Categories
Die Lewe

Die lepel in die wasbak

As dit nog nie met jou gebeur het nie, is jy baie gelukkig. Jy wil net water tap of iets afspoel, maar ‘n lepel lê presies op die regte plek in die wasbak om daardie onskuldige klein stroompie water in ‘n tsoenami te verander – gewoonlik bly jy, of ten minste jou klere, ook in die slag. Dis amper asof ‘n groot langhaar-hond homself hier knap voor jou droog-geskud het.

Sulke goed gebeur met almal. Gereeld! Daardie onverwagse kinkel in ‘n kabel wat jy kon sweer pylreguit was. As jy gelukkig is, slaan jy so nou en dan ‘n dag of twee oor, maar dan glip daardie lepel maar weer onder die kraan in.

Partykeer is dit ingrypend: ‘n ongeluk, ‘n verhouding wat skeefloop, finansies wat nie uitwerk nie, ‘n ernstige siekte wat sommer so uit die niet jou liggaam inneem en jou lewe oorneem, ‘n geliefde wat skielik siek word of sterf. Dit is sommer ‘n opskeplepel wat chaos in jou wasbak veroorsaak en in ‘n oogwenk jou klere, jou gesig en die vloer bemors, sodat jy verdwaas na jou asem snak, water uit jou gesig vee en dan besef jy kan nie net wegloop nie, want jy gaan op die nat vloer gly.

Daar is ook die kleiner hindernisse in jou pad – ‘n teelepel wat net ‘n paar spatsels veroorsaak, maar nog steeds ontwrigtend en lastig is: daardie pyp wat bars, die pap wiel, ‘n loopneus of ‘n seer rug, die strykyster wat gister nog gewerk het en nou yskoud bly. Die bakpoeierblikkie wat sweerlik nog halfvol was toe jy verlede keer gebak het, maar jou nou blinkbodem uitkoggel, ‘n skoenveter wat breek, ‘n knoop wat onverklaarbaar verdwyn het as jy wil aantrek, die buffel wat voor jou in die laaste parkeerplek inglip…

Tegnologie verdien natuurlik ‘n blog (of dalk sommer ‘n boek) wat nét daaraan gewy is – elke onderwyser weet dat ‘n kopieermasjien se werkverrigting direk verwant is aan die onnie wat voor hom staan, se ongeduld. Rekenaars het elkeen ‘n moedswillige, hardkoppige en gemene streep wat gewoonlik te voorskyn kom as mens moeg of haastig is. Die meeste toestelle het partykeer onverstaanbare, ongehoorsame episodes, en my selfoon en ek praat ook soms nie dieselfde taal nie. Dis maar hoe dit is. Ek verkies steeds om die tegnologie tot my beskikking te hê, en ek is bereid om te erken dat baie van hulle nukke eintlik maar aan my eie onkunde te wyte is.

Die belangrike ding is om nie die lepel in iemand anders se wasbak te wees nie. Dit gebeur so maklik, en baie keer besef ons nie eens dat ons water bo-oor ‘n ander persoon se hele dag smyt met ‘n nors gesig, ‘n dwars antwoord of ‘n bot houding nie. Wat nog van ‘n nare skinderstorie of ‘n ongevoelige uitlating? Daardie oordeel wat jy so onnadenkend op sosiale media uitspreek, is dalk die soplepel onder een van jou vriende se kraan, of ewe erg, ‘n onbekende, weerlose persoon wat dit raaklees. En onthou, as daardie stroompie eers die lepel getref het, help die blitsvinnige toedraai van die kraan niks. Die skade is klaar gedoen.

Jy kan enigiets wees – probeer ten minste om nie goor te wees nie. Ja, ja, jy mag ‘n opinie hê, maar dit sal goed wees as jy jou opinie vorm nadat jy behoorlike inligting ingewin het. En dit is nie altyd nodig om daardie opinie te deel nie – jy kan maar stilbly ook, en (nota aan myself) jou gesig neutraal hou. Ja, jou beginsels is belangrik, maar elke beginsel wat van joune verskil, is nie noodwendig verkeerd of selfs boos nie. Jou kultuur, jou taal, jou godsdiens is kosbaar, maar ander s’n ook. Ons mag verskil sonder om te verwond.

Dink bietjie, en as dit nodig is, skuif jou lepelkant net so effens onder die kraan uit. Dit maak die lewe makliker vir jou, sowel as vir die persoon voor die wasbak waarin jy jou bevind. En volgende keer is jý weer die een wat die kraan oopdraai!

Categories
Die Lewe

Ag dierbaarheid tog…

Oor die algemeen is diere gawer as mense. Slimmer dalk ook. Is dit waar die woord “dierbaar” sy oorsprong het? Ek lees anderdag dat honde nie so lank soos mense hoef te lewe nie, want hulle weet van die begin af hoe om reg te lewe. Nogal waar, né?

Tog gebruik ons gereeld diere om minder aangename eienskappe van mense te beskryf. As ons iemand ‘n vark noem, is dit beslis nie ‘n kompliment nie. Dieselfde geld vir “katterig”. Hardkoppigheid word voor die deur van ‘n donkie gelê, soos steeksheid voor die muil s’n. As ‘n jongeling as “kapokhaantjie” beskryf word, is hy arrogant en baasspelerig. En so aan.

Dis onverdiend. Ons tweepotiges kan gerus maar by ons vierpoot-maats gaan leer. Waar kry jy ‘n beter voorbeeld van lojaliteit en onvoorwaardelike liefde as ‘n hond? Al word ‘n hond blatant mishandel, bly hy geduldig en getrou. En as sy slegte eienaars hom dan uiteindelik weggooi, raak hy gewoonlik sommer maklik weer lief vir ‘n nuwe mens. As óns maar so maklik kon vergeet! ‘n Slim TV-program vertel my dat ‘n hond se hartklop met dié van sy mens sinchroniseer, en dat dít is hoekom selfs net die nabyheid van ‘n hond ons troos en kalmeer as ons in hartseer of gespanne is.

Fotos: Alta en Ian

Ook by katte kan ons leer: nie net van elegansie en grasie nie, maar ook hoe om letterlik weg te stap uit ‘n slegte situasie sonder om te wys dat jy jou vererg het (of ‘n groot gek van jouself gemaak het)! Male sonder tal het ek al gewens dat ek die koel selfvertroue van ‘n kat gehad het. Ek bewonder altyd die onverstoorbare outoriteit waarmee ‘n kat beheer neem van omstandighede. En natuurlik hulle vermoë om absolute luiheid en intense niksdoen te laat lyk asof dit die belangrikste aktiwiteite op aarde is. Dit sou ook nie seermaak as ons so skaamteloos kon bedel vir aandag soos ‘n kat nie – skuur teen ‘n been, knie met jou voorpootjies, of as niks anders werk nie, sit ‘n keel op. Al bogenoemde is beter as ons mense se dikbek selfbejammering as ons dink ons word oor die hoof gesien!

Fotos: Ruan

Al hou ek niks van slange nie, sou dit gaaf wees as ek myself uit ‘n posisie waarin ek nie meer inpas nie, kon uit-vervel!

Die aanpasbaarheid van ‘n verkleurmannetjie, waaksaamheid van ‘n meerkat, visie en perspektief van ‘n uil, deursettingsvermoë van ‘n vink-mannetjie wat maar wéér sy nessie begin al pluk die wyfie dit telkens uitmekaar; die werkywer van ‘n by, ‘n olifant se dik vel, die veerkragtigheid van ‘n vlooi; die herstel-vermoë van ‘n afstert-akkedis; die koersvastheid van ‘n swaeltjie wat áltyd weer sy tuiste kry, ‘n skilpad se kalm kop-wegsteek en later weer aangaan as dinge moeilik raak. Dink net hoe hierdie vermoëns ons menslewens sou kon verbeter.

Daar is baie diere-eienskappe wat ek graag sou wou hê. Dalk in ‘n volgende leeftyd… Intussen sal ek maar my bes doen om net oor die algemeen dierbaar te wees.

Categories
Kersfees

Wens-persente

Die joernaal Health Psychology het in 2012 bevind dat onselfsugtige mense wat gereeld hulle tyd of iets anders weggee, langer lewe as mense wat dit nie doen nie. Om te gee, is dus wetenskaplik bewys as ‘n goeie opsie.

Ek is baie lief vir persente gee. As jy nou regtig op my vuurtjie wil piepie, moet jy ‘n persent wat ek gee, nie oopmaak terwyl ek jou reaksie kan sien nie. Ek sukkel ook om iets wat ek gekoop of gemaak het, te bêre en later eers te gee.

My finansies (en seker my ouderdom) maak dit onmoontlik om so baie te gee as wat ek sou wou, so soos gewoonlik verskaf my verbeelding maar die nodige verligting. As ek enige, énige iets kon koop, in vrolike papier toewikkel en met ‘n blink strik onder ‘n Kersboom sit…

Vir almal wat iewers besig is om te probeer oorleef terwyl bomme en geweerskote om hulle raas: vrede, huise met dakke en mure, lopende water, kosvoorrade en medisyne.

Vir diégene wat oorloë begin en hardnekkig daarmee aanhou: versoening, vergewensgesindheid, die vermoë om te kan toegee en die begrip dat niemand ‘n oorlog wen nie.

Vir grootmense wat hulle verknies omdat hulle nie weet waar hulle kinders se volgende maaltyd vandaan gaan kom nie, en hoe hulle gaan verduidelik dat Kersvader nie hierdie jaar gaan kom nie: ‘n behoorlike werk wat verligting en stabiliteit kan bring.

Vir daardie mense se kinders: ‘n groot Kersboom vol liggies met die mooiste speelgoed en nie eens een pakkie met noodsaaklike goed soos skoolskoene nie. En báie ongesonde eet- en drinkgoed nét vir Kersdag, met ‘n vol magie elke dag daarna.

Vir mense wat hartseer is omdat hulle iemand mis, of daardie iemand nou in ‘n ander land is, oorlede is of net opgehou het om kontak te maak: ‘n lang, stywe druk, ‘n hart vol liefde en gereelde samesyn met iemand wat regtig omgee, al is dit dalk nie daardie persoon wat so gemis word nie.

Vir elkeen wat baklei vir gesondheid: al die energie wat jy as driejarige gehad het, die krag van Chuck Norris, Job se geduld en die uithouvermoë van Gerda Steyn. Saam daarmee ‘n groot leë boks waarin jy al jou pyn, frustrasie en vrees kan gooi en ‘n moewiese kettie waarmee jy dit kan wegskiet!

Ek is amper klaar – nog net my naastes. Vir my man: geduld om met my huis te hou, mooi weer en lekker houe vir gholfdae, en rugby-skeidsregters wat sy bloeddruk minder opjaag. Vir my kinders: lae rentekoerse, hoë salarisse, reuse-loopbaansukses en onbeperkte vreugde, liefde en gesondheid.

Vir my liefste klein Lisa: ‘n grootword-wêreld waar àl hierdie wense onnodig sal wees omdat almal vir mekaar omgee, niemand slegte bedoelings het nie, en liefde, vrede en vreugde die botoon voer. (En baie liedjies, boeke, speelgoed en diere!)

En vir jou wat hier lees – jy mag enige iets, of alles, wat ek hier onder my wensboom gesit het, vir jou vat.

Solank jy dit deel …

Categories
Die Lewe

Die pen is magtiger… (as wat jy dink!)

Een van my lekkerste inkopie-togte met my twee dogters was dié een voor die skool begin, wanneer ons met die skool se lysie van noodsaaklike skryfbehoeftes winkels toe gaan. O, en dan die inpak in die nuwe, of dalk net lekker skoon gewaste skoolsak … pret!!

Mense is in vele opsigte baie soos skryfgoed, dink ek vandag toe ek ‘n skryfding soek. Party is vlymskerp en helder, soos daardie splinternuwe potloodkryt. Maar tog, niemand kan àltyd so skerp wees nie – iewers, eendag, het jy ‘n skerpmaker nodig: dalk ‘n mater wat luister en raadgee, dalk ‘n lekker koppie tee, of miskien net ‘n aand se vroeg inkruip.

Dan kry mens die statige vulpenne – effens outyds, ja, en dalk met ‘n risiko van ‘n blerts hier en daar, maar tog só elegant en stylvol.

Die balpuntpenne in my menswêreld is dalk nie so gesofistikeerd soos die vulpenne nie, maar tog staatmakers in eie reg, en altyd reg om in te spring en die ding te doen. En daar is een vir elke geleentheid: die jel-soort wat moeiteloos oor die werk glip, ander wat bietjie stadiger, maar só deeglik werk, en selfs daardie wat bereid is om hulle pas-afgehandelde werk uit te vee en oor te doen. Natuurlik is daar ook dié wat nie aan die gang wil kom sonder ‘n gesukkel, gekrap en gevryf nie … hulle moet behoorlik gesmeek word. Jammer, maar ek gooi dié soort baie vinnig uit!

Dan die vetkryte: sagter, met die mooiste kleure, en so veelsydig! Die effek verander as jy harder of sagter inkleur, jy kan met ‘n sneesdoekie of jou vinger bo-oor vryf, twee kleure bo-oor mekaar gebruik… die moontlikhede is onbeperk. Ek het sulke mense in my lewe, en ekself is ook so: partykeer maak druk my beter, ander kere knak ek. Partykeer buig ek net so effens. Die geheim, dink ek, is om versigtig te werk. Maar ai, ek geniet my vetkryte se skakerings en veelsydigheid!

Toe ek ‘n kind was, was koki-penne net vir die ryk kinders. Dis seker hoekom ‘n lekker helderkleurige koki met sy uitbundige viltpunt vol kleur vandag nog vir my ‘n lekkerte is. Daar is só ‘n lekker verskeidenheid ook: dunnetjies, vir die fynste detail, en bonkiges wat met so ‘n lekker besliste “skwiek-skwiek” op enige oppervlak sy merk kan maak. Party se merke bly permanent, onuitwisbaar sit, ander s’n kan sonder veel moeite weggevee word. Presies soos die mense in my lewe.

Ja, daar is mos altyd enkele minder gewilde items in daardie pennesakkie – daardie mense in jou lewe wat net nie die vreugde-vonkie wil aansteek nie. Die potlood met die té skerp punt wat sommer dadelik ‘n gat deur die nuwe wit bladsy van jou dag steek. Of die moedswillige een waarvan die punt kort-kort afbreek in die middel van jou entoesiasme. Die klipharde uitveër wat jou blaai skeur en ‘n letsel los, in plaas van om jou foutjie te laat verdwyn. ‘n Moedswillige, stomp skerpmaker wat jou afbreek terwyl jy gehoop het op nuwe moed…

Maar as een van hierdie laastes opduik, het ek goeie raad: dop jou pennesakkie om, gooi alles uit, en hou net dié waaruit jy plesier put. Raak ontslae van die ander, dooie gewig. En as dié proses jou effens swaarmoedig stem, gryp ‘n pen, potlood of kryt wat ‘n lekker uitbundige streep kan trek, en kleur jou gemoed weer helder in!

