Categories
Die Lewe

Nog voëltjie-lesse

My vorige skryfsel, waarin ek genoem het dat daar baie idiome is wat met voëls te make het, het my laat besef hoe baie voëls bydra tot ons daaglikse spreektaal, en ook hoeveel ons by die veervolkies kan leer.

Die negatiewe siele onder ons hou mos graag alles met ‘n valkoog dop, met die hoop dat daar tog net ‘n sweempie slegte nuus sal wees waarin hulle kan rol. (En as daar nie is nie, skep hulle sommer bietjie fopnuus en versprei dit met verstommende toegewydheid, bygestaan deur diegene wat eindelose plesier daaruit put om bangmaakstories te vertel!) Daar is seker ‘n rede hoekom die Engelse taal praat van “bird-brained” as iemand nie kan of wil dink nie … alhoewel ek dink dit nogal ‘n belediging is vir die voëls. Meeste van hulle is nogal slim.

Verlede jaar het ‘n uil-paar drie kuikens in my buurvrou se skoorsteen uitgebroei en ons het eindelose plesier gehad van die kleintjies wat eers lomp op die dak rondgestrompel het, en toe later oral rond begin vlieg het. Hierdie jaar is hier heelwat uile en ons hoor hulle amper elke aand roep. Ons sien hulle ook gereeld teen skemer op hulle uitkykposte, maar waar hulle hierdie jaar gebroei het, is ‘n goed-bewaarde geheim. Vanoggend sit ‘n uil in die einste skoorsteen se opening wat na my erf toe wys, vir my en manlief en kyk terwyl ons vroeg-oggend die rose bekyk. Ek wonder toe – as uile nou sosiale media gehad het, sou ons nie nodig gehad het om te wonder nie, né? Ons sou met woorde en foto’s ingelig gewees het oor waar en hoeveel kuikens daar hierdie jaar was, hoekom hulle nie weer in die skoorsteen gebroei het nie, en ook wie die nuwe intrekker is! Dan giggel ek weer oor die mense wat so gretig is om inligting oor elke ete, nuwe aankoop en amper elke beweging te deel, maar hulle kwel (en my irriteer) oor toepassings wat toestemming wil hê om jou besonderhede te gebruik! As jy geheime wil hê, sê my uil-buurman, moet dit nie deel nie – nêrens nie!

Foto: Janaline

Wanneer ek soggens en laatmiddag vir die tuinvoëltjies saadjies op die pophuis se dak gooi, kan ek my verkyk aan hulle maniere. Die vinkies en mossies is gewoonlik eerste daar. Die ringnekkies sit en wag geduldig vir ‘n beurt. Namate die partytjie vorder, kuier almal heerlik saam, en gesels luidrugtig, elkeen in sy eie taal of op sy eie wysie. Sou dit nie dalk tot die mensdom se voordeel gestrek het as ons kon leer om so saam-saam te verkeer en dit wat beskikbaar is met mekaar te deel nie?

Daar is natuurlik altyd ‘n paar boelies, net soos in die menswêreld, maar die kleintjies laat hulle gewoonlik nie heeltemal afskrik nie – hulle gaan sit net op ‘n afstand en skel en gebruik gou-gou weer hulle kans om iets te ete te kry. Moet ons nie ook maar soos hulle, nie te gou wees om die aftog te blaas in die aangesig van boelies nie? Ek dink in baie gevalle wen die boelies in die menswêreld nie omdat hulle so sterk is nie, maar omdat hulle slagoffers te maklik stilbly en liewer iewers gaan sit en selfbejammerend kerm, eerder as om te raas en aan te hou probeer.

Nou ja, elke voël sing soos hy gebek is – ek verkies om op goeie dinge te fokus, al is dit soms maar moeilik. Ja, natuurlik raak ek angstig en bedruk, maar ek kies doelbewus om dit nie oral rond te verkondig nie. Ek sien die vreesaanjaende dinge raak, ek voel dit aan my lyf en in my hart en kop, maar ek hoef dit nie aan te dik en dan die wêreld in te stuur nie. Dit is nie volstruispolitiek nie, dit is my beskermingsmeganisme.

