Categories
Die Lewe

Voëlkyk

Afrikaans, soos die meeste ander tale, het nogal baie idiome oor voëls. Nie al hierdie uitdrukkings is positief nie. Niemand wil seker graag ‘n aasvoël of ‘n kapokhaantjie genoem word nie. Aan die ander kant, ek beskou “mossie maar man” nogal as ‘n kompliment, want ek het nog nooit geglo dat fisiese afmetings belangriker is as innerlike krag nie.

Vir ‘n gewone voorstedelike tuin in ‘n stad, ver van enige natuurlike woude of bosse, is ek baie bevoorreg. Ek kry baie plesier uit die mossies wat so vrolik gesels, die raserige rooi- en geelvinke, die skamerige rooikopvinkies wat gewoonlik bietjie laat opdaag, maar dan ewe geduldig wag vir ‘n beurt by die kossies. Die koringvoëltjies, wat ek eers met mossies verwar het, is maar ongeskik en jaag gereeld die ander weg. Die hoep-hoep steur hom nie aan die gepeupel nie – hy stap ewe deftig vroeg-oggend op die gras rond en vang sy eie brekfis, baie dankie. Die kuifkophoutkapper stel nie belang in die saadjies wat die klein voëltjies eet nie – maar hy sit graag op die telefoondraad en bekyk na hulle baldadigheid. So nou en dan laat hoor hy ‘n luidrugtige “krrrrrr…” – of dit aanmoediging of afkeuring is, weet net hy! Tiptol is eerste om te sing in die oggend, en laaste in die aand, maar hy hou homself baie skaars en ek het hom nog net een keer gesien.

Kuifkophoutkapper (Foto: Pinterest)

Ons het sysies en kraalogies in die suurlemoenboom – die ou kleinstetjies wat my eindeloos vermaak as ek deur die kombuisvenster na hulle mannewales kyk. Dan is daar natuurlik die pragtige ou ringnek-duifies en die ongeskikte hadedas. Baie mense is driftig oor die Indiese mynas wat indringers is, maar hier by ons is hulle darem nie te veel nie, en ek het nog nie gesien dat hulle geniepsig is met die ander nie. (Hoewel ek glo dat hulle seker maar kanse vat!) Die kwikstertjies stap sommer tot op die stoep, en dan is daar natuurlik die stoute Piet-my-vrou wat antwoord as ek fluit, maar hy moet nie dink ek weet nie dat hy sy eiers in die ander voëls se nessies lê nie!

Ek verstaan hoekom daar so baie idiome is wat mense met voëls vergelyk. Daar is baie ooreenkomste. As ek so deur my vriende-, familie- en kennisse-boek blaai, sien ek hulle almal. Die raseriges wat heerlik kuier saam met almal, die skames wat liewer van ‘n afstand af die partytjie geniet, die laatkommers, die goed- en sleg-gemanierdes, die boelies. Daar is ook dié wat liewer gehoor as gesien word, en ook soos die tiptol baie graag die ander se geluide namaak, maar self nie juis sigbaar is nie. Party kom hoogmoedig voor, maar dalk is hulle maar net versigtig of bang. Oral is die hadedas en mynas … raserig, ongeskik en morsig. En het ons nie al almal paaie gekruis met ‘n Piet-my-vrou wat so graag verantwoordelikhede in ‘n ander skoot gooi nie?

Dankie tog vir dié wat meer plesier as irritasie veroorsaak. En veral, dankie vir dié wat tot op die stoep kom, al weet hulle nie sonder twyfel wat die gevolg gaan wees nie! Partykeer moet ons kanse vat, vertrou, hoop vir die beste …

Ek herken myself in baie van hulle.

Categories
Die Lewe

Ry, stop, links, regs …

Ek het waardering vir deftige motors wat jou kan help parkeer en omtrent kan koffie maak en stryk, maar ek reis seker nie genoeg dat ek kans sien om so baie geld in ‘n ryding te belê nie.

Ek het onlangs vir iemand gesê dat my karretjie my bring waar ek wil wees, net soos een wat tien keer soveel kos. My woorde “sy kan ry, draai en stop wanneer ek wil, en sy het darem ‘n paar ekstra knoppies ook wat ek kan druk” het by my vasgesteek, en dis waaraan ek nou al vir ‘n rukkie loop en herkou. Die mense om ons … dis baie soos ‘n kar met al sy fieterjasies.

