Categories
Motivering

Saadjies vir later … ‘n kykie na die vordering!

Dit is omtrent 10 dae later, en sowaar – die Kwala-daisies waaroor ek net nou die dag hier geskryf het, begin opkom!

Juis omdat ek begin moeg raak vir die inperkings-mure, was die klein groen wonderwerkies vir my ekstra spesiaal! Ja, ons het hulle in die donker, onder die grond begrawe, maar hulle laat hulle nie vaskeer nie. Kyk net hoe kraak hulle die aarde wat hulle probeer inperk het!

In my verbeelding hoor ek die aarde kraak …

As ek een-een na hulle kyk, is hulle maar nog bitter klein, en ek besef dat daar nog baie kan verkeerd gaan, maar aan durf, vasberadenheid en ‘n gesindheid van “ek-sal-my-nie-laat-onderkry-nie” is daar geen tekort nie.

Onbenullig? Klein? Kyk wat kan ek doen!

Die klein kragtoertjies inspireer my ook sommer om op elke gebied waar dit vir my voel die wêreld, my omstandighede, my emosies of wat-ookal is besig om te swaar op my te druk, net diep asem te haal, my vuiste te bal, op my tande te byt en (al is dit dan net in my kop) dit uit te basuin: “Hier kom ek! Kyk hoe sterk is ek! Moet my nie onderskat nie! Hou my dop – een van die dae blom ek!”

En dan moet ek net eenvoudig na bó beur – na die lig toe!

Categories
Motivering

Sing terwyl die bomme val

Ek het ‘n trotse reputasie as ‘n boekwurm, een waaraan ek gereeld werk. Van kleins af al, baie dikwels tot ergernis van ander, raak ek verlore in die wêreld tussen die blaaie van ‘n boek. Met die jare het ek darem ‘n bietjie meer selfdissipline aangeleer en minder huistakies en ander pligte afgeskeep om te kan lees, maar ek is nog steeds altyd besig om ten minste twee boeke tegelyk te lees.

‘n Deel van my bomskuiling

Ek weet nie of dit in die gene oorgedra is nie – my pa was ook baie lief vir lees en ten minste twee van my susse ook, maar ek was regtig meer trots as geskok toe ek uitvind dat my jongste meisiekind Wilbur Smith en Harry Potter verkies wanneer haar Engelse juffrou die voorgeskrewe boek in die klas lees! Dankie tog dat dié juffrou maar oë toegeknyp het en dat sy, toe ek haar eendag oor ‘n koppie koffie daaroor vra, verduidelik het: “Man, daardie kind ken haar voorgeskrewe boek uit haar kop uit!” (Die betrokke voorgeskrewe boek was George Orwell se Animal Farm en ek kan getuig dat sy dit wél baie goed geken het!)

In elk geval, lees is een van my groot liefdes. Daar is min genres waarvan ek nie hou nie. Ek het ‘n grootmens geword voordat ek die wonder van volwasse fantasie ontdek het: Game of Thrones was nog nie ‘n televisiereeks toe ek vir dae aaneen tussen kastele, konings, drake en ridders weggeraak het nie. Trouens, dit was eers toe die TV-reeks die boeke ingehaal en verbygesteek het, dat ek die laaste reeks móés kyk om my nuuskierigheid te bevredig. Biografieë fassineer my – mense het sulke verstommende lewens. Misdaad, moord, mediese fiksie gryp my aan. Distopiese fiksie solank dit nie té veel eise aan my verbeelding stel, en my positiewe denkwyse te veel uitdaag nie. Romantiese fiksie, solank dit nie te stroperig is nie. Selfs rillers, maar dit moet my darem nie te lank en te veel laat ril nie.

Historiese fiksie is egter my gunsteling. Veral oorlog-stories boei my, en dit sluit sommer alle oorloë in. Tog is stories wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel, telkens dié wat ek kies. Daar is net iets in die omstandighede, die drama en die karakters van daardie tyd wat my betower. Hitler, Churchill, Roosevelt, Stalin, Dunkirk, Auschwitz, Pearl Harbor, Stalingrad, Hiroshima … ek weet nie hoeveel boeke daaroor ek al gelees het nie, en elke keer is dit ‘n ander perspektief, ander hartseer, nuwe feite, en telkens val dit my op hoe dieselfde veldslag beide ‘n oorwinning én ‘n neerlaag is, afhangende van wie die hoofkarakter is. Ek moet erken dat ek gewoonlik terwyl ek só ‘n boek lees, heelwat tyd op die internet deurbring om plekke en gebeure na te gaan of nóg meer daaroor te lees. Feite is inderdaad dikwels vreemder as fiksie!