Categories
Die Lewe

Rakmaats

Ek is onbeskaamd ‘n volslae boekwurm. Die reuse boekrak wat my handige man vir my gemaak het, was nog altyd een van my gunsteling goeters. (My gunstelinge is meestal mense, nie dinge nie.)

In my nuwe huisie het die boekrak ‘n ere-plek. Terwyl ek vanoggend tee maak, bekyk ek dit. Al het ek baie boeke weggegee, staan heelwat nog in die rakkies ingeryg, maar hulle deel nou die ruimte met foto’s en ‘n paar ander kosbaarhede. Die kombinasie van boeke en mense laat dink my toe – mense is eintlik baie soos boeke.

Die boonste deel van die boekrak

Party mense is ensiklopedieë – hulle is propvol kennis en interessanthede, en stel jou selde teleur as jy hulle vir raad of inligting vra. Dan is daar ook woordeboeke, wat ritse en rye woorde bevat, baie reëls en regulasies, maar nie juis konteks nie. Dit verg baie moeite om iets sinvols uit al die losstaande stukkies saam te stel.

Nog ‘n kategorie is die klassieke werke – hulle het die toets van die tyd deurstaan, en lyk dalk nie meer altyd so mooi soos hulle nuwer uitgawes nie, maar die skatte wat tussen daardie vergeelde blaaie opgesluit is, is kosbaar en tydloos. Natuurlik moet die waarde van die kraaknuwes nie gering-geskat word nie. Nie alles wat nuut is, is oppervlakkig nie, hoor! Van die grootste wyshede wat ek al gehoor het, het uit jong monde gekom: boeke waarvan die bladsye nog kraak as dit geblaai word, buiteblaaie nog blinknuut en plooiloos.

Ek het deesdae ‘n spesiale rakkie vir prenteboeke. Daar ís woorde, maar dis min. Ek ken sulke mense ook – maklik om te verstaan, sonder ‘n vreeslike gepratery.

Ek is bly my boekrak kon saam oor die berge trek. Ek hoop ek kan ook so lekker in die nuwe wêreld inpas én aanpas, en my ruimte so gemaklik met my nuwe rakmaats deel.

Die onderste deel… en die jongste lesertjie
Categories
Die Lewe

Klippe in jou sak

Liewe Joyce wat een keer per week haar towerstaf oor die pophuis kom swaai, begroet my hierdie week grootoog oor die verwoestende storm wat die Kaap getref het. In haar pragtige Karoo- en Kaapse Afrikaans vertel sy van wilde waters en winde. Sy is dankbaar dat die water voor haar huis omgedraai het.

Ek bieg dat ek baie bang was vir die wind, só bang dat ek eintlik nie eens aan die water gedink het nie. Sy lag lekker en deel haar geheim met my: “Nee man, as die wind so kom moleste maak, dan stop ek net klippe in my sakke. Mens móét, want hierie wind briek g’n, hy sal vir jou nét so voor ‘n bus of ‘n lorrie indruk!”

Of ‘n paar klippe regtig sal help, weet ek nie. Ek hoop ek sal maar veilig binnenshuis kan bly as die wind weer so moleste maak. Of ek moet maar op lamppale en my gewig staatmaak! Joyce se storie het my wel laat dink aan die klippe wat kan keer as ongeskikte lewenswinde my onder die bus wil indruk, so sonder brieke.

Daar is ‘n paar waarsonder ek nie wil wees nie. In geen spesifieke volgorde nie, is dit die dinge wat my sakke volmaak sodat ek stewig kan trap, maar tog ligvoets kan loop. Natuurlik my mense – my liefstes en my naastes, aangebore, aangetroud, uitgekies. Dan ook ‘n paar dinge: stories – langes en kortes, oues en nuwes, feite en fiksie, in boeke en op skerms; musiek – oud en nuut, lig en swaarder; wol, garing, lappe, knope en naalde van alle soorte. Plante, blomme, voëltjies, honde. Daar is nog, maar kom ek hou op.

Jy verstaan dalk nie mý klippe nie. Jy het waarskynlik heeltemal ander dinge wat jóú verweer is teen storms, of wat sommer net jou pad makliker maak.

Hoe ookal. Maak seker jou sakke is diep genoeg, en stop hulle vol met dinge en mense waarvoor jy lief en lus is. Dan kan die wind (en busse en lorries) maar kom.

Categories
Die Lewe

Is jy padwaardig?

In Kaapstad skut hulle graag voertuie wat nie padwaardig is nie, of wat roekeloos bestuur word. Ek dink die wêreld sal baat by ‘n soortgelyke stelsel vir mense.

Daar is báie mense wat nie padwaardig is nie. Daarmee bedoel ek nie die mense wat daardie voertuie bestuur of besit nie. Nee, ek praat van mense wat hoegenaamd net nie geskik is vir die pad waarop hulle is nie.

Daar is byvoorbeeld te veel ouers wat nie werd is om eens naby kinders te kom nie, nog minder om ouers te wees. My hart het onlangs weer gebreek oor twee kleutertjies wat alleen in ‘n huisie gelos is terwyl hulle ma’ s gaan drink het. Die huis het afgebrand, albei kleintjies is dood. Nee. Daardie vrouens mag nie eens die eretitel “ma” gebruik nie. Dieselfde geld vir mense wat kinders verwaarloos en mishandel. Skie … ek bedoel skut hulle, bêre hulle waar geen kind weer aan hulle blootgestel sal word nie.

Dan is daar ook troeteldier-eienaars wat nie ‘n idee het van wat dit beteken om verantwoordelikheid vir ‘n dier te neem nie. Veel erger, monsters wat diertjies in haglike omstandighede teel en dan op strepe verkwansel om hulle eie sakke vol te maak. Hulle hoort in hokke, soos dié waarin hulle hulle slagoffers aanhou. Ook sommer vasgemaak met kettings of drade, en sonder behoorlike kos of skuiling.

Daar is natuurlik ook mense wat op ‘n pad beland het waarvoor hulle nie geskik is nie, en in die proses chaos veroorsaak. Elkeen van ons het al met ‘n onderwyser wat skynbaar nie van kinders hou nie, paaie gekruis, of liewer koppe gestamp. Dis soos ‘n massiewe kruiptrekker wat tussen klein motortjies rondjaag, en alles in sy pad verwoes.

Natuurlik is daar ook in ander beroepe bussies sonder deure en ligte wat met stotterende enjins voortjaag en oliekolle oral los. Ontvangsdames wat nors en goor is, verkoopspersoneel wat nie lus is om te verkoop nie, predikers wat net wil oordeel en baklei, raadgewers wat nie raad het nie, mense in gesagsposisies wat hulle mag misbruik … die lys is eindeloos.

Natuurlik is daar darem ook voertuie wat omtrent geluidloos oor die pad suis en absoluut foutloos funksioneer. Slaggate word moeiteloos vermy, elke verkeerslig stiptelik gehoorsaam, energie word eko-vriendelik en ekonomies verbruik, alles werk min of meer perfek. Gelukkig is hierdie mense darem die meerderheid. Of, gelukkig beleef meeste van ons tye wanneer alles werk soos dit moet, en die reis redelik voorspoedig verloop.

Nou moet ek darem op ‘n ligter noot eindig. Hierdie bloggery mag mos nooit te negatief raak nie. Kom ons handhaaf net ‘n oomblik van simpatieke stilte vir daardie (eintlik híérdie!) skedonke wat moedig voortreis, opdraend op en afdraend af, met ‘n bakwerk wat begin uitmekaarval, skarniere wat kraak en remme wat skree … maar ons enjins is darem nog baie betroubaar!

Categories
Positiwiteit

‘n Lekker lysie

Ek het geskryf oor die Kaapse weer, en hoe dit verskil van dit waaraan ek in die Vrystaat gewoond was. In retrospek besef ek dit kon dalk as ‘n klaery vertolk word, al het ek afgesluit op die positiewe noot dat hier baie reënboog-potensiaal is.

Nietemin, ek dink ek moet ‘n lysie maak van onbetwisbare positiewe punte hier agter die wyngordyn. Ek gaan nie ons liefste Lisa op die lysie sit nie. Sy is op haar eie ‘n ellelange lys! Ook nie haar mamma en pappa nie, en selfs nie haar liewe, lawwe oupa nie, vir dieselfde rede. (Ek vermoed hierdie kan dalk een van daardie lyste wees wat later hersien, bygewerk of geredigeer moet word.)

Een van die eerste dinge waarvoor ek hier innig en opreg dankbaar was, was die water. Nie net vir die feit dat dit drinkbaar is nie, sommer net so sonder filter of fiemies, maar bloot die feit dat dit daar is as die kraan oopgedraai word. Ek weet, dit behoort vanselfsprekend te wees, maar in ons vorige dorp was daar vir die laaste paar maande ‘n vreemde fenomeen genoem beurtwater. Ek jok nie. Na 5 in die middag was daar net geluide in die krane, gevolg deur modderspoegsels die volgende oggend. O, die weelde van ‘n warm stort voor slaaptyd!

Dan die vuilgoedlorrie. Hy daag op!! Stiptelik, elke Maandag, selfs op ‘n vakansiedag. Al die inwoners van ons sirkel-straatjie se “wheelie bins” word vroeg-oggend buite gesit, die span daag op, tiep hulle in die groot wit lorrie se rooi maag om, en siedaar!

Élke Maandag se mirakel

Die munisipaliteit – in ons vorige dorp was dit nie eintlik ‘n woord wat in goeie geselskap gebruik word nie. Hier aangeland, was daar ‘n rekeningnommer wat ons net in die hande kon kry deur die inbelsentrum te bel. Die idee van ‘n inbelsentrum maak nie juis positiewe gedagtes wakker nie, maar sowaar, ‘n regte, lewende mens het amper dadelik geantwoord, en ons in Afrikaans gehelp! (Ons kán Engels praat, hoor, ek sê maar net. In Afrikaans! Gehelp!)

Ek was aan die begin goed skrikkerig vir die berugte Kaapse verkeer. Hier bly en ry baie mense, jong. En hier is nie verkeersirkels soos daar waar ek geleer het om te bestuur nie. Maar kan jy glo, hier is strepe, duidelik sigbare strepe, op die paaie. Al is die verkeerslig-kruising groot en besig, daar is strepe en stippellyne sodat jy weet waar jy mag en nie mag wees nie. So, nou ry ek ewe oulik, ek probeer net spitstye vermy, en danksy daardie ferm, vriendelike vrou in my foon, het ek nog nooit eens verdwaal nie.

Dan straatligte … hier is baie, en hulle werk almal. Ek wou een aand ‘n foto neem van die supermaan, en ek het regtig gesukkel om ‘n hoek te kry waarin daar nie ‘n helder lig skyn nie.

Hier is vriendelike mense. Hier is pragtige kwekerye, heerlike wol- en lapwinkels, mooi voëltjies in ons pophuis-tuin. Dit ryp nie, die stof waai nie. En hier is berge. Die Tafel-een en nog ander mooies. Maar daarvoor is daar ‘n aparte lys.

My lys is nie volledig nie, maar ek volstaan maar. Ek wou net seker maak julle verstaan dat ek dankbaar is, en positief oor ons nuwe plek. Al verlang ek bietjie terug … na ménse, nie na dinge nie.

Categories
Persoonlik

Kom ons praat oor die weer!

Die semigrasie van Welkom se stof-vlaktes hier na die soom van die Boland se wye groen berge-rok, weet ek nou, was die regte ding. Maar dat dit ‘n gróót ding was, is ook waar.

Ons het hier aangekom nét toe die hemel oopgemaak het vir die natste winter in baie jare. Dit bly my grootste uitdaging: om vir lang dae nie die son te sien nie. Reën was en is nog altyd vir my ‘n wonderlike ding – onthou, my Vrystaatwortels is meer as 6 dekades diep. Maar hier val die reën nie noodwendig van bo af nie. Iewers in die middel gryp die wind dit, en smyt dit uit ‘n onverwagse hoek in vlae grond toe. Vreemd.

Ek moet bysê, op reënlose dae is die lug ekstra blou, die lig super-helder. Die groot verrassing vir nuwelinge soos ons, lê in die blitsvinnige omswaai wat altyd moontlik is.

Hier voor skyn die son, doer agter kom (dalk) reën.

Die klankbaan en beligting van hierdie konsert is ook anders. Die diep basdrom van Vrystaat-donderweer speel nie. Geen dramatiese blitse klief deur die lug nie, dit raak net skemer, en ‘n mistigheid wikkel alles toe. En die son raak amper weg. Deur die miswolke is daar partykeer so ‘n blink skynsel en heel gereeld glip hy vir ‘n paar minute uit om ‘n lekker snoesige blokkie op ons sitkamermat te kom teken. Die beste is as ons klein wonderwerk op die einste mat speel. Of nog beter, as ek saam met haar daar sit, dikwels met ‘n storie- of liedjieboek. Die vinnige sonnetjie-kollig maak daardie tydjies sommer nóg meer knus en kosbaar.

Enige ding is ‘n speelding!

So ja, die nat Kaapse winterweer is iets om aan gewoond te raak. Maar die bonus is, hier is elke dag ‘n paar keer potensiaal vir ‘n reënboog!

Categories
Persoonlik

Eerste treetjies

Die afgelope naweek het ons twee mylpale gevier: ons groot trek oor die berge was ‘n maand oud, en Lisa, die groot nuwe liefde in ons familie se lewens, was ‘n jaar oud.

Die skuif van die Vrystaat na die Wes-Kaap het bo verwagting glad en maklik verloop, danksy hulp uit allerlei oorde. Die maatskappy met die rooi lorrie het ons wildste verwagtinge oortref met hulle diens en vriendelikheid. As enigiemand wil trek, vra vir my oor William en Casper Meubelvervoer. Maak seker jy het baie tyd, want ek sal lank kan aanhou.

My liewe babakind het al die pad uit die Vrystaat saam met my en my twee hondekinders gery. Dit was nie ‘n maklike rit nie – eers gietende reën, en toe dit ophou, het die donker toegeslaan, want ons tyd-beplanning het nie voorsiening gemaak vir ‘n sopnat slakkepas nie. Maar ons het dit heelhuids gemaak. En goeie geselskap help altyd!

In die Kaap aangekom, het my groot kind, haar man en baba ons ingewag, gereed om met alles te help. Dit, en ander hartlike en vriendelike mense het die hele nuwe plek sommer gou soos ons plek laat voel. My grootste uitdaging is die min sonskyn, maar almal verseker my dit is nie elke winter so nat soos hierdie jaar nie. Ons plekkie is piepklein in vergelyking met ons Vrystaat-huis, maar dit help as die mens met wie jy die ruimte deel, iemand is van wie jy hou. Die verlange na my Vrystaatkind is nog akuut, maar ons sal dit ook hanteer.

Dan Lisa. Dit is ‘n enorme fees en voorreg om haar so gereeld te kan sien, en wat ‘n vreugde om te sien hoe sy ons ook leer ken en gemaklik raak met ons. Ek weet ek is nie objektief nie, maar ek dink sy is die soetste, maklikste en vriendelikste klein mensie ooit! In die week voor haar verjaardag het sy besluit dat loop lekkerder is as stilsit of kruip. Daardie klein beentjies wikkel nou tog te dierbaar in alle rigtings. Sy kan dit baie oulik op haar eie regkry, maar as daar iewers ‘n gewillige vinger is waaraan sy kan gryp, stap sy sommer met nog meer selfvertroue en doelgerigtheid (en spoed!) verder.