Categories
Die Lewe Positiwiteit

Blessings … klein en groot

Dit is vandag presies 3 jaar gelede dat my “pelgrimstog” in Thailand tot ‘n einde gekom het. Daardie maande op die randjie van die Thai-feetjiebos het my lewe en manier van dink onherroeplik verander. Al het ek gegaan om kinders te gaan leer Engels praat, het ek ongetwyfeld baie meer by die mense van Thailand geleer as wat ek hulle kon leer. Nie van Engels nie, maar van ander, belangriker dinge.

Ek het ook amper elke dag dinge ondervind waarvan ek dikwels baie later eers die waarde besef het. Een daarvan was op die begindag van “Buddhist Lent” op die tempeltrappies van die klein dorpie Akatamnuai.

Omdat hierdie tyd saamval met die moesonreënseisoen, word dit ook die “Rain Retreat” genoem. Tydens dié tyd, wat ‘n volle drie maan-maande duur, bring die monnike en hulle leerlinge amper al hulle tyd binne-in die tempels en kloosters deur. Hulle mediteer en bestudeer hulle geskrifte. Buitekant gaan die lewe normaal aan, maar mense gee ook gewoonlik iets prys tydens hierdie tyd – hulle sal byvoorbeeld ophou vleis eet, ophou rook of meer aalmoese gee. Die begin van Lent word gekenmerk deur groot byeenkomste waar mense letterlik bakkievragte vol nie-bederfbare kos bring om die monnike deur die drie maande te help oorleef. Daarna gaan almal tempel toe vir ‘n seremonie.

Dit was my vaste voorneme om deel te wees van soveel moontlik Thai-kultuur as moontlik. Ek het dus ook my boksies melk en pakkies rys bygedra en is daarna saam met die hele skool tempel toe, reg oorkant die skool soos in die meeste dorpies. Ons moes almal wit aantrek en het elkeen ‘n klein bossie blomme saamgevat, mooi vasgebind saam met ‘n kersie en ‘n paar wierookstokkies. By die tempel moes ons met brandende kersies 3 keer anti-kloksgewys rondom die gebou loop – in stilte, terwyl ons ons gedagtes doelbewus besig hou met al die positiewe dinge wat die afgelope jaar gebeur het. Daarna, 3 keer kloksgewys, terwyl ons fokus op al die positiewe dinge wat ons onsself en ander toewens vir die volgende jaar. Onthou, dit alles gebeur terwyl die geur van blomme en wierook ons omgewe. Aan die einde van die stappery sit elkeen sy bossie blomme en wierook aan die voet van ‘n boom of plant neer as ‘n tipe offer – onthou, volgens hulle is die godheid teenwoordig in elke deeltjie van die natuur en in ons gedagtes.

Die feit dat my pragtige Santa-kind by my gekuier het, het alles nog meer spesiaal gemaak.

Die puriste moet my nou maar kruisig en woorde soos “afgodery” of “hippie” mompel, maar ek dink, of nee ek wéét, dit is een van die mooiste rituele wat ek nog ooit bygewoon het. Niemand het gepreek nie – my eie gedagtes moes my leer dat ek baie het om voor dankbaar te wees in my verlede en baie om voor te hoop in my toekoms: mits ek op die positiewe kan fokus. Dit was vir my hartbrekend spesiaal om dit te kon deel met honderde mense wie se taal ek nie kon praat nie, maar wat my sorgsaam en geduldig deur elke stap van die spesiale feesviering gelei het, en my nooit een keer in al die maande uitgesluit laat voel het omdat ek uit ‘n ander kultuur kom nie.

