Categories
Die Lewe Positiwiteit

Moenie my borrel bars nie!

Ek dink nie ek hou baie van die term “die nuwe normaal” nie – eintlik, as ek eerlik wil wees, gee dit my ‘n hartlike kramp. Want normaal is vir my net normaal, nie nuut of oud nie. Maar ek is bereid om toe te gee, en ek het ook al in die verlede daaroor geskryf, dat ons moet oop wees vir nuwe dinge. Dus, eintlik weet ek nie regtig wat ek dink van die “nuwe normaal” nie, behalwe dat dit een van die nuwe gonswoorde is wat so saam met die Corona-virus in ons woordeskat ingesypel het.

Daar is ‘n hele paar sulke woorde wat voorheen nie bestaan het nie, of wat nuwe betekenisse aangeneem het so saam met die pandemie. Sosiale afstand, saniteer, infeksiekoers, grendeltyd, self-isolasie, kwarantyn, bioborrel … daar is baie – en ekskuus, maar verreweg die meeste het vir my ‘n negatiewe konnotasie. Behalwe sosiale afstand – daarvan hou ek, en daarop het ek nog altyd aangedring.

Lank voordat daar kruisies en strepies op supermark-vloere geplak is, het ek nooit naby aan die persoon voor my in die ry gaan staan nie. En ek het al vir baie jare die kuns bemeester om die persoon agter my met net ‘n “vriendelik, dog ferm” kyk te laat terugskuif sodat hy of sy nie in my nek blaas nie. Ek klim ook nie in ‘n oorvol hysbak nie, lankal nie!

Honderde kinders wat in my klasse was, kan getuig van die “bubble” rondom my tafel – jy mag nie daardie spasietjie betree nie, tensy jy ingenooi word. En alles op my tafel is daarby ingesluit – jy vat NIKS daar nie, selfs al is dit joune. Jy mag vra, ja – en as dit joune is, sal jy dit terugkry. As almal se boeke uitgedeel word, maar joune lê op die tafel, wil Juffrou vir jou iets sê … en as Juffrou dit in haar kop kry dat jy nodig het om met haar te praat, kan jy maar weet, jou boek (of iets anders) sal wel op die tafel beland! Ek weet daar is mense wat oor dié borrel-beginsel frons, maar vir ‘n baie “hands-on” juffrou soos ek, was ‘n klein ruimtetjie van my eie baie belangrik. Ek het bitter selde meer as 10% van my skooldag agter daardie tafel deurgebring, en dit was ‘n maklike manier om ‘n kind sover te kry om met my te móét praat.

Dit is eintlik onverstaanbaar dat ek, wat as een van sewe kinders in ‘n drieslaapkamer-huis grootgeword het, so ‘n ding het oor my persoonlike ruimte. Of dalk, waarskynlik, is dit juis as gevolg daarvan. Moenie verkeerd verstaan nie: ek het my grootword-jare so ineengevleg met my klomp sussies geniet! Ek het nooit ‘n behoefte gehad aan my eie kamer nie, nooit omgegee om ‘n klerekas (en selfs klere) te deel nie, dit geniet om so styf tussen my susse op die rooi kar se agtersitplek ingeryg te sit. So, die borrel-ding het seker maar saam met die grootword gekom. Al my naby-mense (en diere!) weet dat ek glad nie huiwer om naby aan hulle te wees en drukke en selfs soentjies uit te deel nie.

Foto: Steemit

Ek lees op ‘n slim webblad dat ‘n bioborrel ‘n biologies veilige gebied is, wat van die buitewêreld afgesluit is en waarin slegs ‘n beperkte aantal mense toegelaat word. Dus, al is dit deel van die “nuwe normaal” betreffende woordeskat en gebruikstaal, is dit nie vir my ‘n nuwe konsep nie. Ek het nou al vir baie jare só iets rondom my. Nou wel nie totaal afgesluit van die buitewêreld nie, maar beslis baie eksklusief ten opsigte van wie daarbinne toegelaat word.

En nou laat dink dit my – die wêreld darem net ‘n lekkerder plek wees as ons elkeen só ‘n borrel in ons denkwêreld kon skep: een wat ons self maak, en wat niemand anders kan bars nie. Hoeveel rustiger sou jy slaap as jy kon kies watter gedagtes in jou breinborrel mag wees? Hoeveel meer produktief sou jy wees? Minder bekommerd oor dinge wat waarskynlik nie gaan gebeur nie, en wat jy in elk geval nie kan verander nie? As alle bangmaak-fopnuus uitgesluit kon word, alle skinderbekke voor die spreekwoordelike hek moes omdraai, doemprofete nie oor die drumpel kon kom nie, kwetsende op- en aanmerkings ‘n U-draai moes maak voordat hulle gehoor kon word; as goor herinneringe saam met daardie ongebruikte adresse en telefoonnommers (en soms daardie rede hoekom jy eintlik winkel of yskas toe is!) in die vergeet-boksie kon beland … ai, dis mos nou ‘n droomborrel!

