Categories
Die Lewe

Draai net jou kop!

Ons ry met die blommetjies-bus. Heerlik! Geen spanning oor bestuur nie, luukse wegsak-sitplekke, lugverkoeling, ‘n handige gaatjie waar ek my selfoon gelaai kan hou, genoeg beenspasie, selfs ‘n toilet net soos op ‘n vliegtuig … dit kan nie beter nie.

Wanneer ons stilhou, is dit asem-wegslaan mooi, en propvol vars nuwe kennis. Die mooiste blomme, met die lekkerste lekkersê-name: weeskindertjies, blouklokkies, fluweeltjies en spogfluweeltjies, klipbobbejaantjies, jonkmansknoop, lepelblommetjies, rukkeperdjies, varkiesknol, bokkeveldbontrokkies, pietsnotjies … En ek het altyd gedink dit is maar net daisies!

Dis belangrik om nie die detail en verskeidenheid mis te kyk nie!

Selfs wanneer die bus ry, hou die lekker nie op nie. Marné, ons gids, vertel die geskiedenis van die omgewing, die name van die berge, wys rotsformasies uit, deel feite oor die Sishen-Saldanha spoorlyn wat kort-kort ons pad kruis, en raak kinderlik opgewonde oor die plate blomme waarby ons verbygaan. Een laatmiddag, op pad terug na ons basis in Vanrynsdorp, sê sy ons moet terugkyk sodat die blomme vir ons kan kyk. Dit roer iets in my binneste: kyk om, sodat die blomme vir jou kan kyk.

As ek vorentoe kyk, sien ek ‘n valerige Karoo-landskap, baie bekend vir ‘n Vrystater wat redelik gereeld die Karoo oorsteek. Regtig niks besonders nie (hoewel die Karoo tog vir my mooi is – die oopheid en grootheid, die altyd-daar horison, die blou lug en wit wolke bekoor my op ‘n vreemde manier.) Maar as ek net so effens uit my gemaklike sitplek wikkel en my kop so bietjie draai om terug te kyk, dan gebeur die wonder.

Iewers naby Garies kyk die dubbel-bittergousblomme vir ons …

Die hele landskap is oortrek met die mooiste kleure, behoorlik ‘n opsomming van alles wat ons daardie dag gesien het: wit, geel, oranje, pers, pienk, selfs blou en rooi! Deur die loop van die dag het die busbestuurder doelbewus die roetes só gekies sodat ons sonder moeite die beste kante van die blomme-rykdom kon sien, maar iewers het daar ‘n punt gekom waar ons moes terugdraai huis toe.

Daardie punt breek mos ook in die lewe aan – die plek waar jy nie meer verder vorentoe kan of wil nie. Dan draai jy maar om, en skielik lyk die vooruitsig maar vaal en onopvallend. Jy het dit tog alles al gesien, en alhoewel dit wel ‘n sekere bekoring inhou, is dit nou nie juis iets om “Wow!” oor te sê nie.

Doen jouself ‘n guns en kyk terug. Doen bietjie hersiening van die beste oomblikke waardeur jy geleef, gesukkel of gejaag het. Party daarvan het jy dalk misgeloop omdat daar ander dinge was wat jou uitkyk versper het. Waarskynlik sal jy na jou asem snak as jy besef dat jy dwarsdeur daardie “wow!”-oomblikke is sonder om regtig te besef hoe besonders dit eintlik was. Lig net jou boude, draai jou kop, en gee die blomme kans om vir jóú te kyk.

Dan, met permissie, gaan jy bly wees dat die Namakwalanders my geleer het wat die Afrikaans vir “wow!” is, en jy sal dit dalk saggies, met ontsag en dankbaarheid, in verwondering saam met my fluister: “Bliksem!”

