Categories
Persoonlik

Klein kleertjies … en gedagtes daaroor

My eerste baba gaan haar eerste baba hê. Binnekort, nog so 3 maande, dan verwelkom ons ‘n dogtertjielyfie in ons harte en lewens.

Elke keer as ek my meisiekind sien, wil my keel sommer toetrek en my oë oorloop van ‘n hele mengelmoes van emosies. Dis dan my baba, my mooie kind, en nog nooit was sy mooier nie!

Na ‘n pragtige “baby shower” wat haar sus, my ander lieflike baba, vir haar gereël het, kon ek saamvlieg oor die blou berge vir ‘n kosbare kuiertjie in die Kaap. Die shower was toe eintlik ‘n wolkbreuk, met familie en vriendinne wat die mooiste geskenkies vir ons klein modepoppie aangedra het. In oorvloed!

Wat ‘n enorme voorreg om in die opgewondenheid te deel, en te kan help om die klein stukkies omgee wat met soveel liefde van oral-oor kom, voor te berei vir die lyfie wat dit gaan aantrek!

Dit bring die lekkerste herinneringe van hoe ek dieselfde voorbereidings meer as 30 jaar gelede getref het … die reuk van groen Sunlightseep en klein flentertjies lap (hoewel nie naastenby so ougat nie) wat in die Vrystaatson wapper.

Op party van hierdie kleertjies is slim en oulike woorde geskryf: Born to be loved … So loved … Never forget how loved you are … I love the sunshineDaddy’s girl … Mommy’s whole world en dan ook enetjie wat tong-in die kies verwys na die tyd waarin ons ons bevind: My parents did not practice social distancing!

Wyse woorde … elke kind wat gebore word, behoort só geliefd te wees, veilig in die wete dat Pappa en Mamma en nog ‘n klomp ander mense hom/haar só liefhet. Ons lewe nie in die ideale wêreld of land nie, maar dankie tog vir die wete dat híérdie dogtertjie gaan aankom in haar eie klein wêreldjie wat aan alle kante deur liefde, deernis en omgee verskans is.

Ons kan nie wag vir die kleinding se aankoms nie … welkom solank in ons harte, klein prinses, en binnekort ook in ons wêreld. Mag jou voetjies veilig trap, en mag jou handjies altyd ‘n groter hand hê om vas te hou.

Categories
Die Lewe

Bed-bederfies

Ons het ‘n ding in ons gesin… ‘n gewoonte, tradisie, gebruik, ek weet nie juis wat om dit te noem nie. Ons het sekerlik meer as een, soos die meeste gesinne, maar vandag is dié een in my kop. Ek dink ook nie dis juis eksklusief of uniek nie, baie families doen dit seker op een of ander manier.

Ons noem dit “bedbederfies” – nie ‘n woord wat jy in ‘n woordeboek gaan kry nie. As ons by mekaar oorslaap, al is dit net vir een aand, kry jy hierdie bederfies: op jou bed, saam met ‘n lekker skoon, sagte handoek. (Ons doen dit ook vir ander oorslaap-gaste.) Dit kan enigiets wees, ‘n klein lekkertjie, ‘n sepie, ‘n roompie, sokkies … partykeer iets groter. Sommer om te sê welkom by my, dis lekker om jou hier te hê.

Ek weet nie eintlik wanneer of hoekom of wanneer dit begin het nie. Ek is net bly dit hét, en ek is bly my kinders het dit aangeleer, nou dat hulle hul eie huise het!

Eintlik moet ons almal ook buite ons huise sulke onnodige, amper sinnelose bederfies uitdeel. Lukraak, links en regs en sonder rede of patroon. Klein, amper onbenullige bederfies wat niks kos nie, maar baie beteken: ‘n glimlag, al ken ek jou nie; ‘n groet, al groet jy nie terug nie; ‘n opsystaan of help-aangee in ‘n winkel; ‘n rybeurt in druk verkeer. Net om te sê ek síén jou, ek wéét jy is ook hier, jy is dalk ook haastig of bang of … wat ookal, maar jy is nie alleen nie, kyk, hier is ek ook.

Hoekom? Want dis lekker om dit te gee, en dalk is die ontvanger bietjie verbaas, selfs oorbluf … maar dit maak dit net nóg lekkerder.