Ek gaan vandag nog aan myne begin werk.

Categories
Uncategorized

Wat sien ek?

Op een van daardie lekker lui dae voor Kersfees, kuier ons met mening. In ons huis beteken dit slaap, lees, speel, swem, eet en drink, gesels, bietjie werk so saam-saam … alles wanneer en soveel as ons wil, en nie noodwendig op konvensionele tye nie. Heerlik!

Huis-engel is al lankal met vakansie, maar Bettie Bosch (die ewe-getroue skottelgoedwasser) is darem op haar pos en werk een skof per dag.  So teen skemer pak ek Bettie se pensie vol, maar soos gewoonlik is daar ‘n paar goedjies wat nie vir haar meganiese proses kwalifiseer nie: dit is óf te groot, óf te vuil, óf te delikaat. Ek staan dus voor die wasbak om gou daarmee klaar te speel.

Die kombuisvenster het nog altyd ‘n mooi uitsig gehad – dalk is dit maar my inherente (of aangeleerde) manier om kliphard te probeer positief wees, maar uit dié venster sien ek, afhangende van die tyd van die jaar, ons suurlemoenboom wat altyd groen is. Sy vrugte is in alle stadiums vir my mooi – klein, groen vruggies wat ‘n ander groen is as die blare, en  propvol potensiaal tussen die blare en geniepsige dorings deurloer; dan begin hulle vet wangetjies kry en amper oornag raak dit die mooiste, sappigste geel vrugte – oordadig baie! Die sap en vrugte is heerlik en nuttig, en die uitdeel is nóg lekkerder.

Twee bosse krismisrose groei ook onder dié venster. Die een kry die wasgoedwater, die ander een die skottelgoedwater. Praat van dankbaar! Elke jaar verstom hulle my met hulle oorvloed. Al van einde Oktober af maak hulle die mooiste klein groen trossies wat dan later kleur aanneem en lyf kry. Dit is vir my die teken dat ons in hierdie onderwysers-huis net moet vasbyt … dinge staan einde se kant toe, en Kersfees kom!

Terug by die kuiermiddag se skottelgoed – die kombuisvenster staan so half-oop en my oog vang ‘n rooierige skynsel wat daarin weerkaats. Ek skrik amper, want my eerste gedagte is dat iets aan die brand is , maar toe ek mooi kyk, besef ek dat dit die sonsondergang is wat so in die suide-venster  weerkaats.

Die weerkaatsing …

Ek hardloop dadelik uit om te gaan seker maak, en sowaar, dit is ‘n tipiese Vrystaat-sonsondergang wat alles in skakerings van geel, goud, oranje en koper doop.

Die werklikheid – sonder enige filters of ander truuks!

Hoe ruimhartig is Moeder Natuur nie? Ja, ek weet dat dit eintlik stof is wat die kleure so mooi maak, en ek weet dat my myndorp ekstra bederf word met mooi sononder-kleure juis omdat ons lug ekstra bederf is met vuil mynstof, rook en ander besoedeling, maar mooi bly mooi. En ja, ek weet almal kon die kleure-skouspel geniet, maar ek het dit maar so stilletjies vir myself toegeëien omdat ek dit letterlik om ‘n hoek gekry het – vanuit die weste, op my suid-venster, spesiaal daar voor die bak vol skottelgoed!

Nou moet ek net onthou om in die toekoms altyd reg te kies waarop ek wil fokus: die sleurwerkies in die kombuis, of die mooi dinge buite die venster? Die lugbesoedeling, of die kleureprag? Die vaal skottelgoedwater voor my, of die spesiale bederf wat om ‘n draai, letterlik uit die hemel, na my toe kom? Die keuse is net my eie …

c

 

 

Categories
Uncategorized

Kop bo water is ‘n denkwyse!

Net as ek dink ek het nou al die kante van die Thai-samelewing gesien, dan ontdek ek nog iets. Tropiese storm Sonca het die noorde van Thailand met groot geweld getref. Die provinsie waar ek is, Sakon Nakhon, het erg deurgeloop.