Een van die aspekte van daardie verskriklike oorlog wat my nog altyd aangegryp het, is die bomskuilings: bestaande kelders wat ingerig is vir mense om te skuil teen lugaanvalle, en ook spesiale strukture wat opgerig is vir daardie doel. ‘n Mooi ware storie waarop ek afgekom het, is dat Julie Andrews se pragtige sangstem juis in só ‘n skuiling ontdek is toe haar gesin met sang die tyd verwyl en die oorlog-geluide probeer demp het. Daar is mos, dankie tog, gewoonlik iets positiefs wat uit elke negatiewe situasie voortspruit.

Veral in Brittanje was daar baie huise wat nie kelders gehad het nie, en daardie mense is voorsien van sink-skuilings wat hulle dan moes oprig, in 1.2 meter grond moes begrawe en dan ook met ten minste nog 38 cm grond moes bedek. Mense het dikwels dan sommer hierdie grond wat bo-oor hulle skuilings moes wees, met blomme of meer gereeld met groente beplant, en selfs kompeteer oor wie in die buurt se skuiling die mooiste gelyk het, terwyl hulle dan ook die kos-skaarste help beveg het. Dit herinner my baie aan ons klomp wat so verbete bak en kook terwyl ons skuil!

‘n Anderson-lugaanvalskuiling uit die Tweede Wêreldoorlog wat nog behoue gebly het.

Dit is juis die skuil-proses wat my aan die dink gesit het, omdat dit soveel ooreenkomste het met ons huidige situasie. Ons kruip ook maar weg – in ons geval sit ons nie in die donker en luister hoe vliegtuie hulle dodelike vragte oor ons koppe afgooi nie, maar ons sit in ons huise en probeer ‘n onsigbare virus oorwin.

Wat ons ken as “inperking”, word in baie state in die VSA shelter-in-place genoem. Dit is vir my ‘n mooi term, met ‘n meer optimistiese ondertoon. Skuil in jou plek. As ek die woord shelter naslaan, kry ek mooi dinge soos beskutting, beskerming, toevlug … alles dinge wat ek elke mens toewens.

Ongelukkig weet ek dat nie elkeen ‘n huis het wat ‘n skuilplek of ‘n toevlug is nie. Vir daardie mense is hierdie inperk-tyd sekerlik ‘n nagmerrie. Vir my is die ergste van die skuiltyd dat ek van my kinders en hartsmaats afgesluit is. Gelukkig is die een met wie ek my skuiling deel, iemand wat sorg en help. Ek is jammer vir mense wat nie so gelukkig is nie.

Een van die dae kom ons uit, en maak vir ons ‘n nuwe werklikheid. Hopelik gaan ons dan ook dit wat oorgebly het van ons ou, bekende wêreld meer waardeer. Onthou hoe die wêreld verander het na Vigs ontdek is? Bebloede rugbyspelers wat voortspeel en later lyk asof hulle in bloed gerol is, is iets wat ons nou nie meer sien nie. Na 9/11 is lughawens totaal anders as toe ‘n mens toegelaat is om ‘n mes aan boord van ‘n vlug te neem, solank die lem nie langer as 4 duim was nie. Beide hierdie veranderings is goed. Na Corona gaan ons seker nie meer verjaardagkersies bo-op ‘n koek doodblaas en daarna daardie koek eet nie. Ons gaan ander se persoonlike ruimte meer respekteer, meer hande was. Sportmanne gaan minder lek, snuit en spoeg. Ouers gaan meer simpatie hê met onderwysers, ons almal gaan meer respek hê vir gesondheidswerkers. Openbare ruimtes gaan hopelik skoner wees – dit alles klink vir my goed.

Dit gaan nie meer toegelaat word nie!

Ja, dit is vreesaanjaend. Wêreldleiers lyk nie altyd of hulle weet waarvan hulle praat nie. In die VSA het al meer mense gesterf as tydens die Viëtnam-oorlog. Mense ly honger. Mense raak opstandig. Nie almal gehoorsaam die reëls nie. My kinders bly albei in plekke waar die virus ‘n baie groter werklikheid is as hier waar ek skuil. Dan moet ons maar soos Julie Andrews en haar gesin maak. Ons moet sing, al is dit dan net in ons gedagtes, om die bangmaak-dinge weg te jaag.

As Julie Andrews se stiefpa haar nie in die bomskuiling laat sing het nie, moes die wêreld dalk sonder haar stem klaarkom!

Categories
Uncategorized

Masker-gedagtes

Die afgelope paar dae het ek die meeste van my tyd met my naaldwerk-masjien verwyl. Soos baie ander, het ek maskers gemaak. Oorspronklik, nog voordat maskers verpligtend geraak het, het ek sommer so ‘n halfgebakte prakseersel aanmekaargeslaan net vir my en manlief se enkele versigtige inkopietogte. Spoedig het ek egter beter patrone op die internet raakgeloop, en ons s’n opgradeer. Beste maatjies en liewe buurvrou het ook gekry, en toe ek eers die omvang van die masker-behoefte besef, het my eetkamer sommer vinnig in ‘n masker-fabriek in die kleine verander.

