Categories
Die Lewe

Sê nou net …

Toe ek klein was, het my sussie my vertel dat ons poppe in die nag lewendig word en met mekaar en die ander speelgoed speel. My heel groot sus, wat toe lankal nie meer popgespeel het nie, het ‘n glas-teestelletjie gehad wat sy in ‘n bruin tassie onder-in haar kas gebêre het. Partykeer het sy my daarmee laat speel. Ek het gevra of ons dit nie kan uithaal sodat die poppe daarmee kan teepartytjie hou nie. Ek onthou haar glimlag (sy was vir my die mooiste mens op aarde) en hoe sy my oortuig het dat die poppe bietjie rof was en dit dalk net sou breek. Ai, hoe het ek menige aand probeer wakker bly, vasbeslote om die poppe se rowwe spelery te sien … maar die vaak het altyd gewen.

Ek is nou lankal nie meer klein nie, maar my verbeelding het nog geensins oud of koud geword nie. Inteendeel. So sit ek nou eendag en beskou my boekrak. Iewers in daardie oor-aktiewe verbeelding raak twee draadjies aan mekaar … en daar spat die vonke!

Sê nou, sê nou net die karakters in daardie boeke kon lewendig word en uitklim? Natuurlik nie almal gelyk nie – en streng op versoek. Party van hulle wil ek regtig nie graag in lewende lywe ontmoet nie. Ek wonder watter karakters sou ek wél nooi om uit die rak te spring en saam met my te kuier? Onthou nou, my boekrak huisves die vrugte van die geniale breine van Langenhoven, J.K. Rowling, Roald Dahl, Andrè P. Brink, Wilbur Smith, Jeffrey Archer, Ken Follett, Dalene Matthee, Annelie Botes, Alan Paton, Stieg Larsson, om maar ‘n paar te noem. Selfs Shakespeare is daar, en Tolstoy, en ‘n hele paar uitgawes van die Bybel. Dan is daar ook nog biografieë van sportsterre, politieke figure, kunstenaars …

Matewis (my Alta-kind se nuutste baba) in ‘n fantasie-rakkie van my boekrak!

Ek sien myself kopstukke gesels met Albus Dumbledore, Tom Builder, Willy Wonka, Sean Courtney, Nelson Mandela, Charlize Theron en Chris Barnard. Ek sou graag met Morrie wou gesels, daardie wyse-wyse karakter van Mitch Albom. En daar is ‘n groot klomp Bybel-karakters vir wie ek ‘n lang lys vrae het. Dink net watter interessante gesprekke sou daar kon wees as ek die karakters twee-twee kon uitnooi! Verbeel jou hoe die karakters van Jane Austen en E.L. James by mekaar sou kers opsteek?! Stel jou voor hoe lekker Dumbledore en Mandela wyshede sou kon uitruil, en ek dink Brolloks en Bittergal sou goed aanklank vind by sekere karakters uit Roald Dahl se pen.

My oog val op die woordeboeke. Daar is nogal ‘n hele paar. En skielik dink ek – sê nou die woorde kon uitklim? Bollemakiesie, boksemdais, harlaboerla, onhebbelik, vabond, daar is só baie woorde wat prentjies in my kop oproep! Daardie prentjie raak baie vinnig chaoties, en ek besluit om my liewer te verbeel dat die verskillende woordsóórte kon lewe kry … dink byvoorbeeld hoe sou die byvoeglike naamwoorde en bywoorde ‘n vaal, vervelige dag kon opkikker! Ek stel my voor hoe die klein, besige voorsetsels deur die huis dartel en alles wat in of op moet wees maar uit en onder is, bêre. Hopelik sal daar ‘n paar werkwoorde wees wat hulle werk sal doen – soos regpak, orden, poets en poleer!

A.G. Visser het mos in ons kleintyd-versie gesê: “Sê-nou is ‘n lekker sê: Alles wat ‘n mens wil hê, Alles wat jou hart begeer, Kry jy daarmee en nog meer …”

Dankie tog vir boeke, vir verbeelding, en vir sê-nou!