Sondagoggend word ek op ‘n visvang-uitstappie genooi. Natuurlik aanvaar ek die uitnodiging – ek sien nie kans om nóg ‘n dag in my kamer deur te bring nie, en dit het vir die eerste keer in 4 dae begin om sagter te reen! In my kop gaan ons ry tot by ‘n poel of stroom en dan met stok en hoek en aas visvang. Dis mos hoe dit gedoen word. Ai tog – trap ek alweer in dieselfde slaggat. Hierdie is Asië! Ek moes onraad vermoed het toe ek hoor dat ons nie soos gewoonlik gaan fietsry nie, maar deur ‘n vriendin met ‘n bakkie opgelaai word.

Op ons rit deur die dorpie lyk alles heel normaal totdat ons naby die rivier kom. Of altans, totdat ons kom waar normaalweg “naby die rivier” is. Die rivier het sy walle totaal oorstroom. Waar elke Sondag tientalle stalletjies op ‘n groot oop stuk grond vir “Sunday Market” is, staan mense  heup-diep en visvang. Mense dra bondels besittings en voorraad uit huise en winkeltjies, en maak lang kettings om dit aan te gee tot by droë plekkies. Die water maak branders. Kinders speel op bootjies en dryf op alles wat kan dryf terwyl hulle wittand en blinkoog lag! Motorfietse is in bome opgehys sodat dit nie wegspoel nie. Die brug waarop ek al menige Saterdag- of Sondagoggend gestaan en kyk het na die mooi rivier, is weg onder woelende, malende water.  Ek wonder nog waar ons gaan omdraai, want hier kan geen mens mos deur nie, toe begin ons ry … dwardeur die watermassa.

Mense wat my ken, weet dat ek ten spyte van my liefde vir swem, ‘n vrees het vir bewegende water – ek swem nie in die see of in ‘n rivier nie. Ek swem nie eens in ‘n swembad as die water troebel is en ek nie my voete kan sien nie!  Ek was lanklaas só bang. My gesig moes dit seker weerspieel het, want my kollega se bekommerde “You OK?” is op sy video vasgelê, saam met my benoude “NO! What on earth are we DOING?” as ‘n permanente rekord van my paniek. (Dankie tog dat die uiters respekvolle leefwyse hier my gebruik van gekruide taal drasties laat afneem het!)

Dit was toe nie so erg nie. Ons visvangplek was ook nie ‘n stil poeletjie of stroompie nie – nee, ons het met nette visgevang vanaf die stoep van ‘n kroegie wat normaalweg op die rivierwal is. Nou is dit in die middel van die bruisende rivier. Ons het so kuit-diep in die water gestap tot by die kroegie wat omring is deur vinnig-vloeiende water sover as wat die oog kan sien. Ons vangs is daar en dan vir ons in olie gebraai en ons is soos konings getrakteer. My kollega is op ‘n bootrit geneem – ek was genooi, maar ek het hoflik bedank – die bakkierit was vir my genoeg.

 Dit is nie eens my besigheid nie, en ek kon nie ophou wonder hoeveel skade die kroeg-eienaar gely het nie, hoeveel klante nou nie by hom kan uitkom nie … maar hy glimlag, braai vis, dra ys aan, maak seker almal is gelukkig en gemaklik.  Hy kloek om ons, en maak seker ons is gelukkig met genoeg om te eet en te drink. Ons moet foto’s neem, en probeer om iewers tussen Thai en Engels te vertel waar ons vandaan kom, wat die verskil tussen “Africa Thai” en  “America Thai” is (Thai is “suid”), hoe lank ons al hier is, hoe lank ons gaan bly.  Tussendeur maak hy seker ek voeg hom by as ‘n kontak op my selfoon. “You need police. You call.”

Dit is die houding wat my verstom: die water het nou gekom, ek kan dit nie verander of keer nie; so nou vang ons maar vis, ry boot, trakteer vreemdelinge en kuier saam. Stres en bekommer gaan my niks in die sak bring nie. Maak die beste van die situasie, en maak seker dat ek bereikbaar is as iemand wat dalk in die nood is, my nodig kry. Ek wens die hele wêreld, en ek heel eerste, kan dit ook aanleer.

Categories
Uncategorized

Maar…

Ek weet hulle beweer dat sodra ‘n mens “maar” sê, jy alles wat jy vooraf gesê het, kanselleer. Dit is dalk waar, maar ek het nou ‘n redelike lang lysie van dinge om te deel en elke item op my lys bevat ‘n “maar”. Die interessantheid is dat die punte op hierdie lys ook omgedraai kan word. Tipies skooljuffrou, sal ek ‘n voorbeeld gee:

Ek hou baie van Thai kos, maar by die markies bederf die reuke nogal my eetlus. Omgedraai is dit: Die reuke by die markies bederf nogal my eetlus, maar ek hou baie van Thai kos. Sien?

