Categories
Die Lewe

Nog voëltjie-lesse

My vorige skryfsel, waarin ek genoem het dat daar baie idiome is wat met voëls te make het, het my laat besef hoe baie voëls bydra tot ons daaglikse spreektaal, en ook hoeveel ons by die veervolkies kan leer.

Die negatiewe siele onder ons hou mos graag alles met ‘n valkoog dop, met die hoop dat daar tog net ‘n sweempie slegte nuus sal wees waarin hulle kan rol. (En as daar nie is nie, skep hulle sommer bietjie fopnuus en versprei dit met verstommende toegewydheid, bygestaan deur diegene wat eindelose plesier daaruit put om bangmaakstories te vertel!) Daar is seker ‘n rede hoekom die Engelse taal praat van “bird-brained” as iemand nie kan of wil dink nie … alhoewel ek dink dit nogal ‘n belediging is vir die voëls. Meeste van hulle is nogal slim.

Verlede jaar het ‘n uil-paar drie kuikens in my buurvrou se skoorsteen uitgebroei en ons het eindelose plesier gehad van die kleintjies wat eers lomp op die dak rondgestrompel het, en toe later oral rond begin vlieg het. Hierdie jaar is hier heelwat uile en ons hoor hulle amper elke aand roep. Ons sien hulle ook gereeld teen skemer op hulle uitkykposte, maar waar hulle hierdie jaar gebroei het, is ‘n goed-bewaarde geheim. Vanoggend sit ‘n uil in die einste skoorsteen se opening wat na my erf toe wys, vir my en manlief en kyk terwyl ons vroeg-oggend die rose bekyk. Ek wonder toe – as uile nou sosiale media gehad het, sou ons nie nodig gehad het om te wonder nie, né? Ons sou met woorde en foto’s ingelig gewees het oor waar en hoeveel kuikens daar hierdie jaar was, hoekom hulle nie weer in die skoorsteen gebroei het nie, en ook wie die nuwe intrekker is! Dan giggel ek weer oor die mense wat so gretig is om inligting oor elke ete, nuwe aankoop en amper elke beweging te deel, maar hulle kwel (en my irriteer) oor toepassings wat toestemming wil hê om jou besonderhede te gebruik! As jy geheime wil hê, sê my uil-buurman, moet dit nie deel nie – nêrens nie!

Foto: Janaline

Wanneer ek soggens en laatmiddag vir die tuinvoëltjies saadjies op die pophuis se dak gooi, kan ek my verkyk aan hulle maniere. Die vinkies en mossies is gewoonlik eerste daar. Die ringnekkies sit en wag geduldig vir ‘n beurt. Namate die partytjie vorder, kuier almal heerlik saam, en gesels luidrugtig, elkeen in sy eie taal of op sy eie wysie. Sou dit nie dalk tot die mensdom se voordeel gestrek het as ons kon leer om so saam-saam te verkeer en dit wat beskikbaar is met mekaar te deel nie?

Daar is natuurlik altyd ‘n paar boelies, net soos in die menswêreld, maar die kleintjies laat hulle gewoonlik nie heeltemal afskrik nie – hulle gaan sit net op ‘n afstand en skel en gebruik gou-gou weer hulle kans om iets te ete te kry. Moet ons nie ook maar soos hulle, nie te gou wees om die aftog te blaas in die aangesig van boelies nie? Ek dink in baie gevalle wen die boelies in die menswêreld nie omdat hulle so sterk is nie, maar omdat hulle slagoffers te maklik stilbly en liewer iewers gaan sit en selfbejammerend kerm, eerder as om te raas en aan te hou probeer.

Nou ja, elke voël sing soos hy gebek is – ek verkies om op goeie dinge te fokus, al is dit soms maar moeilik. Ja, natuurlik raak ek angstig en bedruk, maar ek kies doelbewus om dit nie oral rond te verkondig nie. Ek sien die vreesaanjaende dinge raak, ek voel dit aan my lyf en in my hart en kop, maar ek hoef dit nie aan te dik en dan die wêreld in te stuur nie. Dit is nie volstruispolitiek nie, dit is my beskermingsmeganisme.