Ag, dit was lekker! ‘n Hele klomp jare gelede, toe MS my ousus se oë so aangetas het dat sy nie juis meer naaldwerk kon doen nie, het ek ná ‘n kuier by haar met ‘n karvrag lappe uit haar instap-lappekas by die huis aangekom. My lappetas is summier vergroot na ‘n lappekas en ek het sedertdien al baie plesier uit daardie lappe gekry. Voeg daarby ‘n vlugtige bevlieging om laslap-werk te doen, en die groot verskeidenheid lappies wat beskikbaar en geskik is vir maskers, kan maklik verklaar word. Ek kon heerlik speel met kleure en kombinasies.

Ek het nie miljoene rande wat ek kan skenk vir die geveg teen die virus wat almal terroriseer nie. Maar, het ek gedink, ek hét nou die lappe en die tyd. Ek het dus vir die onderwysers by die twee skole waar ek betrokke was, maskers gratis aangebied. Heelwat het van die aanbod gebruik gemaak, en so vyftig maskers later voel ek nou nie soos Anton Rupert nie, maar ek het darem ‘n klein bydrae gemaak.

In die proses het ek natuurlik genoeg tyd gehad om oor allerlei dinge na te dink: soos dat, nes lappies, dinge en mense wat dikwels sommer maklik misgekyk word en selfs as nutteloos of uitgedien gesien kan word, dalk net die geleentheid gegun moet word om ‘n lewensbelangrike rol te vervul. Dat uiteenlopende stukkies lap (of stukkies mens) wat normaalweg nooit bymekaar sou uitkom nie, in die regte omstandighede die perfekte kombinasie is, en presies wat op daardie oomblik nodig is.

Die herhalende aard van my self-opgelegde taak het my opnuut dankbaar gemaak vir my werk wat elke dag anders was as elke vorige dag – al was die werk dalk dieselfde, die kinders (en die juffrou) se veranderende buie en voorkeure, en die wisselende omstandighede het gesorg dat ek nooit verveeld was nie. (En ook nie nekspasmas gekry het van in een posisie sit en werk nie!)

Ek verstaan sommer die voorreg en noodsaaklikheid van oorbegin ook beter. Ek het saans alles netjies opgeruim en reggepak, al het ek goed geweet dat ek more-oggend maar net weer gaan begin. Tog was dit goed om soggens as’t ware weer alles deur nuwe oë te bekyk, en met nuwe energie aan te pak. Dis iets wat ek meer in my daaglikse lewe en gedagtegang moet doen. Pak weg. Gooi weg. Maak skoon. Begin weer. Herhaal soveel kere as wat nodig is.

Die wonder van perspektief het my ook van nuuts af getref. Ons grootmense kerm en kla oor die ongerief van die masker-draery. Party versmoor ons, bederf ons haarstyl, ander irriteer kwansuis ons ore, wasem ons brille toe en is sommer net lastig. Maar dié klein skattebol, vir wie ek ook vinnig ‘n maskertjie aanmekaarslaan toe ek sy mamma en pappa s’n verpak, wil syne nie afhaal nie!

Dankie vir die foto, Karin!

As ons maar almal die verwondering van ‘n kind kon aanleer, en besef dat in elke nuwe ervaring ‘n avontuur opgesluit is!

En dan het elke taak, hoe glansryk ookal, mos maar sy sleurwerkies ook. Dit was vir my onbegryplik hoeveel rafeltjies, snippertjies en algemene gemors hierdie maskers genereer het, en ook hoe hardnekkig daardie flentertjies garing en lap aan die mat kon klou as dit by die opruimslag gekom het! Ook maar soos mense … elkeen gryp verbete aan sy stukkie wêreld, argument of droom en weier om te los, né? Ek hoop ons klou ook só aan mekaar, aan hoop en aan positiwiteit vas in hierdie vreemde tyd!

Uiteindelik, met die tafel leeg, mat skoon en chaos opgeruim, was daar net die binnekant van die omkapmasjien wat ek moes skoonmaak. Klein-klein oorblyfseltjies van elke lappie wat onder daardie lemmetjie en naalde deur is, het daar gesit en ek moes dit geduldig met ‘n kwassie, lappie en klein stofsuiertjie verwyder. As die inperking verby is, sal ek die masjien na die tegnikus toe vat – hy werk al baie jare aan my masjiene en ken al hulle nukke. Ag, hoe wens ek dat daar ‘n instrumentjie was waarmee ek die nuttelose en negatiewe stukkies en brokkies in my kop ook kon uitwis!

