Categories
Motivering

Opdateer en oorbegin

Gisteraand toe ek my rekenaar wil afskakel, sê hy: “Aikona! Ek gaan nié nou afskakel nie.” ‘n Groepie uitbundige wit kolletjies doen ‘n nimmereindigende dansie in die middel van die skerm en lig my in dat hy nou besig is om te update, dat hy ‘n hele rukkie daarmee sal besig wees, dat hy in die proses ‘n paar keer gaan restart en waarsku my ferm om nie die rekenaar af te skakel nie.

Kyk, ek laat my nie sommer intimideer nie, maar goed dan – as dit die opdrag is, stry ek nie. Ek kom nie naby die sleutelbord om af te skakel nie en gaan maak maar ewe gehoorsaam reg vir slaaptyd. Toe ek bietjie later gaan loer wat aangaan, word ek darem ingelig dat hy nou 24% klaar is met sy prosedure.

Vanoggend begin ek werk en kom na ‘n kort rukkie agter dat dinge subtiel verskil. O ja, onthou ek. Dis natuurlik nou die resultaat van gister se nagtelike Update and Restart! Maar alles werk baie goed, en ‘n hele paar dinge werk beter – meer vaartbelyn en sommer in die algemeen slimmer.

Nie ‘n slegte idee nie, dink ek. Sou dit nie gaaf wees as my brein en binnegoed ook so oornag kon update en restart nie? Die ou spinnerakke wat in al die hoekies vassit, kan gerus maar ‘n slag verdwyn. My ou geykte maniere van dink en doen … al is ek nou al so gewoond daaraan (juis omdat ek so gewoond is daaraan!) maar ek is seker daar is beter maniere om dieselfde dinge te dink en te doen.

En die hele restart-idee … ek het ook al in die verlede agtergekom dat dit nogal ‘n magiese proses is. As ek vasbrand en die tegnologie my totaal onderkry en die vervlakste rekenaar net nie wil luister wat ek sê nie, het restart al ‘n paar keer my probleem opgelos. Ek verstaan nie hoekom nie, maar dit werk. Begin net oor. Sit alles af. Trek sommer die muurprop uit. En begin van voor af. Dan is alles beter.

Ek gaan dit ‘n nuwe gewoonte maak om kort-kort die rekenaar se resep te volg. Dateer op. Kom net bietjie by – alles wat nuut is, is nie boos en verkeerd nie, inteendeel: party nuwe goeters is regtig oulik. Dink bietjie nuut. Alles waarmee ek grootgeword het, is beslis nie goed nie, en ‘n groot deel daarvan was in elk geval blatante nonsens. Ek het al hóéveel keer gelê en eet, en ek het nog g’n horings gekry nie, om ‘n voorbeeld te noem. Daar is ook meer belangrike voorbeelde, maar ek politiek en godsdiens mos nié hier nie!

En ja, die opdateerdery is sekerlik ‘n skok op ‘n ouerige sisteem soos myne – vandaar natuurlik die noodsaaklikheid van ‘n oorbegin daarna. So, dan sal ek dit ook doen. Elke kort-kort oorbegin. Vars wegspring. Dit klink vir my goed. Wees gewaarsku, soos my rekenaar ewe oorlams gesê het: This will take a while. Moenie aan my peuter terwyl dit besig is om te gebeur nie!

Foto: Lillian Csernica

Categories
Die Lewe

Onkruid uitroei

Ek het vanoggend ‘n baie energieke sessie in die tuin gehad. Liewe Thabo se beddings het begin boedel oorgee teen die onkruid, en ek is bang hy gaan vreeslik met ons raas as hy terugkom werk toe. Ek staan in elk geval verstom oor die wonderwerke wat hy een keer per week vermag met net een heeltemal gesonde arm!

Nietemin, so tussen die lekker klam grond en twee oorywerige Pekingese wat die vars-omgedolwe bedding baie geniet het, het ek ‘n paar slim lessies geleer oor onkruid-uitroei. In die tuin, maar natuurlik ook in my kop.

1. Dra maar liewer handskoene. Daar kruip geniepsige dorings weg waar jy dit soms glad nie verwag nie. Maar jy hoef nie die onkruid te los omdat jy bang is vir die dorings nie – beskerm jouself, allawêreld!

2. Kyk mooi. Jy dink dalk dit is ‘n mooi ou blommetjie, maar moenie glo nie … alles is nie altyd soos dit lyk nie. Uit ‘n ander, meer positiewe perspektief (nee, moenie jou oë rol nie, ek kan nie help nie!) kan ek partykeer verstom wees oor die mooi, fyn blaartjies in die mooiste somer-kleure wat blom op die lelike ou winter-onkruidstingels.

3. Wees deeglik. Dit help nie om net bolangs uit te roei nie. Die klawer, wat nie net mooi blommetjies dra nie, maar waarvan ons as kinders graag die blaartjies gekou het agter die lekker suur smakie aan, het skelm klein bolletjies wat graag in die grond agterbly, en dan maar net later weer nuwe plantjies produseer. As daar iets negatiefs in jou gedagtes oorbly, hoe klein ookal, gaan dit waarskynlik in die toekoms maar net weer kop-uitsteek.

Foto: Kings Plant Doctor

4. Moenie alles glo wat jy hoor nie. Ons het mos al almal gehoor dat klawer geluk bring – veral as jy so gelukkig sou wees om ‘n vierblaar-een te kry. Wel, as dit waar was, moes die geluk ons nou al verveel het! Ai, en is die mensdom tog nie so lief om alles te glo wat ons hoor nie! Veral as dit bietjie skandalig is, of melodramaties, of skokkend. Ons maak nie eers seker van die feite nie, né? Sluk net, sonder om te kou, en besef eers later, of soms nooit nie, watter skade aangerig is.

