Categories
Die Lewe

Sê nou net …

Toe ek klein was, het my sussie my vertel dat ons poppe in die nag lewendig word en met mekaar en die ander speelgoed speel. My heel groot sus, wat toe lankal nie meer popgespeel het nie, het ‘n glas-teestelletjie gehad wat sy in ‘n bruin tassie onder-in haar kas gebêre het. Partykeer het sy my daarmee laat speel. Ek het gevra of ons dit nie kan uithaal sodat die poppe daarmee kan teepartytjie hou nie. Ek onthou haar glimlag (sy was vir my die mooiste mens op aarde) en hoe sy my oortuig het dat die poppe bietjie rof was en dit dalk net sou breek. Ai, hoe het ek menige aand probeer wakker bly, vasbeslote om die poppe se rowwe spelery te sien … maar die vaak het altyd gewen.

Ek is nou lankal nie meer klein nie, maar my verbeelding het nog geensins oud of koud geword nie. Inteendeel. So sit ek nou eendag en beskou my boekrak. Iewers in daardie oor-aktiewe verbeelding raak twee draadjies aan mekaar … en daar spat die vonke!

Sê nou, sê nou net die karakters in daardie boeke kon lewendig word en uitklim? Natuurlik nie almal gelyk nie – en streng op versoek. Party van hulle wil ek regtig nie graag in lewende lywe ontmoet nie. Ek wonder watter karakters sou ek wél nooi om uit die rak te spring en saam met my te kuier? Onthou nou, my boekrak huisves die vrugte van die geniale breine van Langenhoven, J.K. Rowling, Roald Dahl, Andrè P. Brink, Wilbur Smith, Jeffrey Archer, Ken Follett, Dalene Matthee, Annelie Botes, Alan Paton, Stieg Larsson, om maar ‘n paar te noem. Selfs Shakespeare is daar, en Tolstoy, en ‘n hele paar uitgawes van die Bybel. Dan is daar ook nog biografieë van sportsterre, politieke figure, kunstenaars …

Matewis (my Alta-kind se nuutste baba) in ‘n fantasie-rakkie van my boekrak!

Ek sien myself kopstukke gesels met Albus Dumbledore, Tom Builder, Willy Wonka, Sean Courtney, Nelson Mandela, Charlize Theron en Chris Barnard. Ek sou graag met Morrie wou gesels, daardie wyse-wyse karakter van Mitch Albom. En daar is ‘n groot klomp Bybel-karakters vir wie ek ‘n lang lys vrae het. Dink net watter interessante gesprekke sou daar kon wees as ek die karakters twee-twee kon uitnooi! Verbeel jou hoe die karakters van Jane Austen en E.L. James by mekaar sou kers opsteek?! Stel jou voor hoe lekker Dumbledore en Mandela wyshede sou kon uitruil, en ek dink Brolloks en Bittergal sou goed aanklank vind by sekere karakters uit Roald Dahl se pen.

My oog val op die woordeboeke. Daar is nogal ‘n hele paar. En skielik dink ek – sê nou die woorde kon uitklim? Bollemakiesie, boksemdais, harlaboerla, onhebbelik, vabond, daar is só baie woorde wat prentjies in my kop oproep! Daardie prentjie raak baie vinnig chaoties, en ek besluit om my liewer te verbeel dat die verskillende woordsóórte kon lewe kry … dink byvoorbeeld hoe sou die byvoeglike naamwoorde en bywoorde ‘n vaal, vervelige dag kon opkikker! Ek stel my voor hoe die klein, besige voorsetsels deur die huis dartel en alles wat in of op moet wees maar uit en onder is, bêre. Hopelik sal daar ‘n paar werkwoorde wees wat hulle werk sal doen – soos regpak, orden, poets en poleer!

A.G. Visser het mos in ons kleintyd-versie gesê: “Sê-nou is ‘n lekker sê: Alles wat ‘n mens wil hê, Alles wat jou hart begeer, Kry jy daarmee en nog meer …”

Dankie tog vir boeke, vir verbeelding, en vir sê-nou!