Categories
Humor

Binne-in die masker …

Dikwels ontdek mens ‘n onverwagte voordeel in iets wat jy oorspronklik as ‘n las sien. ‘n Vinnige voorbeeld is die plastieksak-kopery by die winkels. Oorspronklik was dit ‘n irritasie. Maar ek het gou besef dat die alewige opeenhoping van sakke iewers in ‘n kombuiskas die éintlike irritasie was, en dat dit toe glad nie so erg is om my eie mooier, groter en sterker inkopiesakke saam te vat winkel toe nie. En dis sommer omgewingsvriendelik.

‘n Meer onlangse ontdekking wat ek (met my tong in my kies) ontdek het, is die dra van ‘n masker in die openbaar. Enigeen wat al ooit ‘n passassier in my motor was, weet dat ek “hardop dink” as ek bestuur – of kom ons noem dit maar by die naam – ek praat baie met myself! Dit help my regtig om beter te bestuur as ek dinge vir myself uitwys, of as ek met ander bestuurders praat. Dinge soos: “Dink jy régtig dis slim om so verkeerd om die sirkel te gaan, Mevrou GP?” of “Gaan jy nou sowaar hier voor my indruk, padvark?” en “Ag nee man, gaan jaag op ‘n ander plek!” is seker vir my passassiers vermaaklik of dalk selfs bietjie vreesaanjaend, maar dis maar my manier.

Nou dat ek gemasker moet rondbeweeg, kom ek agter dat my pratery ook buite die motor uitbeweeg het. ‘n Hele paar keer vra ek kwaai binne-in my masker: “Weet jy sowaar nou nog nie dat jou mond én jou neus moet toe wees nie?” Dit help niks, maar dit laat my beter voel! “Nee man, hou jou kind se hand vas!” “Aag komaan pappa, koop nou maar die swietie …” “Die beginsel van in ‘n ry staan is nie só moeilik nie, is dit?” en soortgelyke gedagtes word nou in my masker gemompel – woerts, dis van my hart af en niemand het dit gehoor óf gesien dat ek met myself (of met hulle) praat nie.

Toe my skoolhoof my in my eerste jaar van skoolhou daarop wys dat ek tog nie soggens in die personeelkamer so geïrriteerd moet wees as ‘n sekere kollega te veel te sê het nie, het ek heel verontwaardig gesê: “Maar, Meneer, ek het nie ‘n wóórd gesê nie!” En daar leer hy my op sy kalm manier ‘n groot waarheid oor myself toe hy met ‘n glimlag sê: “Jy, Juffrou, hóéf nie ‘n woord te sê nie.” Ek het van daardie dag af regtig probeer om my gesigsuitdrukkings te beheer, maar ai, dis moeilik. Eintlik onmoontlik, al het ek darem al geleer om dit effens te versteek. Maar hier kom die masker nou handig te pas: met net die oë wat uitsteek, is dit darem net die helfte so moeilik!

My meisiekind het nou die dag tydens ‘n foongesprek gesê sy kan hóór hoe rol ek my oë! Ek het so lekker gelag, maar nou ja … dit is maar hoe dit is. Buitendien het sy dié gawe, of tekort aan gesigbeheer, by my geërf.

As die maskers afkom, sal ek weer hard moet oefen aan my kalm gesig, en seker maar op my tande moet byt. Maar tot dan bly dit waar dat daar áltyd iets is om voor dankbaar te wees.