Categories
Uncategorized

Musings on masks

A while ago, just before the wearing of masks became compulsory, I thought that while I have lots of fabric scraps and more than enough time, I could just as well make some masks for friends and colleagues. Very soon my dining room table became a small mask factory.

How I enjoyed it! I played around with colours and combinations and had enough time to reflect on various subjects (some may call it “thinking up nonsense”) …

It hit me that, just like little scraps of fabric, many people are often not noticed, or they are easily written off as useless or outdated. Maybe they should just be offered the opportunity to serve an essential purpose. Vastly different little scraps of cotton (or human) that ordinarily would never have ended up together, make up the perfect combination under the right circumstances – and that may be exactly what is needed at that specific moment in time.

The repetitive nature of my self-assigned task renewed my gratitude for the work I did for so many years, and the fact that no two days were ever the same – even though the work did not change much, the altering moods and preferences of the children (and the teacher!) together with the changing circumstances ensured that I was never bored. (Also, I never had painful neck spasms because of sitting in one position for hours!)

Another truth that dawned on me anew, is the privilege and necessity of starting over. I cleaned my work space every evening and put everything away, even though I knew that I was just going to start again tomorrow morning. Still, it was good to see everything as if through new eyes in the morning, and to start with new-found energy. This is something that I should do more often in my daily life and especially in my thought processes and mindset. Put away. Throw out. Clean up. Start again. Repeat as many times as needed.

The miracle of perspective was also revealed to me once again. As adults we moan and groan about the inconvenience of wearing masks. Some masks are suffocating us, spoiling our hairstyles (or what is left of them at this stage of lockdown), others irritate our ears, fog up our glasses and are just a general bother. But this little sweetheart, who just received one because he is so adorable and because I knew that he’d want one when he saw his parents wearing theirs, refuses to remove his!

Photo: Karin Herbst

Oh, if only each of us could learn the sense of wonder that children have, and realise that there is an adventure hidden in every new experience!

And then, every task, no matter how glamorous, also involves some less glamorous routines. I could not believe how many little pieces of thread, snippets and general mess these masks generated. Even less how stubbornly those pieces and snippets clung to the carpet when the cleaning-up stage arrived every evening! It’s a bit like people: each one grabbing and clinging desperately onto his little bit of the world, his argument or dream and refusing to let go. I hope we will also cling onto one another, hope and positivity during these strange times!

At last, with the table cleared, the carpet cleaned and the chaos tidied up, only the inside of my overlocking machine had to be cleaned. Minuscule remnants of each piece of fabric that passed through the cutter and needles were stuck there. I had to remove the residue patiently, using a little brush, cloth and small vacuum cleaner. Once the lockdown ends, I will take it to the technician who knows every detail and mood swing of my machine. How I wish that there was an instrument I could use to get rid of all the useless and negative bits in my head as well!

Actually, it dawns on me, I can – I only have to replace them continually with positive bits!

Categories
Uncategorized

Liewe President

Jy moet al morsdood-moeg wees. Jou senuwees moet aan ‘n dun draadjie hang en jou geduld is seker ook al boomskraap. Tog bly jy op die oog af rustig, geduldig, en waardig. Dit maak my dankbaar en trots.

Ek het nie ‘n aftik-lysie met vereistes vir leiers en hulle toesprake tydens wêreldwye pandemies nie; ek glo nie enigiemand het só iets nie. As ons egter standaarde vir hierdie vreemde tye sou wou stel, dan dink ek jy, Meneer President, het nou baie hoë vereistes vasgestel. Min, indien enige, ander leiers kan met jou meeding.

Anderkant die Atlantiese Oseaan tier die een met die hare en die rooi das. Dit gaan oor hóm. Hy baklei, verdedig homself, regverdig sy besluite, bult sy spiere, dreig om Iran se skepe uit die water te skiet … hy kan by jou leer van respek afdwing, van bemoedig, dankie sê, gesag inboesem op ‘n waardige maar ferm manier.

