Categories
Humor

Kom ons hou prysuitdeling

Ek lees dat die Black Lives Matter-beweging in die VSA vir die Nobel-vredesprys benoem is. Donald Trump ook. Ek wil my glad nie uitlaat oor die meriete van hierdie benoemings nie. Wat my wel opgeval het, is die kontras – dit het jou seker ook getref toe ek BLM en Donald Trump hierbo so amper in een asem genoem het! Die prys is al 101 keer aan 135 mense of organisasies toegeken.

Interessant genoeg is die prys van 1914 tot 1918 nie toegeken nie, en ook nie van 1939 tot 1943 nie. In 1944 is dit aan die Internasionale Rooikruis toegeken. Heel gepas. As die hele wêreld fokus daarop om mekaar uit te moor, verdien niemand ‘n vredesprys nie. Die Rooikruis het die prys in 1963 weer gewen.

Ek wou nie eintlik oor die geskiedenis van die Nobelprys skryf nie. Die ironie van sommige van die benoemings, veral die BLM-Trump kombinasie, het my aan die dink gesit, en my laat besluit dat ek sommer self ‘n paar pryse wil uitdeel. Al my wenners is suiwer op grond van my persoonlike oortuigings gekies – party met my tong lekker stewig in my kies! Die pryse word in alfabetiese volgorde gelys. Ek wil tog nou nie hê iemand moet aanstoot neem omdat hy/sy voor of na iemand anders genoem word nie:

*Aanhoudende, herhalende en irriterende TV-advertensies: Outsurance

*Absolute onbeholpenheid en nutteloosheid: Nkosinjani Speelman (Die burgemeester van my woonplek – ek glo hy kan hierdie prys deel met baie van sy eweknieë in ander dorpe en stede)

*Arrogansie en oneerlikheid, swak leierskap en ‘n gebrek aan morele waardes: Jacob Zuma

*Buigsaamheid, aanpasbaarheid en taaiheid: Elke eienaar van ‘n klein besigheid wat weier om moed op te gee

*Dapperheid en onselfsugtigheid: Alle dokters, verpleegsters en ander gesondheidswerkers

*Dubbele standaarde: Die meerderheid strukture oor die hele spektrum van georganiseerde godsdiens (Die gevaar bestaan dat daar ‘n geweldige geveg gaan ontstaan oor die verdeling van hierdie prys, want elkeen hier dink mos hy/sy/hulle het alleenreg op alles!)

*Eindelose vernuwende denke en aanpassing: Elke onderwyser in alle fases van onderwys

*Geduld en deursettingsvermoë in die aangesig van meedoënlose teenstand en kritiek: Cyril Ramaphosa

*Grenslose geduld en takt: Regter Raymond Zondo (Ek wou hierdie prys aan my man toeken, maar ek wil nie van Nepotisme beskuldig word nie!)

*Ondeurdagte uitsprake sonder enige logiese gronde: Die Facebook- en ander sosiale media-brigade (Ek weet nie hoe gaan ons hierdie prys verdeel nie, maar toemaar … hulle sal nie agterkom nie!)

*Onnoselheid: Die spul wat na amper ‘n jaar nog steeds nie verstaan dat ‘n masker oor jou mond én neus moet wees nie. (Regtig – dit neem minder tyd om ‘n kleuter te “potty train”!)

*Onverskrokkenheid en eerlikheid, basies al die teenoorgesteldes van die prys wat aan Jacob Zuma toegeken is: Thuli Madonsela

*Relevante satire en humorsin in reklame: Nando’s

*Volgehoue pogings om teen alles en almal te wees, en soveel moontlik sinlose uitsprake te maak terwyl alle logika uitgedaag word: Julius Malema

En dan, laastens, ‘n prys wat ek só graag persoonlik sou wou oorhandig, net omdat ek regtigwaar geëerd sou wees om dié man se hand te skud. Ek sukkel om op te som waarvoor ek die prys sal toeken, maar dit is iets soos onbaatsugtige en onbevooroordeelde hulpverlening aan ALMAL wat in die nood is, wêreldwyd en sonder enige voorbehoud: Imtiaz Suleiman van Gift of the Givers.

Categories
Humor

Slaap, of nee wag, wakker bly

Die inperking mors met my slaap-patroon. Onlangs lê ek die venster en dophou, wagtend vir die son om op te kom terwyl ek luister na die voëltjies wat solank begin oefen vir die dag se konsert.

Skielik dink ek aan Rip van Winkel. Ek onthou breë trekke van die storie, maar die detail is vaag. Sodra ek opstaan, gaan ek die storie soek en lees, besluit ek. Ek moes geweet het dit gaan gebeur: die internet-soektog na die oorsaak, tydsduur, verklaring en ander besonderhede van Rip se slaapsessie, lei my op virtuele ompaaie en die ontdekking van allerlei interessanthede, bruikbaar sowel as totaal nutteloos (my gunstelinge is laasgenoemde!), oor die wêreld van dommel en dut.