Die res van die lys gaan ek net eenkant toe neerskryf, en jy kan dit dan maar self omdraai en kyk of dit die betekenis of perspektief verander. Hier gaan ons:

  • Ek bly heeltemal gerieflik en lekker in my kamertjie, maar ek het die langnaweek in die stad darem heerlik geslaap in ‘n hotelbed met pote.
  • Ek verstaan die Boeddhiste se beginsel van respek vir alles wat lewe, maar regtig, ‘n slang is darem grillerig, jong!
  • Die reënseisoen is interessant en die gemiddelde temperatuur is een hele graad minder as in die warm seisoen; natreën is eintlik heel verfrissend en ek het nog altyd van donderweer en weerlig gehou. Maar ek het nie ‘n tuimeldroër nie, en my bril het nie “wipers” nie!
  • Ek het nog net een keer ‘n man op ‘n motorfiets sien val (en hy het gelukkig ‘n valhelm gedra) en ek het nog nooit iemand sien jaag nie, maar my bloed stol elke keer so ‘n bietjie as ek drie of meer kinders op ‘n motorfiets sien.
  • Dit is bitterlik frustrerend om nie die Thai skrif te kan lees nie, maar ek het geleer om met baie meer aandag na die detail van die prentjies op blikkies, pakkies en botteltjies te kyk. Ek sal in die toekoms ook baie meer deernis hê met mense wat glad nie kan lees nie.
  • Niemand wat ek hier leer ken het, gaan ooit ‘n maagseer ontwikkel nie, en ek dink dit is baie onwaarskynlik dat iemand in Thailand aan spanningsverwante kwale ly, maar in die skoolopset mis ek goeie vooruit-beplanning. Om net soggens te hoor dat ‘n hele graad-groep vir die dag (of sommer twee dae) nie skoolgaan nie as gevolg van “activities”, is seker in ‘n mate goeie nuus, maar sjoe, so onverwags!
  • Die skoolkinders in Thailand lyk en klink anders as dié in Suid-Afrika, maar hulle koppe en harte werk presies dieselfde. Lag maak leer makliker en ‘n bietjie aandag en liefde laat die skaamste en kwaaiste kaktus blom!
  • Ek het nog nie een keer sedert ek einde April uit Suid-Afrika uit vertrek het, TV gekyk nie, maar ek het ‘n hele nuwe wêreld op YouTube ontdek, en ek het ‘n baie groot waardering ontwikkel vir OFM en RSG wat ek op my rekenaar kan “stream”!
  • Ek is verskriklik lief vir my familie en ander “nearest en dearest” en ek het myself nog nooit gesien as iemand wat van ander afhanklik is vir my welstand nie, en ek het nog altyd gedink ek is redelik selfstandig. Maar die aankoms van twee ander Suid-Afrikaners het my ‘n ongelooflike groot hupstoot gegee, en my lewenskwaliteit sommer baie verbeter.
  • Ek kan NET “Ni hao” (hallo) sê in Chinees, maar ek het binne ‘n maand baie lief geword vir Fei, my Chinese buurvroutjie wat die lekkerste kos kan maak, die “weirdste” Engels praat en die liefste hart het!
  • Ek het Santa se kuiertjie hier in die Thai platteland verskriklik geniet en elke oomblik was kosbaar. Maar demmit, dit het gou verbygeglip!
  • Ek het die werfhond hier by my blyplek se vertroue gewen. Sy eet al uit my hand uit, het haar babas vir my kom wys en wag my nou elke dag voor my kamerdeur in as ek van die skool af kom. Maar my eie Misha en Liefie gaan baie drukkies en bederwe kry as ek by die huis is!
  • Ek glo nie daaraan om die dae af te tel nie – tyd gaan self verby teen dieselfde tempo en ‘n getellery maak geen verskil nie. Ek besef dat elke dag hier in Thailand ‘n voorreg is wat nie vir almal beskore is nie en ek waardeer die unieke ervarings wat ek beleef. Maar ek het ‘n oulike App op my foon ontdek en ek weet elke oggend presies hoeveel slapies oor is voordat ek huis toe gaan…

Laaste puntjie … die Thai mense het die dierbaarste, sagste harte en is op hulle gelukkigste as hulle kan help, deel en ondersteun. Dis onmoontlik om nie baie lief vir hulle te word nie, selfs al verstaan ons mekaar moeilik. Maar my hartsmense doer in Suid-Afrika moet maar reg wees vir baie drukkies, kuier en gesels as my voete SA-grond raak!