En net daar leer die klein mensie vir haar ouma ‘n belangrike les. Eerste treetjies is nie noodwendig maklik nie, of dit nou is om te leer loop, of om in ‘n nuwe plek te lewe. Maar daar is altyd mense wat sal help – mens moet net uitreik, daardie vingers gryp, vertrou, en aanstap.

Verandering is moeilik, maar mens kan dit doen. Met die regte gesindheid, sê ek nog altyd, is alles moontlik. En die Kaap is darem mooi…

Categories
Die Lewe

Kyk raak, en dateer op!

Die vervoermaatskappy wat ons meubels en goed oor die blou berge gaan vat, vra dat ek ‘n lys stuur van alles wat moet saam. Mates ook, en foto’s van die meubels. Ek doen dit met graagte – hulle is so vriendelik en behulpsaam dat ek amper enige iets sal doen om dit vir hulle makliker te maak.

Die projek neem tyd, maar op ‘n vreemde manier is dit goed vir my om elke item te bekyk, te meet en af te neem. Alles deel van die afsluiting en nuwe begin. Trek is nie maklik nie, en nou praat ek nie van reëlings, admin, borrel-plastiek, bokse en kleefband nie. Dis sleg om dinge, plekke en mense te los, al is daar ander dinge, plekke en mense by die bestemming. Meer daaroor later, dalk.

Ek bereik ‘n punt waar ek dink my lys is volledig, my mates en foto’s geneem en gestuur. Ek leun terug in my stoel en slaak ‘n sug van verligting. My oog val op ‘n opvou-trapleertjie wat ek nog by my liewe skoonma gekry het. Manlief het dit al ‘n “makeover” of twee gegee. Dit kom uit die era toe goed nog gemaak is om te hou. Ek gebruik dit amper elke dag om by te kom waar iets uitgehaal, gesoek of gebêre moet word. Natúúrlik moet dit saamgaan! Hoe het ek dit misgekyk? Dit moes heel bo-aan daardie lys gewees het!

Ouma Lida se trapleertjie

Ek besef dit is maar iets wat gebeur. Iets wat mens elke dag sien en gebruik, raak weg tussen te veel goeters. Nie omdat jy dit nie waardeer nie, dalk juis omdat dit so ‘n deel van jou raak dat jy dit nie meer raak-dink nie. Soos jou enkel, jou gunsteling koffiebeker, jou badkamerdeur. Dis al voos gevat, is elke dag onontbeerlik, maar verskyn nie op ‘n lys van belangrike goed nie. Maar jy kan nie daarsonder nie, glad nie!

Dit gebeur, ongelukkig, met mense ook. Hulle raak soos enkels. Ons kyk hulle so maklik mis, maar ons kan nie, wil nie, sonder hulle oor die weg kom nie.

Dis tyd om ons oë oop te maak, en ons lysies op te dateer.

Categories
Positiwiteit

Baie bietjie vir niks…

Een van my handvol susse gooi ‘n uitdaging na my kant toe. ” Sus, skryf bietjie iets oor…” Haar opslagbal is die opskrif van hierdie skryfsel.

Ek het bietjie herkou aan die baie-bietjie sêding, en met manlief se hulp dit rekonstrueer tot wat ons albei se pa’s altyd gesê het, naamlik: “Mens kry bietjie vir ‘n tiekie en báie bietjie vir niks.” Ons het albei in huise met baie kinders en min geld grootgeword, dus is dit heel verstaanbaar dat ons pa’s so uit een mond gepraat het.

In destydse terme kon mens eintlik nogal heelwat kry vir ‘n tiekie, of dan vir die gelyke daarvan. Ek het nie tiekies geken nie, (ek is net-net nie oud genoeg daarvoor nie) maar ek onthou goed dat my ma se Volksie se tenk met minder as R10 volgemaak kon word. Goedkoop roomys het 3 sent gekos, duur, deftige roomys 9 sent. Toffies was 2 vir ‘n sent.

Ek het nog nie by my ousus se opdragwerk uitgekom nie – die “baie bietjie vir niks” besigheid. Gelukkig het sy nie gesê ek moet met die stelling saamstem nie. Ek dink tog mens kan heelwat kry vir niks. Dis nou as mens in geld-terme dink. Daar ís heerlike dinge wat niks kos nie: dinge soos tyd saam met lekker, liewe mense; trotse oomblikke as mense vir wie jy lief is, moeilike dinge regkry, prestasies behaal, struikelblokke oorkom, drome bewaarheid, doemprofete verkeerd bewys. Onvergeetlike gevoelens wat mens oorweldig as jou kinders pasmaats kry wat soomloos in die gesin inpas, hulle eie grootmens-lewens met soveel grasie en sukses bou, ‘n klein mensie ‘n hele familie se harte oorneem.

Dit is waar dat baie min dinge regtig heeltemal verniet is. Daar is gewoonlik tog een of ander inset nodig. As jy vertroue belê, kry jy dikwels ‘n lekker verrassing terug. Vir vriendelikheid kry jy gewoonlik ook hartlikheid in ruil. Gee ‘n glimlag, en die rente daarop is partykeer sommer ‘n lekker skaterlag. As jy iemand ‘n tweede kans gee, al is dit onverdiend, kry jy baie keer ‘n leeftyd se lojaliteit daarvoor.

Die omgekeerde is ook waar. Knor, dan blaf iemand terug. Verwag die ergste, dan gebeur dit. Wees wantrouig, dan wys mense hoe onbetroubaar hulle is. Twyfel in jouself, dan gaan jy waarskynlik misluk.

So ja, dit is waar – mens krý net ‘n bietjie vir ‘n tiekie. Maar afhangend van hoe slim jy jou tiekie of jou niks belê, kan jy dalk bietjie meer as baie bietjie vir niks kry!

Categories
Die Lewe

Kom ek dra jou bietjie …

Party mense op sosiale media sit net en wag vir ‘n geleentheid om te kritiseer en lelik te wees. Regtig. En dan, dalk nog erger, is daar dwase soos ek wat telkemale nie die versoeking kan weerstaan om op hulle idiotiese opmerkings te reageer nie. Ja, jaaaa, ek weet – mens moet hulle ignoreer, maar ai, partykeer is dit net te erg.

Onlangs was daar ‘n dierbare kort video van ‘n klein seuntjie, seker net ouer as ‘n jaar, wat vir die eerste keer die see beleef. Hy is nog redelik onvas op sy voetjies, maar hy kraai van plesier oor die water wat so aangerol kom. Hy maak ooglopend oogkontak met die persoon wat besig is om hom af te neem, verloor sy balans en val op sy bas – wat net nóg meer laggies veroorsaak. Die water is nie eens so hoog soos die kleinding se enkels nie. Sal daar nie sowaar ‘n suurknol wees wat gal afgaan oor die kind dan nou sonder ‘n ouer in die see is nie. Ag nee rêrig. Ek kon toe nie die nodige selfdissipline toepas nie en het die persoon daarop gewys dat dit sonder twyfel ‘n meermin of ‘n moordvis is wat die kamera vashou. Ekskuus. Ek moes net.

Nou sien ek ‘n video van ‘n pappa wat met sy dogtertjie van seker so 4 of 5 stap. Sy begin huppel. Hy ook. Nadat hulle ‘n entjie so saam gehuppel het, stop hy en haal sy sonbril af. Hulle kyk na mekaar. Miskien is dit my verbeelding, of my ouma-hart, maar ek sien hoe sy hart smelt, en hy buk vooroor, tel haar op druk haar teen hom vas. Dan, net voordat die video eindig, begin hy loop, met haar nog in sy arms. Dis hartvertederend mooi!

Maar sowaar, daar is mense (meer as een, glo my!) wat die hele punt mis. Sal hulle nou waaragtig ongevraagde raad aanbied oor hoe belangrik dit is dat kinders self moet loop?! Die kind is te groot om gedra te word. Sy gaan heup-moeiliheid kry. Een bied selfs haar eie navorsing aan oor die kind se voete wat verby die pa se knieë hang, en dat dit nou kwansuis die maatstaf is. Die voete mag glo net by die heupe wees van die persoon wat die kind dra, of so iets belagliks.

Luister nou mooi. Géén kind is te groot om gedra te word nie. Nooit nie. Veral nie as daardie kind nou net saam met haar allergrootste held gehuppel het nie! Dan is die beste ding wat haar kan oorkom, dat hy haar ‘n drukkie gee en ‘n bietjie dra – vir so ver as wat hy, en sy, wil.

My kinders is grootmense. Al wil ek, kan ek hulle nie meer optel en dra nie. Maar ai, hoe wens ek ek kon! Vir hulle veral, en ‘n paar ander naby-aan-my-hart mense. Net sulke klein entjies, wanneer die lewe se opdraende-paadjies te lank of te steil raak, die dorings te veel, die sand te warm, of die bene sommer net te moeg. So, al kan ek dit nie fisies doen nie, hoop ek my kinders verstaan dat hulle áltyd hulle arms kan uitsteek en dat ek nóóit sal sê hulle moet self loop nie. Selfs al erken hulle nie eens dat hulle bietjie hulp nodig het nie, sal ek hulle solank ek kan, optel en dra. Partykeer net ‘n vinnige oplig oor ‘n hindernis, ander kere sommer so op my rug deur ‘n doringbos of oor vassit-sand.

Soms is dit nodig om hulle op my nek te tel sodat hulle vér kan sien, bo-oor al die dinge in die pad. Ander kere, dalk, is hulle net bietjie moeg van die elkedagse dinge. Maar solank ek hier is, sál ek hulle optel. Maak nie saak waar hulle voete hang nie!

Categories
Motivering

Sit, Bytjie! Jy kan nie vlieg nie …

Volgens die fisika-wette is ‘n heuningby se lyf glo te rond om aerodinamies te wees. Daardie ronde lyfie is ook te breed en te swaar in verhouding met die klein vlerkies, en behoort nie eens te kan opstyg nie, wat nog van in die lug bly.

Wel, ek hoef net een koffie lank op my stoep te sit en my lavender-bosse te bekyk, om te bevestig: die fisika-slimkoppe sit hierdie heuningpot totaal mis. Vet lyfies en klein vlerkies ten spyt, die bye laat waai!

Toegegee, hulle vlieg nie so moeiteloos en vinnig soos hulle muskiet-familielede nie. Hulle is nie so visueel treffend soos die skoenlappers nie, en ook nie so indrukwekkend grasieus soos die naaldekokers wat waaghalsig oor die swembad toertjies doen nie. Maar hulle vlieg, zoem, en werk sonder ophou.

Gelukkig is die bye onbewus van die fisika-doemprofete. Sê nou hulle kon hoor of lees wat oor hulle gesê word, en het besluit om dit te glo? Nie net sou my stoep-kuiertjies minder vermaaklik gewees het nie, maar sóveel blomme sou nie blom nie, die hele ekosisteem sou ineenstort … en waar sou ons heuning kry? Katastrofies, om die minste te sê.

Dit laat my dink dat mens soms maar net die sogenaamde slimmes moet ignoreer. Daardie wat so graag “wette” uitvaardig om jou vlerke te knip. Dié wat ongevraagde waarskuwings uitreik en dit met swaar ysterballe en dik kettings aan jou enkels vasmaak: Jy kan dít nie doen nie, jy is te jonk. Jy is te oud, moenie dát doen nie. Díé is te gevaarlik, dááí sal nooit werk nie. Hierdie risiko is te groot, daardie verandering te ingrypend. Hoe kan jy jou kind só grootmaak, dit is onverantwoordelik. Jy kan nie só dink nie, dis radikaal. Moenie sús redeneer nie, van wanneer af is jy so rebels? Hoe op aarde kan jy dit toelaat / aanpak / goedkeur? Die wetboek is dik, en nuwe volumes kom gedurig by. Afkeurende koppe skud, waarskuwende vingers swaai.

Leer by die bye: jy sal dalk net jou vlerkies vinniger, harder en langer moet klap … maar jy KAN vlieg, en op die koop toe ‘n hele blomwêreld help voortbestaan. En as ‘n bonus is daar nog heerlike heuning ook as beloning.

Vergeet van fisika – zoem!

Categories
Die Lewe

Ek’s verveeld … en dis fantasties!

As onderwyser was verveling gelukkig selde my voorland – in my klas, met my kinders of studente, kan ek eerlik sê dat ek nooit verveeld was nie. Toesig hou in ‘n eksamenlokaal … dit was die toppunt van verveling. Sommige opleidingsessies ook – ek kry steeds kollegas jammer wat tydig en (veral) ontydig werkswinkels en kursusse moet bywoon.

Waaroor ek vandag dink, is die feit dat kinders deesdae amper nie meer weet wat dit is om verveeld te wees nie. En dis jammer! Ja, ek weet dit klink of ek myself weerspreek, maar ek glo vas dat kinders partykeer verveeld móét wees. Dis nodig dat hulle met oordrewe hangskouers moet vra: “Wat kan ek doen??” En dan moet Ma sê: “Gaan speel!”

Die probleem met hierdie scenario (wat eintlik meer ‘n kinderdae-herinnering is) is net dat ek twyfel of daar veel kinders is wat daardie vraag vra, en ook dat ek regtig wonder of die bloedjies sal weet wat “Gaan speel” beteken. Daardie instruksie se konteks het totaal verander. Ongeorganiseerde en on-elektroniese speel is nie meer iets wat baie kinders ken nie.

Toe ek en my sussies as kinders aangesê is om te gaan speel, was ons opsies baie. Ons het min speelgoed gehad, want ons was 7 kinders … ons was mekaar se lekkerste speelgoed! Dan was daar die swaai wat my pa self gemaak het – en wat diens gedoen het as trein, vliegtuig, ruimteskip, boot, oorlogskip, na gelang van die verbeelding-speletjie op daardie dag. Daar was bome om te klim, springtoue en -rekke, ‘n sproeier met lekker koue water vir afkoel op ‘n warm dag, komberse wat die groot tuintafel kon omskep in ‘n huis, ‘n hospitaal, ‘n kasteel, ‘n tent, ‘n winkel, ‘n kerk, ‘n modderkoekie-fabriek … die moontlikhede was eindeloos. Die sementblad by die wasgoeddraad was ‘n lekker klaskamer vir skool-skool speel. Daar kon ook ‘n lekker “hop scotch” baan geteken word. Ons het ‘n hele repertoire van speletjies gehad wat variasies van hardloop en spring, jaag en vang, wegkruip, en balspeletjies behels het. Verveeld wees was onbekend. Daar was altyd iets om te doen.

Hierdie swaai wat my pa in die 1960’s gemaak het, net met nuwe verf, het nog ‘n ereplek in my tuin.