Heelwat meer relevant as ou Slaapkous Rip se slapery, is die feit dat Randy Gardner in 1964 vir 264 ure, of 11 dae, wakker gebly het. Hy was nou wel net 16 jaar oud, maar ek kan nie dink hoekom enigiemand himself só sal wil straf nie. Die huidige Guinness wêreldrekord vir wakker bly is in 1977 deur Maureen Weston opgestel nadat sy vir 449 ure nie geslaap het nie, maar daarna het die Guinness-rekordeerders opgehou om rekords oor wakkerbly op te teken, aangesien hulle dink dit is te gevaarlik. Ek sê mos!! Een van die nadelige gevolge van te min slaap, is hallusinasies – dit verklaar dalk party van die dinge wat ek deesdae om my sien gebeur. Dit móét hallusinasies wees!

Bron: weirdfacts.org

Ek lees dat lank voor Rip van Winkel, daar ‘n Griekse seun genaamd Epimenides was wat aan die slaap geraak het terwyl hy na sy pa se skape moes kyk. Toe hy uiteindelik na 57 jaar wakker word, het hy die gawe van profesie gehad. (Ek wonder of sy pa nog daar was – ek weet wat mý pa sou gedoen het as ek my pligte so gruwelik versuim het!) Epimenides is ná sy dood deur sy landgenote as een van hulle baie gode vereer, maar dit het meer verband met sy heldedade in ‘n oorlog teen die Spartane as met sy oordadige middagslapie.

Reeds in die 14de eeu is die storie van Zellandine opgeteken – ‘n pragtige prinsessie van die fantasiewêreld Zeeland. Sy het op ‘n geheimsinnige wyse aan die slaap geraak terwyl sy besig was om te spin. Dié storie het nogal vreemde, tipies Middeleeuse intriges, maar uiteindelik word sy natuurlik deur ‘n prins wakker gesoen. Dit klink bekend, né? Ja, dit is op hierdie storie wat die Grimm-broers hulle 19de-eeuse sprokie van Prinses Aurora, of soos ons haar in Afrikaans ken, Doringrosie, gebaseer het.

Feministe spring glo vreeslik op hulle perdjies (seker almal merries, dié perde!) as hulle dié storie hoor, sien of lees. Hulle het groot besware teen die hulpeloosheid van die prinsessie, en die feit dat sy deur ‘n man gered word, nogal ‘n chauvinis wat haar sonder toestemming soen! Red nou ‘n nasie – wie wil nou jousélf wakker soen, en hoe doen jy dit in elk geval? Ek moet sê, my feministiese streep word in hierdie geval totaal uitgewis deur my liefde vir fantasie en romanse!

Terug na Rip van Winkel – volgens my navorsing het hy in die berge gaan skuiling soek teen sy vrou se vreeslike geneul. Daar het hy toe saam met vreemde mannetjies (wat toe eintlik spoke was!) aan’t drinke geraak en vir 20 jaar geslaap. Toe hy wakker word, ontdek hy dat hy die hele Amerikaanse Vryheidsoorlog (1775 – 1783) misgeloop het en dat sy vrou, soos al sy ander tydgenote, al dood is. Ek wonder waaroor hy die blyste was! (Eintlik wonder ek ook hoekom sy vrou hom nie gesoek het nie …)

Al my rondlesery oor slaap en wakkerbly het my nie veel in die sak gebring behalwe om ‘n redelike deel van ‘n ingeperkte Sondag in beslag te neem nie. Maar hoe ookal, ek stem saam met D.F. Malherbe wat so mooi oor die slapery gedig het: Wat is die slaap ‘n wondersoete ding…

Categories
Uncategorized

Voëls van anderste vere

Die breë rebelse streep wat deur my loop, wil my graag op ‘n vorm by “race” ‘n blokkie laat bytrek en dan die kruisie maak langs “HUMAN”. Want ek is nou regtig moeg vir die keuse tussen white, black, coloured of Asian. So asof dit in elk geval nou regtig die enigste keuses is. Wat van European, Middle Eastern, Polynesian … Martian for that matter?! Buitendien, ek is nie white nie … meer speckled, danksy die ouderdom en my voorliefde vir swem.

Dis nie die punt nie – die ou uitgediende vorms het seker ten doel om iets iewers te baseer op die verskille tussen ons klompie. My halsstarrigheid verkies om te fokus op die ooreenkomste. Maar ai, vanoggend val dit my weer op hoe ons verskil!

Ek is in die kombuis doenig en luister na die radio. Luisteraars gee terugvoer oor die kunstefees wat tans in my provinsie aan die gang is. Hulle gesels / stry / raas / jubel oor vertonings wat hulle gesien het, en oor dinge op die feesterrein. Ons was ‘n paar dae gelede daar en het verstom gestaan oor akrobate wat sommer so tussen die stalletjies asemrowende balanseer-toertjies doen. Almal rondom ons het geesdriftig hande geklap en geldjies in ‘n hoedjie gegooi. Maar, hoor ek, daar is tog mense wat daaroor kla omdat dit hulle op een of ander vlak (bo my verstand) pla. Mense gaan kyk na dieselfde vertoning (of lees net daarvan) en dan stroom die uiteenlopende kritiek of komplimente in. Een groep wens die organiseerders geluk met die feit dat baie vertonings van die universiteit se kampus af na skole en ander lokale geskuif het – dit versprei die voete (en die beursies), die stad word aan besoekers bekendgestel, parkering is makliker bekombaar … maar dan is daar ook diegene wat voel dit is jammer dat “groot” produksies in skoolsale plaasvind. Ai tog. (As onderwyser kan ek nie aan ‘n beter plek dink vir iets groots as juis ‘n skool nie!)

