Categories
Uncategorized

Saadjies vir later

Ons het Vrydag, 8 Mei, saadjies gesaai, vir die eerste keer in baie jare.

Dalk was dit sommer net normale nostalgie wat my laat terugdink het aan die groot bedding Namakwaland-madeliefies in ons tuin in ons eerste huis in die platteland. Dalk het dit iets met die inperking te doen gehad, en die feit dat Moedersdag om die draai was. Ek het dit duidelik en in volkleur voor my geestesoog gesien – die plaat sonnige gesiggies wat vrolik in die wind dans en die koms van die somer verkondig.

My twee dogtertjies het gereeld daarvan gepluk en in potjies en bakkies gesit, al het die blommetjies gou toegevou as dit afgepluk is. Die plantjies was veelsydig – soms is die blommetjies gebruik om modderkoekies te versier, partykeer was die blaartjies en saadjies bestanddele in die brousels was aangemaak is vir fantasieë wat onder die groot ou dennebome uitgeleef is. Ek onthou ook ‘n voëltjie-begrafnis in die voorste bedding onder die klein witstinkhoutboompie, en die graffie wat sorgvuldig met die sagte geel en oranje blaartjies uitgevoer was.

Partykeer is dit amper geëet!

My liewe skoonma het gereeld vir lang rukke kom kuier, en ek sien haar ná blomtyd gebukkend loop, altyd met ‘n koppie of bakkie in die hand, besig om klossies saadjies te versamel, die twee dogtertjies agterna. Ek onthou hoe ek oral banksakkies met saadjies gekry het toe ons ingepak het om haar ouetehuis toe te verskuif – gewoonlik met ‘n klein papiertjie binne-in wat die datum aandui, waarskynlik om seker te maak die oudstes word eerste weer gesaai.

Kleinsus het by Ousus geleer om te praat van “Kwala-daisies” … hulle weergawe van ons grootmense se “Namakwaland daisies”. Dit het natuurlik standaard-taal in ons huis geword.

So, Vrydag is hier handevol Kwala-daisies in die lekker klam Vrystaatgrond gesaai – groot groewe gemaak, saadjies kwistig gestrooi, en dan weer versigtig toegekrap. Hier en daar moes ons hindernissies prakseer waar ons wéét is ‘n honde-paadjie na die vergaderplek met die buurhonde by die heining. Toe saggies natgemaak, en nou wag ons. Ons sal mooi kyk, natgooi, versorg. Die pakkie sê dit vat omtrent 12 weke om te blom.

Die pakkie sê ook in groot letters: SEEDS OF SUCCESS. Ek glo dit verwys na die sukses-koers waarop gehoop word wanneer mens dit saai, maar in my gedagtes raak dit sommer ander saadjies wat lewenslank gesaai word ook: pluk blommetjies as daar ‘n oorvloed is, dra dit oral heen, deel dit uit, en put die genot daaruit – as dit verlep, pluk nuwes! Speel, word vuil, fantaseer – geniet dit wat jy het, terwyl jy dit het. Waardeer die kleure van elke seisoen. As daar ‘n mossie-begrafnis of ander hartseer-oomblik is, gebruik die mooi wat jy het om dit beter te maak. Bêre kosbaarhede in jou hart en kop weg, al is dit net vaal saadjies. Anderdag kry jy dit nodig en word jy beloon met splinternuwe lewe en kleure. Doen wat jy kan om dit wat jy gesaai het, te beskerm. Maar glo ook maar effens blindelings dat, al kom élke saadjie nie op nie, die beloning groter as die skade gaan wees.

Twaalf weke … dan is dit einde Augustus. Ná die winter. Hopelik ook na die inperking. Hopelik sal ons dan al weer ons kinders kon sien, voel, vashou …

Ons hoop.

Categories
Uncategorized

Musings on masks

A while ago, just before the wearing of masks became compulsory, I thought that while I have lots of fabric scraps and more than enough time, I could just as well make some masks for friends and colleagues. Very soon my dining room table became a small mask factory.

How I enjoyed it! I played around with colours and combinations and had enough time to reflect on various subjects (some may call it “thinking up nonsense”) …

It hit me that, just like little scraps of fabric, many people are often not noticed, or they are easily written off as useless or outdated. Maybe they should just be offered the opportunity to serve an essential purpose. Vastly different little scraps of cotton (or human) that ordinarily would never have ended up together, make up the perfect combination under the right circumstances – and that may be exactly what is needed at that specific moment in time.

The repetitive nature of my self-assigned task renewed my gratitude for the work I did for so many years, and the fact that no two days were ever the same – even though the work did not change much, the altering moods and preferences of the children (and the teacher!) together with the changing circumstances ensured that I was never bored. (Also, I never had painful neck spasms because of sitting in one position for hours!)

Another truth that dawned on me anew, is the privilege and necessity of starting over. I cleaned my work space every evening and put everything away, even though I knew that I was just going to start again tomorrow morning. Still, it was good to see everything as if through new eyes in the morning, and to start with new-found energy. This is something that I should do more often in my daily life and especially in my thought processes and mindset. Put away. Throw out. Clean up. Start again. Repeat as many times as needed.