Categories
Motivering

Sing terwyl die bomme val

Ek het ‘n trotse reputasie as ‘n boekwurm, een waaraan ek gereeld werk. Van kleins af al, baie dikwels tot ergernis van ander, raak ek verlore in die wêreld tussen die blaaie van ‘n boek. Met die jare het ek darem ‘n bietjie meer selfdissipline aangeleer en minder huistakies en ander pligte afgeskeep om te kan lees, maar ek is nog steeds altyd besig om ten minste twee boeke tegelyk te lees.

‘n Deel van my bomskuiling

Ek weet nie of dit in die gene oorgedra is nie – my pa was ook baie lief vir lees en ten minste twee van my susse ook, maar ek was regtig meer trots as geskok toe ek uitvind dat my jongste meisiekind Wilbur Smith en Harry Potter verkies wanneer haar Engelse juffrou die voorgeskrewe boek in die klas lees! Dankie tog dat dié juffrou maar oë toegeknyp het en dat sy, toe ek haar eendag oor ‘n koppie koffie daaroor vra, verduidelik het: “Man, daardie kind ken haar voorgeskrewe boek uit haar kop uit!” (Die betrokke voorgeskrewe boek was George Orwell se Animal Farm en ek kan getuig dat sy dit wél baie goed geken het!)

In elk geval, lees is een van my groot liefdes. Daar is min genres waarvan ek nie hou nie. Ek het ‘n grootmens geword voordat ek die wonder van volwasse fantasie ontdek het: Game of Thrones was nog nie ‘n televisiereeks toe ek vir dae aaneen tussen kastele, konings, drake en ridders weggeraak het nie. Trouens, dit was eers toe die TV-reeks die boeke ingehaal en verbygesteek het, dat ek die laaste reeks móés kyk om my nuuskierigheid te bevredig. Biografieë fassineer my – mense het sulke verstommende lewens. Misdaad, moord, mediese fiksie gryp my aan. Distopiese fiksie solank dit nie té veel eise aan my verbeelding stel, en my positiewe denkwyse te veel uitdaag nie. Romantiese fiksie, solank dit nie te stroperig is nie. Selfs rillers, maar dit moet my darem nie te lank en te veel laat ril nie.

Historiese fiksie is egter my gunsteling. Veral oorlog-stories boei my, en dit sluit sommer alle oorloë in. Tog is stories wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel, telkens dié wat ek kies. Daar is net iets in die omstandighede, die drama en die karakters van daardie tyd wat my betower. Hitler, Churchill, Roosevelt, Stalin, Dunkirk, Auschwitz, Pearl Harbor, Stalingrad, Hiroshima … ek weet nie hoeveel boeke daaroor ek al gelees het nie, en elke keer is dit ‘n ander perspektief, ander hartseer, nuwe feite, en telkens val dit my op hoe dieselfde veldslag beide ‘n oorwinning én ‘n neerlaag is, afhangende van wie die hoofkarakter is. Ek moet erken dat ek gewoonlik terwyl ek só ‘n boek lees, heelwat tyd op die internet deurbring om plekke en gebeure na te gaan of nóg meer daaroor te lees. Feite is inderdaad dikwels vreemder as fiksie!

Een van die aspekte van daardie verskriklike oorlog wat my nog altyd aangegryp het, is die bomskuilings: bestaande kelders wat ingerig is vir mense om te skuil teen lugaanvalle, en ook spesiale strukture wat opgerig is vir daardie doel. ‘n Mooi ware storie waarop ek afgekom het, is dat Julie Andrews se pragtige sangstem juis in só ‘n skuiling ontdek is toe haar gesin met sang die tyd verwyl en die oorlog-geluide probeer demp het. Daar is mos, dankie tog, gewoonlik iets positiefs wat uit elke negatiewe situasie voortspruit.

Veral in Brittanje was daar baie huise wat nie kelders gehad het nie, en daardie mense is voorsien van sink-skuilings wat hulle dan moes oprig, in 1.2 meter grond moes begrawe en dan ook met ten minste nog 38 cm grond moes bedek. Mense het dikwels dan sommer hierdie grond wat bo-oor hulle skuilings moes wees, met blomme of meer gereeld met groente beplant, en selfs kompeteer oor wie in die buurt se skuiling die mooiste gelyk het, terwyl hulle dan ook die kos-skaarste help beveg het. Dit herinner my baie aan ons klomp wat so verbete bak en kook terwyl ons skuil!