Ek glo Nelson Mandela sou trots gewees het op jou. Hy sou waarskynlik goedkeurend geknik het en erken het dat jou paadjie in die politiek dalk nie geloop het soos hy wou hê dit moes nie, maar dat dit inderdaad ‘n seëning is dat juis jý, juis nou aan die stuur van sake is.

Gepraat van Mandela, sy woorde “If you want the cooperation of humans around you, you must make them feel they are important – and you do that by being genuine and humble,” was nog altyd waar. Maar jy, Meneer President, is ‘n lewende voorbeeld daarvan.

Dankie dat jy gereeld met ons praat. Dankie dat jy ons in die oë kyk as jy met ons praat. Dankie dat jy so goed voorbereid is wanneer jy praat. Dankie dat ons kan glo dat jy régtig gaan probeer om te doen wat jy sê. En dankie dat jou menslikheid ons inspireer en laat glimlag … ons almal, net soos jy, moet maar spook met daardie lastige maskers – maar ons gaan, soos jy, nie toelaat dat dit ons verblind nie!

Pas jouself asseblief op. Ons het jou nodig!

Categories
Uncategorized

My liewe land

Nee, dis nie ‘n uitroep van verbasing of verwondering, irritasie of woede nie. Dié slag is dit die aanhef van ‘n brief aan Suid-Afrika:

My liewe Suid-Afrika

My juffrou het my jare gelede geleer dat mens nie ‘n brief begin met “Hoe gaan dit?” nie, want volgens haar behoort mens te wéét hoe dit met iemand gaan vir wie jy omgee. En buitendien, as dit sleg gaan, kan jy nie so openlik daaroor uitvra nie.

Nou ja. Ek weet dit gaan op hierdie stadium nie baie goed met jou nie. Dis nie jou eerste oorlog nie, ek weet. Jy is al deur ‘n paar, groot en kleiner. In 1899 het die vyand met hulle rooi baadjies van oor die see gekom. Hulle het jou mense geskiet, jou velde verbrand, en, erger nog, jou mense in tentkampe ingehok.

Nou is daar weer oorlog. Dié keer het die vyand weer oor die see gekom, maar hy is onsigbaar. Tog weet ons hoe hy lyk, die aaklige virus met sy lelike stekels en dodelike kiem-koeëls. Jou mense is weer ingehok. Hulle kruip weg, en hou die nuus groot-oog dop: wen ons? Hulle vra gedurig soos kinders wat wegkruipertjie speel: “Kan ons maar uitkom?”

Jy kan trots wees op jou mense – hulle gehoorsaam meestal die reëls, en werk uitsonderlik goed saam: baie dra hulle oorlog-uniform-maskers, min ry onnodig rond, dié wat kan, help ander. Mense wat gewoonlik met mekaar baklei, baklei nou saam. Maar ai, my land, baie van jou mense kry swaar, jong. Hulle werk het verdwyn, hulle geld is op, hulle blyplekke klein en beknop, hulle kinders baie en benoud. Die kinders mis hulle skole, hulle juffrouens, hulle maats. Hulle beproef hulle ouers se geduld, vindingrykheid, intelligensie, uithouvermoë en humorsin.

En tog, Suid-Afrika, gaan dit nie nét sleg met jou en jou mense nie. Jou wilde diere baljaar: hulle wag blykbaar lankal vir die mense om effens opsy te staan. Jou strande en strate bly skoon, jou lug is suiwerder omdat die vliegtuie en voertuie stilstaan. Jou mense drom minder saam, jaag minder rond. Dit is goed vir hulle, al besef almal dit nie. Jou mense begin dinge waardeer – klein en groot dinge waaroor hulle voorheen nie eens regtig gedink het nie: sterk, waardige leierskap op verskeie vlakke, vars vrugte en groente, vryheid om rond te beweeg, samesyn, aanraking.