The miracle of perspective was also revealed to me once again. As adults we moan and groan about the inconvenience of wearing masks. Some masks are suffocating us, spoiling our hairstyles (or what is left of them at this stage of lockdown), others irritate our ears, fog up our glasses and are just a general bother. But this little sweetheart, who just received one because he is so adorable and because I knew that he’d want one when he saw his parents wearing theirs, refuses to remove his!

Photo: Karin Herbst

Oh, if only each of us could learn the sense of wonder that children have, and realise that there is an adventure hidden in every new experience!

And then, every task, no matter how glamorous, also involves some less glamorous routines. I could not believe how many little pieces of thread, snippets and general mess these masks generated. Even less how stubbornly those pieces and snippets clung to the carpet when the cleaning-up stage arrived every evening! It’s a bit like people: each one grabbing and clinging desperately onto his little bit of the world, his argument or dream and refusing to let go. I hope we will also cling onto one another, hope and positivity during these strange times!

At last, with the table cleared, the carpet cleaned and the chaos tidied up, only the inside of my overlocking machine had to be cleaned. Minuscule remnants of each piece of fabric that passed through the cutter and needles were stuck there. I had to remove the residue patiently, using a little brush, cloth and small vacuum cleaner. Once the lockdown ends, I will take it to the technician who knows every detail and mood swing of my machine. How I wish that there was an instrument I could use to get rid of all the useless and negative bits in my head as well!

Actually, it dawns on me, I can – I only have to replace them continually with positive bits!

Categories
Uncategorized

Trapklippies in die Covid- (of enige ander) rivier

Ek het kleintyd aangeleer om slegte dinge te vergeet, goeie dinge te onthou, en as daar nie iets goeds in ‘n situasie is nie, te soek totdat ek iets goeds kry. Ek weet hierdie uitkyk is nie altyd realisties nie – inderdaad, ek het ‘n baie sterk vermoede dat dit vir ander mense nogal irriterend kan wees. Ek besef mens kan nie altyd die gevaar, die risiko, die hartseer vermy nie, en tog probeer ek dit doen. Dis hoe ek oorleef. My coping mechanism. Ekskuus, taalpuriste. Hanteringsmeganisme wil nie hier werk nie.

Dus … getrou aan my onrealistiese, oor-positiewe natuur, begin ek soek na maniere om kop bo water te hou in hierdie woeste rivier van virus-vrese, fopnuus, negatiwiteit, wantroue, angs, irritasie, paniek, samesweringsteorieë, uitsigloosheid, wanhoop en apatie.

Bly besig. Tyd is bietjie soos melk. Jy moet dit betyds gebruik, anders raak dit suur. Ek is oortuig dat die meeste mense baie verlig was om te kan werk van die huis af. ‘n Mens kan ook net sóveel bordspeletjies, legkaarte en selfs lekker oorspronklike speletjies speel. Ek weet eerstehands dat baie studente en skoolkinders hulle irriterende, veeleisende onderwysers en dosente mis, en andersom verlang die onnies en dosente na daardie lui, rebelse studente. Selfs diegene wat nie werk nie, moet besig bly – nie net jou lyf nie, maar ook (en veral) jou kop. Wees kreatief, of ten minste net sinvol besig!

Skep orde. Ek weet, die eerste prentjie in baie koppe is nou ‘n gangkas, die boonste rak in een of ander kas, die garage, of daardie kas waarin die plastiekbakke en hulle deksels ‘n heelal van hul eie geskep het. Elke huis het sulke hot spots. (Weer eens, ekskuus: warm plek is nie wat ek bedoel nie, alhoewel dit dalk is waar daardie plekkies in my huis my gaan laat beland!) Maar ek dink nou eintlik aan ‘n ander tipe orde skep – of dalk is “orde” nie eintlik die regte woord nie. Prioritiseer, dalk? Besluit wat regtig belangrik is – juis nou dat ons sekere dinge en mense, veral, moet ontbeer, kan ons duideliker sien waarsonder ons nié kan klaarkom nie. Die teenoorgestelde is ook waar: sekere ander dinge, wat ons altyd hopeloos oorskat het, blyk nou glad nie so onontbeerlik te wees nie.

Maak skoon. En weer, nee, ek praat nie nou net van jou huis nie! My huis is nou skoon. Blinkskoon, ten minste vir tien minute nadat ek die lappe, besem, stofsuier en die hele versameling skoonmaak-parafernalia (Google sê dit IS ‘n Afrikaanse woord, régtig! En dit sê lekkerder as Pharos se bybehore, toebehore en goeters …) gebêre het. Maak ook jou binnegoed, jou binnekant, skoon. Skrop in die hoekies. Sit die stofsuier se langbek-katoeter aan en suig daar waar mens vergeet om te kyk. Raak ontslae van daardie onnodige goed wat net rondstaan en stof opgaar, wat lank gelede dalk ‘n doel gedien het maar nou net ‘n ergernis is. Maak oop die vensters van jou kop, trek die gordyne weg – laat die wind en die son bietjie inkom! Veranderde idees, vars gedagtes, nuwe denke … dis ‘n make-over wat geld nie kan koop nie.