Op die trappies van die tempel, net voordat ons begin stap, hoor ek skielik uitroepe en my een kollega sê met groot dringendheid in sy stem: “Don’t move! Freeze!” My eerste gedagte is onmiddellik dat daar seker ‘n slang in die blombedding langs my is. (Daar was ongeskik baie slange daar tussen die ryslande en oerwoud, en die feit dat niemand ooit een doodgemaak het, het my nie juis gerusgestel nie.) Yskoud geskrik, vries ek natuurlik sonder moeite. My bene is in elk geval te lam om te beweeg. Tog, die mense se gesigsuitdrukkings strook nie met iets vreesaanjaend nie. Inteendeel, almal kom versigtig, amper eerbiedig nader, baie van hulle glimlaggend en met hulle selfoonkameras gereed.

Toe sien ek dit: ‘n pragtige skoenlapper het op my skouer kom sit. Uit al die honderde toegewyde Boedhiste, kies hy ‘n westerling! Die rede vir die opgewondenheid sluit baie nou aan by die denkwyse waarvan ek gepraat het – dat die hele natuur en elke mens goddelik is. My kollegas en leerlinge het opgewonde beduie dat ek “very specially blessed” is. En ek het dit besef. Al was my eerste gedagte dat my grootse slang-vrees waar geword het, was dit inderdaad ‘n mooi en spesiale seëning.

Hoe dikwels gebeur dit? Dit wat ons verlam van vrees, gebeur nie en ons word mateloos, amper ongemerk, deur klein dingetjies gebless. Dankie, Thailand, dat ek kon leer dat ek partykeer moet “freeze” en fokus op die positiewe, en dat klein persentjies dan onverstaanbaar, onverwags en onverdiend op my skouer kom sit.

Categories
Uncategorized

Bepalings en voorwaardes geld!

Ons het mos maar almal daardie klein klippies in ons skoene – “pet hates” wat die een mens grensloos irriteer terwyl die volgende mens nie eens daarvan bewus is nie. Ek het ook al daaroor geskryf, en hoe ek dit met my eie superkrag sou beveg as ek kon. https://christainthailand.wordpress.com/2017/10/11/my-ongelooflike-superkrag/

Dit is seker deel van my uitrusting (of bagasie, dalk?) as taaljuffrou dat die meeste van my klein troetel-irritasies taalverwant is. As die verkeer- of weerberig oor die radio gelees word en Vryburg en Ficksburg word Fraaiburg en Fixburg, byvoorbeeld!

Vandag het ek dit oor die nie-so-nuwe neiging om woorde in letters te verander. Veral in advertensies – bepalings en voorwaardes is blykbaar te lank of te swaar op die tong, en daarom word dit bees en vees. Ai tog. Hoeveel tyd spaar ‘n mens nou deur ‘n bepaling in ‘n soogdier te verander, en ‘n voorwaarde in ‘n besem-aksie? En wat maak jy met al daardie tyd wat jy so bespaar?

‘n Paar dae gelede hoor ek egter ‘n adverteerder wat iets bygevoeg het – die stemkunstenaar se welluidende stem rammel alles baie vining af, en aan die einde hoor ek: “… is onderhewig aan bees en vees en bekostigbaarheid!” Daar en dan is ek aan die dink, en ek vergeet skoon om op my tande te kners oor niemand wil ophou met die bees-en-vees-nonsens nie!

Is alles nie maar onderhewig aan bekostigbaarheid nie? Kan ek dit bekostig om vererg te wees oor ‘n taalgewoonte wat die groot meerderheid van adverteerders gebruik, en wat regtig nie skade aanrig nie? Hoe bekostigbaar is my eie slegte gewoontes? Kan ek dit bekostig om toe te laat dat ander se negatiwiteit my bui bederf? Hoe duur is dit om nie meer gereeld kontak te maak met geliefdes nie?

