Categories
Uncategorized

Die soet, slim reuk van jasmyn

Normaalweg is dit glad nie aanvaarbaar hier in Thailand om aan iemand se kop te vat nie, soos ek al vertel het. Vandag het ek aan kinders se koppe gevat. En wat ‘n ondervinding (en eer) was dit nie!

Vandag was “wai khru” dag: ‘n Donderdag in Junie wanneer studente hulle onderwysers vereer, en die verhouding tussen onderwysers en studente gevier word. Ongelooflike kunstige blomversierings word die vorige dag by die skool gemaak. By hierdie skool maak elke klas twee, en dit word dan deur die onderwysers beoordeel. Klasse kry onder andere punte vir kreatiwiteit, netheid, spanwerk en simboliek.

Vanoggend is hierdie kunswerke met groot seremonie aan die onderwysers oorhandig. Die klasprojekte is deur die klasleiers aan die skoolhoof, die verteenwoordiger van die Weermag en die skoolbestuur oorhandig.

Die mooiste deel was vir my toe elke kind daarna ‘n beurt gekry het om voor ‘n onderwyser te kniel in ‘n dankie-sê gebaar en die onderwyser dan reageer deur aan die kind se ore, kop en skouers te raak met die seënwense dat dié kind gehoorsaam, wys en suksesvol sal wees. Die meeste kinders het klein blomkransies gebring om vir die onderwysers te gee.

Die versierings is van blare, blomme en sade gemaak, alles skatryk aan simboliek. Jasmynblommetjies (meestal rooi) stel skerp intellek voor, maar die geur simboliseer sorgsaamheid. Lotusblare (of soos ek dit ken, waterlelies) dui op nederigheid omdat die mooi blomme in modder groei. Verskeie saadjies en knoppies word gebruik en dui op die saad van wysheid en kennis wat deur onderwysers geplant word.

Kerse en wierookstokkies is ook prominent is simbolies van die lig en geur van opvoeding wat deur onderwysers versprei word.

Ek was baie bevoorreg om deur een van die senior onderwysers genooi te word om ook aan hierdie seremonie  deel te neem. My “blessing” was nou wel in Engels en partykeer sommer in Afrikaans, maar diep uit my onderwyser-hart! Die res van die skooldag is gewy aan ‘n ekstra-lang en lekker middagete (gratis vir die onnies!) en ‘n reuse-talentkonsert waar die onnies vermaak is; alhoewel ek amper seker is die kinders het dit méér geniet!

Thailand is net ‘n klein spikkeltjie op die wêreldkaart. Maar ek is seker die wêreld sou ‘n bietjie beter gewees het as hierdie tipe wedersydse respek oral bestaan het!

Categories
Uncategorized

Sommer ‘n (ware) storie

Elke plek het sy stories, en ek lief mos stories. Hierdie plek is so oud dat hier sonder twyfel meer stories is as op die meeste ander plekke. Ek het op ‘n baie mooi storie afgekom – en soos die meeste van my gunsteling-stories, is dit waar!

Iewers in die 13de of 14de eeu is daar in die stad Sukothai ‘n goue Boeddha-beeld opgerig. Nie goud van kleur nie, nee, regte goud! So min of meer 250 miljoen dollar, skat hulle, is die geldwaarde van hierdie beeld wat 3 meter hoog en 5,5 ton swaar is. Maar dié is nog nie die storie nie!