Reik uit. Hoekom is ‘n dodelike virus nodig om jou te laat onthou om met jou mense kontak te hou? Kom jy regtig nou eers agter dat jy jou bure nodig het, en hulle vir jou? Bekommer jy jou nou vir die eerste keer oor die ou man wat in die asbliksakke soek vir iets om te eet? Ek is skuldig, Edelagbare, op baie sulke aanklagte. Ek besef nou dat daar dinge is wat ek het, of weet, of nie wil hê nie, of kan doen, wat vir iemand anders die wêreld net daardie klein bietjie draagliker kan maak. Die klein hand-uitsteek-gebaartjies wat ek die afgelope tyd gegee én gekry het, het vir my baie beteken.

Aanvaar hulp. Dit werk na twee kante toe. Moenie te trots wees om te erken dat jy iemand se hand nodig het om jou deur die stroom te help nie. Kyk maar waar die meer ervare stapper trap, en volg in sy voetspore. Dis slim, nie swak nie, om ‘n sterker persoon toe te laat om jou rugsak deur die rivier te dra – en as hy jou nie regtig wou help nie, sou hy nie aangebied het nie. En onthou om dankie te sê, al het jy dalk nie asseblief gesê nie! Hulp waarvoor jy nie gevra het nie, is waardevol.

Hierdie foto van my jongste (Alta, links voor saam met May-Mari) en haar vriende wat mekaar help om die Senqu-rivier in Lesotho oor te steek, illustreer baie van wat ek hier kwytraak.

Balans is belangrik. Terwyl die prentjie in my kop nou dié is van ‘n river wat oorgesteek moet word – jou kans om dit reg te kry, is net baie beter as jy jou balans kan hou. Jy wil nie in daardie yskoue water beland nie. Jy wil ook nie hê jou bagasie moet alles sopnat en yskoud wees nie – maar dit is dalk juis daardie goeters wat jy saampiekel, wat jou balans versteur. So … eintlik is ek terug by ‘n vorige punt: raak ontslae van dit wat jou nie help nie, maar in die koue water gaan laat beland. Griewe, vooroordele, skynheiligheid, pretensie, suinigheid, trots. Die lys is lank, want daardie rugsak in my kop het baie pakplek.

Wens jouself geluk. Jy mág trots wees op jouself, jouself op die skouer klop, as jy iets moeiliks reggekry het. Selfs al is dit iets wat ander mense (so dink jy) maklik regkry. Jy gee waarskynlik graag en maklik vir ander erkenning – wees ‘n slag met jouself ook gaaf. Dieselfde berg is nie vir al die klimmers dieselfde uitdaging nie. As die uitdaging vir jou groter was, is die prestasie mos ook vir jou groter! Omhels jou uitdagings, maar ook jou mylpale!

Alta en May-Mari het Lesotho se berge gewys wie’s baas – al was nie een van hulle voor dié staptog juis “bergstappers” nie. Partykeer is Everest se naam Maluti …

En laastens: common sense. Gewone gesonde verstand. Gebruik dit – jy sal dalk verbaas wees oor die vele moeilike situasies waaruit dit jou kan red. Was jou hande, hou jou afstand, beplan vooruit sodat jy nie onnodig hoef rond te ry nie. Eet gesond, slaap genoeg, kry oefening. Moenie alles glo wat jy hoor of lees nie. Moenie stories versprei as jy nie seker is dat dit waar is nie.

Het ons dit nie nog altyd geweet nie?

Categories
Uncategorized

Masker-gedagtes

Die afgelope paar dae het ek die meeste van my tyd met my naaldwerk-masjien verwyl. Soos baie ander, het ek maskers gemaak. Oorspronklik, nog voordat maskers verpligtend geraak het, het ek sommer so ‘n halfgebakte prakseersel aanmekaargeslaan net vir my en manlief se enkele versigtige inkopietogte. Spoedig het ek egter beter patrone op die internet raakgeloop, en ons s’n opgradeer. Beste maatjies en liewe buurvrou het ook gekry, en toe ek eers die omvang van die masker-behoefte besef, het my eetkamer sommer vinnig in ‘n masker-fabriek in die kleine verander.

Ag, dit was lekker! ‘n Hele klomp jare gelede, toe MS my ousus se oë so aangetas het dat sy nie juis meer naaldwerk kon doen nie, het ek ná ‘n kuier by haar met ‘n karvrag lappe uit haar instap-lappekas by die huis aangekom. My lappetas is summier vergroot na ‘n lappekas en ek het sedertdien al baie plesier uit daardie lappe gekry. Voeg daarby ‘n vlugtige bevlieging om laslap-werk te doen, en die groot verskeidenheid lappies wat beskikbaar en geskik is vir maskers, kan maklik verklaar word. Ek kon heerlik speel met kleure en kombinasies.

Ek het nie miljoene rande wat ek kan skenk vir die geveg teen die virus wat almal terroriseer nie. Maar, het ek gedink, ek hét nou die lappe en die tyd. Ek het dus vir die onderwysers by die twee skole waar ek betrokke was, maskers gratis aangebied. Heelwat het van die aanbod gebruik gemaak, en so vyftig maskers later voel ek nou nie soos Anton Rupert nie, maar ek het darem ‘n klein bydrae gemaak.