Ek lees ‘n vraag raak op facebook – is ‘n elektriese kombers ‘n goeie kopie of nie? Sommer nog voordat ek die antwoorde begin lees, giggel ek al – en ja, ek was reg. Hewiger en vuriger argumente as oor die uitverkiesingsleer of die evolusieteorie bars dadelik los: van mense wat wakker geskrik het met grusame brandwonde, tot ‘n vrou wat selfs op haar sitkamerbank ook een het omdat dit so lekker snoesig is. Taktvolle waarskuwings oor hoedat die kombers nie gevou mag word nie, nie deurnag mag aanbly nie, en nie natgepiepie mag word nie, word afgewissel met lofsange oor hoe dit sommer in die wasmasjien gewas word … Ek ag myself gelukkig dat ek langs ‘n menslike verwarmer kan inkruip, en dus nie by dié debat betrokke hoef te raak nie.

Maar ek dink ook sommer aan ander onbelangrike én belangrike goed waaroor ons mense so vurig kan verskil, en wat, dink ek, onopgelos gaan bly tot aan die einde van die mensdom se bestaan.

Hoort pynappel op ‘n pizza?

Moet die toiletpapier se punt voor of agter hang?

Moet die melk eerste of laaste in die tee kom?

Mag ek my gesig met seep was?

Gaan my mikrogolf my doodmaak?

Is papierstrooitjies die oplossing?

Is Harry Potter duiwels?

Is die duiwel bybels?

Dankie tog ons hoef nie vorms daaroor ook in te vul nie.

Categories
Uncategorized

Kom ons kla!

“Hoe gaan dit?” “Nee, kan nie kla nie” … en dan begin dit – ‘n ellelange lys van klagtes!

Dankie tog dat my pa my geleer het dat om iets negatiefs te sê, dinge gewoonlik net vererger. Sy gunsteling-antwoord op die “hoe gaan dit” vraag was: “Arm, maar geduldig!” O ja, ek kerm ook gereeld, maar veral die laaste paar (ryper dalk?) jare kom ek agter hoe sterk positiewe denke en woorde is. As ‘n negatiewe of neerslagtige gedagte in woorde omgesit word, is dit asof dit sommer groter word. Ek praat nou nie van regte hartseer-dinge wat mens met iemand bespreek nie – hierdie is sommer ‘n tong-in-die-kies kermsessie oor mense wat kerm!

Ek luister na ‘n radio-geselsprogram waar mense met stemboodskappe moet laat weet watter deel van hulle werk die slegste is. O aarde – wat ‘n geweeklaag!

Die uitdrukking “can of worms” kom by my op toe ek luister hoe ‘n jong juffrou sê die slegste deel van haar werk is om met kinders te werk. Die omroepers skater en spot dat sy dalk in die verkeerde beroep is.

can-of-worms
Foto: http://www.superloopy

‘n Lorriedrywer bekla sy lot: die lang ure, slegte paaie, ondankbare baas, motoriste wat swak bestuur. Die apteek-assistent huil oor knorrige siek mense, die koöperasie-klerk hou nie van haastige boere nie. ‘n Student begin op ‘n positiewe noot en vertel dat hy van die studentelewe hou, maar ai, om klasse by te woon is goor.

Goed, ek besef dat die uitnodiging om die slegte deel van jou werk uit te lig, seker die negatiewe antwoorde uitgelok het, maar dit het my nietemin aan die dink gesit. Ons is so geneig om op die negatiewe te konsentreer, dat ons die positiewe sommer heeltemal miskyk. Nie lank gelede nie, het ek ‘n langafstand-lorriedrywer hoor sê dat hy bevoorreg is om al die mooi dele van ons land te sien, en dat hy seker is hy hou die rekord vir die meeste mooi sonsondergange en reenboë. Ek het ook ‘n skoolmaat gehad wat vakansies in ‘n apteek gewerk het, en ek onthou goed dat sy gesê het hoe lekker dit vir haar daar is omdat dit altyd skoon is en lekker ruik!

Ek besef ook dat ‘n mens nie noodwendig altyd kan kies en keur tussen beroepe nie, maar om nou willens en wetens ‘n juffrou te word as jy nie daarvan hou om met kinders te werk nie? Ek weet darem nie! Realisme vertel my ook darem dat daar seker ook heelwat vriendelike en geduldige boere in die koöperasie is … maar ek bly dankbaar dat “paper cuts” en ontydige opleiding wat my niks leer nie, my grootste klagtes oor die onderwys was! (As opleiding nie eintlik oplei nie, is dit dan afleiding?)