‘n Anderson-lugaanvalskuiling uit die Tweede Wêreldoorlog wat nog behoue gebly het.

Dit is juis die skuil-proses wat my aan die dink gesit het, omdat dit soveel ooreenkomste het met ons huidige situasie. Ons kruip ook maar weg – in ons geval sit ons nie in die donker en luister hoe vliegtuie hulle dodelike vragte oor ons koppe afgooi nie, maar ons sit in ons huise en probeer ‘n onsigbare virus oorwin.

Wat ons ken as “inperking”, word in baie state in die VSA shelter-in-place genoem. Dit is vir my ‘n mooi term, met ‘n meer optimistiese ondertoon. Skuil in jou plek. As ek die woord shelter naslaan, kry ek mooi dinge soos beskutting, beskerming, toevlug … alles dinge wat ek elke mens toewens.

Ongelukkig weet ek dat nie elkeen ‘n huis het wat ‘n skuilplek of ‘n toevlug is nie. Vir daardie mense is hierdie inperk-tyd sekerlik ‘n nagmerrie. Vir my is die ergste van die skuiltyd dat ek van my kinders en hartsmaats afgesluit is. Gelukkig is die een met wie ek my skuiling deel, iemand wat sorg en help. Ek is jammer vir mense wat nie so gelukkig is nie.

Een van die dae kom ons uit, en maak vir ons ‘n nuwe werklikheid. Hopelik gaan ons dan ook dit wat oorgebly het van ons ou, bekende wêreld meer waardeer. Onthou hoe die wêreld verander het na Vigs ontdek is? Bebloede rugbyspelers wat voortspeel en later lyk asof hulle in bloed gerol is, is iets wat ons nou nie meer sien nie. Na 9/11 is lughawens totaal anders as toe ‘n mens toegelaat is om ‘n mes aan boord van ‘n vlug te neem, solank die lem nie langer as 4 duim was nie. Beide hierdie veranderings is goed. Na Corona gaan ons seker nie meer verjaardagkersies bo-op ‘n koek doodblaas en daarna daardie koek eet nie. Ons gaan ander se persoonlike ruimte meer respekteer, meer hande was. Sportmanne gaan minder lek, snuit en spoeg. Ouers gaan meer simpatie hê met onderwysers, ons almal gaan meer respek hê vir gesondheidswerkers. Openbare ruimtes gaan hopelik skoner wees – dit alles klink vir my goed.

Dit gaan nie meer toegelaat word nie!

Ja, dit is vreesaanjaend. Wêreldleiers lyk nie altyd of hulle weet waarvan hulle praat nie. In die VSA het al meer mense gesterf as tydens die Viëtnam-oorlog. Mense ly honger. Mense raak opstandig. Nie almal gehoorsaam die reëls nie. My kinders bly albei in plekke waar die virus ‘n baie groter werklikheid is as hier waar ek skuil. Dan moet ons maar soos Julie Andrews en haar gesin maak. Ons moet sing, al is dit dan net in ons gedagtes, om die bangmaak-dinge weg te jaag.

As Julie Andrews se stiefpa haar nie in die bomskuiling laat sing het nie, moes die wêreld dalk sonder haar stem klaarkom!

Categories
Uncategorized

Dankie vir my leesbeurt, Eskom!

Beurtkrag pas my gewoonlik.

Vir ‘n boekwurm soos ek is beurtkrag nie regtig ‘n groot las nie. Vandat ek letterlik by my pa se voete leer lees het, soek ek verskonings om niks anders te doen as lees nie. My pa het die Volksblad se opskrifte vir my gelees, en so sonder om dit agter te kom, het ek die letters en woorde leer ken. Ek onthou baie goed hoe my knieë en elmboë swart geword het van die drukkersink (doen moderne drukkersink dit nog?) en hoe dit ‘n heerlike speletjie geword het om ‘n vingerpunt nat te lek en dan op ‘n letter, of meer dikwels op ‘n strokiesprent-karaktertjie te druk … en daar sit dit op my vinger! So kon ek die lekker van lees op die punte van my vingers hê.