Ek weet vandag se kinderwêreld is anders. Kinders kan nie meer sorgeloos paddavissies langs die treinspoor vang, en ‘n buurt-krieketwedstryd onder die straatligte speel nie. Hulle het baie aktiwiteite om by te woon, sport-, akademie- en kultuurdinge om te doen. Die mure tussen huise verhoed dat buurkinders mekaar ken, wat nog van saam speel? Speel by ‘n maatjie gebeur op afspraak, en amper niemand het meer so baie sussies of boeties nie. As daar ‘n rare ledige oomblik opduik, is daar gewoonlik ‘n skerm van een of ander aard waarmee hulle hulle hande en gedagtes besig hou. Ja, hulle het soveel meer geleenthede, stimulasie en uitdagings, en dit is nie ‘n slegte ding nie.

Maar ek wonder tog … sou dit nie dalk, net dálk, partykeer vir hulle lekker of goed wees om net ‘n bietjie verveeld te wees nie?

Categories
Die Lewe

Gevaar! Bly weg!

Daar is baie gevaarlike plekke op ons klein planeet. Daar is ‘n vallei in die VSA op die grens van die Mojave woestyn, heel gepas genoem Death Valley, wat bekend is vir die hoogste temperature. ‘n Allemintige 56.7°C is al daar gemeet. Dave Legeno, die akteur wat die rol van Fenrir Greyback in die laaste drie Harry Potter flieks gespeel het, is daar oorlede tydens ‘n staptog.

Dan is daar ‘n eiland aan die kus van Brasilië, waar daar 5 slange per vierkante meter is – Bothrops insularis – dodelike, giftige slange wat nêrens anders ter wêreld aangetref word nie.  Ilha da Queimada Grande is waarvan my nagmerries gemaak is, en omdat hierdie slange só dodelik is dat die kans om te oorleef as jy gepik word, slegs 7% is, selfs mét teengif, word niemand behalwe wetenskaplikes op die eiland toegelaat nie, en dan slegs as ‘n dokter, gewapen met teengif, saamgaan.

Tog dink ek daar is twee plekke wat nóg gevaarliker is as bogenoemde twee. Die son gaan jou nie daar doodbrand nie, en slange gaan jou nie pik nie. Jy gaan hulle nie op ‘n kaart of met ‘n GPS kry nie. Maar wees gewaarsku!

Die eerste een is jou gemaksone. Die naam klink onskuldig en gerieflik, maar dit is juis wat dit so gevaarlik maak. Jy gaan nie dramaties en pynlik daar sterf nie – inteendeel. Jy gaan net stilletjies daar rondhang, jy gaan beslis heel snoesig voel … maar dis die lokval! Jy gaan nie groei nie, nie ontwikkel nie, niks nuuts leer of probeer nie. Stilsit as sulks is nie so verkeerd nie. Die gevaar is net, dat as mens nie vorentoe gaan nie, kan jy dalk agteruit gaan! En dít is waarvoor ek bang is.

Die volgende dodelike plek het sover my kennis strek, nie eens ‘n naam nie. Dis daardie plek waar jou ego regeer en jou verhoed om enigiets anders te sien en te waardeer. Seker soos op daardie Brasiliaanse eiland – daar moet tog seker plante daar wees, dalk ‘n mooi strand, dit ís immers ‘n eiland? Maar wie gaan iets moois raaksien as jy heeltyd op die uitkyk moet wees vir aaklige adders? Goed, dan doop ek nou sommer dié plek Ego-eiland. Want as jy heeltyd gaan glo dat jý die middelpunt van elke situasie is, ontneem jy jouself die luukse van perspektief, balans, en die waarheid!

Die groot gevaar van die laaste twee plekke is dat dit moeilik is om hulle te vermy. Ek kan maklik waarborg dat daardie hel-vallei in Amerika my nooit sal sien nie, en die slang-eiland nóg minder. Maar die gemaksone bekruip ‘n mens … voordat jy dit besef, is jy daar! Dieselfde met die Ego-eiland … daardie ek-sonnetjie skyn darem so lekker warm.

So, hoe nou gemaak? Wees maar net versigtig. Soek bewustelik na nuwe dinge, pak klein en groot uitdagings aan, leer iets. Sit ‘n toon buite jou gemaksone; later ‘n hele voet, en spring dan sommer heeltemal uit. En wat daardie ego betref – onthou net jý is nie altyd die spil waarom alles draai nie. Moenie almal se vloerlap wees nie, maar kyk net wyer as die spieël van jou eie self.

Jou wêreld hoef nie so gevaarlik te wees nie. Jy weet mos waar is die twee groot landmyne – trap hulle mis!

Categories
Die Lewe

Boikot hulle!

Die beginsel “kinders word gesien en nie gehoor nie” het my kleintyd al gepla. As ek nie gehoor moet word nie, hoekom het ek dan ‘n mond? Dit was dié tipe vraag wat my ma inspireer (of dalk irriteer) het om te voorspel dat ek eendag ‘n professor gaan word. Ek het toe pas bewus geword van die “-es” wat aan ‘n woord gelas kan word om ‘n vrou aan te dui, so in my kinderlike waaghalsigheid het ek my ma meegedeel dat ek ‘n professorés gaan wees. Ek onthou hoe sy daarna baie keer my vrae en redenasies geantwoord het met ‘n gelate (of dalk moedelose): “Ai, ou professores!” en my ‘n antwoord skuldig gebly het.

Deesdae het elkeen die reg om kla, te protesteer en te rebelleer. Dis goed so – menseregte, kinderregte, vrouregte, verbruikersregte en al hulle maats het op baie maniere die wêreld beter en regverdiger gemaak. Wat my wel soms effens irriteer, is die ewige boikottery. Ek praat nou nie van grootskaalse boikotte en sanksies in die wêreld-arena nie – die wêreld kan gerus vir Poetin en ander monsters gedaan boikot. Nee, ek het dit vandag oor Jan en San Alleman wat hullesélf straf deur te besluit om Maatskappy A of TV-kanaal B te boikot omdat daar iets gedoen, gesê of uitgesaai is wat nie strook met hulle (soms onlogiese) idees nie. Hierdie boikot-aksie word dan met groot geraas aangekondig en almal word opgesweep om daarby aan te sluit – totdat die besef kom dat dit bra ongemaklik is om sonder daardie sondebok se dienste klaar te kom. Stil-stil verdwyn die hele aksie dan maar onder die mat in … dié keer sonder ‘n geraas, ketting-teksboodskappe en video’s op sosiale media.

O ja, dit sou lekker wees om vir Eskom te boikot, die brandstofmaatskappye, my munisipaliteit wat nie dienste lewer nie, sommer vir SARS ook wat my geld gebruik om lui, onbekwame en slegte ministers te betaal. Ek sou dit geniet om met my geld in my sak, my duime in my ore te steek en vir hulle “wéla-kapêla” te sing. Ongelukkig wen die harde werklikheid, en ek besef die enigste boikotte wat effektief gaan wees vir ons gewone mense, is dié wat ons eie lewensruimte gaan opruim. Ek het ‘n lysie van drie aanbevelings:

My eerste veldtog is teen mense wat aanhoudend in jou ore teem, kla en skinder oor dinge wat nie hulle óf jy kan verander nie, wat eintlik niks met jou te doen het nie, en net die atmosfeer versuur en verswaar. As hulle nou regtig nie jou blatante voorstelle om oor lekker dinge en gawe mense te gesels, wil aanvaar nie, boikot hulle!

Volgende is mense met die self-opgelegde opdrag om te oordeel. Laat hulle maar vingers wys en swepe klap, maar verskoon jouself. Iewers is gras wat groei, en jy moet gaan toesig hou.

Laastens, ‘n paar mense wat nie langer ‘n plek onder jou vlerk verdien nie. Jammer. Ek weet dit klink dalk harteloos, maar ‘n mens kan net sóveel keer inspring, uithelp, raad gee, troos, raas, daar wees. As hy of sy dan nou regtig elke keer wil terugklim in die modder, laat hulle so maak, maar sonder jou. Gaan help solank iemand wat gehelp wíl wees.

My ma se voorspelling het toe nie waar geword nie. Ek is nié ‘n professor of ‘n professores nie. Maar ek is slim genoeg om te kies waar en met wie ek my ruimte deel en my tyd spandeer. My fisiese en emosionele energie is ‘n kosbare kommoditeit en ek wil nie my ruimte vol negatiwiteit hê nie.

Categories
Die Lewe

Vingerspore

In my onderwysdae is ek ‘n paar keer onkant gevang deur die heftige reaksie van kinders as ek hulle selfone moes konfiskeer. Dit het gelukkig nie té gereeld in my klas gebeur nie, en wanneer dit wél gebeur het, het ek hulle altyd self die foon laat afskakel en oorhandig. Ja, ‘n onnie moet maar fyn trap tussen die pietersielie van kinders se regte …

Vandag wonder ek oor volwassenes se selfone, en hoe heftig húlle sou keer as iemand dit wou afneem. Wat sê die “inhoud” van die klein instrument van ons? Kom ek ontleed gou my sel-voetspoor – of seker liewer vingerspoor!

Die foto’s op my foon gaan dadelik verklap dat ek totaal verlore-verlief is op Lisa-liefie. Vir elke 10 Lisa-foto’s is daar so 3 of 4 van my ander kinders, my diere en my tuin. Dit is darem niks om oor skaam te wees nie – hierdie verslawing is nie dodelik of nadelig nie. Dis maar net wat oumas doen.

Die inhoud van my recycle bin (wat is sy naam in Afrikaans?) gaan my dadelik ontmasker as ‘n hater van soetsappige, generiese prentjie-boodskappe wat my ‘n “geseënde daggie” of “soete droompies” toewens. Wens my gerus en asseblief mooi dinge toe, maar doen dit in jou eie woorde en verkieslik sonder oormatige verkleinwoordjiedjies. As jy sukkel om te tik, stuur sommer ‘n stemboodskap, dis lekkerder om jou stem te hoor as ‘n prentjie vol beertjies, blommetjies en hartjies, of biddende hande en kerse. Askies hoor. Maar dis hoe dit is.

Facebook … ‘n groot klikbek. My blad gaan wys dat ek ‘n blogger is, dat ek lief is vir babas (eintlik maar Lisa), diere, boeke en mooi en slim aanhalings. Partykeer getuig ‘n plasing daar van ‘n aweregse humorsin (of dalk sommer moedswilligheid) en nou en dan, ten spyte van gereelde voornemens om dit nié te laat gebeur nie, laat vang ek my in die wip van irritasie en lewer óf kommentaar op een of ander onbekende stommerik se twak, óf plaas sommer my eie tirade. Mens moet nie die trolle voer nie, ek weet. Maar partykeer is dit net te erg en my weerstand te broos!

My lys van kontakte bevat name wat ‘n vreemdeling dalk gaan stomslaan. Daar is mense soos Hennie Vuilgoed, Japie Hek, Susan Koek en Roger Toilet. Nee, dis nie venynige byname nie; ek bêre maar net die mense só dat ek hulle maklik kan opspoor as ek hulle dienste benodig.

Daar is ook nog die lysie van die dinge waarna ek onlangs in Google se onbeperkte ensiklopedie gesoek het. Dit lyk my, as ek so na my soekgeskiedenis kyk, of ek gedurig lees oor boeke, hulle skrywers, flieks en TV-stories en die akteurs daarin en dan (seker tipies onnie) gaan ek plekke, datums, gebeure en mense na wat ek in historiese fiksie teekom. Ek het, so lyk dit, ook ‘n voorliefde vir skynbaar nuttelose feite. Hoeveel spiere is in ‘n hond se oor? Wat is Barbie se volle naam? Hoe lank lewe ‘n naaldekoker?

Daar is net twee speletjies op my foon – albei woordspeletjies, een in Engels en een in Afrikaans. Eskom se toep is daar, natuurlik, en dan Netwerk24 met tonne leesstof. Dis waar – aan jou selfoon sal jy geken word!

Categories
Humor

Kom ek bieg nou maar oor my vrese …

My pa het graag gesê: “Skrik, skaam en bang is sommer aanwendsels.” Pappa Tom was baie wys, ja. Maar ek weet darem nie. Veral skrik … dis mos onwillekeurig, dan nie?

Aangesien ek verlede keer so skaamteloos (of dan vreesloos) aangedring het dat ons minder bang moet wees, is dit nou seker tyd dat ek moet bieg waarvoor ek bang is. Nou goed dan. Ek kan darem sowaar nie maak asof ek geen vrese het nie!

Ek het al erken dat ek bang is vir slange. Ek is só bang dat ek my voete oplig van die grond af as daar ‘n slang op TV is. Ek is ook bang genoeg dat ek nie genoeg oor hulle lees om regtig te weet watter giftig en watter onskadelik is nie. Ek probeer maar net wegbly van alle pootlose, skubberige goeters. In Thailand was daar een dag ‘n giftige slang in my kantoor. ‘n Kollega het dit kom verwyder en my van my lessenaar af gehelp. Die slang is knap voor die kantoor in ‘n stukkie gras vrygelaat, want Boeddhiste maak mos nie onnodig iets dood nie. In daardie stukkie gras was die waterkraan waar ek my teebeker uitgespoel en my hande gewas het. Tot daardie dag.

Spinnekoppe, ja … nou nie in dieselfde klas as slange nie, dalk omdat ek meer met hulle paaie kruis. Maar ek gaan beslis nie ‘n tarantula as troeteldier aanhou nie. Ek kan wel hier berig dat ek in my dae as onderwyser by ‘n seunskool, ‘n tarantula gestreel het toe haar eienaar (ja, dit was ‘n wyfie en haar naam was Rosy want sy was pienk en sag) haar saamgebring het as die “show” deel van ‘n “show and tell” mondeling. Die beginsel in dié geval was dat dit by daardie skool glad nie ‘n aanbeveling was dat die seuns jou vrese ken nie. Vir daardie einste rede het ek eenkeer ook ‘n baba-slangetjie, vars uit ‘n miershoop op die rugbyveld gegrawe, vasgehou, en moes ek hom toe ook as yslike volwassene ‘n hele foto-dag in my klas aanhou (darem in ‘n boks) want “al die ander juffrouens is te bang!” Ai, my seun, as jy maar net geweet het – maar gelukkig het jy nie! Ek moet sê, ek is nie tydig en ontydig soos party kollegas verras met gediertes op my stoel en in my laaie nie, want volgens die karnallies was ek mos nie bang nie.

Foto: Newsweek

Ek is nie bang vir die see nie, maar wel vir die gediertes daarin, en ook vir die krag van daardie baie water. Ek sit dus ure lank op die strand en kyk vir die mooi see, luister na die mooi geluid, kyk vir die mense en luister na hulle geraas. Maar ek swem nie in die see nie. Daarvoor is daar swembaddens. Ek het op ‘n bootreis saam met my manlief gegaan, en dit baie geniet, maar ek was net één keer op ons kajuit se balkon – vir ‘n baie vinnige fotosessie!

Ek is nogal bang vir hoogtes. Nie verlammend bang nie, ek het byvoorbeeld al in die Tsitsikamma-woud ge”zipline” en dit baie geniet. Maar by die rekspronge van die Bloukransbrug af, het ek die streep getrek. Ek geniet ‘n mooi uitsig en is versot op mooi berge, maar ek gaan beslis nie op die randjie van ‘n hoë krans vir foto’s poseer nie, en hou nie daarvan as my mense dit doen nie – wat natuurlik beteken hulle doen dit gedurig!