In die proses het ek natuurlik genoeg tyd gehad om oor allerlei dinge na te dink: soos dat, nes lappies, dinge en mense wat dikwels sommer maklik misgekyk word en selfs as nutteloos of uitgedien gesien kan word, dalk net die geleentheid gegun moet word om ‘n lewensbelangrike rol te vervul. Dat uiteenlopende stukkies lap (of stukkies mens) wat normaalweg nooit bymekaar sou uitkom nie, in die regte omstandighede die perfekte kombinasie is, en presies wat op daardie oomblik nodig is.

Die herhalende aard van my self-opgelegde taak het my opnuut dankbaar gemaak vir my werk wat elke dag anders was as elke vorige dag – al was die werk dalk dieselfde, die kinders (en die juffrou) se veranderende buie en voorkeure, en die wisselende omstandighede het gesorg dat ek nooit verveeld was nie. (En ook nie nekspasmas gekry het van in een posisie sit en werk nie!)

Ek verstaan sommer die voorreg en noodsaaklikheid van oorbegin ook beter. Ek het saans alles netjies opgeruim en reggepak, al het ek goed geweet dat ek more-oggend maar net weer gaan begin. Tog was dit goed om soggens as’t ware weer alles deur nuwe oë te bekyk, en met nuwe energie aan te pak. Dis iets wat ek meer in my daaglikse lewe en gedagtegang moet doen. Pak weg. Gooi weg. Maak skoon. Begin weer. Herhaal soveel kere as wat nodig is.

Die wonder van perspektief het my ook van nuuts af getref. Ons grootmense kerm en kla oor die ongerief van die masker-draery. Party versmoor ons, bederf ons haarstyl, ander irriteer kwansuis ons ore, wasem ons brille toe en is sommer net lastig. Maar dié klein skattebol, vir wie ek ook vinnig ‘n maskertjie aanmekaarslaan toe ek sy mamma en pappa s’n verpak, wil syne nie afhaal nie!

Dankie vir die foto, Karin!

As ons maar almal die verwondering van ‘n kind kon aanleer, en besef dat in elke nuwe ervaring ‘n avontuur opgesluit is!

En dan het elke taak, hoe glansryk ookal, mos maar sy sleurwerkies ook. Dit was vir my onbegryplik hoeveel rafeltjies, snippertjies en algemene gemors hierdie maskers genereer het, en ook hoe hardnekkig daardie flentertjies garing en lap aan die mat kon klou as dit by die opruimslag gekom het! Ook maar soos mense … elkeen gryp verbete aan sy stukkie wêreld, argument of droom en weier om te los, né? Ek hoop ons klou ook só aan mekaar, aan hoop en aan positiwiteit vas in hierdie vreemde tyd!

Uiteindelik, met die tafel leeg, mat skoon en chaos opgeruim, was daar net die binnekant van die omkapmasjien wat ek moes skoonmaak. Klein-klein oorblyfseltjies van elke lappie wat onder daardie lemmetjie en naalde deur is, het daar gesit en ek moes dit geduldig met ‘n kwassie, lappie en klein stofsuiertjie verwyder. As die inperking verby is, sal ek die masjien na die tegnikus toe vat – hy werk al baie jare aan my masjiene en ken al hulle nukke. Ag, hoe wens ek dat daar ‘n instrumentjie was waarmee ek die nuttelose en negatiewe stukkies en brokkies in my kop ook kon uitwis!

Eintlik, besef ek nou, kán ek – ek moet hulle net gedurig met positiewe stukkies vervang!

Categories
Uncategorized

Liewe President

Jy moet al morsdood-moeg wees. Jou senuwees moet aan ‘n dun draadjie hang en jou geduld is seker ook al boomskraap. Tog bly jy op die oog af rustig, geduldig, en waardig. Dit maak my dankbaar en trots.

Ek het nie ‘n aftik-lysie met vereistes vir leiers en hulle toesprake tydens wêreldwye pandemies nie; ek glo nie enigiemand het só iets nie. As ons egter standaarde vir hierdie vreemde tye sou wou stel, dan dink ek jy, Meneer President, het nou baie hoë vereistes vasgestel. Min, indien enige, ander leiers kan met jou meeding.

Anderkant die Atlantiese Oseaan tier die een met die hare en die rooi das. Dit gaan oor hóm. Hy baklei, verdedig homself, regverdig sy besluite, bult sy spiere, dreig om Iran se skepe uit die water te skiet … hy kan by jou leer van respek afdwing, van bemoedig, dankie sê, gesag inboesem op ‘n waardige maar ferm manier.

Ek glo Nelson Mandela sou trots gewees het op jou. Hy sou waarskynlik goedkeurend geknik het en erken het dat jou paadjie in die politiek dalk nie geloop het soos hy wou hê dit moes nie, maar dat dit inderdaad ‘n seëning is dat juis jý, juis nou aan die stuur van sake is.

Gepraat van Mandela, sy woorde “If you want the cooperation of humans around you, you must make them feel they are important – and you do that by being genuine and humble,” was nog altyd waar. Maar jy, Meneer President, is ‘n lewende voorbeeld daarvan.