5. Raak dadelik ontslae van dit wat jy uitgeroei het. Gooi dit ver weg! Stop in ‘n swart sak en knoop dit styf toe. Kry iemand om jou te help as dit nodig is – laat hy of sy die sak se bek vir jou oophou, en stop alles in. Trap daarop as dit nodig is om alles in te kry! Maak bondels, breek die stingels, gebruik die krag wat jy wéét jy het! Dit is dalk moeite, maar daardie dinge in jou kop waaroor jy elke kort-kort besluit jy nie weer gaan tob nie – raak nou régtig ontslae daarvan! En dalk is dit sommer lessie nommer 5.5: mens hoef dit nie alleen te doen nie!

6. Vervang die onkruid met iets beters. Die bedding is nou maar kaal. Ek het dit mooi netjies gehark, ja, so bolangs lyk dit skaflik, maar ek sal mooi moet dophou dat daar nie wéér ongewenste goeters opkom nie. Die beste sal wees om iets sterks daar te plant. As ek my kop met positiewe, mooi en lekker dinge besig hou, is dit makliker om die kop-onkruid uit te hou. En dan lyk ek sommer ook beter!

Laastens … daar was heelwat hen-en-kuikens in daardie bedding. Daar is nog steeds! Al het ek die tuinvurk rég langs haar diep ingedruk om die hardnekkige doring-onkruid se wortels los te woel, het daardie hennetjie net haar gestreepte blaar-skouers geskud en saam met haar kleintjies sterk bly staan. En dít is dus my lessie nommer 7 vir hierdie dag:

7. As jy jou wil vasloop, sukkel met ‘n mamma. Of dit nou my skoolkinders, my grootmens-studente, my onder-die-vlerk jong juffrouens of (verál) my eie twee hart-se-punte is – ek sál verbete baklei, vasklou en beskerm – maak nie saak hóé groot en skerp die vurk is nie.

Op hierdie pragtige wintersoggend het ek nie net my lyf ‘n lekker oefensessie gegee nie, maar ook sommer ‘n hele paar planne gekry om my kop ‘n bietjie skoon te maak! Lekker tuinmaak!

Categories
Uncategorized

Konyntjies in my kop en handsak

Self het ek nog nooit hasies of konyntjies aangehou nie, maar soos ek verstaan, is dit nogal ‘n risiko. As jy net enetjie het, vergaan hy of sy gou van eensaamheid, en as jy meer as een het, sit jy voor jy jou oë uitvee met ‘n menigte wat net meer word, so sê hulle.

Nou ja, die sagte diertjies kon ek nog altyd weerstaan, maar ek sit met ‘n soortgelyke probleem – en nogal in my handsak, van alle plekke!

Daardie ewige klein papiertjies – kontantstrokies, kasregisterstrokies, papiertjies wat die kaartmasjientjie uitspoeg … wanneer ek die keuse gegee word, sê ek altyd nee dankie; as ek onthou, frommel ek dit dadelik op en gooi dit weg; by die geldmasjien in die muur kies ek getrou “geen strokie” … tog word dit net meer!

Boonop vertel die bangmaak-brigade ook vir my dat daardie papiertjies vir skelms ‘n poort is na allerlei onheilighede. Ek het daardie klein stukkies papier wat ek in die supermark kry nadat ek met my kaart vir my inkopies betaal het, al noukeurig bestudeer, en ek sien nie nommers of wagwoorde daar wat vir my lyk of dit iemand sal toegang gee tot my baie beperkte skatte nie – maar “mens weet nooit”! Inderdaad, mens weet nooit – veral hierdie mens weet régtig nooit, en weet gewoonlik niks!

Ek wag nou net vir daardie slim mense wat altyd alles weet om vir my die proses te verduidelik: wanneer, en hoe, kry daardie oënskynlik onskuldige papiertjies dit reg om so te vermenigvuldig dat my beursie boeppens staan – maar wanneer ek ‘n blink geldjie vir die karwag soek, is daar net wit papiertjies in? Watter proses veroorsaak dat, as ek die papiertjies bestudeer, ek niks daarop herken nie? Ek kan sweer ek was op daardie datum nie by die deur uit nie – ek herken nie daardie winkel se naam nie – wat beteken daardie kodes – waste snaakse bedrag is dié? Hoe gebeur dit dat ek, wat bietjie obsessief is om nie los goetertjies in my kar te laat rondlê nie, tog gedurig so ‘n wit strokie daar kry? Of twee? En wanneer klim hulle in verlede winter se baadjiesakke?

Dalk, miskien … waarskynlik is hulle verwant aan negatiewe gedagtes, selftwyfel, ongegronde vrese en idees wat niks goeds inhou nie. Om hulle te bêre, dien geen doel nie. Dit is onmoontlik om hulle te orden. Hulle maak nie eens meer sin na ‘n dag of twee nie. As ek hulle opgaar, gaan hulle my lewe oorneem, my versmoor. Al wat hulle in toom hou, is ‘n baie bewustelike besluit en ‘n aanhoudende, streng en gereelde uitroeiproses. Dis bietjie soos skottelgoed was of herfsblare hark – dit hou nooit op nie. Maar dit is noodsaaklik, en beslis terapeuties!

Ek begin vandag.