Ek weet nie altyd waar lê die grens tussen bang en grillerig nie. Ek is nie bang vir water nie, daarvoor is ek te lief vir swem, maar ek swem nie graag in vuil water nie. Ek moet kan sien wat swem saam met my. My maatstaf is dat ek my tone moet kan sien. Swem in riviere en damme is dus uit, maar ‘n lekker skoon riviermonding by die see is vir my heerlik. ‘n Groen, of selfs net troebel swembad is nie eens onderhandelbaar nie. Dalk is dit net fiemies, maar ek ís mos nou besig met ‘n biegsessie …

Ek weet ek is dalk veronderstel om bang te wees vir oud word. Eintlik is dit seker nou al te laat daarvoor. Gedane sake … Maar dis nou een van daardie dinge – as ek dit vrees, gaan dit nie weg nie. Waarvoor ek wél bang is, is dat saam met die ouderdom, ek dinge gaan verloor wat vir my belangrik is – soos die vermoë om te lees, musiek te luister, met my hande te werk, helder te dink, te onthou. Maar ek gaan beslis nie in ‘n hoek sit en bang wees daarvoor nie, daarvoor is daar nie tyd nie. Ek probeer liewer alles wat ek kan om dit te voorkom. Ons sal maar moet sien of dit werk!

Tong in die kies, sal ek my laaste vrees hier deel. Ek is bang die hemel is dalk ‘n regte plek en al die goeie mense van alle tye is daar bymekaar, elkeen toegerus met ‘n harp. Want dit is twee goed waarvoor ek ook nogal bang is: om vasgekeer te wees in ‘n plek saam met ‘n baie groot klomp mense, met te min plek en te min asem. Dit, en ‘n groot geraas …

Categories
Die Lewe

Bêre bietjie vir Bang!

Dis ‘n baie individuele ding, dié ding van bang wees. Een mens se vrees is ‘n ander een se liefde – dink byvoorbeeld aan slange en spinnekoppe. Een ou is doodbang vir spoke, die volgende ou glo nie daaraan nie, en nóg een jag spoke! Wat ons almal egter in gemeen het, is dat ons te veel energie en tyd in bang wees belê. En dis tyd dat ons ophou daarmee.

Ons eerste redelik algemene vrees is Die Ergste. Ons bewe behoorlik oor die Ergste Wat Gaan Gebeur. Nie KAN gebeur nie, GAAN gebeur! Ons vertrou vir Murphy absoluut. Die ekonomie gaan ineenstort, die kragnetwerk gaan inplof, petrol gaan onbetaalbaar en/of onbeskikbaar wees, kos gaan opraak, mediese dienste gaan verdwyn, die Rand gaan waardeloos wees. Inspuitings en inentings gaan ons doodmaak of in magnete verander. Wel, mens weet nooit. Party hiervan is dalk nie onmoontlik nie, hoewel ek glo die meeste is onwaarskynlik. Maar kan ons ophou bang wees, mekaar ophou bangmáák, asseblief?

Meer algemeen is ons vrees vir mekaar. As iemand anders as ek lyk, is ek bang vir hom. Kan ons nou oor dit kom, asseblief? Skelms, luiaards, moordenaars, diewe, bedrieërs, miljoenêrs, geniale mense, helde en helpers kom in alle gedaantes. Al praat iemand nie my taal nie, kan ons steeds dieselfde dink, droom en glo. Iemand wat net die helfte, of dubbeld, so oud soos ek is, kan onverwags baie raakpunte met my hê … al loop hy met ‘n loopraam of al dra hy ‘n neusring en ‘n geskeurde broek. ‘n Meisie met ‘n borselkop of pers hare, ‘n man met ‘n bolla of rasta-lokke kan aan die binnekant van daardie kop ‘n skatkis van wysheid dra waaruit ek sou kon leer … as ek net nie so bang was nie!

Ons is grootgemaak met ‘n (on)heilige vrees vir die duiwel. Gelukkig het ek daardie vrees ontgroei, maar so baie mense gee steeds die duiwel krediet waar hy dit nie verdien nie en sien hom waar hy nie is nie. As jy Harry Potter of Liewe Heksie lees, Pink Floyd of Koos Kombuis luister, ‘n tatoe het, swart naellak dra … moenie vergeet van sekere musiek wat agteruit geluister moet word nie … is jou siel verlore. Ek dink my vrees vir slange is deels te wyte aan die vreesaanjaende prentjie in my nefie se kinderbybel van Eva se konfrontasie met die duiwel in slang-gedaante: vurige oë, bloeddorstige tande en ‘n verskriklike tong. Dis ook dalk hoekom ek nie baie lief is vir appels nie …

Verandering. O aarde, dis massief. Die mite dat alles wat nuut is, gevaarlik is, is die kern van sóveel vrese. Ek kan dit met ‘n persoonlike staaltjie illustreer. In my jare as onderwyser op die platteland, moes ek een jaar Tik (die destydse skoolvak, nie die dwelm nie!) vir graad 10 aanbied. Dié jaar het saamgeval met die groot besluit dat plaaswerkers se kinders ook die dorpskool kon bywoon. Die meeste van daardie kinders het nie elektrisiteit geken nie. Die vrees op die gesigte as die elektriese tikmasjien aangeskakel word, met liggies wat flikker, bliepgeluide en beweging, was hartroerend. Maar nét so aangrypend was daardie spierwit, ekstatiese glimlagte as hulle uiteindelik sover kon kom om versigtig aan die toetsbord te raak en a s d f op die wit papier tik! Om nie eens te praat van die opgewondenheid wat gegroei het soos die vrees afgeneem en die vaardigheid toegeneem het nie. Ons ontneem onsself sóveel plesier en gerief omdat ons bang is vir nuwe dinge. Die kitsbank het toe nie al jou geld gesteel nie, die mikrogolf het nie jou brein gebraai nie … jy was verniet bang. Probeer nou selfoon-bankdienste, maak ‘n video-oproep of koop iets aanlyn – jy gaan waarskynlik oorleef én dit geniet!

Die meeste mense is bang vir die dood. Dis verstaanbaar, want dis vreemd. Niemand het al teruggekom en kom rapporteer hoe dit is om dood te gaan of dood te wees nie. (In elk geval nie iemand betroubaar nie.) Maar hierdie vrees om dood te gaan, maak sin – dit maak ons minder onverskillig, moedig ons aan om gesonder te lewe en nie moeilikheid te soek met groot ouens nie! Wat nié vir my sin maak nie, is die vrees vir die lewe wat ons toelaat om ons te kniehalter. Ja, natuurlik is party dinge uitdagend, selfs vreesaanjaend. Maar komaan, wat is die ergste wat kan gebeur? En meer belangrik, gaan vrees ‘n verskil maak?

Hou op bewe. Bêre vir bang. Lééf bietjie!

Categories
Die Lewe

Klikbek-woorde

Ek herinner mense graag daaraan dat Afrikaans ‘n lewende, groeiende taal is. Wel, natuurlik is dit. Woorde soos webwerf, stemboodskap, pendeltuig en afstandbeheer was beslis nie in die woordeboek toe ek op skool was nie. Aanlyn-inkopies het nie bestaan nie. Ons het natuurlik geweet van media, en o, ons was vreeslik sosiaal, maar die twee woorde as samestelling het nie bestaan nie. Beurt en krag ook nie, maar dit is ‘n klaaglied vir ‘n ander blog, nóg ‘n nuweling.

Onlangs het ek na ‘n nuusbulletin geluister wat omtrent 5 minute geduur het. Ek luister gereeld nuus, maar wat my dié keer opgeval het, is die spul woorde, meestal werkwoorde, wat nie juis nuut is nie, maar wat deesdae baie meer as ooit gebruik word. Almal stérk woorde, gelaai met emosie en aggressie, wat baie verklap oor ons wêreld, die mense daarin en ons doen en late.

Groepe mense ruk op na verskillende ministers se kantore. Iemand organiseer ‘n protes-aksie. Iemand anders oorhandig ‘n beswaarskrif. Iewers dreig ‘n despoot om ‘n missiel te lanseer, terwyl ‘n ander een sanksies verskerp of ‘n embargo instel. Talle dispute word binne en buite die hof betwis, daar word klagtes gelê, sake aanhangig gemaak en enkeles word darem geskik, dankie tog. Rentekoerse word verhoog, maatreëls word verskerp. Vlugtelinge word asiel geweier en mense word gedeporteer of gerepatrieer.

Dit sal nie die nuus haal nie, maar ek hoop iewers is daar ook vandag mense wat dinge doen wat sagter op die oor val. Dalk kinders wat sorgeloos speel, iemand wat ontspan of mymer. Hopelik ‘n paar lawwe siele wat giggel, proes of selfs skaterlag. Miskien is daar mense wat mekaar vertroetel, terg, koester of liefkoos. Wanneer laas het jy iemand sien huppel, of dalk bollemakiesie slaan? Ek hoop daar is mense wat vanaand rustig insluimer, dan heelnag soos ‘n klip slaap en môre verfris wakker word. Dis ‘n mondvol, ek weet.

Miskien moet ek hoop vir kleiner dinge, soos dat mense doodgewoon sal onthou om te glimlag, te groet, mekaar te help, of na mekaar uit te reik. Mekaar probeer verstaan, ander te aanvaar, soms bietjie toegee, dalk selfs vergewe … is dit baie gevra?

Categories
Die Lewe

Die bal in die rof

Terwyl ek as jong onderwyser baie senuweeagtig gewag het vir my eerste matriekklas se uitslae, het my mentor en skoolhoof, mnr Stoffel Ellis, vir my ‘n baie belangrike les geleer. “Slim kinders,” het hy op sy gebruiklike kwaai brom-manier gesê, “kan self hulle onderskeidings kry. Hulle het nie juis ‘n goeie onderwyser daarvoor nodig nie. Dis daardie enetjie wat eintlik moes druip, wat jy gehelp het om deur te kom, wat jou eintlike prestasie is, want hy sou dit nie sonder jou kon doen nie.” Net ingeval ek nie verstaan het nie, en tipies onderwyser, het hy ter illustrasie bygelas: “Selfs ‘n gemiddelde gholfspeler kan op die setperk ‘n goeie hou slaan. Maar die goeie speler speel ‘n goeie hou uit die ruveld uit tot op die setperk.” Toe teug hy diep aan sy immer-teenwoordige sigaret, wikkel sy ruie wenkbroue, en stap weg.

Foto: World of Golf

Onlangs is die matriek-uitslae bekendgemaak. Pragtige ster-kinders is met reg gelukgewens en vereer vir spogpunte. Met blink oë en stralende glimlagte het hulle geborrel oor hulle toekomsdrome. Welverdiend en inspirerend. Baie van hulle sal nog ver kom, hulle merk maak.

Tussen al dié suksesverhale het een my meer as die ander geraak. Dié matrikulant, Alex Nortjé, is 20, ouer as die meeste ander nuusmakers. Hy moes ‘n graad herhaal en het tussen die ouderdomme van 11 en 14 albei sy ouers, sowel as sy broer, aan selfdood afgestaan. Hy het amper self moed opgegee, maar danksy bystand van wonderlike mense, ‘n goeie skool en ongetwyfeld sy eie innerlike krag, het hy deurgedruk en kan nou uitsien na die verwesenliking van sy droom, om ‘n dieselwerktuigkundige te wees. Hy het reeds met sy vakmanskap begin.

Dié verhaal het my geraak, maar my ook (weer) laat dink aan die ander, minder sigbare, presteerders – daardie wie se name en gesigte nêrens gepubliseer of uitgesaai word nie. Die wat sonder veel ondersteuning of aanmoediging maar moes regkom, dikwels onder moeilike omstandighede. Die amper-onsigbares wat nie slim genoeg was om opgehemel te word nie, maar ook nie stout of dom genoeg om vir al die verkeerde redes raakgesien te word nie. Werkies altyd gedoen, betyds ingegee, redelik netjies en omtrent reg. Maak nie praatjies met die juffrou nie, maar groet altyd vriendelik. Steek nie noodwendig die hand die hoogste op nie, maar antwoord as dit moet. Bunk nie klasse nie, maak nie moeilikheid nie. Speel nie in die eerste span nie, wen nie die redenaarstrofee nie, maar neem hier en daar deel, waar die kollig nie te veel is nie. Bereid om te help as hulle gevra word, al sal hulle nie noodwendig self hulle hulp aanbied nie.

Ek het met baie kinders paaie gekruis wat nie kon wag om uit die skool te kom nie – nie omdat hulle skool gehaat het nie, maar omdat dit waarin hulle regtig belangstel, nie deur enige van die skoolvakke gedek word nie. Hulle is vandag baie suksesvol en gelukkig, en van hulle was top-presteerders terwyl hulle vir hulle droom-beroepe opgelei is.

Meneer Ellis se gholfbal-les het my altyd bygebly, selfs toe ek van die platteland af geskuif het na ‘n stadskool, waar die ewige kompetisie tussen skole oor die meeste A-simbole ongenaakbaar was. Stil-stil het ek myself eerder op die skouer geklop oor die D-simbole wat nie te lank gelede nie, nog druip-punte was, en die B’s en C’s wat nou die dag nog C’s en D’s en swakker was: daardie balle wat in die ruveld gelê het, en tog in die gaatjie beland het. Ek weet mnr. Ellis het veralgemeen – natuurlik is daar kinders wat nagte deur werk om ‘n onderskeiding te beklink, en daarop is ek saam met hulle en hulle ouers baie trots. My punt (en syne, het ek later besef) is net dat ons nie daardie “middelkinders” moet miskyk nie. Vir baie van hulle was dit baie harder en langer ure se werk, en dus dalk ook ‘n groter prestasie. Die verskil wat daardie matrieksertifikaat in hulle lewens gaan maak, is dalk ook groter, wie weet?

Hierdie beginsel geld wyer as net matriekuitslae. Ons is dalk te geneig om net na die bopunt van elke grafiek te kyk. Ek sê nie die stert is belangriker as die kop nie. Ook nie dat prestasies onbelangrik is of maklik behaal word nie. Ek besef net dat die lyf, stilletjies daar tussen die stert en die kop, dalk nie altyd na waarde geskat word nie, en dat ons elke prestasie op eie meriete behoort te beoordeel.Vergelykings kan so onregverdig wees.

Categories
Die Lewe

Dankie, Professor Sprout!

Ek het in 2002 eers regtig van haar kennis geneem as Professor Sprout in “Harry Potter” – daarna het ek kort-kort iets van haar iewers raakgesien of -gelees. Miriam Margolyes. O, ek besef sy is nie almal se koppie tee nie. (Sy self drink glad nie eens tee nie, en sy is very British.) Sy kan ongemaklik kru wees, is baie uitgesproke oor haar politieke en ander oortuigings en (soos ek) het sy nie ‘n werkende filter tussen haar brein en haar mond nie.