In 1767, so vertel hulle, het Burma vir Thailand (toe nog Siam) ingeval. Dié oor-en-weer invallery en aanvallery was blykbaar ‘n gereelde ding. Om te verhoed dat die Burmese aanvallers die pragtige beeld steel, bedink die Siamese ‘n skelm plan: hulle pleister die goue beeld toe met ‘n redelike spoggerige soort sement en versier dit met verf en stukkies glas. Dié plan het gewerk, want die Burmese het die beeld daar gelos, al het hulle die stad geplunder en verwoes. (Ek wonder of die vreeslike gewig nie ook dalk gehelp het nie?) Die feit dat daar ‘n goue beeld onder die sement is, het vergete geraak…

Vroeg in die 19de eeu het die Koning van Thailand Bangkok as hoofstad verklaar en verskeie Boeddha-beelde is vanuit alle rigtings na Bangkok geskuif, weg van die ruïnes wat oorgebly het na al die sonde met die Burmese. Nou kom die eintlike storie eers:

Boeddha beelde is volop in Thailand, en aangesien hierdie een nie juis iets vir die oog was nie, het dit sommer onder ‘n sink-afdak gestaan by ‘n minder belangrike tempel. Tot in 1955, toe iemand besluit om die beeld te skuif. Dit kon nie maklik wees nie, gegewe die vreeslike gewig, en soos verwag, breek die toue en die sement verbrokkel …

En daar ontdek hulle na 500 jaar die ongelooflike skat! Toe hulle die sement versigtig afkap,  ontdek hulle ook in die voetstuk ‘n versteekte handleiding wat verduidelik hoe die beeld in 9 dele uitmekaargehaal kan word om vervoer en verskuiwing makliker te maak. Mosterd na die maal, dalk, maar vandag is die beeld by die Wat Traimit tempel in Bangkok te sien, in ‘n gebou wat spesiaal daarvoor opgerig is.

Mooi storie, né? Ons moet dalk onthou dat daar onder die meeste mense se sement ‘n waardevolle skat wegkruip! Ook dat elke mens iewers ‘n handleiding het wat help met die verstaan. As jy net weet waar om te kyk, en jou nie in die verf en glasstukkies blindstaar nie …

Of ons moet dalk ophou om sélf ons innerlike goud weg te steek onder allerlei waardelose versierings!

Categories
Uncategorized

Naam-dinge

Een van die eerste Thai-uitdrukkings wat ek geleer het, was om iemand se naam te vra, en te sê wat my naam is. Ek het gewonder hoekom die woord vir “bynaam” so prominent in dié oefening was. In ons kultuur vra mens mos nie “wat is jou bynaam?” nie. Reg geraai! Dit is nog ‘n juweeltjie wat ek in dié skatkamer so ver van die huis af ontdek het.

Ek het gou begin verstaan dat byname (in Thai letterlik “naam-speel”) hier ‘n heel ander dimensie het. Twee redelik algemene naam-en-van kombinasies in Thailand kan iets wees soos Assadayut Kantawong Chaisurivirat en Pongsakorn Narkhirunkanok. Selfs vir ‘n Thai-tong is dit ‘n mondvol, maar hulle is baie trots op hulle name en sal sekerlik nie droom om sommer weg te doen met familiename nie. Hulle het wel hierdie prettige, maar trotse “nickname”-tradisie.

Thai tieners sit graag hulle byname op selfone of sakke, en die ouers is lief om hulle kinders se byname op hulle voertuie of besighede se vensters te vertoon. Dit laat my dink aan die plakkers wat ons in Suid-Afrika plak om ons gesinne uit te beeld.
Partykeer gee ouers ‘n naam soos Nahm, wat “water” beteken, of Porn wat “seën” beteken. Soms deel hulle my gunsteling-woord in twee en gebruik een helfte, so Nit en Noi is nogal gewilde name. Name soos Bang (bank) en Top wat rykdom of status impliseer, of selfs smake of kossoorte soos Mint, Milk en Ice is volop. Sport is ook ‘n gewilde tema. Mister Ping Pong van die Ministry of Education het twee dae van ons praktiese onderwys gemonitor. Sy naam, wat hy bes moontlik by geboorte al gekry het, pas hom so goed. Hy is klein, vinnig en vrolik! Hy staan derde van regs in die agterste ry op die foto.

Ek kan nie wag om volgende week te ontdek watter geure, kleure, getalle, diere en blomme in my klasse gaan wees nie!