Dankie dat jy gereeld met ons praat. Dankie dat jy ons in die oë kyk as jy met ons praat. Dankie dat jy so goed voorbereid is wanneer jy praat. Dankie dat ons kan glo dat jy régtig gaan probeer om te doen wat jy sê. En dankie dat jou menslikheid ons inspireer en laat glimlag … ons almal, net soos jy, moet maar spook met daardie lastige maskers – maar ons gaan, soos jy, nie toelaat dat dit ons verblind nie!

Pas jouself asseblief op. Ons het jou nodig!

Categories
Uncategorized

Dear Mr President

You must be bone-tired by now. Your nerves must be shot and your patience is probably wearing very thin. Still, you seem calm, patient and dignified. That makes me grateful and proud.

I don’t have a checklist with requirements for leaders and their speeches during international pandemics; I doubt anybody has. If we wanted to set standards for these strange times, however, then you, Mr President, has now set the bar extremely high. Few, if any other leaders, can compete with you.

On the other side of the Atlantic the one with the hair and the red tie is ranting. It is all about him. He argues, defends his decisions, flexes his muscles, threatens to blow Iran’s ships out of the water … he can learn from you about commanding respect, about encouragement, gratitude, being authoritative in a dignified but firm manner.

I believe Nelson Mandela would have been proud of you. He would probably have nodded in approval and admitted that even though your political career did not go exactly according to his wishes, it is indeed a blessing that nobody else but you are at the helm at this specific, strange time.

Speaking of Mandela, his words “If you want the cooperation of humans around you, you must make them feel they are important – and you do that by being genuine and humble,” have always been true. But you, Mr President, are a living example of those words.

Thank you for speaking to us regularly. Thank you for looking us in the eye when talking to us. Thank you for being so well-prepared when you speak. We are grateful that we can believe that you are truly going to endeavour to do what you are promising. And thank you that your humanity can inspire us and make us smile … all of us, just like you, have to battle with those fiddly masks – but just like you, we won’t allow them to blind us!

Please look after yourself. We need you!

Categories
Uncategorized

My liewe land

Nee, dis nie ‘n uitroep van verbasing of verwondering, irritasie of woede nie. Dié slag is dit die aanhef van ‘n brief aan Suid-Afrika:

My liewe Suid-Afrika

My juffrou het my jare gelede geleer dat mens nie ‘n brief begin met “Hoe gaan dit?” nie, want volgens haar behoort mens te wéét hoe dit met iemand gaan vir wie jy omgee. En buitendien, as dit sleg gaan, kan jy nie so openlik daaroor uitvra nie.

Nou ja. Ek weet dit gaan op hierdie stadium nie baie goed met jou nie. Dis nie jou eerste oorlog nie, ek weet. Jy is al deur ‘n paar, groot en kleiner. In 1899 het die vyand met hulle rooi baadjies van oor die see gekom. Hulle het jou mense geskiet, jou velde verbrand, en, erger nog, jou mense in tentkampe ingehok.

Nou is daar weer oorlog. Dié keer het die vyand weer oor die see gekom, maar hy is onsigbaar. Tog weet ons hoe hy lyk, die aaklige virus met sy lelike stekels en dodelike kiem-koeëls. Jou mense is weer ingehok. Hulle kruip weg, en hou die nuus groot-oog dop: wen ons? Hulle vra gedurig soos kinders wat wegkruipertjie speel: “Kan ons maar uitkom?”

Jy kan trots wees op jou mense – hulle gehoorsaam meestal die reëls, en werk uitsonderlik goed saam: baie dra hulle oorlog-uniform-maskers, min ry onnodig rond, dié wat kan, help ander. Mense wat gewoonlik met mekaar baklei, baklei nou saam. Maar ai, my land, baie van jou mense kry swaar, jong. Hulle werk het verdwyn, hulle geld is op, hulle blyplekke klein en beknop, hulle kinders baie en benoud. Die kinders mis hulle skole, hulle juffrouens, hulle maats. Hulle beproef hulle ouers se geduld, vindingrykheid, intelligensie, uithouvermoë en humorsin.

En tog, Suid-Afrika, gaan dit nie nét sleg met jou en jou mense nie. Jou wilde diere baljaar: hulle wag blykbaar lankal vir die mense om effens opsy te staan. Jou strande en strate bly skoon, jou lug is suiwerder omdat die vliegtuie en voertuie stilstaan. Jou mense drom minder saam, jaag minder rond. Dit is goed vir hulle, al besef almal dit nie. Jou mense begin dinge waardeer – klein en groot dinge waaroor hulle voorheen nie eens regtig gedink het nie: sterk, waardige leierskap op verskeie vlakke, vars vrugte en groente, vryheid om rond te beweeg, samesyn, aanraking.

Soos in elke oorlog het hierdie oorlog ook helde – mense wat die vyand vierkantig in die oë moet kyk en hom oënskynlik vreesloos moet konfronteer: dokters, verpleegsters, nooddiens-werkers, aptekers, navorsers, versorgers van oumense, kinders met spesiale behoeftes, weggooi-babas en weggooi-diere, kosvoorsieners, vullis-verwyderaars, planmakers … die lys is lank en vol verrassings. Ek glo dat die kunstenaars wat aanhou om die mense te vermaak, die onderwysers wat aanhou om op wonderlike maniere hulle leerders te ondersteun en te motiveer, die gewone mense wat hardkoppig die blinkkant bo probeer hou, ook helde is. Emerson het gesê dat ‘n held nie juis dapperder is as ‘n gewone mens nie, maar dat hy net vyf minute langer dapper bly. Suid-Afrika, ek hoop saam met jou dat jou helde, waar hulle ookal is, daardie ekstra vyf minute sal kan uithou.

