Categories
Uncategorized

Koekies met krakies

Ek het jare lank gesoek vir ‘n resep om gemmerkoekies te bak wat klein krakies bo-op het … en suikerkorreltjies. Ek moet erken, die smaak was later vir my ‘n bysaak – dit was die voorkoms wat vir my belangrik was! Ja, oppervlakkig en kosmeties soos daai. Maar dis nou maar soos dit is. Of dan, soos ék is.

Na baie probeerslae en floppies (meeste darem heel eetbaar) het ek uiteindelik verlede jaar Die Resep op die internet raakgeloop. As ek na die bestanddele kyk, is dit nie juis anders as al die voriges nie … dis seker maar ‘n magiese kombinasie van presies die regte hoeveelheid dit en net die regte bietjie dat.

So, na gisteraand se heerlike reën, besluit ek vanoggend om douvoordag die heerlike koel luggie te benut en gou koekies te bak. En so saam met die fris windjie by die agterdeur in, waai ‘n paar koekie-verwante gedagtes deur my kop:

Die botter moet nie hard wees nie, maar ook nie heeltemal pap nie. Sou die lewe nie bietjie makliker wees as daar meer sagtheid was nie – nie papheid nie, maar ai, net bietjie minder klip-koue-hardheid?

Toe ek die koeksoda, gemeng met bietjie melk, by die mengsel gooi, is dit ‘n vreeslike geskuim in die bak. Dit moet so wees. Die waters kan nie altyd kalm wees nie. Daardie storm dien ‘n doel, dit laat die resep werk.

Vir die koekies om mooi te lyk (en onthou nou, dis my Prioriteit Een!) moet dit in kleinerige balletjies gerol word. Ai, dis nogal ‘n gemors. Dit klou aan my hande, die balletjies breek partykeer, hulle is nooit almal ewe groot nie. So met die tyd saam kom ek agter dat ek sommer so ‘n handvol deeg moet vat en dit nogal hardhandig so tussen my hande moet brei. Dan is die geheim om ‘n stukkie deeg af te knyp en dit vinnig en hard te rol, sommer so in dieselfde beweging die balletjie tussen my palms effens plat te druk, en dan op die bakplaat af te skud – ja, afskud, want dit sit mos vas!

Dis nogal ‘n hardhandige proses, ja. Langs die oppervlak waar hierdie druk-en-brei, knyp-en-rol-en-skud-proses plaasvind, staan ook ‘n bekertjie water en daar lê ‘n klein hopie meel: beide word tussendeur aan my hande gesmeer, gespat of gevryf. Dit help.

So, toe dink ek – dis maar hoe dit werk. Die proses om op die ou einde lekker en mooi (in dié geval nie net in die mond en op die oog nie) te wees, is maar rof, ja. Dit verg geduld, dis morsig. Daar is nie altyd tyd en ruimte vir saggies-werk nie. Mens moet planne maak … partykeer water, ander kere meel bysit. Soms smeer, soms vryf, soms spat, of aldrie. Dikwels net diep asemhaal, die ou deeg afkrap, hande was, en wéér begin.

En toe die koekies uiteindelik in die groot skottel lê en afkoel, besef ek: die afkoelproses is óók belangrik. Manlief het ‘n nog-louwarm koekie kom gaps – dit was nog papperig. Maar na ‘n rukkie se afkoel, is hulle presies bros en krakerig genoeg. Wag net bietjie. Meeste dinge kom met tyd.

Nou kyk ek die eindproduk so: glad nie almal dieselfde nie. Party is ronder as ander, party bietjie ligter, hier en daar groteres of kleintjies, enkeles is nie eens oral dieselfde kleur nie. ‘n Paar het seker te veel onder my hardhandigheid deurgeloop en is effens misvorm. Amper elkeen is uniek; baie min is perfek. Ek moet maar ‘n bietjie dink oor die proses waardeur my buur-koekie gegaan het voordat ek oordeel … hy of sy is dalk meer gedruk en geskud as ek, né?

