kan doen, dié verhurings, so saam met die onwettige mynery.

My hart gaan staan vir ‘n oomblik morsdoodstil toe hy vir my aanhaal uit Alan Paton se roman waaraan ek sekondes gelede gedink het: “All roads lead to Johannesburg. If you are white or if you are black, they lead to Johannesburg. If crops fail, if there are taxes to be paid, there is work in Johannesburg.” Sy goue tand blink as hy galant buig en aankondig: “See, Ma’am, I remember what you taught me!” En sowaar, hy val weg met nóg ‘n aanhaling:

Pain and suffering, they are a secret. Kindness and love, they are a secret. But I have learned that kindness and love can pay for pain and suffering.” Ek is totaal sprakeloos, maar my gesig vra seker vir ‘n verduideliking want hy vertel trots dat hy sy eie kopie van die boek gekoop het … “and I read from it often, Juffrou, really! I even took it to jail with me!”

Optimisme en entoesiasme, waagmoed, positiwiteit en ondernemingsgees – alles dinge wat ek hom probeer leer het, so deur die letterkunde en lees-en-skryf en praat-met-‘n-goeie aksent Engelse klasse. Tog. Wat het ek gemis? Dat geld nie geluk kan koop nie? Maar sy oë, sy glimlag, sy hele lyf wys dan juis hoe gelukkig hy is. En hy is trots! Ek sukkel om opgewonde te raak, ten spyte van die blinkoog-trots waarmee hy vir my sy Apple horlosie wys wat “pretty much everything” kan doen.

Hy dra my pakkies tot by my karretjie, vertel dat hy ‘n 4×4 ry, en so met die wegstap vermaan hy besorg: “Be safe, Juffrou … life is dangerous!” Ja. Hy behoort te weet.

Dis altyd lekker om oud-skoliere raak te loop, hulle stories te hoor, en oor hulle suksesse en prestasies te oe en aa. Hoekom is hier dan vandag so ‘n simpel knop in my keel?