Categories
Humor

Binne-in die masker …

Dikwels ontdek mens ‘n onverwagte voordeel in iets wat jy oorspronklik as ‘n las sien. ‘n Vinnige voorbeeld is die plastieksak-kopery by die winkels. Oorspronklik was dit ‘n irritasie. Maar ek het gou besef dat die alewige opeenhoping van sakke iewers in ‘n kombuiskas die éintlike irritasie was, en dat dit toe glad nie so erg is om my eie mooier, groter en sterker inkopiesakke saam te vat winkel toe nie. En dis sommer omgewingsvriendelik.

‘n Meer onlangse ontdekking wat ek (met my tong in my kies) ontdek het, is die dra van ‘n masker in die openbaar. Enigeen wat al ooit ‘n passassier in my motor was, weet dat ek “hardop dink” as ek bestuur – of kom ons noem dit maar by die naam – ek praat baie met myself! Dit help my regtig om beter te bestuur as ek dinge vir myself uitwys, of as ek met ander bestuurders praat. Dinge soos: “Dink jy régtig dis slim om so verkeerd om die sirkel te gaan, Mevrou GP?” of “Gaan jy nou sowaar hier voor my indruk, padvark?” en “Ag nee man, gaan jaag op ‘n ander plek!” is seker vir my passassiers vermaaklik of dalk selfs bietjie vreesaanjaend, maar dis maar my manier.

Nou dat ek gemasker moet rondbeweeg, kom ek agter dat my pratery ook buite die motor uitbeweeg het. ‘n Hele paar keer vra ek kwaai binne-in my masker: “Weet jy sowaar nou nog nie dat jou mond én jou neus moet toe wees nie?” Dit help niks, maar dit laat my beter voel! “Nee man, hou jou kind se hand vas!” “Aag komaan pappa, koop nou maar die swietie …” “Die beginsel van in ‘n ry staan is nie só moeilik nie, is dit?” en soortgelyke gedagtes word nou in my masker gemompel – woerts, dis van my hart af en niemand het dit gehoor óf gesien dat ek met myself (of met hulle) praat nie.

Toe my skoolhoof my in my eerste jaar van skoolhou daarop wys dat ek tog nie soggens in die personeelkamer so geïrriteerd moet wees as ‘n sekere kollega te veel te sê het nie, het ek heel verontwaardig gesê: “Maar, Meneer, ek het nie ‘n wóórd gesê nie!” En daar leer hy my op sy kalm manier ‘n groot waarheid oor myself toe hy met ‘n glimlag sê: “Jy, Juffrou, hóéf nie ‘n woord te sê nie.” Ek het van daardie dag af regtig probeer om my gesigsuitdrukkings te beheer, maar ai, dis moeilik. Eintlik onmoontlik, al het ek darem al geleer om dit effens te versteek. Maar hier kom die masker nou handig te pas: met net die oë wat uitsteek, is dit darem net die helfte so moeilik!

My meisiekind het nou die dag tydens ‘n foongesprek gesê sy kan hóór hoe rol ek my oë! Ek het so lekker gelag, maar nou ja … dit is maar hoe dit is. Buitendien het sy dié gawe, of tekort aan gesigbeheer, by my geërf.

As die maskers afkom, sal ek weer hard moet oefen aan my kalm gesig, en seker maar op my tande moet byt. Maar tot dan bly dit waar dat daar áltyd iets is om voor dankbaar te wees.

Categories
Uncategorized

Masker-gedagtes

Die afgelope paar dae het ek die meeste van my tyd met my naaldwerk-masjien verwyl. Soos baie ander, het ek maskers gemaak. Oorspronklik, nog voordat maskers verpligtend geraak het, het ek sommer so ‘n halfgebakte prakseersel aanmekaargeslaan net vir my en manlief se enkele versigtige inkopietogte. Spoedig het ek egter beter patrone op die internet raakgeloop, en ons s’n opgradeer. Beste maatjies en liewe buurvrou het ook gekry, en toe ek eers die omvang van die masker-behoefte besef, het my eetkamer sommer vinnig in ‘n masker-fabriek in die kleine verander.

