Categories
Die Lewe Positiwiteit

Die ding met ‘n pad

Dit val my op dat ek opmerklik baie foto’s van paaie het. Dit laat my besef dat ek nogal ‘n ding het met paaie, en met foto’s van paaie.

Daar is vir my ‘n onbetwisbare bekoring aan ‘n pad, ‘n hek, ‘n heining … Toegegee, die foto van ‘n bruid en bruidegom wat doer voor in die pad stap met ‘n verflenterde ou bruin soetkysie in die voorgrond, se rug is dalk al bietjie hol, maar die hele idee van bagasie wat agtergelaat moet word, het tog meriete! Iewers was daar ‘n fotograaf met insig, of is dit nou weer net ek wat dinge sien wat ander nie verstaan nie?

Foto: Maryke Venter

Ek het ‘n foto van my twee “groot” kinders wat op hulle troudag lieflik en lagbek oor ‘n plaashek leun – dit is een van my gunstelinge. Hulle is nou eers twee jaar getroud en moes al ‘n hele paar hekke navigeer: ‘n nuwe besigheid, ‘n trek oor die blouberge Kaap toe, Covid wat die toerisme-hekke ongeskik en hardhandig in hulle gesigte toegesmyt het. Saam daarmee is daar ander drome en planne wat ook nou agter toe hekke moet wag. En dis maar net dié waarvan ek weet! Tog, die bekke bly meestal lag – al is die hekke nie almal oop nie, die paaie is nog daar. Gelukkig kan mens deur daardie hekke sien, en nog steeds fokus op wat daaragter wag.

Zevenwacht

Dan is daar ook ‘n foto in my versameling van bogenoemde twee hek-oopmakers wat saam met hulle kleinsus in ‘n pad afstap op ‘n pragtige wynplaas. Toe ek die foto geneem het, het ek gewéét die pad is vol klippe, steil en partykeer amper onbegaanbaar. Nou weet ek ook dat as ons mekaar mooi vashou, geen pad te moeilik kan wees nie.

Nieuwoudtville-omgewing: ‘n pad na wat?

Partykeer kan ons nie eens sien waarheen die pad lei nie. Die aanduidings is wel daar dat dit ‘n goeie plek kan wees, maar daar is tog ‘n risiko. Mens weet nooit regtig nie, en die harde waarheid is dat daar nie altyd ‘n lig vir elke pad is nie. Dis wanneer ons maar moet probeer … want anders gaan ons nooit weet nie.

Willemsrus, Namakwaland: ‘n dun strepie pad so tussen die mooi

Dikwels is dit nie regtig ‘n pad nie, net ‘n dun voetpaadjie: ‘n skaars-sigbare strepie waarin mens maar fyntjies moet trap om nie skade aan te rig nie, of nog erger, om nie skeef te trap nie. Dan moet ons maar stap, terwyl ons moedig (of koppig) hoop vir die beste – en ás daar dan ‘n geswikte enkel of ‘n nerf-af knie oor ons pad kom, sal die mooi dinge waarby ons verby is en wat nog voorlê, hopelik daarvoor vergoed.

Noord-oos Thailand, 2017 … ek het nie geweet wat om daardie draai wag nie – gelukkig dalk!

Ek glo nie dat ons elkeen se pad tree vir tree vooraf bepaal is nie – eerder dat ons eie keuses grotendeels ons pad bepaal. Te veel verkeerde keuses is al voor die deur van die “voorsienigheid” of iets dergeliks gelê, terwyl die waarheid eintlik is dat die verkeerde opsie uitgeoefen is, gewoonlik teen alle advies en logika in. Ek kan my nie vereenselwig met die idee dat ek ‘n hulpelose marionet is en dat my toutjies deur magte van buite getrek word nie. Nee wat – ek moet maar aanvaar dat party paaie vreesaanjaend is, met onbekende eindbestemmings, toe hekke en steil bulte. Maar wat ‘n groot avontuur!