Ek hoop regtig elkeen het ook iets te sê wanneer die onderwerp van die dag is dat jy die lekkerste deel van jou werk moet deel. Maar soos ek ons mense ken, sal minder mense dan reageer – dit is darem so lekker om bietjie te kla!

if-youre-hanging-out-with-two-negative-people-do-they-equal-one-positive-person-quote-1

Categories
Uncategorized

As die skoen(e) pas …

Die gemiddelde vrou besit 20 pare skoene, maar daarvan dra sy net 5 pare gereeld, het ‘n studie in Engeland bevind. (VoucherCodesPro het glo meer as 2000 vrouens uitgevra vir dié opname.) Ek voel nie skuldig oor my skoen-voorraad nie. Ek probeer nog altyd om nié gemiddeld te wees nie!

Toe ek van Thailand af terugkom met net die skoene aan my voete en een paar plakkies, het ek dadelik besef dat ek eintlik heeltemal te veel skoene het. Toegegee, hier in Suid-Afrika het ek stewels en warm, toe skoene nodig waarvoor ek doer in die trope nie werk sou gehad het nie. (Selfs my tekkies het daar agtergebly, basies ongebruik…)

Met die winter wat nou stadig maar seker begin tandjies wys, raak dit nodig dat ek my “winterskoene” uithaal waar ek hulle ingepak het voordat ek verlede jaar die winter in Asië gaan omseil het. Dalk, dink ek, sal ek nou sommer ontslae raak van al die onnodige pare. Dis toe nie so maklik nie.

Die een paar is nog amper nuut – dit is nog elke keer opwindend om my enkel so in die rondte te draai en my voet wat so opgedres is, te bekyk. Die volgende paar weer, is regtig oud; maar ai, as ek dit aantrek, is my voete so knus en gemaklik! Nóg ‘n paar is nou wel nie so gemaklik nie, maar sjoe … so deftig. Mens moet mos partykeer net so effens meer spoggerig wees! Daar is ‘n paar stokou pantoffels wat eintlik te groot is … maar só lekker snoesig en warm. Ek moet net nie te vinnig loop nie, want dit bly sommer agter!

Ek sien nie kans om van een van dié pare ontslae te raak nie.

Nog in ‘n ‘n boks, kom ek af op ‘n paar duur skoene wat vir ‘n spesiale geleentheid gekoop is: net daardie een keer gedra; pas by niks van my “gewone” klere nie; is styf en ongemaklik. En nou dat ek weer daarna kyk, weet ek nie wat my besiel het nie: dis nie eens so mooi nie! Ek kan nie glo ek het dit gekoop nie – dit kan maar waai.

Amper net so werk dit met die mense in ons lewens. Daar is die nuwes, wat geleidelik ingeloop word sodat die opwindende blink-nuwigheid plek maak vir knus gemak. Daar is dié met wie mens net so nou en dan skouers skuur, maar tog voel mens elke keer dat dié bietjie opdres goed was vir jou. En die dierbare pantoffelpelle … dankie tog vir hulle, wat seker maak jy hol nie te veel of te vinnig nie, altyd beskikbaar is, en altyd genoeg gemak en warmte gee. Hulle is die heel, heel kosbaarste, dié sloffietjommies by wie mens altyd tuis is.

En dan daai grêndes in die fensie boks: ek gaan dit nie eens weer oopmaak nie. Iewers gaan daar wel iemand wees vir wie dié pretensie nommerpas gaan wees.

Ek is tevrede as my voete op die grond kan bly, my enkels warm is en my tone kan wikkel …

Naskrif: Gaan gou terug na die eerste prentjie hierbo – die een met die aanhalings oor skoene, en vervang elke keer die woord “shoes” met “friends” … dit bly waar, né?

Categories
Uncategorized

Te oud om te wat?

So daar sit ons ingeryg agter die rekenaars … almal wat nog nié die elektroniese leer-platform bemeester het nie. Die Nuwe Dekaan (ja, almal wat die titel uiter, doen dit in eerbiedige en duidelike Hoofletters, sommer dikgedruk ook!) het beveel dat dit nou gouer eerder as later onder die knie gekry móét word. Dit was nou al drie weke gelede – vandaar die skaarste aan blogs die afgelope tyd.

Ek is nie bang vir rekenaars nie – net nie baie slim daarmee nie, maar altyd bereid om te leer (en te hardegat om in te gee!). Links en regs van my sit tydgenote … min of meer so oud soos ek, en min of meer net so gemotiveerd om die jongelinge wat in die ry agter ons sit en giggel, te wys dat oud nog lank nie rekenaar-koud is nie. Ons spartel om in te log met ons splinternuwe usernames en passwords, maar danksy ons oulike instruktrisetjie (omtrent 6 jaar oud!!) kom ons darem reg. Net die eerste sessie is face to face en daarna gaan die res van die kursus aanlyn voort.

20180303_113917-1838395053.png
Foto: Getty images

Elke dag swoeg ek deur velde, folders, files, tools en terminologie wat vreesaanjaend vreemd is, maar ek moet erken, nogal interessant en uitdagend. Die aanlyn-videos wat verduidelik, laat lyk dit so maklik, maar navigasie was nog nooit my sterk punt nie. Maar die gevoel as ek ná baie verdwaal in die program se doolhowe, uiteindelik ‘n stuk werk kan submit, is baie naby aan euforie!