Ag, dit was lekker! ‘n Hele klomp jare gelede, toe MS my ousus se oë so aangetas het dat sy nie juis meer naaldwerk kon doen nie, het ek ná ‘n kuier by haar met ‘n karvrag lappe uit haar instap-lappekas by die huis aangekom. My lappetas is summier vergroot na ‘n lappekas en ek het sedertdien al baie plesier uit daardie lappe gekry. Voeg daarby ‘n vlugtige bevlieging om laslap-werk te doen, en die groot verskeidenheid lappies wat beskikbaar en geskik is vir maskers, kan maklik verklaar word. Ek kon heerlik speel met kleure en kombinasies.

Ek het nie miljoene rande wat ek kan skenk vir die geveg teen die virus wat almal terroriseer nie. Maar, het ek gedink, ek hét nou die lappe en die tyd. Ek het dus vir die onderwysers by die twee skole waar ek betrokke was, maskers gratis aangebied. Heelwat het van die aanbod gebruik gemaak, en so vyftig maskers later voel ek nou nie soos Anton Rupert nie, maar ek het darem ‘n klein bydrae gemaak.

In die proses het ek natuurlik genoeg tyd gehad om oor allerlei dinge na te dink: soos dat, nes lappies, dinge en mense wat dikwels sommer maklik misgekyk word en selfs as nutteloos of uitgedien gesien kan word, dalk net die geleentheid gegun moet word om ‘n lewensbelangrike rol te vervul. Dat uiteenlopende stukkies lap (of stukkies mens) wat normaalweg nooit bymekaar sou uitkom nie, in die regte omstandighede die perfekte kombinasie is, en presies wat op daardie oomblik nodig is.

Die herhalende aard van my self-opgelegde taak het my opnuut dankbaar gemaak vir my werk wat elke dag anders was as elke vorige dag – al was die werk dalk dieselfde, die kinders (en die juffrou) se veranderende buie en voorkeure, en die wisselende omstandighede het gesorg dat ek nooit verveeld was nie. (En ook nie nekspasmas gekry het van in een posisie sit en werk nie!)

Ek verstaan sommer die voorreg en noodsaaklikheid van oorbegin ook beter. Ek het saans alles netjies opgeruim en reggepak, al het ek goed geweet dat ek more-oggend maar net weer gaan begin. Tog was dit goed om soggens as’t ware weer alles deur nuwe oë te bekyk, en met nuwe energie aan te pak. Dis iets wat ek meer in my daaglikse lewe en gedagtegang moet doen. Pak weg. Gooi weg. Maak skoon. Begin weer. Herhaal soveel kere as wat nodig is.

Die wonder van perspektief het my ook van nuuts af getref. Ons grootmense kerm en kla oor die ongerief van die masker-draery. Party versmoor ons, bederf ons haarstyl, ander irriteer kwansuis ons ore, wasem ons brille toe en is sommer net lastig. Maar dié klein skattebol, vir wie ek ook vinnig ‘n maskertjie aanmekaarslaan toe ek sy mamma en pappa s’n verpak, wil syne nie afhaal nie!

Dankie vir die foto, Karin!

As ons maar almal die verwondering van ‘n kind kon aanleer, en besef dat in elke nuwe ervaring ‘n avontuur opgesluit is!

En dan het elke taak, hoe glansryk ookal, mos maar sy sleurwerkies ook. Dit was vir my onbegryplik hoeveel rafeltjies, snippertjies en algemene gemors hierdie maskers genereer het, en ook hoe hardnekkig daardie flentertjies garing en lap aan die mat kon klou as dit by die opruimslag gekom het! Ook maar soos mense … elkeen gryp verbete aan sy stukkie wêreld, argument of droom en weier om te los, né? Ek hoop ons klou ook só aan mekaar, aan hoop en aan positiwiteit vas in hierdie vreemde tyd!

Uiteindelik, met die tafel leeg, mat skoon en chaos opgeruim, was daar net die binnekant van die omkapmasjien wat ek moes skoonmaak. Klein-klein oorblyfseltjies van elke lappie wat onder daardie lemmetjie en naalde deur is, het daar gesit en ek moes dit geduldig met ‘n kwassie, lappie en klein stofsuiertjie verwyder. As die inperking verby is, sal ek die masjien na die tegnikus toe vat – hy werk al baie jare aan my masjiene en ken al hulle nukke. Ag, hoe wens ek dat daar ‘n instrumentjie was waarmee ek die nuttelose en negatiewe stukkies en brokkies in my kop ook kon uitwis!

Eintlik, besef ek nou, kán ek – ek moet hulle net gedurig met positiewe stukkies vervang!