Soos in elke oorlog het hierdie oorlog ook helde – mense wat die vyand vierkantig in die oë moet kyk en hom oënskynlik vreesloos moet konfronteer: dokters, verpleegsters, nooddiens-werkers, aptekers, navorsers, versorgers van oumense, kinders met spesiale behoeftes, weggooi-babas en weggooi-diere, kosvoorsieners, vullis-verwyderaars, planmakers … die lys is lank en vol verrassings. Ek glo dat die kunstenaars wat aanhou om die mense te vermaak, die onderwysers wat aanhou om op wonderlike maniere hulle leerders te ondersteun en te motiveer, die gewone mense wat hardkoppig die blinkkant bo probeer hou, ook helde is. Emerson het gesê dat ‘n held nie juis dapperder is as ‘n gewone mens nie, maar dat hy net vyf minute langer dapper bly. Suid-Afrika, ek hoop saam met jou dat jou helde, waar hulle ookal is, daardie ekstra vyf minute sal kan uithou.

Suid-Afrika, jou mense het deur die vorige oorloë gekom. Ja, natuurlik het hulle letsels oorgehou – lelike letsels wat baie van hulle tot vandag toe nog pla. Maar sterker, elke keer. Ek glo dit gaan weer só wees. Niemand weet nog wanneer hierdie oorlog verby sal wees nie, maar dít weet ek: dit sal verbygaan. En dan, my liewe land, gaan jou mense uit hulle wegkruip-plekke kom, jou veelkleurige vlag hóóg swaai en jou lied kliphard sing, tot by die laaste twee reëls: Laat ons lewe en streef vir vryheid, in ons land, Suid-Afrika.

Sterkte, Suid-Afrika! En baie liefde.

Categories
Uncategorized

Grendel-gewoontes wat maar kan bly

Natuurlik is hierdie toesluit-tyd, tuisbly-tyd, grendeltyd, wat ons dit ookal noem, ongerieflik – dalk net omdat dit so half onverwags was, al het ons darem ‘n paar dae vooraf-kennis gehad. Wie het nou kon dink dat ons Paasnaweek agter ons eie hekke en deure sou moes bly? Hier by ons het ons daggies afgetel tot by ‘n lank-oor-gedroomde vaart op ‘n luukse skip wat voorafgegaan sou word deur ‘n lekker kuier by ons Kaap-kinders, en afgesluit sou word met ‘n lekker familiekuier en die energieke kinders wat die Twee Oseane-marathon hardloop. Alles uit- of afgestel … en sowaar, ons oorleef! Ons tel nou maar weer slapies vir die bootvaart en hoop dis nie te lank voordat ons mekaar regtig kan sien en voel nie. (Ek wil liewer nie die detail deel oor hoe verskriklik ek my kinders mis nie – die feit dat ek meer as twee ure voor sonop hier sit en skryf, sê baie daaroor.)

Ons gesin het so 2 keer per week ‘n “vergadering” via ‘n WhatsApp video-oproep. Al die mens- en hond-inwoners van ons drie huise kom dan bymekaar, elke keer met ‘n ander “opdress” tema. (My kinders is van kleins af baie lief vir aantrek volgens ‘n tema.) Dit is lekker en nodig om meer van mekaar te sien as net ‘n getikte teksboodskappie. Hoekom het ons gewag vir ‘n wêreld-krisis om hierdie lekker en nodige ding te begin doen?

Ook buite ons gesin is daar gebruike wat nou as noodmaatreëls ingestel is, maar wat eintlik gewoontes moes gewees het – as taxi’s en ander openbare vervoer altyd gereeld skoongemaak en ontsmet is, sou ons hele bevolking nie gesonder gewees het nie? As hulle verbied was om oorvol vragte passassiers te vervoer, sou daar nie minder ongelukke en misdaad gewees het nie?

