Categories
Uncategorized

Saadjies vir later

Ons het Vrydag, 8 Mei, saadjies gesaai, vir die eerste keer in baie jare.

Dalk was dit sommer net normale nostalgie wat my laat terugdink het aan die groot bedding Namakwaland-madeliefies in ons tuin in ons eerste huis in die platteland. Dalk het dit iets met die inperking te doen gehad, en die feit dat Moedersdag om die draai was. Ek het dit duidelik en in volkleur voor my geestesoog gesien – die plaat sonnige gesiggies wat vrolik in die wind dans en die koms van die somer verkondig.

My twee dogtertjies het gereeld daarvan gepluk en in potjies en bakkies gesit, al het die blommetjies gou toegevou as dit afgepluk is. Die plantjies was veelsydig – soms is die blommetjies gebruik om modderkoekies te versier, partykeer was die blaartjies en saadjies bestanddele in die brousels was aangemaak is vir fantasieë wat onder die groot ou dennebome uitgeleef is. Ek onthou ook ‘n voëltjie-begrafnis in die voorste bedding onder die klein witstinkhoutboompie, en die graffie wat sorgvuldig met die sagte geel en oranje blaartjies uitgevoer was.

Partykeer is dit amper geëet!

My liewe skoonma het gereeld vir lang rukke kom kuier, en ek sien haar ná blomtyd gebukkend loop, altyd met ‘n koppie of bakkie in die hand, besig om klossies saadjies te versamel, die twee dogtertjies agterna. Ek onthou hoe ek oral banksakkies met saadjies gekry het toe ons ingepak het om haar ouetehuis toe te verskuif – gewoonlik met ‘n klein papiertjie binne-in wat die datum aandui, waarskynlik om seker te maak die oudstes word eerste weer gesaai.

Kleinsus het by Ousus geleer om te praat van “Kwala-daisies” … hulle weergawe van ons grootmense se “Namakwaland daisies”. Dit het natuurlik standaard-taal in ons huis geword.

So, Vrydag is hier handevol Kwala-daisies in die lekker klam Vrystaatgrond gesaai – groot groewe gemaak, saadjies kwistig gestrooi, en dan weer versigtig toegekrap. Hier en daar moes ons hindernissies prakseer waar ons wéét is ‘n honde-paadjie na die vergaderplek met die buurhonde by die heining. Toe saggies natgemaak, en nou wag ons. Ons sal mooi kyk, natgooi, versorg. Die pakkie sê dit vat omtrent 12 weke om te blom.

Die pakkie sê ook in groot letters: SEEDS OF SUCCESS. Ek glo dit verwys na die sukses-koers waarop gehoop word wanneer mens dit saai, maar in my gedagtes raak dit sommer ander saadjies wat lewenslank gesaai word ook: pluk blommetjies as daar ‘n oorvloed is, dra dit oral heen, deel dit uit, en put die genot daaruit – as dit verlep, pluk nuwes! Speel, word vuil, fantaseer – geniet dit wat jy het, terwyl jy dit het. Waardeer die kleure van elke seisoen. As daar ‘n mossie-begrafnis of ander hartseer-oomblik is, gebruik die mooi wat jy het om dit beter te maak. Bêre kosbaarhede in jou hart en kop weg, al is dit net vaal saadjies. Anderdag kry jy dit nodig en word jy beloon met splinternuwe lewe en kleure. Doen wat jy kan om dit wat jy gesaai het, te beskerm. Maar glo ook maar effens blindelings dat, al kom élke saadjie nie op nie, die beloning groter as die skade gaan wees.

Twaalf weke … dan is dit einde Augustus. Ná die winter. Hopelik ook na die inperking. Hopelik sal ons dan al weer ons kinders kon sien, voel, vashou …

Ons hoop.

Categories
Motivering

Saadjies vir later … ‘n kykie na die vordering!

Dit is omtrent 10 dae later, en sowaar – die Kwala-daisies waaroor ek net nou die dag hier geskryf het, begin opkom!

Juis omdat ek begin moeg raak vir die inperkings-mure, was die klein groen wonderwerkies vir my ekstra spesiaal! Ja, ons het hulle in die donker, onder die grond begrawe, maar hulle laat hulle nie vaskeer nie. Kyk net hoe kraak hulle die aarde wat hulle probeer inperk het!

In my verbeelding hoor ek die aarde kraak …

As ek een-een na hulle kyk, is hulle maar nog bitter klein, en ek besef dat daar nog baie kan verkeerd gaan, maar aan durf, vasberadenheid en ‘n gesindheid van “ek-sal-my-nie-laat-onderkry-nie” is daar geen tekort nie.

Onbenullig? Klein? Kyk wat kan ek doen!

Die klein kragtoertjies inspireer my ook sommer om op elke gebied waar dit vir my voel die wêreld, my omstandighede, my emosies of wat-ookal is besig om te swaar op my te druk, net diep asem te haal, my vuiste te bal, op my tande te byt en (al is dit dan net in my kop) dit uit te basuin: “Hier kom ek! Kyk hoe sterk is ek! Moet my nie onderskat nie! Hou my dop – een van die dae blom ek!”

En dan moet ek net eenvoudig na bó beur – na die lig toe!