Iewers in 2022 het ek haar outobiografie, “This much is True” gekoop, maar dit nooit gelees nie – te veel boeke, te min tyd. Onlangs beveel iemand dit aan (ek gaan nog eendag ‘n hele blog skryf oor die lekkerte as ‘n oud-leerling ook regtig lief raak vir goeie boeke.) en ek begin lees. Sommer in die heel eerste paragraaf skiet sy my tussen die oë:

“Where did my life go? There’s much I still want to do. What have I learnt? Have I done the best I could? Have I made a difference?” En bietjie later, steeds in die inleiding: “I’ve completed over five hundred jobs and relished every minute of them. But have I merely skimmed the surface?”

Dis ‘n mondvol! Eintlik ‘n hele paar monde vol. Gróót vrae wat elkeen gereeld behoort te vra. Ons moet nie wag tot ons ‘n hoë ouderdom bereik voordat ons begin wonder of ons ons tyd behoorlik benut het nie. Verstaan my mooi, ek is ‘n groot voorstander van tyd “mors”. Ek het ook al daaroor geblog – hoe lekker en belangrik dit is om partykeer net NIKS te doen, met oorgawe te ontspan en kop skoon te maak.

Maar as Miriam vra: “What have I learnt?” is dit groot. Ek glo nie sy praat van boekgeleerdheid nie. Persoonlik het ek baie, baie meer by mense geleer as uit boeke. Ek het die meeste van die kunsies wat ek as onderwyser gebruik het, skaamteloos by ander onderwysers afgekyk – my eie onderwysers, senior onderwysers onder wie ek begin skoolhou het, en ander kollegas. Dan het ek ook, dalk teen alle verwagtinge in, ongelooflik baie geleer by die mense, jonk en ouer, wat veronderstel was om by my te leer! En natuurlik, by baie ander mense met wie ek skouers geskuur en koppe gestamp het: dierbare vriendinne, terloopse kennisse, my slim pa, my liewe sussies, my dierbare man, my oulike kinders … die lys is lank. As jy hier lees, het jy my waarskynlik ook iets geleer, dalk sonder dat jy dit besef het – so, dankie!

“Have I done the best I could?” Gits, ek sal moet bieg dat ek soms kortpaaie gekies het, dikwels sommer handoek ingegooi het, partykeer plein drooggemaak het. Maar ek hét probeer. Regtig. Hard. Ander mense moet maar hier oordeel, net soos by die vraag in my laaste paragraaf.

As Miriam praat van die 500 werke wat sy gedoen het, is dit film-, TV- en teater-rolle. Ek dink ek klop haar op dié een. Ek het beslis in my loopbaan meer as 500 kinders en studente gehad, en ek tel elke een as ‘n werk. Soos sy, het ek elkeen as kosbaar beskou. Natuurlik het ek nie met almal ewe goed oor die weg gekom nie (al het die stoutes gewoonlik onwetend baie diep in my hart gekruip) maar tog – elkeen was ‘n uitdaging, ‘n projek op sy of haar eie en uiteindelik het die meeste my ‘n sug laat slaak: verligting, bevrediging, trots, blydskap, hartseer – die hele spektrum is behoorlik gedek.

“Have I made a difference?” Dis nogal aardskuddend. Elke verskil wat ‘n mens maak is nie noodwendig ‘n verskil ten goede nie. Ek glo ook nie dat ‘n mens bewus is van die verskil wat jy maak terwyl dit aan die gebeur is nie. Soos die bome wat jy plant vir die volgende geslag om onder te sit, jy weet? Ek hoop maar vir die beste. Iewers is daar darem ‘n paar oud-leerlinge wat moeite doen om kontak te hou … en lekker boeke aan te beveel! Dankie vir dié een, liewe Ruan!

Categories
Motivering

Maak ‘n lysie – en begin afmerk!

Ek was nog maar altyd ‘n lysie-maker, ‘n nota-skrywer en ‘n afmerker. Daar is net iets gerusstellend aan die feit dat ‘n baie besige dag, propvol potensiaal om in chaos te ontaard, ten minste iewers netjies en georden neergeskryf staan. Baie keer moes ek aan die einde van die dag ‘n paar dinge oordra na die volgende dag se lysie, maar die regmerkies langs die meeste punte het gesorg vir tevredenheid of ten minste darem verligting.

Vir 2023 hoef ek gelukkig nie vergaderings, vlugnommers, naamlyste, spertye en eksamendatums op te skryf nie, maar ek gaan tóg ‘n lysie maak en hoop om alles deur die loop van die jaar te kan afmerk.

  • Wees dankbaar vir groot dinge, maar veral vir klein dingetjies. Onthou dat die klein goedjies baie keer eintlik die groot goed is.
  • Soek na die positiewe in elke situasie. As dit moeilik is, of onmoontlik voel, soek harder.
  • Hou jou kop skoon. Daar is genoeg lekker en mooi dinge om aan te dink, en as daar nie is nie, luister na mooi musiek, lees ‘n goeie boek, kyk na iets moois. Of bel ‘n lekker mens.
  • Gooi weg. Onnodige goed, oortollige goed, goed wat jy nie gebruik nie. Die asblik is nie die enigste plek waarheen hierdie dinge hoef te gaan nie. En terwyl jy besig is, gooi ook sommer uitgediende gewoontes, idees en wrokke uit!
  • Leer nuwe dinge, al is dit net ‘n breipatroon, naaldwerktegniek of selfs ‘n speletjie. Wat van ‘n taal, of ‘n uitdagende stuk musiek? Lees oor ‘n onderwerp waarvan jy niks weet nie. ‘n Nuwe mens wat jy leer ken, kwalifiseer ook.
  • Maak die meeste van elke stukkie tyd. As jy “besig” is om niks te doen, doen dit behoorlik. Maar as jy baie het om te doen, gebruik selfs daardie los minute wat so maklik vermors word.
  • Pla maar jou mense. Moenie huiwer om ‘n boodskap te stuur of te bel as jy aan hulle dink nie. Daar is ‘n rede hoekom hulle ‘n draai deur jou gedagtes maak.
  • Bederf jou mense, jou diere en jouself. Gee jou tyd, jou liefde, jou aandag. Dit hoef nie eers geld te kos nie.
  • Sê wat in jou hart is. (Die positiewe dinge, natuurlik!) Vertel vir jou mense dat jy vir hulle lief is, dat jy hulle mis, dat hulle slim en mooi en oulik is. Sê vir die vreemde vrou in die winkel dat haar rok vir jou mooi is, of dat haar kind mooi maniere het. Sê dankie vir die man wat die deur vir jou oophou, of die een wat jou inkopies in sakke pak. Groet. Glimlag.
  • Sê ook partykeer die minder positiewe goed. Jy hoef nie altyd swak diens, slegte maniere of simpel uitsprake in stilte te aanvaar nie. Wees diplomaties, en leer wanneer stilbly tóg maar beter is. (Lees die vorige sin weer. En weer!)

Nou ja, kom ons hoop ek kan die meeste van hierdie items afmerk so deur die loop van die jaar. En van lysies gepraat, ek hoop ek kan hierdie jaar meer gereeld onthou om my inkopielys van die yskas af te haal en saam te vat winkel toe!

Categories
Persoonlik

2022 was die jaar …

2022 was die jaar waarin President Ramaphosa se werknemer hééltemal verkeerd verstaan het toe hy die opdrag gekry het om geld in die bank te sit.

Dit was ook die jaar waarin regter Zondo ‘n reuse-blik wurms oopgemaak en Suid-Afrikaners met die nare waarheid oor die meerderheid van ons leiers gekonfronteer het.

Wladimir Poetin het met sy “spesiale militêre operasie” in Oekraïene duisende mense se lewens vernietig, en my kinderdroom om Rusland te sien, waarskynlik permanent uitgewis.

Engeland het ‘n nuwe koning gekry, met van die heel grootste skoene om vol te staan. Ek het die héle dag na Koningin Elizabeth se begrafnis gekyk – nog maar áltyd verspot lief vir pomp and circumstance. En feëverhale, en dié een het ‘n regte heldin gehad.

My pa was altyd baie kwaai as ons “met die ligte speel”, maar in 2022 het Eskom ons vermaak deur die ligte aan-en-af te sit op meer as die helfte van die dae.

O, en ons was kwaad in 2022! Vir Poetin, vir Harry en Meghan, vir Charlize, vir Malema en Beki Cele, vir Zuma. Ons was vies vir Elton Jantjies, vererg vir die skeidsregters (sommer ‘n hele spul!) en skaam vir die Proteas.

Tog. Ten spyte van verval, politieke chaos en korrupsie het ons baie om voor dankbaar te wees. Liefkinders. Slim mense wat medisyne en entstowwe teen nare siektes uitdink. Sonskyn, reën, herfsblare, bloeisels. Troeteldiere en tuinvoëltjies. Liewe vriende, kosbare familie en hart-se-punt mense. Mooi musiek. Uitverkopings. Goeie stories om te lees en te kyk. Roomys en vla. Lekkerruik seep.

Vir my, die allerhoogste hoogtepunt van 2022: die koms van my baba se baba. Liefste Lisa, mag die jare ná 2022 vir jou net die mooiste, beste en lekkerste inhou. Die wêreld is soveel beter noudat jy daarin is!

Foto: Cobus Badenhorst
Categories
Die Lewe

Klein lekkertes

Ek het nou vrede gemaak daarmee dat ek nie miljoene gaan wen of by ‘n onbekende afgestorwe familielid gaan erf nie – rykdom is my waarskynlik nie beskore in die oorblywende jare van my lewe nie. Ek gaan nie my eie en al my geliefdes se skuld kan afbetaal en dan iewers met ‘n asemrowende uitsig kan aftree nie. Dus, al wat oorbly is om maar in klein, alledaagse dingetjies plesier te vind. En sowaar, dis toe nie so moeilik nie:

‘n Oud-skolier kom aangehardloop en groet met ‘n breë glimlag en opregte blydskap. Ek het hom nie eens gesien nie, so hy kon maar net aangestap het, maar hy wóú my groet! Dis mos lekker. En boonop bly “Juffrou” vir my ‘n eretitel, al is ek al geruime tyd nie meer amptelik ‘n juffrou nie.

‘n Vrou in die supermark-ry pluk met ‘n spierwit glimlag aan my rok en sê hoe mooi dit vir haar is, en toe ek haar kleurvolle shweshwe uitrusting ook komplimenteer en voorstel dat ons ruil, lag sy kop-agteroor en klokhelder – “Aai, mama, jy is te maer! Hoe sal jy nou in my rok lyk!” Nie alleen is ek baie lanklaas maer genoem nie, maar haar hartlikheid en vrolikheid was sommer soos ‘n inspuiting van lekkerkry tussen die mensemassa wat elkeen net met sy eie inkopies en ongeduld besig was.

Die mamma-uil wat nou al vir drie jaar agtermekaar haar babas in my bure se ongebruikte skoorsteen grootmaak, sit vanoggend haar groot geel oë vir my en knip terwyl ek vir my eie tuin se voëltjies kosgee – sy luister skewekop terwyl ek haar gelukwens met haar nuwe babas en uitvra oor hoekom hulle dié jaar bietjie later is as die ander jare. Sy laat my toe om naby aan haar te kom, seker nie meer as 5 meter nie. Sou sy my stem al ken? Laatmiddag sal die kuikens hulle bene en vlerke op die dak oefen terwyl sy en pappa-uil in die bome of bo-op die skoorsteen toesig hou. Wat ‘n voorreg om dit te mag sien!

Die bloedrooi kannas wat manlief in Februarie by ‘n vulstasie buite Colesberg vir R10 vir my gekoop het – die R10 was eintlik vir die tuinier wat dit uitgespit het – blom uitbundig, al is dit eintlik nog bietjie vroeg. Sommer ‘n hele klomp blomme so in- en oormekaar, met nog knoppe wat net wag om oop te gaan. En nadat dit heelnag saggies gereën het, wéét ek daar is nog plante in die tuin wat nie kan wag om hulle vrolike kleure te wys nie.

My selfoon piep, en ‘n foto van ‘n 4 maande-oue klein mensie met ‘n spoegbekkie wat amper altyd lag, soenwange en dimpelbeentjies en -armpies verskyn. Ouma se liefie, ons Bolandse Nooientjie – só perfek!

Ek kry ‘n stemboodskap van my baba. “Mamma!” Net daardie één woord, voordat ek nog na die res luister, is al genoeg. Mamma-wees is goed, beter, beste!

Ja wat – die lewe is vol lekkertes en bederwe, klein en groot, gratis en verniet. Sommer net hier rondom my.

Categories
Die Lewe

Om te kan kies

Een van die mees bevrydende ontdekkings wat ek in my lewe gemaak het, is die idee dat ek áltyd kan kies. Saam daarmee, die wonderlike wete dat ek baie selde, amper nooit, nodig het om my keuse te verduidelik. Ja, ek kan verduidelik as ek wil, maar … en dis die lekkerte: die keuse is mýne.

Ek weet mense het al hulle koppe geskud oor party van my keuses, maar dankie tog dat ek nie toegelaat het dat dit my keuses verander nie.

‘n Paar jaar voordat ek die amptelike aftree-ouderdom bereik het, het ek gekies om my loopbaan as onderwyser te beëindig. Dit wás ‘n waagstuk, dalk selfs bietjie roekeloos … maar dit was goed vir my. Ek het ‘n draai in Asië gemaak, my toon in die groot see van tersiêre opleiding gesteek en gekies om nie weer “terug skool toe” te gaan nie. Hierdie keuses het my verryk, báie meer as wat ‘n voortsetting van my loopbaan op die konvensionele (en waarskynlik frustrerende) pad dit sou doen. Dit het my in staat gestel om nét positiewe herinneringe aan my onderwysloopbaan te hê.

Op ‘n heel ander vlak is daar kleiner (of dalk baie groter!) keuses wat mens elke dag maak wat ‘n yslike invloed het op jou lewe en gemoed. Kies om nie negatief te wees nie. Ja, ek weet beurtkrag (en ‘n klomp ander dinge in ons land) is ongerieflik, ongemaklik, onnodig en sommer nog baie ander dinge – maar as jy daaroor kerm en daarop fokus, gaan dit beter word? Kies om te beplan, byt op jou tande en gaan aan!

Kies om nie bang te wees nie. Moenie dom en onverskillig wees nie. Beveilig jouself, gebruik jou verstand en lewe jou beste lewe sonder om jouself in ‘n tronk van paranoïese senuweeagtigheid, agterdog en vrees toe te sluit.

Kies om nie ingesleep te word nie. Ingesleep waarin? In klein, knaende argumente: watter besighede om te boikot, watter inspuitings om te kry, watter kerk om by te woon, watter mense om in jou lewe te hê, watter leefstyle om te omarm of te verwerp. Ek sukkel nog partykeer om nié mense daarop te wys dat hulle ongelooflik, pynlik en skreiend onnosel / oningelig / skynheilig is nie. Maar ek kom al beter reg om te kies om dit te laat gaan. Mý opinie oor húlle opinie gaan niks verander nie, herinner ek myself gereeld.