Dalk moet ek maar net my elkedagse lewensbegroting oordoen, en mooi dink oor wat bekostigbaar is en wat nie. Ou koeie wat lankal in die sloot onder positiewe herinneringe begrawe moes gewees het, is die één ding waarvoor ek nie meer wil begroot nie. Mense en dinge wat my irriteer maar waaraan ek niks kan verander nie, is nóg ‘n item wat maar na die “onbekostigbaar” kolom gaan skuif. Mense, dinge, toestande wat my hartseer of angstig maak juis omdat dit buite my beheer is, kos ook te veel – ek kan dit nie bekostig nie!

Ek dink ek wil probeer om ‘n baie eenvoudiger emosionele begroting op te stel – ene met minder bepalings en voorwaardes! Alle geite en grille (my eie heel eerste ingesluit!) moet uit, saam met negatiwiteit, pessimisme, wantroue, sinisme en twyfel. Ek gaan nie meer vir vrees, somberheid en swaarheid betaal uit my geestes-beursie nie.

My bees en vees verander van vandag af!

Categories
Uncategorized

Aanvalsgewere en arende op my pad

Vanoggend het ek my letterlik lam geskrik. Darem net vir ‘n oomblik. Ek was besig om uit my motor te klim in die middestad van my dorp … die middedorp van my stadjie … watookal. Dit is ‘n dubbelpad met ‘n breë middelmannetjie wat nog spog met pragtige bome uit vervloë dae toe hierdie nog ‘n regte “tuinstad” was.

Net toe ek mooi regop staan langs my karretjie, kom daar ‘n jong man agter die boom uit met ‘n outomatiese geweer in sy hande. Onmiddellik slaan die lamte my. Moet ek platval, hardloop, terugspring in die motor … wat doen ‘n mens? Iets in die man se gesig het my gerusgestel toe hy oor die straat begin stap, reguit in my rigting, maar glad nie dreigend nie. Ek besef toe dat hy deel is van ‘n span wat ‘n blok verder besig is om geld by ‘n groot bank op- of af te laai.

Vir ‘n oomblik het ek regtig gedink dis nou my opwindende einde!

Foto: SAPeople

My dorp spog met twee verkeersligte. Hulle is albei op my pad werk toe. By die een is daar smiddae ‘n man wat vlieërs verkoop. Ek het nog nooit gesien dat iemand ‘n vlieër koop nie, maar vir my, en ek dink vir die meeste gebruikers van die baie besige pad, is hy onmisbaar. Sy vlieërs is almal in die vorm van voëls, en so nou en dan is daar ‘n vliegtuig ook by. Hy staan nie net stil met sy ware en hoop vir klante nie – nee, hy haal ingewikkelde toertjies met die voël-vlieërs uit. Hulle vlieg, sirkel en duik sodat ‘n mens hulle al van doer ver af kan sien. Ek moet erken, ek is half teleurgesteld as die lig groen is en ek net kan verbyry. Die vriendelike en vaardige vlieërverkoper helder altyd my middag op, so tussen die meestal neerdrukkende middagnuusbrokkies op die motor-radio deur. (Noem mens iemand wat doen wat hierdie man doen, ‘n vlieër-vlieër?)

En dit is wat my laat dink het – baie keer kom daar slegte, vreesaanjaende en skrikmaakdinge agter die bome op ons pad uit. Partykeer minder erg, soos ‘n teleurstelling, ‘n onvriendelike mens, of ‘n ondervinding wat jou dag bederf. Soms is dit erger – groot hartseer, soos mense wat jy verloor, op watter manier ookal, deur weggaan, misverstaan of selfs die dood. Dis dalk régtig ‘n ou met ‘n geweer wat oor jou pad kom. Ons moet net leer om nie onnodig ontsteld te raak oor iets of iemand wat regtig nie slegte bedoelings het nie.

Maar, dankie tog vir die mooi dinge wat ook op ons pad kom – veelkleurige arend-vlieërs wat vrolik en uitbundig dartel en duik, al is die lug partykeer maar grou, vol uitlaatgasse en stof.

Ons moet net leer om te stop, te kyk, en die mooi raak te sien.