Suid-Afrika, jou mense het deur die vorige oorloë gekom. Ja, natuurlik het hulle letsels oorgehou – lelike letsels wat baie van hulle tot vandag toe nog pla. Maar sterker, elke keer. Ek glo dit gaan weer só wees. Niemand weet nog wanneer hierdie oorlog verby sal wees nie, maar dít weet ek: dit sal verbygaan. En dan, my liewe land, gaan jou mense uit hulle wegkruip-plekke kom, jou veelkleurige vlag hóóg swaai en jou lied kliphard sing, tot by die laaste twee reëls: Laat ons lewe en streef vir vryheid, in ons land, Suid-Afrika.

Sterkte, Suid-Afrika! En baie liefde.

Categories
Uncategorized

Grendel-gewoontes wat maar kan bly

Natuurlik is hierdie toesluit-tyd, tuisbly-tyd, grendeltyd, wat ons dit ookal noem, ongerieflik – dalk net omdat dit so half onverwags was, al het ons darem ‘n paar dae vooraf-kennis gehad. Wie het nou kon dink dat ons Paasnaweek agter ons eie hekke en deure sou moes bly? Hier by ons het ons daggies afgetel tot by ‘n lank-oor-gedroomde vaart op ‘n luukse skip wat voorafgegaan sou word deur ‘n lekker kuier by ons Kaap-kinders, en afgesluit sou word met ‘n lekker familiekuier en die energieke kinders wat die Twee Oseane-marathon hardloop. Alles uit- of afgestel … en sowaar, ons oorleef! Ons tel nou maar weer slapies vir die bootvaart en hoop dis nie te lank voordat ons mekaar regtig kan sien en voel nie. (Ek wil liewer nie die detail deel oor hoe verskriklik ek my kinders mis nie – die feit dat ek meer as twee ure voor sonop hier sit en skryf, sê baie daaroor.)

Ons gesin het so 2 keer per week ‘n “vergadering” via ‘n WhatsApp video-oproep. Al die mens- en hond-inwoners van ons drie huise kom dan bymekaar, elke keer met ‘n ander “opdress” tema. (My kinders is van kleins af baie lief vir aantrek volgens ‘n tema.) Dit is lekker en nodig om meer van mekaar te sien as net ‘n getikte teksboodskappie. Hoekom het ons gewag vir ‘n wêreld-krisis om hierdie lekker en nodige ding te begin doen?

Ook buite ons gesin is daar gebruike wat nou as noodmaatreëls ingestel is, maar wat eintlik gewoontes moes gewees het – as taxi’s en ander openbare vervoer altyd gereeld skoongemaak en ontsmet is, sou ons hele bevolking nie gesonder gewees het nie? As hulle verbied was om oorvol vragte passassiers te vervoer, sou daar nie minder ongelukke en misdaad gewees het nie?

‘n Gesonde afstand tussen mense is presies dit – gesond! Ek het nog altyd ‘n “geit” gehad oor my persoonlike ruimte. Ek het nog net een inkopie-tog onderneem sedert die begin van die grendeltyd, en ek moet sê, ek sal kan saamleef met die nuwe reëls. Dit voel sommer of almal ook beter maniere het: almal wag ewe geduldig vir mekaar, handhaaf hulle afstand, knik ewe vriendelik en bedeesd van agter hulle maskers. (Ek het reeds na my skoolhou-avontuur in Thailand besef dat die dra van maskers as mens olik is, ‘n baie goeie idee is.) Dalk is dit deels omdat ons meer tyd het, nie werk toe of na die volgende afspraak hoef te jaag nie. Hoe ookal, dit was ‘n vreemde, maar positiewe ervaring.

Ek besef dat hierdie inkopie-tog van my eintlik baie meer effektief was as in die verlede. Ek en manlief het doelgerig gaan sit en beplan, elkeen met ‘n lysie, sodat ons elkeen in ‘n ander rigting kon gaan en so gou moontlik terugkom. Ons gaan nie binne die volgende week weer winkels toe nie. Al het ons elkeen teruggekom met ‘n paar ongelyste bederf-goedjies, is ek oortuig dat ons geld en tyd bespaar het. Beplanning was nog altyd ‘n goeie, maar onder-benutte gewoonte.

Ek wonder of die Chinese immigrante-kinders wat ek tutor, hulle werkies wat ek vir hulle op geheue-stokkies gelaai het voor die onverwagte lang vakansie, hersien. Sing hulle lekker saam met die liedjies, en speel hulle die speletjies? Sal hulle ouers se besighede oorleef? Anders as die ander kinders, kan hulle ouers nie juis help met tuis-onderrig nie, omdat hulle bitter weinig Engels magtig is. Dit bring my by nog ‘n gewoonte wat gerus kan bly: ouers wat nou meer tyd saam met hulle kinders deurbring, en ook sommer ‘n kykie kry in wat hulle van onderwysers verwag.