Categories
Die Lewe

Voëlkyk

Afrikaans, soos die meeste ander tale, het nogal baie idiome oor voëls. Nie al hierdie uitdrukkings is positief nie. Niemand wil seker graag ‘n aasvoël of ‘n kapokhaantjie genoem word nie. Aan die ander kant, ek beskou “mossie maar man” nogal as ‘n kompliment, want ek het nog nooit geglo dat fisiese afmetings belangriker is as innerlike krag nie.

Vir ‘n gewone voorstedelike tuin in ‘n stad, ver van enige natuurlike woude of bosse, is ek baie bevoorreg. Ek kry baie plesier uit die mossies wat so vrolik gesels, die raserige rooi- en geelvinke, die skamerige rooikopvinkies wat gewoonlik bietjie laat opdaag, maar dan ewe geduldig wag vir ‘n beurt by die kossies. Die koringvoëltjies, wat ek eers met mossies verwar het, is maar ongeskik en jaag gereeld die ander weg. Die hoep-hoep steur hom nie aan die gepeupel nie – hy stap ewe deftig vroeg-oggend op die gras rond en vang sy eie brekfis, baie dankie. Die kuifkophoutkapper stel nie belang in die saadjies wat die klein voëltjies eet nie – maar hy sit graag op die telefoondraad en bekyk na hulle baldadigheid. So nou en dan laat hoor hy ‘n luidrugtige “krrrrrr…” – of dit aanmoediging of afkeuring is, weet net hy! Tiptol is eerste om te sing in die oggend, en laaste in die aand, maar hy hou homself baie skaars en ek het hom nog net een keer gesien.

Kuifkophoutkapper (Foto: Pinterest)

Ons het sysies en kraalogies in die suurlemoenboom – die ou kleinstetjies wat my eindeloos vermaak as ek deur die kombuisvenster na hulle mannewales kyk. Dan is daar natuurlik die pragtige ou ringnek-duifies en die ongeskikte hadedas. Baie mense is driftig oor die Indiese mynas wat indringers is, maar hier by ons is hulle darem nie te veel nie, en ek het nog nie gesien dat hulle geniepsig is met die ander nie. (Hoewel ek glo dat hulle seker maar kanse vat!) Die kwikstertjies stap sommer tot op die stoep, en dan is daar natuurlik die stoute Piet-my-vrou wat antwoord as ek fluit, maar hy moet nie dink ek weet nie dat hy sy eiers in die ander voëls se nessies lê nie!

Ek verstaan hoekom daar so baie idiome is wat mense met voëls vergelyk. Daar is baie ooreenkomste. As ek so deur my vriende-, familie- en kennisse-boek blaai, sien ek hulle almal. Die raseriges wat heerlik kuier saam met almal, die skames wat liewer van ‘n afstand af die partytjie geniet, die laatkommers, die goed- en sleg-gemanierdes, die boelies. Daar is ook dié wat liewer gehoor as gesien word, en ook soos die tiptol baie graag die ander se geluide namaak, maar self nie juis sigbaar is nie. Party kom hoogmoedig voor, maar dalk is hulle maar net versigtig of bang. Oral is die hadedas en mynas … raserig, ongeskik en morsig. En het ons nie al almal paaie gekruis met ‘n Piet-my-vrou wat so graag verantwoordelikhede in ‘n ander skoot gooi nie?

Dankie tog vir dié wat meer plesier as irritasie veroorsaak. En veral, dankie vir dié wat tot op die stoep kom, al weet hulle nie sonder twyfel wat die gevolg gaan wees nie! Partykeer moet ons kanse vat, vertrou, hoop vir die beste …

Ek herken myself in baie van hulle.