Né?
Categories
Die Lewe

Kokerboom-lesse

Tydens ‘n blommetoer na Namakwaland wat só vinnig beplan is dat dit volgens ons gesin se standaarde eintlik totaal impulsief genoem kan word, het ek dinge gesien en beleef waarvan ek nooit geweet het nie. Die meeste daarvan was klein goedjies – blommetjies, kewertjies, voëls, skynbaar onbenullige feite. Toe ons gids binne die eerste uur verduidelik dat dit nie help om die bus se lugverkoeling heeltemal toe te draai nie, “want as hy vasgekeer word, gaan hy maar net op ‘n ander plek uitblaas – hy werk nes ‘n poep!” het ek verwag dat alles lighartig en humoristies gaan wees. Absoluut by verre die oorheersende atmosfeer wás vrolik, gul en gasvry (figuurlik, dié slag!) maar daar was tog ‘n paar dinge wat my aan die dink gesit het.

Op die tweede dag is ons diep die veld in, tot by die plaas Gannabos. Daar is ‘n baie groot natuurlike kokerboomwoud. Vir ‘n Vrystaatkind soos ek is ‘n kokerboom in elk geval ‘n aardigheid, so met sy arms in die lug. Dit voel amper asof ons op ‘n vreemde planeet is … ons is nie in die blommeveld nie, en alles is vaal en klipperig, maar ons is omring deur honderde van hierdie vreemde, skaars bome.

Ons bekkige, slim gids vertel en wys vir ons hoedat die kokerbome hulle ou, nuttelose takke amputeer. Ja – regtig! Onder elke boom lê daar ‘n paar takke wat besig is om stadigaan weer deel te word van die veld. Die boom gooi letterlik daardie takke af om liewer hul energie en bronne te spandeer aan nuwe, jong takke. Ai, as mense dit kon doen! Nie met ander mense nie (alhoewel …) maar met ons eie gedagtes! Sou dit ons nie onmeetbaar gebaat het as ons dit kon regkry om ontslae te raak van denkwyses wat uitgedien, nutteloos en skadelik geraak het nie? Dink net hoeveel energie word vermors om daardie onnodige ou hout te vertroetel en aan te hou, terwyl nuwe, vars idees sou kon floreer in daardie vermorste kopspasie.

Oral tussen die kokerbome is kuithoogte doringbossies: hulle naam is voëltjiekanniesitnie-bos. Daar is ook ‘n biologiese naam, maar dit verduidelik nie sommer in een asem die graad van stekerigheid nie. Die kokerboom se saad ontkiem omtrent altyd in die middel van só ‘n bossie. Die bossie se ongenaakbaarheid beskerm die saadjie en later die baba-boompie totdat hy vir homself kan sorg. Nes mense. Die stekelrige “los my uit”-houding is tog maar meestal net daar om weerloosheid weg te steek.

Voëltjiekanniesitnie-vygies het mooi blommetjies wat die gevaarlike dorings wegsteek.

‘n Kokerboom het nie jaarringe soos ander bome nie – daar is geen manier om sy ouderdom te bepaal nie. Soos hy groei, bars sy bas oop (baie soos rekmerke op ‘n swanger mensmagie) om plek te maak. Dit is vir my ook bewonderenswaardig – ons laat ons te maklik aan bande lê deur ons ouderdom. Ons fokus so graag eerder op ons jaarringe as op ons ondervinding en kennis. Ook met ánder mense doen ons dit: ons takseer ‘n mens summier volgens sy ouderdom: jong mense is partykeer baie slimmer as oues, en ou mense is só dikwels ‘n ryk bron van wysheid!

Toe ons wegry op die kronkelpaadjie tussen die klipkoppies, is daar hier en daar helder groen bosse wat ‘n kontras vorm met die vaal klippe en bossies. Dis gifmelkbosse. Hulle bly die langste mooi groen, want hulle is giftig en geen dier eet hulle nie. Weer dink ek: ja, ek ken sulke mense ook.

Gelukkig, voordat ek te verdiep kan raak in gedagtes oor giftige mense, vertel die gids vir ons dat hierdie woud die enigste van twee natuurlike kokerboomwoude ter wêreld is. Die ander een is in Namibië. Hierdie een is die grootste. Die boer aan wie die plaas behoort, vra net dat besoekers aan hierdie rare natuurwonder niks sal breek of verniel nie, maar hy vra nie betaling nie – want dit is mos nie hý wat die bome geplant het nie. Dankie tog, die meeste mense is nie giftig nie.

Nie lank nie, toe bars die veld weer in malse en oordadige kleure uit – maar dit verdien ‘n heel nuwe skrywe!