Eintlik, besef ek nou, kán ek – ek moet hulle net gedurig met positiewe stukkies vervang!

Categories
Uncategorized

Lockdown-lesse #1

Baie mense probeer met ‘n goeie Afrikaanse woord vorendag kom vir “lockdown” – ons hoor van grendeltyd, inperking, toesluit-tyd, corona-kwarantyn … wat ons dit ookal noem, dit is ‘n vreemde werklikheid en iets wat min van ons gedink het ons ooit sal beleef.

Vir ‘n onbeskaamde boekwurm en storieslaaf soos ek is dit in baie opsigte nie ‘n straf nie. Ek het genoeg leesgoed op my rak en in my Kindle se blikbrein, en danksy Showmax en Netflix sal my stories ook nie opraak nie. Die dinge waarvoor ek lief is, is huisdinge – ek het genoeg wol en garing om baie te hekel, genoeg meel en eiers om lekker te bak, en my rekenaar is byderhand as ek iets wil skryf of met ander wil kontak hou. As ek vars lug nodig het, het ek gelukkig ‘n heerlike tuin waarin ek kan asemskep en danksy YouTube kan ek steeds 3 maal per week, of so gereeld as wat ek wil, oefening inkry.

Ek is skielik dankbaar dat ek nie ‘n sport-verslaafde is nie, dat my gemoedsrus op geen manier aan adrenalien verwant is nie, en dat ek nie ‘n groot partytjiemens is nie. Natuurlik mis ek vryheid van beweging, ja! Ek mis my buurvrou wat inval vir lekker koffie en gesels, my hartsvriendin wat kom kuier en die luukse van gou in die kar spring om iets te gaan koop.

Ja, dit het hierdie opsluiting my geleer: wat ek as belangrik beskou het, is toe nie belangrik nie. Die winkels wat belangrike goed verkoop, is gesluit, en die rakke met noodsaaklike dinge is afgekamp en verbode in die winkels. Mense wat hulleself essensieel geag het, bevind hulleself nou by die huis en sonder reispermitte.

Meer as ‘n week van inperking is verby, en ek het dit nog glad nie buite ons erf gewaag nie. Die televisie en sosiale media vertel my van mense wat gearresteer word omdat hulle die maatreëls minag. Ek kry hulle nie jammer nie. My ouers het my geleer van voel as jy nie wil hoor nie. Ek kry wél die haweloses jammer wat in gemeenskapsale of sportstadions ingehok is – al is dit vir hulle eie veiligheid, is hulle “vryheid” letterlik al wat hulle het. Ek wonder oor die karwag-omie voor die wolwinkel … al is hy alewig in my pad as ek uit my parkeerplek ry en al vervies ek my elke keer as hy vir my verduidelik hoe ek vir die randsteen moet pasop … waar kry hy nou ‘n geldjie? Die effe verslonste man en vrou van die tuindienste wat my bure se gras elke week kom sny – hoe oorleef hulle en hulle werkers nou? Ou Kuru van Kuruman wat vrugte verkoop by Pick ‘n Pay se ingang wat altyd lag en waai … sal hy geld hê vir kos?

Al verlang ek vreeslik baie na my kinders, is ek dankbaar dat ek nie kleuters of woelige tieners het wat ek saam met my ingehok hoef te hou nie. Ek bewonder mammas en pappas wat met vindingryke planne hulle kleingoed vermaak, stimuleer en leer. Ek is dankbaar teenoor tegnologie wat dit moontlik maak vir ons hele gesin om saam te kuier én mekaar te kan sien tydens ‘n “group call” en terselfdertyd wonder ek oor ou mense wat nie sulke tegnologie tot hulle beskikking het nie en dalk nie verstaan hoekom hulle kinders skielik verdwyn het nie.

Ek lees hoe die slim mense filosofeer oor hoe die aarde nou kans kry om die skade wat ons mense aangerig het, te herstel. Ek sien die foto’s van die skoner lug, die blouer see … maar ek wonder of Moeder Aarde se moederhart nie ook bloei oor haar kinders wat in duisende sterf nie.

Kerke en godsdiensgroepe maak innoverende planne om steeds hul boodskappe by mense te kry sonder om in groepe bymekaar te kom. Die woorde “BE the church even without being IN the church” resoneer 100% met hoe ek daaroor voel. Ek hoop regtig dat mense mekaar in hierdie krisis sal leer aanvaar sonder die etikette van kerkverband, ras, seksuele oriëntasie, nasionaliteit … ek hoop dat al die gebede, in al die tale, na al die gode, verhoor sal word. Dit is per slot van rekening dieselfde gebed, is dit nie?

Dalk is die grootste les wat Covid-19 en die kroonvirus ons moet leer, nie om hande te was nie, maar om hande te vat.