Kies wie jy toelaat … in jou fisiese omgewing, jou hart, en veral in jou kop. Jy mág mense agterlaat as hulle nie waarde aan jou lewe toevoeg nie. Jy móét situasies, geleenthede en plekke vermy waar jy niks vir jouself kry behalwe angs, irritasie en spanning nie. Jy moet natúúrlik soek vir nuwe mense en plekke wat jou tenk volmaak. Mens noem dit groei. En jy móét kies om te groei. As jy in die groeiproses moet snoei, doen dit.

Foto: Amazon.ca

Kies om gaaf te wees. Hoekom nie? Dis gewoonlik minder moeite om gaaf te wees as om gemeen te wees. Laat ander mense toe om hulle keuses te maak, net soos jy so graag doen. Bêre daardie sweep waarmee jy so graag, so instinktief, ander mense looi omdat hulle presies doen wat jý so graag doen: kies.

Laastens – kies om dankbaar te wees, ook vir die klein, amper vanselfsprekende dinge. Jou gesondheid, jou verstand, jou blyplek, jou ryding, jou diere, jou mense. Kies om jouself te bederf deur hierdie dinge op te pas, te waardeer, en tyd daarmee te spandeer. Want onthou, elke keuse het gevolge waarmee jy moet saamleef.

Gelukkig is die keuses (en hulle gevolge) joune. Omarm dit, omhels dit … en kies om dit te geniet!

Categories
Die Lewe

Eendag was daar … Elizabeth Alexandra Mary

Ek dink meeste mense hou van ‘n feëverhaal. Ék hou beslis baie daarvan, en dit is seker hoekom ek nog altyd gefassineer is deur die kom en gaan van die Britse koningshuis.

Ek is vuriglik lief vir my land en ek is glad nie ‘n aanhanger van die Engelse op die sportveld nie, maar ek is mal oor (onder andere) die Beatles, Elton John en Strictly Come Dancing, om van Downton Abbey nie eens te praat nie. Daar is beslis ‘n hele paar mense en dinge uit Engeland wat ek asemloos bewonder. Shakespeare, byvoorbeeld. En Harry Potter. Earl Grey tee, en fyn koppietjies om dit uit te drink. Ek vra dus nie om verskoning vir my smake wat soms skaamteloos imperialisties is nie.

My hart is seer oor die koningin. Ek het haar bewonder, ja. Miskien nie oor dieselfde redes as baie ander nie, maar sy was vir my die hoofkarakter, of dan één van die hoofkarakters, van ‘n lang feëverhaal wat nou verby is. Goed, sy het nie altyd opgetree soos almal wou hê sy moes nie, maar ek glo sy het altyd gedoen soos sy geglo het sy moes, en nooit met kwade bedoelings of venyn nie.

Hoe moeilik moes dit nie gewees het om vrou vir ‘n vurige man, ma vir vier kinders en staatshoof vir ‘n hele klomp lande te wees, alles terwyl die hele wêreld jou dophou nie? En dan ook nog dogter, skoonma, ouma, suster, tante … vir ‘n handvol mense wat élkeen ‘n handvol was! Tog was sy áltyd, ten minste in die publieke oog, ‘n toonbeeld van kalmte en grasie.

Vir my, wat alewig ‘n opinie oor alles het, en dit boonop gedurig wil deel ook nog, is dit byna onmoontlik om my in te dink dat sy áltyd neutraal moes bly – selfs wanneer sy met mense soos Donald Trump en Boris Johnson moes skouers skuur … Tog het sy dit onverstoord en oëskynlik moeiteloos gedoen.

Die wêreld se top-ontwerpers sou vuisslaan om haar aan te trek, en haar klere-begroting was seker elkeen van ons se droom. Tog het sy haar eie, kenmerkende styl gehad en haar nie aan modegiere óf kritiek gesteur nie. Sy was een van die rykste vrouens ter wêreld, en tog ‘n toonbeeld van nederigheid. Ag, en is dit tog nie een van die eienskappe wat ons wêreld só nodig het nie? So ook haar sin vir humor en haar aanvoeling vir pret – beide dinge wat skaars en broodnodig is in ‘n samelewing waar amper almal hulself tog só ernstig opneem.

Die lysie kan lank raak, maar ek wil dit eindig met haar ongelooflike toewyding, diensbaarheid en werkywer. Wie van haar tydgenote het gewerk tot twee dae voor hulle dood? Hoeveel mense wat 20 jaar jonger as sy is, werk enigsins nog? Die laaste foto van haar wys dat sy haar pligte letterlik tot die einde met ‘n glimlag nagekom het!

5 September 2022

Wel gedaan, U Majesteit. Mý wêreld(jie) salueer u met ‘n kniebuiging, ‘n traan in die oog en ‘n glimlag.

Categories
Persoonlik

Liefste kleine Lisa … my vreugdevonkie

Marie Kondo, die wegmaak- en regpak koningin, sê mens bepaal of jy ‘n item moet hou of weggooi deur te vra, “Does it spark joy?” As die antwoord nie ‘n sterk “ja” is nie, moet dit waai.

Ek het nog altyd die hele sparking joy-beginsel ‘n bietjie dramaties gevind. Ek was nie seker of ‘n klomp lekker herinneringe wat by my opkom as ek ‘n ou kinderspeelding opdiep, of ‘n golf van nostalgie wat my oorspoel as ek ‘n boks ou kaartjies en briefies uitpak, kwalifiseer nie.

Die twee dele van die term het my ook uitgeboul … is die spark letterlik soos ‘n vonk – vinnig en intens – of verwys dit eerder na die proses wat daarná kom … die vlammetjie wat dalk later ‘n vuur word? En die joy? Hoe sterk en langdurig is lekkerkry voordat dit as vreugde kan bekendstaan?

En toe kom Lisa!

Skielik verstaan ek álles van vonkies én van vreugde, om nie eens te praat van intense emosies en ‘n klein vlammetjie wat ‘n verterende inferno word nie.

Gelukkig het ek nooit my vriendinne en sussies wat al oumas is, se emosies en lofsange oor hulle kleingoed afgemaak of geïgnoreer nie. Inteendeel, ek het nog altyd graag in hulle vreugde gedeel, terwyl ek my beurt afgewag het.

Ek besef elke baba is ‘n wonderwerk, maar voor hierdie enetjie haar opwagting gemaak het, het ek nooit kon dink hoe spesiaal dit is om mý baba as die mamma van háár baba te beleef nie. Voeg daarby die absoluut oorweldigende beskermingsdrang, vertedering en liefde wat die pragtige bondeltjie nuwe lewe in my wakker maak, en al wat van my oorbly is ‘n gesmelte poeletjie …

Eensklaps is sparking joy nie meer dramaties nie, maar eerder ‘n eufemisme! Daar is nie woorde nie … of altans nie genoeg nie!

Elke detail so perfek!

Ek weet Marie Kondo het nie ouma-wees in gedagte as sy haar vragie vra nie. Maar in hierdie nuweling-ouma se lewe is die antwoord ‘n oorweldigende JA!

She sparks abundant joy!
Categories
Die Lewe

Proe voor jy praat

Ek proe aan medisyne. Nie my eie nie, dié moet ek noodgedwonge afsluk, al proe dit hóé sleg. Maar toe my kinders babas was, het ek altyd aan alles wat hulle moes sluk, geproe – net genoeg sodat ek met oortuiging kon sê, “Kom nou, sluk, dis lekker!” Of dan, as dit maar sleg is, “Happie gou, dit sal jou laat beter voel,” terwyl ek ‘n lekkertjie reghou vir agterna.

Selfs my honde se stropies en poeiertjies word versigtig geproe. Dan weet ek hoe en waarmee ek dit moet verbloem, en of dit dalk glad nie eens nodig is nie – ek moet sê, party dieremedisyne (in mini-dosisse) is nogal verbasend lekker. Ja, ek is al skeef aangekyk, veral oor die diere se doepas, maar tot dusver is ek nog blakend gesond.

Nou wonder ek … voordat ons so vinnig is om iemand anders sonder deernis aan te sê om die medisyne wat die lewe voorskryf af te sluk – moet ons nie net self ‘n slukkie vat nie? Of dan ten minste régtig ‘n poging aanwend om uit te vind wat dit is waarvoor ons raad is “Ruk jou reg!” of “Dis nie so erg nie, kom oor dit!” As jy sélf geproe het hoe bitter daardie poeier of stroop is, gaan jy dalk twee keer dink voordat jy iemand se eina probeer regdokter met “Jy verbeel jou,” of “Daar is mense met baie groter probleme.”

Ja, iewers is daar dalk ‘n bottel met ‘n mengsel wat nóg bitterder is, maar die persoon waarmee (of waaroor) jy praat, moet hierdie een nóú afsluk. Deur dit met ander te vergelyk, help jy nie. Bly dan maar liewer net stil, want jou woorde maak dit nóg slegter.

En ‘n ou soetigheidjie as die bitter besigheid afgesluk is, help baie – selfs al is dit net ‘n skouerkloppie, ‘n positiewe opmerking, of ‘n ondersteunende posisie in ‘n gesprek waar kritiek gelewer word.

Alle swaarkry kan ongelukkig nie in een sluk afgesluk word nie. As ek my hond se pilletjie in ‘n lekker worsie kan probeer verbloem, kan ek mos dieselfde vir ‘n medemens doen, dan nie? Net deur daar te wees, lojaal te bly, te probeer verstaan, te luister as dit nodig is, kan die bitter klein bietjie versoet word.

Dit was dalk wat Mary Poppins bedoel het toe sy gesing het, “A spoonful of sugar helps the medicine go down …”

Categories
Persoonlik

Klein kleertjies … en gedagtes daaroor

My eerste baba gaan haar eerste baba hê. Binnekort, nog so 3 maande, dan verwelkom ons ‘n dogtertjielyfie in ons harte en lewens.

Elke keer as ek my meisiekind sien, wil my keel sommer toetrek en my oë oorloop van ‘n hele mengelmoes van emosies. Dis dan my baba, my mooie kind, en nog nooit was sy mooier nie!

Na ‘n pragtige “baby shower” wat haar sus, my ander lieflike baba, vir haar gereël het, kon ek saamvlieg oor die blou berge vir ‘n kosbare kuiertjie in die Kaap. Die shower was toe eintlik ‘n wolkbreuk, met familie en vriendinne wat die mooiste geskenkies vir ons klein modepoppie aangedra het. In oorvloed!

Wat ‘n enorme voorreg om in die opgewondenheid te deel, en te kan help om die klein stukkies omgee wat met soveel liefde van oral-oor kom, voor te berei vir die lyfie wat dit gaan aantrek!

Dit bring die lekkerste herinneringe van hoe ek dieselfde voorbereidings meer as 30 jaar gelede getref het … die reuk van groen Sunlightseep en klein flentertjies lap (hoewel nie naastenby so ougat nie) wat in die Vrystaatson wapper.

Op party van hierdie kleertjies is slim en oulike woorde geskryf: Born to be loved … So loved … Never forget how loved you are … I love the sunshineDaddy’s girl … Mommy’s whole world en dan ook enetjie wat tong-in die kies verwys na die tyd waarin ons ons bevind: My parents did not practice social distancing!

Wyse woorde … elke kind wat gebore word, behoort só geliefd te wees, veilig in die wete dat Pappa en Mamma en nog ‘n klomp ander mense hom/haar só liefhet. Ons lewe nie in die ideale wêreld of land nie, maar dankie tog vir die wete dat híérdie dogtertjie gaan aankom in haar eie klein wêreldjie wat aan alle kante deur liefde, deernis en omgee verskans is.

Ons kan nie wag vir die kleinding se aankoms nie … welkom solank in ons harte, klein prinses, en binnekort ook in ons wêreld. Mag jou voetjies veilig trap, en mag jou handjies altyd ‘n groter hand hê om vas te hou.

Categories
Die Lewe

Vir ‘n vreemde vrou

Ek ken jou nie, sou waarskynlik jou naam verkeerd uitspreek. Jy is ‘n vrou, ‘n mamma soos ek – een van daardie wat ‘n leeu kaalhande sal aanpak om jou mense te beskerm.

Nes myne, is jou tong al baie keer stukkend gebyt soos jy moes keer om vir jou kind te sê, “Nee, nie só nie …” omdat jy besef het sy wil en moet sélf probeer. Ons albei het al male sonder tal gewens vir ‘n wonderpleister of -salfie vir daardie seer hart, gekneusde ego of versplinterde droom.

Maar anders as ek, sit jy nou met jou kinders in ‘n bomskuiling en luister hoe missiele val. As jou kinders klein is, is hulle by jou … ek verstaan jou paniek. Hóé beskerm jy hulle? Gaan julle genoeg kos hê? Water? Wat as iemand siek word?

Amper nog erger, as jou kinders nié meer klein is nie, is hulle veilig? Jou seun, jou man is moontlik ‘n geweer in die hand gestop en beveel om te veg. Jy sou wou saamveg, ek wéét. Ek sou ook.

Ek voel magteloos, ek wens ek kon help. My magteloosheid is nie eens ‘n druppel in die emmer teenoor die magteloosheid wat jy voel nie. Natuurlik nie – my mense en my bestaan word nie bedreig nie. Ek en jy kan te velde trek teen magsbeheptheid, betoog teen oorlogsmisdade, tier oor diplomate se leë woorde en dreigemente. Maar dit sal waarskynlik geen uitwerking hê nie.

So, al ken ek jou nie, vrou in Oekraïene, ek hou jou in my gedagtes vas, en brand ‘n wit kersie vir vrede – in jou hart, jou land en in die wêreld.

Foto: unnews
Categories
nostalgie

‘n Jakkie vir ‘n bibberlyf

Op ‘n onlangse snikhete dag spring ek vinnig in die swembad en raak daarna sommer so in my nat swemklere besig. Nie lank nie, toe sak die sonnetjie en ek begin koud kry. Dit was amper bad- en bedtyd, so ek pluk vinnig my kamerjas bo-oor die swemgewaad aan …

Toe die droë, warm jassie snoesig om my klam-koue lyf vou, hol my gedagtes eensklaps terug, terug, terug na my kinderdae: eers as die jongste van vyf, en later as een van die “kleintjies” in ‘n ry van sewe sussies.

Geld was nie volop nie, maar ‘n see-vakansie was elke jaar op ons kalender. En, hier is nou die herinnering wat deur die kamerjas wakkergemaak is: my ma het jaarliks gesorg dat elke meisiekind ‘n snoesige “strandjakkie” gehad het. Sy het dié snoesige, kleurvolle skeppings uit groot handoeke op die geel Bernina opgetower.

Foto” terryrich.co.au

Ek hoor by my susse of hulle dit ook onthou. Een van die “groot sussies” onthou dat hulle ook bypassende toetrek-sakkies gekry het. Seker vir strandgoeters wat ons kleintjies nie nodig gehad het nie. Ek onthou plastiek-visnetjies, emmertjies en grafies, ‘n strepies-sambreel, ‘n groot opblaas-bal en houtspane en ‘n rubberbal waarmee my pa altyd graag wou “bolle jol” … Ek onthou ook Sylvasun pilletjies in ‘n bruin glasbotteltjie, wat ons vooraf begin drink het – ek is seker dit was nogal ‘n duur item, maar Pappa Tom was ernstig oor sy dogters se velle en sonskade, selfs nog voordat sonskade regtig ‘n ding was! Ek onthou veral die opgewondenheid wat ek saam met die eerste pilletjie kon proe – ons gaan amper see toe!

