Categories
Motivering

Opdateer en oorbegin

Gisteraand toe ek my rekenaar wil afskakel, sê hy: “Aikona! Ek gaan nié nou afskakel nie.” ‘n Groepie uitbundige wit kolletjies doen ‘n nimmereindigende dansie in die middel van die skerm en lig my in dat hy nou besig is om te update, dat hy ‘n hele rukkie daarmee sal besig wees, dat hy in die proses ‘n paar keer gaan restart en waarsku my ferm om nie die rekenaar af te skakel nie.

Kyk, ek laat my nie sommer intimideer nie, maar goed dan – as dit die opdrag is, stry ek nie. Ek kom nie naby die sleutelbord om af te skakel nie en gaan maak maar ewe gehoorsaam reg vir slaaptyd. Toe ek bietjie later gaan loer wat aangaan, word ek darem ingelig dat hy nou 24% klaar is met sy prosedure.

Vanoggend begin ek werk en kom na ‘n kort rukkie agter dat dinge subtiel verskil. O ja, onthou ek. Dis natuurlik nou die resultaat van gister se nagtelike Update and Restart! Maar alles werk baie goed, en ‘n hele paar dinge werk beter – meer vaartbelyn en sommer in die algemeen slimmer.

Nie ‘n slegte idee nie, dink ek. Sou dit nie gaaf wees as my brein en binnegoed ook so oornag kon update en restart nie? Die ou spinnerakke wat in al die hoekies vassit, kan gerus maar ‘n slag verdwyn. My ou geykte maniere van dink en doen … al is ek nou al so gewoond daaraan (juis omdat ek so gewoond is daaraan!) maar ek is seker daar is beter maniere om dieselfde dinge te dink en te doen.

En die hele restart-idee … ek het ook al in die verlede agtergekom dat dit nogal ‘n magiese proses is. As ek vasbrand en die tegnologie my totaal onderkry en die vervlakste rekenaar net nie wil luister wat ek sê nie, het restart al ‘n paar keer my probleem opgelos. Ek verstaan nie hoekom nie, maar dit werk. Begin net oor. Sit alles af. Trek sommer die muurprop uit. En begin van voor af. Dan is alles beter.

Ek gaan dit ‘n nuwe gewoonte maak om kort-kort die rekenaar se resep te volg. Dateer op. Kom net bietjie by – alles wat nuut is, is nie boos en verkeerd nie, inteendeel: party nuwe goeters is regtig oulik. Dink bietjie nuut. Alles waarmee ek grootgeword het, is beslis nie goed nie, en ‘n groot deel daarvan was in elk geval blatante nonsens. Ek het al hóéveel keer gelê en eet, en ek het nog g’n horings gekry nie, om ‘n voorbeeld te noem. Daar is ook meer belangrike voorbeelde, maar ek politiek en godsdiens mos nié hier nie!

En ja, die opdateerdery is sekerlik ‘n skok op ‘n ouerige sisteem soos myne – vandaar natuurlik die noodsaaklikheid van ‘n oorbegin daarna. So, dan sal ek dit ook doen. Elke kort-kort oorbegin. Vars wegspring. Dit klink vir my goed. Wees gewaarsku, soos my rekenaar ewe oorlams gesê het: This will take a while. Moenie aan my peuter terwyl dit besig is om te gebeur nie!

Foto: Lillian Csernica

Categories
Uncategorized

Vrystaat-piesangs

My man kry ‘n klompie jare gelede ‘n klein piesangboompie by ‘n kollega: sommer vir die aardigheid. Daar is mos niks om te verloor nie – die piesangboom word geplant: aan die suidekant van die huis, darem redelik beskut so tussen die huis- en heiningmure. Danksy die badwater wat daar uitloop, groei die boom verstommend vinnig. Sommer gou is dit hoër as die dak!

