Categories
Uncategorized

My liewe land

Nee, dis nie ‘n uitroep van verbasing of verwondering, irritasie of woede nie. Dié slag is dit die aanhef van ‘n brief aan Suid-Afrika:

My liewe Suid-Afrika

My juffrou het my jare gelede geleer dat mens nie ‘n brief begin met “Hoe gaan dit?” nie, want volgens haar behoort mens te wéét hoe dit met iemand gaan vir wie jy omgee. En buitendien, as dit sleg gaan, kan jy nie so openlik daaroor uitvra nie.

Nou ja. Ek weet dit gaan op hierdie stadium nie baie goed met jou nie. Dis nie jou eerste oorlog nie, ek weet. Jy is al deur ‘n paar, groot en kleiner. In 1899 het die vyand met hulle rooi baadjies van oor die see gekom. Hulle het jou mense geskiet, jou velde verbrand, en, erger nog, jou mense in tentkampe ingehok.

Nou is daar weer oorlog. Dié keer het die vyand weer oor die see gekom, maar hy is onsigbaar. Tog weet ons hoe hy lyk, die aaklige virus met sy lelike stekels en dodelike kiem-koeëls. Jou mense is weer ingehok. Hulle kruip weg, en hou die nuus groot-oog dop: wen ons? Hulle vra gedurig soos kinders wat wegkruipertjie speel: “Kan ons maar uitkom?”

Jy kan trots wees op jou mense – hulle gehoorsaam meestal die reëls, en werk uitsonderlik goed saam: baie dra hulle oorlog-uniform-maskers, min ry onnodig rond, dié wat kan, help ander. Mense wat gewoonlik met mekaar baklei, baklei nou saam. Maar ai, my land, baie van jou mense kry swaar, jong. Hulle werk het verdwyn, hulle geld is op, hulle blyplekke klein en beknop, hulle kinders baie en benoud. Die kinders mis hulle skole, hulle juffrouens, hulle maats. Hulle beproef hulle ouers se geduld, vindingrykheid, intelligensie, uithouvermoë en humorsin.

En tog, Suid-Afrika, gaan dit nie nét sleg met jou en jou mense nie. Jou wilde diere baljaar: hulle wag blykbaar lankal vir die mense om effens opsy te staan. Jou strande en strate bly skoon, jou lug is suiwerder omdat die vliegtuie en voertuie stilstaan. Jou mense drom minder saam, jaag minder rond. Dit is goed vir hulle, al besef almal dit nie. Jou mense begin dinge waardeer – klein en groot dinge waaroor hulle voorheen nie eens regtig gedink het nie: sterk, waardige leierskap op verskeie vlakke, vars vrugte en groente, vryheid om rond te beweeg, samesyn, aanraking.

Soos in elke oorlog het hierdie oorlog ook helde – mense wat die vyand vierkantig in die oë moet kyk en hom oënskynlik vreesloos moet konfronteer: dokters, verpleegsters, nooddiens-werkers, aptekers, navorsers, versorgers van oumense, kinders met spesiale behoeftes, weggooi-babas en weggooi-diere, kosvoorsieners, vullis-verwyderaars, planmakers … die lys is lank en vol verrassings. Ek glo dat die kunstenaars wat aanhou om die mense te vermaak, die onderwysers wat aanhou om op wonderlike maniere hulle leerders te ondersteun en te motiveer, die gewone mense wat hardkoppig die blinkkant bo probeer hou, ook helde is. Emerson het gesê dat ‘n held nie juis dapperder is as ‘n gewone mens nie, maar dat hy net vyf minute langer dapper bly. Suid-Afrika, ek hoop saam met jou dat jou helde, waar hulle ookal is, daardie ekstra vyf minute sal kan uithou.

Suid-Afrika, jou mense het deur die vorige oorloë gekom. Ja, natuurlik het hulle letsels oorgehou – lelike letsels wat baie van hulle tot vandag toe nog pla. Maar sterker, elke keer. Ek glo dit gaan weer só wees. Niemand weet nog wanneer hierdie oorlog verby sal wees nie, maar dít weet ek: dit sal verbygaan. En dan, my liewe land, gaan jou mense uit hulle wegkruip-plekke kom, jou veelkleurige vlag hóóg swaai en jou lied kliphard sing, tot by die laaste twee reëls: Laat ons lewe en streef vir vryheid, in ons land, Suid-Afrika.

Sterkte, Suid-Afrika! En baie liefde.