Buite my eie leefwêreld berei my een spruit virtuele lesse voor vir haar studente, en stel aanlyn-toetse op. Haar ousus woon amper elke dag ‘n webinaar by, beplan aanlyn-kursusse en maak innoverende planne saam met kollegas om in die post-corona wêreld hulle jongmens-toerisme maatskappy te bedryf. My twee sterk meisiekinders sal dit maak, ek is verniet slaaploos oor hulle. Maar hulle bedrywighede laat my wonder of die akademiese en korporatiewe wêrelde waarin hulle beweeg, nie eintlik lankal anders moes begin dink het oor dinge soos vergaderings en maniere om groot getalle te hanteer nie. Dit is maar net twee aspekte – ek dink op baie ander gebiede gaan ons hele wêreld dalk meer effektief raak in die toekoms.

Op sosiale media daag mense mekaar uit – plaas ‘n foto van jou ma, jou kind, jou troeteldier, jou aandete; deel resepte, idees vir handwerk, planne vir gesins-aktiwiteite; vul lawwe vraelysies in, eet en drink eienaardige dinge. Baie mense is suur en sinies daaroor – gewoonlik maar diegene wat in elk geval suur en sinies sou wees oor enigiets. Ek lag oor die meeste daarvan, doen mee aan heelwat. Hoekom nie? Besig bly was nog altyd goed, en as jy met lighartige dinge besig bly, ook goed. As jy dit saam met ander doen, nog beter. Dis ‘n plaasvervanger vir persoonlike kontak, iets wat ons hierna hopelik en waarskynlik meer sal waardeer. Dit is nog ‘n goeie gewoonte: reik uit na ander, op watter manier ookal. Ons het mekaar nodig.

Natuurlik, moenie op ander hoes, nies en spoeg nie. (Kan sportmanne asseblief ook na dese ophou spoeg?) Glimlag, al is dit agter ‘n masker. Help waar jy kan. Wees geduldig, wees gaaf. Was jou hande. En bly by die huis – op sigself ‘n lekker en goeie gewoonte, en een wat ons meer moet waardeer!

Categories
Uncategorized

Nog 4 lockdown-lesse

Ons is nou in die dubbelsyfers van ons 21 dae … die halfpadmerk is al agter ons. Vir my en my mense is dit vreemd om so ingeperk te wees, maar glad nie ondraaglik nie. Ons kan, en het, ons omring met dinge wat dit draaglik en selfs lekker maak. Ek hoop ons sal hierna dié dinge meer waardeer – ek glo darem ons waardeer dit reeds, danksy die feit dat ons almal, my twee kinders inkluis, nie ryk (aan geld) grootgeword het nie. Tog dink ek dat ons ons boekrakke, musiek, rekenaars en ander tegnologie, ons diere (en ander huismaats!) en ons tuine hierna net daardie bietjie hoër op ons lysie van dinge om voor dankbaar te wees, gaan plaas.

Ek kan nie help om ‘n gevoel van paniek te ervaar as ek TV- en koerant-beelde van informele nedersettings sien nie. Dit moet ‘n nagmerrie wees om in ‘n klein hut ingeperk te wees. Hoe hou jy die kinders besig – nee, hoe hou jy selfs die grootmense besig? Hoe verhoed jy die verskillende persoonlikhede, voorkeure, generasies, en gemoedstoestande om te kruis en te ontplof? Waarmee stimuleer jy kinders wat in die skool behoort te wees? Dis vandag se eerste les: jou ruimte is ‘n luukse.

Die sportnuus-leser op die TV is baie vindingryk en het elke aand ‘n nuwe manier om ons mee te deel dat geen sport op die oomblik plaasvind nie. “Dis maar stil op die sportfront” en “Ons sport-spens is leeg” is maar twee van dié nuutskeppings. As onderwyser het ek baie gereeld gemengde gevoelens oor sport gehad: enersyds het ek besef dat sport baie belangrik is (ja, ek weet van ‘n gesonde liggaam en ‘n gesonde gees …) maar andersyds het ek te dikwels ondervind hoe Koning Sport ‘n genadelose diktator kan wees wat ‘n onnie laat met te min ure om die werk te doen, groot, sterk seuns wat net eenvoudig te moeg is om te werk (ek was vyfuur vanoggend in die gym, Juffrou…), ongeskeduleerde onderbrekings in ‘n skooldag, sportsterre wat ‘n bo-natuurlike, ongeskrewe immuniteit het as dit kom by dissipline … Ag, die lysie is baie lank en ek weet ander onderwysers sal kan aanlas en onderstreep. Tog, en dit is les twee vir vandag – sport het tot stilstand gekom, maar die wêreld nie – daar is belangriker dinge!

Glansryke, professionele beroepe is meteens nie meer so belangrik nie. Die dikwels-onderskatte en misgekykte verpleegpersoneel, kassiere in die supermark en afleweraars is skielik meer onontbeerlik as die pak-en-aktetas brigade. Ek sidder toe die vullisverwyderaars opdaag en soos altyd, met hulle vrolike fluit-taal vir mekaar boodskappe straat-af stuur – ons almal steriliseer half-histeries alles waaraan ons vat: hierdie manne werk met ander se huishoudelike afval – sou hulle handskoene genoeg beskerming bied? Ons Evas mis ons haarkappers, die meisies wat ons naels en ander hernubare uiterlike deeltjies versorg, die vrouens wat ons help huishou en die manne wat ons tuine in stand hou. Les drie: respekteer elke beroep, en sommer jou eie ook!