Nou nie juis iets vir die oog nie, dink ek, oppervlakkige monster wat ek is – ook maar goed dit is aan die agterkant van die huis, want die blare is maar redelik verflenter deur die wind en weer. En dis maar bosserig ook, mens sou byvoorbeeld nou nie onder dié boom kon sit nie … maar ons verdra dit maar want die blote feit dat dit groei, is al ‘n prestasie. “Dis darem ietsie groen …”

Drie jaar gelede, toe die boom seker so twee of drie jaar oud was, ontdek ons ‘n klein trossie piesangs tussen die blare: letterlik so groot soos my hand, met die vruggies soos vingertjies ingeryg. Ons kry dit nie ryp voordat die vroeë ryp daarmee klaarspeel nie. (Kyk nou weer vir Afrikaans en sy een woord met twee betekenisse!)

Die volgende jaar is ons meer paraat – voor die koue kom, trek manlief vir die trossie wat dié keer aansienlik groter is, ‘n jassie van plastiek aan, en uiteindelik sny ons dit af en maak die piesangs in die huis ryp – broeikas-piesangs! (Ons broeikas was ‘n bruinpapier-sak met ‘n appel in: Google se slim mense het gereken ‘n appel stel iets vry wat die rypword-proses aanhelp.) Ons neem soos trotse ouers foto’s van ons baba-piesangs en voel amper skuldig toe ons die eerste een eet! Maar dis heerlik – ons eie piesangs, weliswaar kleiner as “gewone piesangs”, maar smaaklik en sag.

Verlede jaar was daar vier klein trossies – een het dit nie gemaak nie, maar die ander drie het ‘n redelike oes opgelewer.

Hierdie jaar hang daar sommer drie trosse in ons yslike boom: een is kleinerig, maar die ander twee is groot. Binnekort sal ons hulle moet beskerm teen die ryp – dit gaan ‘n uitdaging wees, want hulle is nogal hoog! Maar ons sal klim – ons weet mos nou dit is die moeite werd!

picsart_02-16-01-628198425.jpg
Ons eie piesangs … drie trosse!

Ek weet nie hoeveel huisvrouens in die Vrystaat kan kla dat die piesangboom se skaduwee die wasgoeddraad se son steel nie; of dat die voëltjies wat in die piesangboom sit, hulle wasgoed bemors nie. Maar ek kan! Partykeer pluk ek sommer ‘n moedswillige blaar af, en dan kan ek amper nie die versoeking weerstaan om eers weer te oefen om hom te vou, te knip en te vleg soos die kinders my in Thailand geleer het nie – hulle het die mooiste versierings daarmee gemaak, om nie eens te praat van die lekkernye wat hulle in dié blare gaargestoom het nie!

Jy is reg – daar is vir my iets meer agter hierdie storie as piesangs en blare. Ek besef dat die piesangboom op ‘n plek is waar hy glad nie hoort nie. Hy is nie veronderstel om hier te aard nie, en tog, teen alle verwagtinge in, blom hy. En hy dra vrugte, jaar na jaar! Al wat hy vra, is om verdra te word, en ‘n bietjie hulp om hom teen die aanslae van die lewe te beskerm. Hy het nie eens ‘n maatjie nie, groei maar so op sy eentjie. Ons kon seker die boom na ‘n jaar of twee uitgehaal het, want hy het nie koelte gegee nie, was nie mooi nie, en het nie vrugte gedra nie. Gelukkig het ons nie … en kyk nou!

Blom tog maar waar jy geplant is; staan sterk en styg uit al kry jy swaar; dit is nie noodwendig ‘n nadeel om uniek te wees nie; liefde en aandag werp altyd vrugte af; voorkoms is nie alles nie; ander se verwagtinge mag jou nooit aan bande lê nie; as jy ryp wil word, moet jy dit partykeer buite jou gemaksone en in vreemde geselskap doen …
‘n Mens kan baie leer by die natuur. Wêreldwyd. Maar vandag leer ek sommer net hier onder my eie wasgoeddraad by ons eie Vrystaat-piesangs.

****

As jy nog nie het nie, lees gerus dié storie oor piesang-terapie (my eie woord) in Thailand:

https://christainthailand.wordpress.com/2017/10/01/piesang-terapie/