Ek onthou ook hoe ek eendag bo-op my ma se naaimasjien-kabinet gesit het terwyl sy besig was om fyn handwerkies aan een of ander skepping te doen, en toe vir haar iets van ‘n tydskrif se voorblad af gelees het. Sy het in trane uitgebars … later het sy gesê sy kon nie glo dat ek regtig al kan lees terwyl ek die volgende jaar eers moes skool toe gaan nie. Ek dink sy het in later jare dikwels weer naby aan trane gedraai oor my alewige lesery.

Die groen boekebus het weekliks, of dalk was dit net elke twee weke, op die hoek van ons straat gestop. Dié mobiele biblioteek het vir my ‘n nuwe wêreld oopgemaak. Ek kon vier grys karton-koevertjies kry waarmee ek kon boeke uitneem. Die groter kinders se kaartjies was groen en ek het gou-gou my ouer sussie s’n ook begin gebruik. Later het my ousus my na die groot dorpsbiblioteek geneem. Ai … ek kan dit nog ruik, al daardie boeke, en ek hoor nog die geluid van die groot datumstempels waarmee die tannies die datum voorin die boeke getjap-tjap het. En dan het hulle sommer so sonder om te kyk, die kaartjie uit die boek se koevertjie geglip en dit binne-in my koevertjie laat regop staan. Daardie tannies het altyd die mooiste naels gehad en ek het my verkyk aan hulle vingers wat so oor die lang rakkies fladder om die regte kaartjie uit te haal. Regte raakvatters! Baie jare later was ek vir ‘n rukkie die biblioteek-juffrou by ‘n plattelandse skool en ek het probeer om ook so akkuraat te tjap en vinnig met die kaartjies te werk – ek dink nie ek kon ooit by die voltydse biblioteektannies se standaarde bykom nie, maar ek dink darem ek kon vir ‘n paar kinders die wonder van lees help oopmaak, so tussen die skoolbiblioteek en my Engelse klaskamer.

Behalwe vir die biblioteekboeke van my kinderdae, was daar ook my pa se versameling “Reader’s Digest” tydskrifte, en die absolute wonder van “Readers’s Digest Condensed books” waar ek in kleiner happies kon kennismaak met grootmensboeke en -leesstof in Engels.

Ek het nog ‘n paar …

Dan was daar hoog bo-in die donker gangkas ‘n ou, grys koffer vol Afrikaanse boeke. Ek het teen die rakke opgeklouter en my hand blindelings in die tas gedruk, rondgevoel vir ‘n boek terwyl ek net met een hand aan die kas vasklou. Dan moes ek, in wat ek nou besef eintlik ‘n gevaarlike maneuver was, met die boek in die een hand afspring en eers dan kon ek kyk watter boek ek “gekies” het! Daardie boeke was nooit eintlik in my kraal nie, maar ek onthou veral die reuk van die ou boeke as ek daardie tas so met die een hand oopgesukkel het. Dit was waarskynlik maar net stof … maar gun my maar daardie lekker boek-nostalgie.

Terug by beurtkrag … lank voordat dit ‘n nare werklikheid geword het, het ek alreeds meer as een klein battery-liggie gehad om seker te maak dat ek nooit in ‘n motor, bus of vliegtuig in die donker gevang word en nie kan lees nie. Namate beurtkrag deel van ons lewens geraak het, het my versameling herlaaibare liggies gegroei, en ook heelwat groter en skerper geword. Ek kan nou heerlik lees, al bring Eskom nie hulle kant nie. En dan het ek ook sommer ‘n verskoning vir my prioriteite wat dalk nie heeltemal in lyn is nie. Die stoof, wasmasjien, stofsuier, rekenaar en ALLES is nou vir eers buite werking. Dis my beurt om te lees!

Een van my gunstelingplekkies in my huis

Categories
Uncategorized

Boeke en Baadjies … en Voëls, Vere en Vriende

Moenie ‘n boek op sy baadjie takseer nie. Dit is nogal ‘outydse’ Afrikaans – die hele ‘takseer’-ding klink vir my alteveel na wat Jan Taks met my doen. Maar die idioom is welbekend en dit is een van dié wat ons baiekeer gebruik sonder om regtig te diep daaroor te dink.