Foto: gameartguppy.com

Elke mens, of ek altans, het ‘n petrolpedaal nodig. Dankie tog, ek hét sulke versneller-mense in my lewe. Hulle gee vir my spoed, jaag my aan wanneer nodig, maar keer darem dat ek nie té onverskillig raak nie. As ek kon, sou ek net voortsnel, brullend jaag met skreeuende bande om elke hoek en draai. Sover dit ander mense betref, is ek hopelik ook wanneer nodig ‘n versneller wat daardie ekstra bietjie oemf of momentum gee wanneer hulle dit nodig het.

Genadiglik is daar mense wat kan remtrap … stadig en geleidelik soos ons geleer is (anders tol en rol ons mos!) word ek in die bek geruk sodat ek meestal nog steeds my bestemming bereik, maar darem regop en in een stuk. Snaaks genoeg, al dink ek ek is meer van ‘n versneller, kan ek tóg partykeer vir ander mense ‘n rem wees, heel kalm die een wees wat sê: “Hokaai, stadig bietjie … versigtig … jy’s te haastig / onverskillig / naby aan die afgrond!”

Dan is daar natuurlik die stuurwiele, want waar sou ons tog gewees het sonder hulle? Die wyses, kalmes, objektiewes wat weet waarheen ons moet mik en ons subtiel (en soms meer aggressief wanneer nodig) in die regte ringting stuur. Dankie, dankie tog vir al die stuurwiele in my verlede en nog steeds: onderwysers, mentors, vriende, sussies, vriende, kollegas, en meer as wat mens sou verwag, kinders – my eie sowel as ander mense s’n!

Tot my ergernis is daar heelwat mense wat blykbaar onbewus is van hulle bestaan, maar flikkerligte is ‘n noodsaaklike deel van elke motor se mondering, en ook van my daaglikse avontuur. Ek het hulle baie nodig: daardie amper ongemerkte, maar aanhoudende waarskuwings dat ‘n rigtingverandering nodig is. Dit is nodig dat ander dit ook moet kan sien – hier kom ‘n verstelling, pas daarby aan! Liggies wat flikker is daar vir ‘n rede: ons moet hulle net raaksien en betyds reageer, né?

Lugversorging is die een luukse waarsonder ek dit nie sommer in ‘n motor waag nie. Ook in my lewe is dit ‘n noodsaaklike luukse! Ek sou swaarkry sonder mense wat ‘n koue luggie oor my blaas wanneer my plofbare humeur, my onbeteuelde verbeelding of een of ander intense emosie die oorhand wil kry. Ook die teenoorgestelde is waar: soms het ek ‘n bietjie warmte nodig as daar vir watter rede ookal ‘n yslagie oor my hart of verstand begin aanpak.

Daar is natuurlik ook ‘n rede hoekom veiligheidsgordels wetlik verpligtend is. Ek sou báie lankal kop eerste deur die voorruit van my lewe gevlieg en in stukke op die pad bly lê het sonder daardie arms wat my veilig terugdruk in die sitplek. Ek is gans te dikwels op pad om teen ‘n nekbreek-spoed aan te hou beweeg in ‘n rigting wat sonder twyfel op ‘n botsing afstuur. Dan is daar gelukkig ook lugsakke wat my omring. Want botsings is partykeer onafwendbaar, en dan is dit onmoontlik om die impak alleen te absorbeer. My lugsakke is partykeer simpatieke ore, lojale ondersteuning, goeie, goedbedoelde raad, tydige kritiek of waarskuwings, liefdevolle arms of net ‘n veilige omgewing en aanvaarding. Dit het my lewe al oor en oor gered.

Foto: WheelMonk

Kom ek wees eerlik – ek hou van ‘n luuksetjie so hier en daar. Die klanksisteem is onontbeerlik. Selfs al ry ek net ‘n kort entjie, ek het musiek in my ore nodig. Ek is so dankbaar dat ek ook mense in my lewe het wat geluide maak wat by my gemoedstoestand pas: partykeer lekker ruk-en-rol, ander kere rustige klanke, soms bietjie rowwe saamsing-treffers en partykeer bloot die waarheid in ‘n saaklike en realistiese nuusleser-stem.

Die pad is partykeer lank, partykeer kort, dikwels vol slaggate, altyd vol onverwagte gevare. Gelukkig is daar baie keer heerlike aftrek-plekkies waar mens rustig die uitsig kan geniet, en gewoonlik is daar darem duidelike waarskuwingsborde en weerkaatsende liggies om my teen die gevare te waarsku. Ek moet net sorg dat my tenk vol is, en my voorruit skoon genoeg sodat ek onbelemmerd kan uitkyk!

Lekker ry!

Foto: The Pink Bridge