‘n Gesonde afstand tussen mense is presies dit – gesond! Ek het nog altyd ‘n “geit” gehad oor my persoonlike ruimte. Ek het nog net een inkopie-tog onderneem sedert die begin van die grendeltyd, en ek moet sê, ek sal kan saamleef met die nuwe reëls. Dit voel sommer of almal ook beter maniere het: almal wag ewe geduldig vir mekaar, handhaaf hulle afstand, knik ewe vriendelik en bedeesd van agter hulle maskers. (Ek het reeds na my skoolhou-avontuur in Thailand besef dat die dra van maskers as mens olik is, ‘n baie goeie idee is.) Dalk is dit deels omdat ons meer tyd het, nie werk toe of na die volgende afspraak hoef te jaag nie. Hoe ookal, dit was ‘n vreemde, maar positiewe ervaring.

Ek besef dat hierdie inkopie-tog van my eintlik baie meer effektief was as in die verlede. Ek en manlief het doelgerig gaan sit en beplan, elkeen met ‘n lysie, sodat ons elkeen in ‘n ander rigting kon gaan en so gou moontlik terugkom. Ons gaan nie binne die volgende week weer winkels toe nie. Al het ons elkeen teruggekom met ‘n paar ongelyste bederf-goedjies, is ek oortuig dat ons geld en tyd bespaar het. Beplanning was nog altyd ‘n goeie, maar onder-benutte gewoonte.

Ek wonder of die Chinese immigrante-kinders wat ek tutor, hulle werkies wat ek vir hulle op geheue-stokkies gelaai het voor die onverwagte lang vakansie, hersien. Sing hulle lekker saam met die liedjies, en speel hulle die speletjies? Sal hulle ouers se besighede oorleef? Anders as die ander kinders, kan hulle ouers nie juis help met tuis-onderrig nie, omdat hulle bitter weinig Engels magtig is. Dit bring my by nog ‘n gewoonte wat gerus kan bly: ouers wat nou meer tyd saam met hulle kinders deurbring, en ook sommer ‘n kykie kry in wat hulle van onderwysers verwag.

Buite my eie leefwêreld berei my een spruit virtuele lesse voor vir haar studente, en stel aanlyn-toetse op. Haar ousus woon amper elke dag ‘n webinaar by, beplan aanlyn-kursusse en maak innoverende planne saam met kollegas om in die post-corona wêreld hulle jongmens-toerisme maatskappy te bedryf. My twee sterk meisiekinders sal dit maak, ek is verniet slaaploos oor hulle. Maar hulle bedrywighede laat my wonder of die akademiese en korporatiewe wêrelde waarin hulle beweeg, nie eintlik lankal anders moes begin dink het oor dinge soos vergaderings en maniere om groot getalle te hanteer nie. Dit is maar net twee aspekte – ek dink op baie ander gebiede gaan ons hele wêreld dalk meer effektief raak in die toekoms.

Op sosiale media daag mense mekaar uit – plaas ‘n foto van jou ma, jou kind, jou troeteldier, jou aandete; deel resepte, idees vir handwerk, planne vir gesins-aktiwiteite; vul lawwe vraelysies in, eet en drink eienaardige dinge. Baie mense is suur en sinies daaroor – gewoonlik maar diegene wat in elk geval suur en sinies sou wees oor enigiets. Ek lag oor die meeste daarvan, doen mee aan heelwat. Hoekom nie? Besig bly was nog altyd goed, en as jy met lighartige dinge besig bly, ook goed. As jy dit saam met ander doen, nog beter. Dis ‘n plaasvervanger vir persoonlike kontak, iets wat ons hierna hopelik en waarskynlik meer sal waardeer. Dit is nog ‘n goeie gewoonte: reik uit na ander, op watter manier ookal. Ons het mekaar nodig.

Natuurlik, moenie op ander hoes, nies en spoeg nie. (Kan sportmanne asseblief ook na dese ophou spoeg?) Glimlag, al is dit agter ‘n masker. Help waar jy kan. Wees geduldig, wees gaaf. Was jou hande. En bly by die huis – op sigself ‘n lekker en goeie gewoonte, en een wat ons meer moet waardeer!