Die instruktrise bel een oggend aan die begin van week 3: van almal (ons was meer as 10) wat ingeskryf het, is ons net drietjies wat vasgebyt het en nog steeds besig is om die kursus te doen – raai wie? Ek en twee van my tydgenote – inderdaad, ek is die jongste van ons drie! Die giggelgroepie wat gelag het omdat ons nie met ons eerste probeerslag kon inlog nie? Nee wat – hulle het nie eens die moeite gedoen om uit te log nie!

Een van die mooi dae gaan ek fênsie lesings en assesserings en take en besprekings vir my studente aflewer – sommer net daar binne-in hulle tablette, skootrekenaars, ipads en slimfone! Ek is nou wel nie ‘n foon nie, maar ek is ook (bietjie) slim!

Foto: cloisterliving

Ek moet net eers nóg ‘n kursus of twee doen, hoor ek … maar intussen gaan my password verval en ek moet dit reset.

Ag vader.

Categories
Uncategorized

Laat ons bietjie hare kloof!

(Blog-uitdaging: “Manscaping”)

Foto: Pinterest

Dit is vir my belangriker hoe ‘n man besnaar is as hoe hy behaar is. Tog sit die term ‘manscaping’ my aan die dink …

Dalk net eers ‘n vinnige verduideliking: ‘manscaping’ , so sê Google, is die verwydering of stilering van hare op ‘n man se liggaam vir kosmetiese doeleindes. Google ignoreer my as ek vra vir ‘n Afrikaanse woord vir dié term. My nuwe Pharos tweetalige woordeboek het ook nie raad nie en in my geestesoog sien ek hoe hy ‘n boekwenkbrou lig oor hierdie lawwe woord. Julle weet mos nou al dat boeke vir my amper soos mense is.

Ek besef wel dat ons taal se idiome-skat nogal graag met hare speel: iemand aan die kort hare beetkry, nie ‘n lui haar op jou kop hê nie, met die hande in die hare wees, hond haar-af maak … en dan is daar ook nog daardie jakkals wat van hare kan verander, maar nie van snare nie!

As ek self probeer om ‘n Afrikaanse woord vir dié gier uit te dink, kom net lawwe dinge by my op – soos baardbeeldhouwerk, snorsnoeikuns, haartatoeëring … nee wat, ‘n boerseun gaan hom nie ophou hiermee nie (in elk geval nie op só ‘n skaal dat dit ‘n woord regverdig nie) dus wil die taal dit nie doop nie.

Foto: funnypicsonly

As ek mooi oor die woord dink, kom allerlei vrae by my op: wat is die vroulike woord? Womanscaping? Wat het geword van doodgewone ‘shaving’? Is enige verwydering of sny van hare nie maar kosmeties nie? Wie het dit eerste gedoen? En hoekom?

As ek die woord in Google se soekboksie intik, kry ek baie resultate … en party van die foto’s, wel, soos die Engelsman sê, “pardon the pun,” laat nogal my hare rys!

Moet my nie verkeerd verstaan nie … ek is ten gunste van persoonlike versorging en vind ‘n metro-man aantreklik, selfs pragtig. Die grotman-voorkoms val nie juis in my smaak nie en volgens my het ‘n man net soveel reg soos ‘n vrou om sy liggaamshare te verwyder of watookal daarmee te doen.

My pa het sy snor altyd met groot sorg netjies en kort gehou, en ure voor sy dood het ek en my ousus dit vir oulaas vir hom gedoen. Hy het altyd met ‘n vonkel in sy oog verklaar dat om ‘n man met ‘n snor te soen, is soos om sop met ‘n vurk te eet – mens kry net nie genoeg nie! My man het ‘n welige, maar netjiese baard gehad toe ons ontmoet het. Op my aandrang, en teen sy ma se sin, het hy die baard nie afgeskeer vir die troue nie, omdat ek nie met ‘n “vreemde”, kaalgeskeerde man wou trou nie. Hy het nog steeds ‘n snor. Mooi, netjies en lekker.

Gelukkig verskil smaak. Dus, as die Adams en Adonisse hulle pelsjakkies wil aanwend as verwyderbare lyfkuns, moet hulle dit maar doen. Ek verkies mý Adam met sy sexy, grys borselkop en netjiese snor. Vir die res, as jou snare goed gespan en mooi gestem is, voel ek vere (want meeste van mý hare is gesny, gewaks, gepluk en gekleur!) oor wat jy met jou hare doen!

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=761578

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls(2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

http://widgets.wp.com/follow/index.html#href=www.hesterleynel.co.za&lang=en-gb&blog=http%3A%2F%2Fwww.hesterleynel.co.za

Categories
Uncategorized

Dankie, Juffrou!

Die skooljaar is verby. Die kinders het klaar eksamen geskryf en dit is nou daardie ongemaklike tyd wanneer die ouers te skuldig voel om dit te erken, maar hulle wens die kinders kon maar liewer nog skool toe gaan, want wat moet hulle nou by die huis maak? Die ouers werk nog, en al werk hulle nie, die vakansie raak darem baie lank. Intussen sê die onnies elke oggend dankie dat hulle nie meer die kinders by die skool hoef te sien nie, al is hulle hóé lief vir hulle – genoeg is genoeg. En die kinders? Nee, wie weet? Die matrieks verbrand hulle boeke en leef hulle ouers se nagmerries uit op matriekvakansies. Die heel kleintjies kuier blykbaar by hulle oumas. Die res – hang in die malls rond? Of op die internet? Of sommer albei tegelyk?