Die belangrikste: elke koekie het sy krakies. En so tussen die krakies, as jy mooi kyk, blink die suikerkorrels. Dankie tog.

Categories
Motivering

Gebruik dié pretpark op eie risiko

Ek en my jongste besoek die skou. Dit is iets wat ons baie lank gelede laas gedoen het – die wêreld het mos feesbefoeterd geraak en goeie, outydse skoue het in die stof gebyt. Ons geniet dit, stap deur die sale en giggel lekker oor al die verkoopsmense se strategieë. Ons kyk na skilderye, speelgoed, klere, fieterjasies wat groente opkerf, handsakke, meubels, trekkers en perde wat karretjies trek. Ons koop oorbelle, pantoffels, olywe, chippies in ‘n boksie met onwaarskynlike sousies bo-oor. Waar anders gaan mens só ‘n verskeidenheid en kombinasie inkopies doen? (O ja, by ‘n fees …)

Ons maak ‘n draai by die pretpark en is betower deur die liggies en unieke musiek. Deur grootmens-oë en -ore lyk en klink dit seker anders as vir die eintlike teikenmark, maar die tuimelende en draaiende kontrepsies bekoor ons nogal. Die enigste een waarop ons graag sou wou klim, is die carousel met die perdjies, maar helaas, hulle is besig om daaraan te werk. Ons is maar tevrede met ‘n foto.

Die volgende dag is daar ‘n ongeluk by een van die ander ritte. ‘n Waentjie val om en drie mense kry seer. Nooddienste is vinnig daar, die mense word die volgende dag uit die hospitaal ontslaan. Natuurlik is daar ‘n hewige en baie aggressiewe woordestryd in die plaaslike pers en op sosiale media. Die skou se bestuur word uitgetrap, mense word aangeraai om dit nie daar naby te waag nie. Dieselfde ritte wat ons as baie mooi, goed onderhou, netjies en kunstig opgeval het, word beskryf as stokoud, verwaarloos, gevaarlik, heeltemal te duur … mense word aangeraai om almal te dagvaar, van die man wat die kaartjies by die hek verkoop, tot die skoubestuur en die eienaar van die pretpark. Gits, het die liggies en musiek ons só erg verblind? Ons was dan daar!

Ek herkou daaraan. Ons hou van die gevaarlike ritte in die lewe se pretpark. Ons hou ook van baklei. Beskuldig. Verwyt. Wil altyd iemand voor die bors druk met ‘n kwaai wysvinger en sê: “Dis jóú skuld!” Ek neem nie verantwoordelikheid vir my besluit om op die potensieel gevaarlike masjien te klim nie.Dis nie my eie skuld dat ek die waarskuwings ignoreer het nie. Ek kyk die “eie risiko” deeltjie mis. Ek kyk net vas in die “pret” gedeelte. Maar as dit skeefloop – dan soek (en kry) ek iemand om te blameer. Mense wat op geen manier betrokke is nie, ken skielik elke detail, en versamel ywerig nóg detail, gretig om elke grusame brokkie te glo en te versprei. Nog erger: baie mense wat self jare gelede, indien ooit, ‘n pretpark besoek het, praat met groot outoriteit oor die toestand van die ritte, die regsprosesse om te volg en wie nou eintlik die skuldige is. Hulle deel raad uit, en oordeel links en regs, fel en sonder genade.

Die slagoffers self? Hulle is doodstil, waarskynlik iewers besig om ‘n seerplek te versorg, te kyk hoe ‘n seer blou kol stadig groen en geel word en dan verdwyn, ‘n nagmerrie-oomblik te probeer vergeet, ‘n beseerde ledemaat versigtig weer te begin gebruik. As hulle gelukkig is, is daar ander wat hulp aanbied – ‘n salfie aansmeer, pleisters aandra, inhak vir daardie eerste treetjies op die wankelrige “nuwe” bene. Hopelik sal hulle iewers in die toekoms weer voor ‘n pretrit staan, na die mooi liggies en anderwêreldse musiek luister, en besluit om tóg weer te ry.