Categories
Uncategorized

Nog 4 lockdown-lesse

Ons is nou in die dubbelsyfers van ons 21 dae … die halfpadmerk is al agter ons. Vir my en my mense is dit vreemd om so ingeperk te wees, maar glad nie ondraaglik nie. Ons kan, en het, ons omring met dinge wat dit draaglik en selfs lekker maak. Ek hoop ons sal hierna dié dinge meer waardeer – ek glo darem ons waardeer dit reeds, danksy die feit dat ons almal, my twee kinders inkluis, nie ryk (aan geld) grootgeword het nie. Tog dink ek dat ons ons boekrakke, musiek, rekenaars en ander tegnologie, ons diere (en ander huismaats!) en ons tuine hierna net daardie bietjie hoër op ons lysie van dinge om voor dankbaar te wees, gaan plaas.

Ek kan nie help om ‘n gevoel van paniek te ervaar as ek TV- en koerant-beelde van informele nedersettings sien nie. Dit moet ‘n nagmerrie wees om in ‘n klein hut ingeperk te wees. Hoe hou jy die kinders besig – nee, hoe hou jy selfs die grootmense besig? Hoe verhoed jy die verskillende persoonlikhede, voorkeure, generasies, en gemoedstoestande om te kruis en te ontplof? Waarmee stimuleer jy kinders wat in die skool behoort te wees? Dis vandag se eerste les: jou ruimte is ‘n luukse.

Die sportnuus-leser op die TV is baie vindingryk en het elke aand ‘n nuwe manier om ons mee te deel dat geen sport op die oomblik plaasvind nie. “Dis maar stil op die sportfront” en “Ons sport-spens is leeg” is maar twee van dié nuutskeppings. As onderwyser het ek baie gereeld gemengde gevoelens oor sport gehad: enersyds het ek besef dat sport baie belangrik is (ja, ek weet van ‘n gesonde liggaam en ‘n gesonde gees …) maar andersyds het ek te dikwels ondervind hoe Koning Sport ‘n genadelose diktator kan wees wat ‘n onnie laat met te min ure om die werk te doen, groot, sterk seuns wat net eenvoudig te moeg is om te werk (ek was vyfuur vanoggend in die gym, Juffrou…), ongeskeduleerde onderbrekings in ‘n skooldag, sportsterre wat ‘n bo-natuurlike, ongeskrewe immuniteit het as dit kom by dissipline … Ag, die lysie is baie lank en ek weet ander onderwysers sal kan aanlas en onderstreep. Tog, en dit is les twee vir vandag – sport het tot stilstand gekom, maar die wêreld nie – daar is belangriker dinge!

Glansryke, professionele beroepe is meteens nie meer so belangrik nie. Die dikwels-onderskatte en misgekykte verpleegpersoneel, kassiere in die supermark en afleweraars is skielik meer onontbeerlik as die pak-en-aktetas brigade. Ek sidder toe die vullisverwyderaars opdaag en soos altyd, met hulle vrolike fluit-taal vir mekaar boodskappe straat-af stuur – ons almal steriliseer half-histeries alles waaraan ons vat: hierdie manne werk met ander se huishoudelike afval – sou hulle handskoene genoeg beskerming bied? Ons Evas mis ons haarkappers, die meisies wat ons naels en ander hernubare uiterlike deeltjies versorg, die vrouens wat ons help huishou en die manne wat ons tuine in stand hou. Les drie: respekteer elke beroep, en sommer jou eie ook!

Koninklikes, vermaaklikheid- en sportsterre, politici, mense van alle vorms, groottes, kleure en ouderdomme, moedig ons aan om by die huis te bly. En dit, vir my, is vandag se belangrikste les, en een wat ek elkeen wat hier lees, uit my hart uit toewens: dat jou huis altyd ‘n veilige hawe sal wees.