So teen die einde van die jaar gebeur dit veral by die jonger kinders dat Juffrou ietsie kry om dankie te sê. Die heel kleintjies se mammas het, as ek reg verstaan, nogal ‘n effense wedywering met die dankie-sê geskenkies. Ek sien selfs advertensies wat hierdie kompetisie so bietjie uitbuit … maar dit nou eers daar gelaat. Ek glo in elk geval dat elke juffrou elke persentjie regtig waardeer.

Ek het nooit vir die kleiner laerskoolkinders skoolgehou nie.  Die een jaar wat ek vir Graad 1, 2 en 3 Sang gegee het, tel ek nie as ‘skoolhou’ nie – dit was te lekker! Tydens die grootste deel van my loopbaan het ek met kinders van graad 10, 11 en 12 gewerk. Dit is die fase van ‘n kind se lewe waartydens dit beslis nie cool is om te laat blyk dat jy waardeer wat ‘n onderwyser doen nie. Maar tog het ek ‘n hele versameling van briefies en persentjies wat presies dít sê: Dankie, Juffrou!

Baie jare gelede, toe prutpotte nog luukse, vreemde ‘gadgets’ was, het ek een gekry as ‘n dankiesê vir Wiskunde-hulp wat my man gegee het! Seker nie heeltemal regverdig nie, maar baie nuttig! Ek dink dié mamma het besef sy was dalk onregverdig, want nie lank daarna nie het ek haar dogter met ‘n redenaars-toespraak gehelp, en ‘n pragtige, baie swaar glas-asbak gekry. Daardie mamma het goed geweet ek het nog nooit gerook nie…

In die dae toe “Biggie Best” groot mode was, het die mamma van ‘n dierbare en pragtige rugbyreus vir my ‘n mandjie met valletjies en ‘n deksel opgetooi. Dit is tuis afgelewer – om met dié fraaie persent by die skool aan te kom, sou die seun se reputasie onmeetbare skade berokken het!

Heelwat koffiebekers, lekkernye, penne en ander skryfmateriaal is onderlangs en stilletjies op my tafel gesit, gewoonlik darem met ‘n kaartjie of briefie om die oorsprong te verduidelik. Natuurlik moes ek dan ook seker maak dat ek nie die geheim laat uitkom wanneer ek op my beurt dankie sê nie. Maar die trots op die gesig as ek die pen in die klas gebruik of koffie uit die beker drink, was onmiskenbaar!

Die meer onkonvensionele geskenkies vertel natuurlik elkeen ‘n storietjie: daar is die vierkantige wit klip wat ‘n Griekse seun van Griekeland af gebring het. Dalk marmer? Hy het vertel dat hy dit op die seebodem gekry het terwyl hy en sy pa geduik het. Ons het saam heerlik fantaseer oor hoe dit dalk deel was van ‘n antieke tempel …  My gebruik was altyd om, as ek bewus was dat een van my leerders oorsee gaan, ek sou aandring op ‘n aandenking uit daardie land, maar dit moes iets wees wat nie geld kos nie. My versameling sluit dus ‘n hele klomp klippe in, maar die marmer-ene is die mees uitsonderlike van almal.

Ek het ook ‘n flessie vol albasters – die oorsprong daarvan is die feit dat ek gereeld in die klas gesê het “You’re making me lose my marbles!” Humor bly maar vir my ‘n kosbare hulpmiddel, binne en buite die klaskamer.

Dikwels was daar nie ‘n persent nie, maar net ‘n briefie of ‘n kaartjie wat ek met groot sorg nog altyd bêre. Dié briefies is kosbaar – geen duur geskenk kan so mooi dankie sê soos woorde (al is die taal en spelling nie volpunte werd nie) reguit uit ‘n kind se hart nie.

 Die feit is ongelukkig dat baie onderwysers nie genoeg dankies kry nie. Te veel ouers aanvaar maar net dat alles wat in hulle kinders belê word, ‘n logiese deel van die ou halfdagwerkie is. So. Hier op die jaar se stert, lig ek my persent-koffiebeker en drink ‘n heildronk op elke onnie: Geniet die vakansie! En veral, dankie Juffrou!

Categories
Uncategorized

Spookstorie

Dit was so lekker, nou dat ek daaraan terugdink … ek het in die laat negentigs en die 2000’s by ‘n tegniese skool skoolgehou. Man, ek was lief vir daardie klomp “rowwe jacks”! Ja, baie van hulle se sterk punt was nie breinkrag nie, maar meestal het hulle hande vir niks verkeerd gestaan nie. En hulle was eerlik – pynlik eerlik partykeer, maar nie bang om die gevolge van hulle woorde te dra nie. Ook nie die gevolge van hulle dade nie – en dit was nog die jare toe die gebruik van die rottang aanvaarbaar (en sterk aanbeveel) was.