Kom ons wees eerlik: enigiemand wat al tyd in ‘n boekwinkel of biblioteek deurgebring het, weet dat ons wél boeke op hulle baadjies takseer – of is dit net ek wat, nadat ‘n titel my effens geprikkel het, die boek uit sy staanplek glip en dan heel eerste na die omslag kyk: die kleure, die lettertipes, die ontwerp … en dan draai ek dit om en lees die agterkant (wat per slot van rekening tog ook deel van die baadjie is!) voordat ek besluit of dit die toets deurkom?

Waarop ánders gaan ek ‘n boek takseer? Die skrywer se reputasie? Resensies? Omstredenheid? Ek betwis nie dat hierdie ook punte is wat oorweeg kan word nie, maar die baadjie … ai, die baadjie bly maar belangrik. Eerste indrukke tel – en ek het al op wonderlike boeke afgekom deur juis dit te doen – die boek op sy baadjie te takseer. ‘n Mooi boek is nou maar eenmaal mooi!

Natuurlik het ek my al vasgeloop: in OR Tambo-lughawe se Exclusive Paradys, my redding as SA Express soos gewoonlik vertraag is, koop ek eenkeer (suiwer agter die mooi aan) drie boeke, swierig met ‘n geel strik aanmekaar gebind – elkeen spog met ‘n pragtige omslag in skakerings van wit, grys, silwer en swart – en omdat dit ‘n “introductory special” is, is dit spotgoedkoop ook nog. Ek het nog nooit van die skrywer gehoor nie, maar ai, dis so mooi … toe ek later in die vertreksaal sit en op my Kindle lees (die nuwe kopies by my voete om later te lees) is die gryskopdame wat langs my sit se pogings om ongemerk my nuwe boeke te bestudeer, net té opvallend. Ek roep Google se hulp in om bietjie uit te vind oor E.L. James … En so het ek deel geword van die bose groep wat die Grey-trilogie lees en dan sê dit gaan nie oor die seks nie. Wel. Wie gaan my glo as ek sê die prentjies was vir my mooi?

Nadat ek Corban Addison se A Walk Across the Sun gekoop het omdat die pragtige vrou op die buiteblad se toe oë my gefassineer het, en dit toe amper in een sitting móés lees omdat die wêreld van mensehandel my vasgegryp het, het ek weer besef dat die op-die-baadjie-takseerdery beslis nie altyd verkeerd is nie. My kinders het eenkeer vir my ‘n boek gekoop omdat die omslag hulle aan my en my liefde vir rokke maak laat dink het – en wat ‘n lieflike en leersame boek is The Dressmaker of Khair Khana nie!

My boekrak is ‘n bewys dat daar baie maniere is om boeke te kies – partykeer selfs ander mense se weggooigoed wat op ‘n vlooimark of in ‘n tweedehandse winkel beland het.

Só kies ons ook die mense waarmee ons onsself omring, né? Soms omdat hulle mooi is, of interessant lyk of klink. Ander kies ons oor ons van hulle gehoor het, en dan kom ons dikwels agter dat die resensente ook maar nie geweet het nie … Partykeer, net soos met boeke, maak ons kosbare vriende op grond van ander se aanbevelings, of juis omdat ander hulle nie meer wou hê nie. Partykeer gebeur dit net, en agterna kan ons eintlik nie sê presies hoe dit gebeur het nie.  Daar is boeke wat ek na verskeie probeerslae net nie kon klaarlees nie. Ander het ek sommer gou-gou eenkant gesit – daar is genoeg goeie boeke, reken ek, sodat ek nie goor boeke hóéf te lees nie. Nes mense.

Maar hoe ookal – elkeen het sy versameling wat op verskillende maniere bymekaargesit is. Van tyd tot tyd dun ons uit, ruil om, gooi weg en vernuwe … daar is oues waarna ons kort-kort teruggaan, al is dit net om ‘n klein stukkie te lees of selfs net vinnig die ou, bekende reuk in te asem.  Elke nuwe een is ‘n vreugde en ‘n avontuur, en die kombinasie is uniek en dinamies.

Lekker. Maar moenie vir my vertel die baadjie is nie belangrik nie…

 

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).