Categories
Die Lewe

Lewe voor die dood

Ek staan soms verstom oor hoe mense ure lank kan filosofeer oor die lewe ná die dood. Ek gaan beslis nie hier debatteer oor die bestaan al dan nie van daardie lewe nie. Waaroor ek wél iets te sê het, is die raaisel dat daar so baie mense is wat so slim is oor iets waarvoor daar geen empiriese bewyse is nie, terwyl hulle hiérdie lewe, die een waarin hulle nóú met albei voete staan, vermors!

Moenie my misverstaan oor hierdie vermorsing nie – hoe elke mens sy tyd deurbring, is ‘n kwessie van vrye keuse. Ekself is ‘n groot voorstander van my eie tyd mors, al probeer ek hard om nie ander mense se tyd te mors nie, en al raak ek magteloos moerig as ander mense my tyd mors. Ek beskou dit byvoorbeeld nie as tydmors om so nou en dan net heeltemal niks te doen nie: net te sit, toe te laat dat die son op my skyn, die gras my tone kielie en te luister na die voëltjies en windklokkies in my tuin.

Moet my asseblief nie verdoem nie (of as jy wil, moet jy maar)! Ek ontken nie die idee van die ewige lewe of enige ander soortgelyke idee nie. My punt vandag is dat ons meer aandag behoort te gee aan die lewe vóór die dood! Veral omdat ons nie weet hoe lank dit gaan wees nie, in teenstelling met die slimmes wat sê die volgende lewe gaan vir altyd aanhou. Hou op tyd mors, man! Doen iets wat vir jou lekker is, probeer iets nuuts, waag ‘n kans. Of wees goed vir iemand anders sonder om dit agterna aan die groot klok te hang. Dis jóú lewe – kwel jou minder oor hoe ander hulle s’n lewe, hou op om vir hulle te preek en wees liewer ‘n voorbeeld. Gebruik jou geleenthede, waardeer jou lekkertes. Maak iets lekkers, of koop iets lekkers, en eet dit sonder om skuldig te voel. Bederf iemand. Druk jou geliefdes, krap ‘n dier se magie. Vergewe iemand. Verander ‘n uitgediende standpunt. Erken ‘n fout. Bel iemand wat swaarkry of alleen is, of stuur ten minste ‘n stemboodskap – ‘n prentjie van ‘n reenboog, rosies en ‘n oulike beertjie doen nie dieselfde as om die stem van iemand vir wie jy lief is te hoor nie.

Foto: Central Bark

As 2020 ons iets geleer het, dan hoop ek dit is dat die lewe, hierdie lewe, die een vóór die dood, vlietend is, en kosbaar. Lééf dit.

Categories
Motivering

Gebruik dié pretpark op eie risiko

Ek en my jongste besoek die skou. Dit is iets wat ons baie lank gelede laas gedoen het – die wêreld het mos feesbefoeterd geraak en goeie, outydse skoue het in die stof gebyt. Ons geniet dit, stap deur die sale en giggel lekker oor al die verkoopsmense se strategieë. Ons kyk na skilderye, speelgoed, klere, fieterjasies wat groente opkerf, handsakke, meubels, trekkers en perde wat karretjies trek. Ons koop oorbelle, pantoffels, olywe, chippies in ‘n boksie met onwaarskynlike sousies bo-oor. Waar anders gaan mens só ‘n verskeidenheid en kombinasie inkopies doen? (O ja, by ‘n fees …)

Ons maak ‘n draai by die pretpark en is betower deur die liggies en unieke musiek. Deur grootmens-oë en -ore lyk en klink dit seker anders as vir die eintlike teikenmark, maar die tuimelende en draaiende kontrepsies bekoor ons nogal. Die enigste een waarop ons graag sou wou klim, is die carousel met die perdjies, maar helaas, hulle is besig om daaraan te werk. Ons is maar tevrede met ‘n foto.

Die volgende dag is daar ‘n ongeluk by een van die ander ritte. ‘n Waentjie val om en drie mense kry seer. Nooddienste is vinnig daar, die mense word die volgende dag uit die hospitaal ontslaan. Natuurlik is daar ‘n hewige en baie aggressiewe woordestryd in die plaaslike pers en op sosiale media. Die skou se bestuur word uitgetrap, mense word aangeraai om dit nie daar naby te waag nie. Dieselfde ritte wat ons as baie mooi, goed onderhou, netjies en kunstig opgeval het, word beskryf as stokoud, verwaarloos, gevaarlik, heeltemal te duur … mense word aangeraai om almal te dagvaar, van die man wat die kaartjies by die hek verkoop, tot die skoubestuur en die eienaar van die pretpark. Gits, het die liggies en musiek ons só erg verblind? Ons was dan daar!

Ek herkou daaraan. Ons hou van die gevaarlike ritte in die lewe se pretpark. Ons hou ook van baklei. Beskuldig. Verwyt. Wil altyd iemand voor die bors druk met ‘n kwaai wysvinger en sê: “Dis jóú skuld!” Ek neem nie verantwoordelikheid vir my besluit om op die potensieel gevaarlike masjien te klim nie.Dis nie my eie skuld dat ek die waarskuwings ignoreer het nie. Ek kyk die “eie risiko” deeltjie mis. Ek kyk net vas in die “pret” gedeelte. Maar as dit skeefloop – dan soek (en kry) ek iemand om te blameer. Mense wat op geen manier betrokke is nie, ken skielik elke detail, en versamel ywerig nóg detail, gretig om elke grusame brokkie te glo en te versprei. Nog erger: baie mense wat self jare gelede, indien ooit, ‘n pretpark besoek het, praat met groot outoriteit oor die toestand van die ritte, die regsprosesse om te volg en wie nou eintlik die skuldige is. Hulle deel raad uit, en oordeel links en regs, fel en sonder genade.

Die slagoffers self? Hulle is doodstil, waarskynlik iewers besig om ‘n seerplek te versorg, te kyk hoe ‘n seer blou kol stadig groen en geel word en dan verdwyn, ‘n nagmerrie-oomblik te probeer vergeet, ‘n beseerde ledemaat versigtig weer te begin gebruik. As hulle gelukkig is, is daar ander wat hulp aanbied – ‘n salfie aansmeer, pleisters aandra, inhak vir daardie eerste treetjies op die wankelrige “nuwe” bene. Hopelik sal hulle iewers in die toekoms weer voor ‘n pretrit staan, na die mooi liggies en anderwêreldse musiek luister, en besluit om tóg weer te ry.