Moenie ‘n fout maak nie: daar was ‘n hele paar slim-slimkoppe wat vandag nie net dominees, tandartse en dokters is nie, maar ‘n hele klomp van hulle gebruik hulle tegniese vaardighede om geld te verdien waarvan ek maar net droom. Die Engels wat ek hulle geleer het, vertel hulle my, help nogal, al is dit nie heeltemal perfek nie. Om dié manne sover te kry om in enige taal te lees, het my en my kollegas se kreatiwiteit tot die uiterste beproef. Om ‘n mondeling te doen, was báie erger …

Ek kry toe eenkeer die plan om die Graad 11-manne ‘n keuse te gee tussen ‘n “funny story” en ‘n “ghost story”. Dit was, al moet ek dit nou self sê, regtig ‘n blink idee. Ons het heerlik gelag vir hulle snaakse stories, en al was die punte vir die taalgebruik en uitspraak nie altyd so wonderlik nie, het die punte vir “audience reaction” gewoonlik daarvoor vergoed. Snaaks genoeg het die meeste spookstories ook ‘n humoristiese ondertoon gehad.

Een oggend kom Petrus (dalk nie sy regte naam nie) sommer voor skool al ‘n draai maak, en met baie uhms en aahs (hulle mag net Engels met my gepraat het binne-in my klaskamer) vra hy of hy ‘n klasmaat mag gebruik om hom te help “wif special effects” tydens sy mondeling. Ek stem in. Ek weet mos Petrus het al die hulp nodig wat hy kan kry. Toe die Graad 11’s se periode aanbreek, bied Petrus sommer aan om eerste aan die beurt te wees. Natuurlik stem ek in. Dawie, sy helper, bly agter in die klas sit, maar toe ek daaroor navraag doen, word ek verseker dat dit reg is so.

Petrus val weg. Sy vonkelende oë en duidelike pogings om sy glimlag weg te steek, help aan die begin nie juis om sy storie geloofbaar te maak nie, maar hy kry dit gou reg om sy gesig te laat saamspeel. Hy vertel ‘n bloedstollende storie van ‘n Engelse soldaat wat tydens die Anglo-Boereoorlog deur die Boere gevang en gruwelik gemartel is. Later verskuif die storie na Engeland waar die soldaat se vrou en kinders die hartseer nuus hoor en met gebroke harte besluit om ‘n paar jaar na afloop van die oorlog na Suid-Afrika te reis om sy graf te besoek.

Die manne is die ene ore. Dit alleen is al bonuspunte vir Petrus. Ek vergeet skoon van Dawie en die spesiale effekte en luister aandagtig na die Engelse vroutjie wat vir haar kindertjies vertel dat hulle pa ‘n held was. Nou kom die spookstorie-deel: die mense in die dorpie waar Captain Rogers begrawe is, vertel vir die vrou dat die plaaslike skool tydens die oorlog as hospitaal gebruik is. Dit is waar die kaptein aan sy gruwelike beserings beswyk het. Nou, vertel hulle, verskyn hy partykeer sommer helder oordag – pragtig uitgevat in sy “dress uniform” met sy geweer op sy skouer. Hy staan glo net daar, in die hoek van die klas, en voordat hy verdwyn, salueer hy die juffrou.

Foto: Soldiers of the Queen

Ek onthou van Dawie, maar nee, hy sit nog doodstil. Die saluut wat ek verwag, gebeur nie. (Ek het agterna gewonder of hy sou geweet het wat ‘n “respectful salute” is!) Ek begin dink Dawie het seker maar sy deel vergeet.

Petrus se storie nader die einde.  In ‘n diep, onheilspellende stem vertel hy hoe die hoof van die skool aan die Engelse vrou vertel dat, alhoewel Captain Rogers tot dusver vreedsaam was, baie van die skoolkinders sweer dat sy gesigsuitdrukking nie vreedsaam lyk nie. Boonop, aangesien die Boere-offisier wat hom gemartel het ‘n onderwyser was, is dit net ‘n kwessie van tyd voordat die oorlogspook toeslaan …

Presies op die oomblik toe Petrus in ‘n regte spookstorie-stem “Revenge!” uitbasuin, dawer ‘n skoot wat letterlik die klas se ruite laat ratel. Almal, behalwe Dawie en Petrus, val plat op of onder hulle banke, en ek sê ‘n woord wat hoegenaamd nie oor die lippe van ‘n ordentlike juffrou behoort te kom nie…

Die afvuur van vuurwerke was natuurlik teen die skoolreëls, ja. Maar daardie reël, volgens Petrus se verweer, spesifiseer duidelik dat geen vuurwerke op die skoolterrein toegelaat word nie. Dit sê niks van binne-in ‘n klaskamer nie.

Petrus het volpunte vir sy mondeling gekry.

 

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Categories
Uncategorized

Watse dag?

‘n Baie spraaksame en vriendelike jongman keer my nou die dag vas tussen my kar en die petrolpomp. Hy wil ‘n wondermiddel wat alles, van skrape uit my kar se bakwerk tot lipstiffie van my handsak kan haal, aan my verkoop. Die inleiding tot sy verkoop-praatjie beïndruk my baie: dit is glo internasionale glimlagdag, en as ek sy produk koop, gaan ek ook deel wees daarvan.

