Categories
Die Lewe

Stilbly en stil wees

Ek lees: “Being quiet is not the same as being silent.” Die konteks van die wysheid is ‘n vrou en kind wat mateloos, genadeloos mishandel word deur ‘n monster-man. (As jy nie te sensitief is nie, lees gerus “The heart is the size of a fist” deur P.P. Fourie. Dis nie ‘n lekkerlees boek nie, maar dit is ‘n kunswerk.)

Ek wil myself glad nie op die gebied van mishandeling begeef nie, maar die verskil tussen stil wees en stilbly, maal nou al vir ‘n dag of twee in my kop. Albei is partykeer goed, dink ek. Stilbly, nie altyd nie. Stil wees, dink ek, amper altyd. Albei is nodig. Stilbly, baie keer. Stil wees, meestal.

Oor stilbly: as die ongeduldige mens in die motor agter my die toeter druk voordat die verkeerslig behoorlig groen is, is stilbly goed. As die persoon agter my in die ry by die kasregister nie my idee van persoonlike ruimte deel nie, is stilbly ook goed. (By stilbly sluit ek oogrolle, diep sugte en geïrriteerde gesigsuitdrukkings in.) In ‘n gesprek met een van daardie mense wat altyd beter weet, lankal reeds elke uitsonderlike insident beleef het, en diepgaande kennis en insig oor elke moontlike onderwerp onder die knie het, is stilbly onontbeerlik. Praat help in elk geval nie. (Laasgenoemde stelling laat my terugdink aan my kinderdae, toe die gebruik daarvan gedui het op ‘n afgedankste loesing wat dreigend naby was. In sommige van die situasies wat ek hier genoem het, sou ‘n pak slae dalk nie totaal nutteloos wees nie … maar dit is net wensdenkery.)

En nou oor stil wees: as dit voel of die dag te min ure, die week te min dae en die maand te min weke het, is stil wees noodsaaklik. Wanneer jou vel te dun raak, en dinge wat gewoonlik net verbygaan, in jou keel vassteek – raak stil. Daardie kere wanneer die paadjie wat jou asem volg tot doer diep in jou binneste, verstop raak deur stukke ongeduld, irritasie, spanning, angs, woede, hartseer, of watter ander blokkasies ook al in jou lewe opduik, dwing jouself om stil te raak.

Party mense is gelukkig genoeg om sommer so midde-in die gedruis te kan stil raak. Ander moet ‘n meer bewustelike poging insit: maak toe jou oë, haal diep asem, tel tot tien, luister na musiek – of as dit nie help nie, leer die wonderlike kuns van meditasie aan. Watter tegniek ook al vir jou werk, gebruik dit. Maar raak net stil. Kry die gedruis uit jou kop en uit jou menswees uit.

Geraasbesoedeling is ‘n letterlike en figuurlike werklikheid. Jy het dit nie nodig nie – inteendeel, jy moet dit vermy. Stilbly, sê die spreekwoord, is ook ‘n antwoord. En stil wees, glo ek, is min of meer altyd die antwoord.

Sjjjjjjjjjt …

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

Leave a comment