Koninklikes, vermaaklikheid- en sportsterre, politici, mense van alle vorms, groottes, kleure en ouderdomme, moedig ons aan om by die huis te bly. En dit, vir my, is vandag se belangrikste les, en een wat ek elkeen wat hier lees, uit my hart uit toewens: dat jou huis altyd ‘n veilige hawe sal wees.

Categories
Uncategorized

Lockdown-lesse #1

Baie mense probeer met ‘n goeie Afrikaanse woord vorendag kom vir “lockdown” – ons hoor van grendeltyd, inperking, toesluit-tyd, corona-kwarantyn … wat ons dit ookal noem, dit is ‘n vreemde werklikheid en iets wat min van ons gedink het ons ooit sal beleef.

Vir ‘n onbeskaamde boekwurm en storieslaaf soos ek is dit in baie opsigte nie ‘n straf nie. Ek het genoeg leesgoed op my rak en in my Kindle se blikbrein, en danksy Showmax en Netflix sal my stories ook nie opraak nie. Die dinge waarvoor ek lief is, is huisdinge – ek het genoeg wol en garing om baie te hekel, genoeg meel en eiers om lekker te bak, en my rekenaar is byderhand as ek iets wil skryf of met ander wil kontak hou. As ek vars lug nodig het, het ek gelukkig ‘n heerlike tuin waarin ek kan asemskep en danksy YouTube kan ek steeds 3 maal per week, of so gereeld as wat ek wil, oefening inkry.

Ek is skielik dankbaar dat ek nie ‘n sport-verslaafde is nie, dat my gemoedsrus op geen manier aan adrenalien verwant is nie, en dat ek nie ‘n groot partytjiemens is nie. Natuurlik mis ek vryheid van beweging, ja! Ek mis my buurvrou wat inval vir lekker koffie en gesels, my hartsvriendin wat kom kuier en die luukse van gou in die kar spring om iets te gaan koop.

Ja, dit het hierdie opsluiting my geleer: wat ek as belangrik beskou het, is toe nie belangrik nie. Die winkels wat belangrike goed verkoop, is gesluit, en die rakke met noodsaaklike dinge is afgekamp en verbode in die winkels. Mense wat hulleself essensieel geag het, bevind hulleself nou by die huis en sonder reispermitte.

Meer as ‘n week van inperking is verby, en ek het dit nog glad nie buite ons erf gewaag nie. Die televisie en sosiale media vertel my van mense wat gearresteer word omdat hulle die maatreëls minag. Ek kry hulle nie jammer nie. My ouers het my geleer van voel as jy nie wil hoor nie. Ek kry wél die haweloses jammer wat in gemeenskapsale of sportstadions ingehok is – al is dit vir hulle eie veiligheid, is hulle “vryheid” letterlik al wat hulle het. Ek wonder oor die karwag-omie voor die wolwinkel … al is hy alewig in my pad as ek uit my parkeerplek ry en al vervies ek my elke keer as hy vir my verduidelik hoe ek vir die randsteen moet pasop … waar kry hy nou ‘n geldjie? Die effe verslonste man en vrou van die tuindienste wat my bure se gras elke week kom sny – hoe oorleef hulle en hulle werkers nou? Ou Kuru van Kuruman wat vrugte verkoop by Pick ‘n Pay se ingang wat altyd lag en waai … sal hy geld hê vir kos?

Al verlang ek vreeslik baie na my kinders, is ek dankbaar dat ek nie kleuters of woelige tieners het wat ek saam met my ingehok hoef te hou nie. Ek bewonder mammas en pappas wat met vindingryke planne hulle kleingoed vermaak, stimuleer en leer. Ek is dankbaar teenoor tegnologie wat dit moontlik maak vir ons hele gesin om saam te kuier én mekaar te kan sien tydens ‘n “group call” en terselfdertyd wonder ek oor ou mense wat nie sulke tegnologie tot hulle beskikking het nie en dalk nie verstaan hoekom hulle kinders skielik verdwyn het nie.

Ek lees hoe die slim mense filosofeer oor hoe die aarde nou kans kry om die skade wat ons mense aangerig het, te herstel. Ek sien die foto’s van die skoner lug, die blouer see … maar ek wonder of Moeder Aarde se moederhart nie ook bloei oor haar kinders wat in duisende sterf nie.

Kerke en godsdiensgroepe maak innoverende planne om steeds hul boodskappe by mense te kry sonder om in groepe bymekaar te kom. Die woorde “BE the church even without being IN the church” resoneer 100% met hoe ek daaroor voel. Ek hoop regtig dat mense mekaar in hierdie krisis sal leer aanvaar sonder die etikette van kerkverband, ras, seksuele oriëntasie, nasionaliteit … ek hoop dat al die gebede, in al die tale, na al die gode, verhoor sal word. Dit is per slot van rekening dieselfde gebed, is dit nie?

Dalk is die grootste les wat Covid-19 en die kroonvirus ons moet leer, nie om hande te was nie, maar om hande te vat.