Ek het nie sy towersepies gekoop nie, maar by die huis het ek ‘n bietjie op Google rondgesnuffel. Reg geraai – dit was nié daardie dag glimlagdag nie, maar ek het verskeie lyste ontdek met die interessantste, snaaksste, belaglikste spesiale dae.

Kom ons begin sommer in Januarie: 2 Januarie is blykbaar buffet-dag – dalk is dit sinvol om met ‘n uitspattige buffet ontslae te raak van al die feesseisoen-oorskiet. 9 Januarie is dan lessenaar-skoonmaakdag: ook sinvol, net so voor die nuwe werksjaar in alle erns begin.

Foto: Bloomberg

Wat sou jy reken moet ‘n mens doen op 16 Januarie, wat bekendstaan as “niksdag”? Dit volg darem op aarbei-roomysdag, wat redelik selfverduidelikend is. Aangesien 23 Januarie handskrifdag is, en ingeval jou handskrif dalk nie baie mooi is nie, is 24 Januarie darem komplimente-dag, net om jou selfbeeld weer op standaard te kry …

Met wortelkoekdag op 3 Februarie kan ek saamleef, en ek hoop nie daar is ‘n verband tussen sjokolade fondue-dag op 5 Februarie en tandpyndag die 9de nie. Een van my gunstelinge is 16 Februarie – doen ‘n grompot ‘n guns dag! En sowaar, Februarie eindig met openbare slaapdag op die 28ste.

Net ingeval jy nie op die 28ste Februarie genoeg slaap ingekry het nie, is 13 Maart weer “napping day” … wat is ‘n lekker Afrikaanse woord vir ‘n “nap”? Maar wees gewaarsku: 15 Maart is Alles wat jy dink is verkeerd dag! Toemaar, dit is nie so erg nie, want die 16de is darem weer Alles wat jy doen is reg dag…

Ek gaan dit aan jou oorlaat om self op http://www.timeanddate.com te gaan snuffel vir nog sulke lawwe dae. Op ‘n bietjie ernstiger noot het ek toe ook gaan soek na werklike internasionale dae en wél op ‘n paar interessanthede afgekom:

Die spraaksame seepverkoper het gejok oor die glimlagdag in November, maar 10 Januarie is wel internasionale lagdag. Ek het nog altyd gedink dit is bra gevoelloos teenoor enkellopende mense om 14 Februarie aan verliefdes te wy, maar ek ontdek toe dat 15 Februarie blykbaar ‘n bewustheidsdag spesiaal vir enkellopendes is! (Of dit hulle laat beter voel, weet ek nie…)

En daar is sowaar regtig ‘n dag wat wêreldwyd aan slaap toegewy is – 17 Maart! Of ons nou op daardie dag moet slaap, of navorsing doen oor slaap, of dink aan mense wat sukkel om te slaap, of dalk net die wonder van slaap besing, nee, dié detail kon ek nie raaklees nie…

 Net voordat ek te veel kon tob oor wat om op slaapdag te doen, ontdek ek toe dat 25 Junie internasionale skaapdag is! Geen aanduiding word gegee of dit lewende of dooie skape is wat op hierdie dag belangrik is nie, dus sal ek nou nie kan sê of ons ‘n skapie in die veld ‘n drukkie moet gee, of aansit om ‘n heerlike skaapboud (of dalk meer bekostigbare skaapbredie) nie!

30 Julie is skoonpa-dag, die eerste Sondag in Augustus word gereserveer as vriendskapdag, 20 Augustus is wêreld muskietdag en 26 Augustus is nasionale hondedag … en tog kry ek nêrens ‘n skoonmadag nie! Ek wonder of die lys deur ‘n man opgestel is? 16 November is darem opsygesit vir ‘n dag van verdraagsaamheid – dalk het hy gedink dit maak voorsiening vir skoonmoeders!

Foto: toonpool

Hoe spyt is ek nou dat ek nooit geweet het 1 Oktober is internasionale koffiedag nie! Die wortelkoekdag moet maar daarvoor vergoed… dit gaan nou eerste verbykom, maar ek sal nie weer vergeet nie!

Ek gaan nie lande en mense se name noem nie, maar net so in die verbygaan … 9 Desember is anti-korrupsiedag.

Ek het besluit: van nou af roep ek sommer self dae uit soos ek dit nodig ag. Wat van bly-in-jou-pajamas dag? Of eet-net-sop-en- broodjies week? Springmielies-en-fliek dag? Sit-in-die-koelte-langs-die-swembad dag? Dink-voor-jy-praat dag? Moenie-liggeraak-wees-nie dag?

Alle grappies op ‘n stokkie – sal dit nie goed en lekker wees as ons so elke nou en dan ‘n verpligte, internasionale mensdag kan vier nie? Net sodat elke mens vir daardie dag gaaf kan wees met alle ander mense, nie oordeel nie, nie raas nie, probeer verstaan, help as jy kan, saggies werk … net daardie een dag?

Foto: photobucket