Foto: Pinterest

My ousus onthou ook ‘n Hartenbos-vakansie, en dat die naam van ons huisie Jannewarie was. Ek onthou dit skielik ook, selfs dat dit ‘n rooi houthuisie met wit trappies was, maar voordat sy dit genoem het, het ek niks daarvan onthou nie, en nooit daaraan gedink nie.

Dis opvallend hoe ons verskillende aspekte van dieselfde ding onthou. Hoe iets na baie jare van totale vergeet, skielik weer in volkleur in mens se geestesoog kan afspeel. En hoe die een herinnering ‘n ander een kan wakker maak. Dit laat my dink dat ons onderbewussyn inderdaad ‘n groot skatkis is, een wat ons grootliks onbenut laat lê.

Sou lekker snoesige herinneringe ons nie kon help om bietjie makliker deur moeilike tye kom nie? Dalk moet ons meer gereeld bewustelik probéér om goeie dinge te onthou. Moet ons nie meer dikwels ons eie onthou aanvul met dié van ander nie? En ook … kan ons nie meer gereeld ‘n bibberlyf , en veral ‘n bibber-hart (ons eie én veral ook iemand anders s’n) in ‘n lekker knus jakkie toewikkel nie?

Categories
Die Lewe

My eie Wonderland

As ek eendag die heerser van my eie koninkryk is …

Wat ‘n lekker manier om ‘n dagdroom te begin! En omdat ek weet dit gaan nie regtig gebeur nie, kan ek gróót gaan as dit kom by wat ek alles gaan doen.

Eerstens gaan daar streng wette wees oor wie kinders en diere mag hê. Opleiding sal gegee word en toetse sal geslaag moet word. Geen onverantwoordelikheid en wreedheid sal geduld word nie. As jy gevang word dat jou kinders en diere verwaarloos is, uit is jy! Ons sal self toesien dat hulle die sorg, liefde en bederf kry wat ‘n basiese reg is hier in ons land.

Plekke sal nie na mense vernoem word nie – selfs nie eens na dié wat regtig wonderlik en goed is nie. Nee, alle plekname sal uit die natuurlewe kom: blomme, plante, diere en voëls maak in elk geval mooier name en niemand kan een of ander negatiewe konnotasie daaraan heg nie.

Liefdadigheid en medemenslikheid sal sterk aangemoedig word. Die mense in my wonderland sal in elk geval almal gaaf wees. Maar dit sal streng verbode en strafbaar wees om goeie dade aan die media-klok te hang en die ontvangers daarvan op TV bloot te stel aan vernedering. Géén soetsappige uitbeeldings waar die weldoener deur trane oorweldig word oor sy eie goeie dade, terwyl die ontvanger ewe pateties toekyk of ongemaklik saam huil, sal toegelaat word nie! Hier by ons sal die linkerhand regtig nie weet wat die regterhand doen nie.

Skermgreep: Youtube

Kinders sal eers toegang tot elektroniese toestelle mag kry nadat hulle geleer het om te lees, en reeds aan die wonder van boeke bekendgestel is. Hulle moet eers kan touspring, rekspring, albasters rol, wegkruipertjie speel, boomklim, legkaarte bou, inkleur en uitknip voordat hulle elektroniese speletjies mag speel. Hulle moet by hulle ouers, oupas en oumas, ooms en tannies stories, versies en liedjies hoor en prenteboeke bekyk voordat hulle dit op skerms mag sien en hoor.

Foto: Jewishstandard.timesofisrael.com

Grootmense sal ‘n intelligensie- en volwassenheidstoets moet slaag voordat hulle op sosiale media toegelaat word. Nou dat ek daaraan dink … dalk moet daar net geen sosiale media wees nie: net gedrukte koerante en tydskrifte, en mense wat mekaar in die oë kyk en práát.

Ai, dis heerlik om te droom!

Foto: Westend61
Categories
Die Lewe

Bed-bederfies

Ons het ‘n ding in ons gesin… ‘n gewoonte, tradisie, gebruik, ek weet nie juis wat om dit te noem nie. Ons het sekerlik meer as een, soos die meeste gesinne, maar vandag is dié een in my kop. Ek dink ook nie dis juis eksklusief of uniek nie, baie families doen dit seker op een of ander manier.

Ons noem dit “bedbederfies” – nie ‘n woord wat jy in ‘n woordeboek gaan kry nie. As ons by mekaar oorslaap, al is dit net vir een aand, kry jy hierdie bederfies: op jou bed, saam met ‘n lekker skoon, sagte handoek. (Ons doen dit ook vir ander oorslaap-gaste.) Dit kan enigiets wees, ‘n klein lekkertjie, ‘n sepie, ‘n roompie, sokkies … partykeer iets groter. Sommer om te sê welkom by my, dis lekker om jou hier te hê.

Ek weet nie eintlik wanneer of hoekom of wanneer dit begin het nie. Ek is net bly dit hét, en ek is bly my kinders het dit aangeleer, nou dat hulle hul eie huise het!

Eintlik moet ons almal ook buite ons huise sulke onnodige, amper sinnelose bederfies uitdeel. Lukraak, links en regs en sonder rede of patroon. Klein, amper onbenullige bederfies wat niks kos nie, maar baie beteken: ‘n glimlag, al ken ek jou nie; ‘n groet, al groet jy nie terug nie; ‘n opsystaan of help-aangee in ‘n winkel; ‘n rybeurt in druk verkeer. Net om te sê ek síén jou, ek wéét jy is ook hier, jy is dalk ook haastig of bang of … wat ookal, maar jy is nie alleen nie, kyk, hier is ek ook.

Hoekom? Want dis lekker om dit te gee, en dalk is die ontvanger bietjie verbaas, selfs oorbluf … maar dit maak dit net nóg lekkerder.

Categories
Die Lewe nostalgie

Borrels vol drome

Blaas jy nog borrels?

My pa het gesê meisiekinders loop nie kaalvoet nie, ry nie agterop motorfietse nie (behalwe syne!) en kou nie kougom nie. Vir my was my pa se woord wet, so ek kou vandag nog nie kougom nie. Maar ek blaas borrels!

In ‘n groot gesin soos ons s’n, met sewe sussies, was daar maar altyd een wat die grense bietjie getoets het, en ek onthou goed hoe ten minste twee van my groter susse tydens ‘n kuier by die familie “op die Rand” saam met die nefies en niggies in hulle kamer kougom gekou het. (Dit was dieselfde kamer waar ek altyd skelm fotoboekies gelees het – nog ‘n taboe van my pa, wat dit “duiwelsbybels” genoem het, en gesê het dis eintlik net vir mense wat nie kan lees nie. Maar blykbaar was die Witwatersrand se reëls minder streng, want híérdie kinders kon alles doen – die nefies het tot gerook, en die oom het tatoes gehad!)

Met groot oë het ek gekyk hoe die groot kinders nie net die verbode lekkergoed oopmond kou nie, maar yslike borrels daarmee blaas. Die versoeking was te groot, en ek het eendag mooi gevra om ook te probeer. Ek onthou baie goed my totale paniek toe my eerste borrel bars en amper my hele gesig bedek! Hulle het heerlik gelag en my taamlik hardhandig hanteer om die “evidence” so gou moontlik van my gesig af te kry. Ek is nog ‘n kosbare blokkie van die kosbare lekkerte gegee en opdragte van “Kou!” en “Maak gou!” en “Gee!” is geblaf, want blykbaar is ‘n tweede koutjie die heel beste gereedskap op die taai besigheid van ‘n mens se gesig af te kry. Die lastige klein sussie is nie weer toegelaat om saam te kou nie, en ek was maar tevrede met my verbode leesstof as vermaak. Ek vermoed nou ek was dalk die slagoffer van ‘n tipiese grootsussie-poets, maar ek het verstaan hoekom my pa dié klewerige spul nie goedgekeur het nie.

Vandag twyfel ek of die grootmense nie tog maar geweet het wat alles in daardie kamer aangaan nie. Ek is amper seker my pa het geweet ek lees die Ruiter in Swart en Saal 10 daar op die grond tussen die twee beddens, en die kougom-etery en borrelblasery het met sóveel klipharde lagbuie gepaard gegaan dat dit nie regtig ‘n geheim sou kon wees nie. Maar ek is seker die feit dat hierdie onwettige aktiwiteite altyd net anderkant die Vaalrivier gebeur het, het die opwinding vir ons net nóg groter gemaak, en die ouers het ons maar laat begaan.

Of dit hoegenaam verwant is aan my kindertyd se kougom-borrels, weet ek nie, maar ek het vandag nog ‘n voorliefde vir borrels. Ek bad graag in baie, baie borrels, en kan die versoeking nie weerstaan om borrels te blaas met bad- en skottelgoedseep nie. Gelukkig is daar nog enkele lekker dinge uit my kleintyd wat vandag nog bestaan. As kinders het ons gewoonlik op Oukersaand elkeen so ‘n botteltjie borrel-vloeistof gekry in die kussingsloop wat op ons beddens se voetenend gelê het, en op Kersoggend halfvol klein, goedkoop geskenkies was. Dié borrel-mengsels is nou nog vir my onweerstaanbaar, veral buite, as die son daardie borrels die mooiste kleure gee.

Ek wonder net of ons nie meer borrels moet blaas nie – nie klewerige borrels, weggesteek in ‘n kamer agter ‘n toe deur nie, maar buite, in die helder sonlig: pragtige groot, silwer borrels met tinte van pienk, blou en groen wat dans in die wind. Daar is net iets magies daaraan, en die betowering raak nie minder soos ek ouer word nie.

Ek het borrel-blaas as aktiwiteit gebruik om die lui mond-en wangspiertjies van my Chinese leerlinge aan te help, maar ek dink ook daar kan ander terapie in die borrel-blasery wees, as ‘n mens bewustelik jou spanning saam met die borrels uitblaas en kyk hoe dit wegraak. Dink net hoe baie stres en bekommernis kan saam met een groot borrel verdwyn, of hoeveel klein jakkalsies kan in ‘n streep klein borreltjies wegwaai.

Dit hoef ook nie net negatief te wees nie. Hoop, goeie gedagtes, drome en wense kan ook mos maar so saam met die mooi, blink borrels die heelal ingestuur word …

Kan ons tog maar net versigtig omgaan met mekaar se ragfyn borreltjies? Dit neem net een onnadenkende woord, negatiewe opmerking of gemene storie om met ‘n skerp vinger ‘n pragtige kunswerk en sy kosbare inhoud te vernietig …

Categories
Die Lewe

Happies of hompe – help jouself!

As kind was my tannie Anna se kaas- en tamatietoebroodjies, wat met witbrood gemaak is, vir my ‘n heerlike bederf. By ons huis het ek die bruinbrood met grondboontjiebotter en stroop saam met my baie sussies geniet en my trommeldik daaraan geëet. Sien, het ek baie later eers verstaan, ‘n mens het nie witbrood en kaas nodig om jou magie vol te maak nie. Dis net ‘n lekker bederf.

Interessant hoe ‘n mens se idee van luuksheid verander. Al het ek dit nie destyds besef nie, was kaas ‘n luukse wat in ons groot, saamgestelde gesin sou moes opsy staan vir ander noodsaaklikhede soos vyf, en later sewe, dogtertjie-lywe wat aangetrek moes word en magies wat met gesonde kos volgehou is. Nie dat ons luukshede gemis het nie – nee wat, sover ek kan onthou was ons dolgelukkig en blakend gesond.

Foto: cookpad.com

‘n Paar dae gelede bring Manlief ‘n hele paar groot blokke kaas van die winkels af. Spaarsaam soos hy is, weerstaan hy baie moeilik ‘n spesiale aanbod, en as dit nou beteken hy moet drie koop om een verniet te kry, dan maak hy maar so. Of, in die kaas se geval, mens weet nooit wanneer dit wéér so lekker goedkoop is nie. Ek kla glad nie, dis heerlik om altyd pakkies met gerasperde kaas in die vrieskas te hê!

Die roetine is dat die kaaskoper die rasper beman en ek die pakkies maak om te vries. Om onsself te bederf (en seker ook om na ons cholesterol-vlakke om te sien) los ons partykeer ‘n groterige stuk heel, en dit word dan in skyfies op brood of beskuitjies gesny. Dit gebeur nie elke keer nie, en dit is juis die oorvloed kaas wat my aan die dink gesit het oor ons idees van luukshede en bederf.

Ek glo nie ons is fyn genoeg ingestel op mense wat minder kaas in die huis het as ons nie. (Lees asseblief nou my metafoor raak!) Ek dink ons moet makliker vir ‘n bruinbrood-kind ‘n witbrood-bederfie aanbied, sonder om iets daaroor te sê. Ons kan dan ook sommer ekstra baie kaas op daardie broodjie sit, al sou dit beteken ons volgende broodjie het minder op.

Ek is dankbaar dat ons “arm” genoeg grootgeword het dat ons doodgewone uitverkoping-kaas as ‘n lekker bederf kan beskou. Dit is ‘n voorreg om te kan kies of ek hierdie spesiale aanbod-kaas wil rasper of heel wil opeet. Solank ek net onthou dat dit nie vanselfsprekend is dat daar hoegenaamd kaas in die huis is nie! Maar ek moet ook nie skuldig voel as daar ‘n houertjie met roomkaas in my yskas is en ek sommer ‘n lepelvol net so skoon eet, bloot omdat ek na my kinders verlang nie, né?

Dit sal ook dalk goed wees as ons elke dag versigtig oorweeg hóé ons ons luukshede wil geniet: in klein-klein gerasperde happies, in dun skyfies, of sommer in hompe of lepelsvol. Ek dink nogal daardie kleiner happies wat net so nou en dan in klein mondjiesvol geniet word, verskaf groter plesier. Ons moet net onthou dat ons dit mag en moet geniet, en om so nou en dan vir iemand anders ook ‘n broodjie aan te bied …

Dankie, tannie Anna, vir daardie lekker broodjies by jou kombuistafel op ‘n Woensdag nà Kinderkrans.

Categories
Die Lewe

Om saggies te val, op te klim en wéér te ry …

Een van baie dinge waarmee ek in my lewe gesukkel het, maar darem uiteindelik reggekry het, is fietsry. Ek kon my kleintyd verkyk aan my groot sussies wat met hulle swaar skooltasse agterop hulle fietse ewe flink in die oprit van ons huis “free” terwyl hulle kruisbeen op die een trap staan – en dan, sodra hulle deur die hek is, behendig die ander been oor die saal swaai, elegant gaan sit en terwyl ek die hek toemaak, straat-af verdwyn! Ek moet nou bysê dat hierdie sussies 8 en 10 jaar ouer as ek is, en dat hierdie herinnering kom van voordat ek skool toe is.

Ek was seker so 10 of 11 jaar oud toe ek een van hulle se blou Raleigh fiets geërf het. Ai, ek het my menigmale disnis geval in daardie einste oprit, soos ek hardkoppig probeer het om die kuns te bemeester. Uiteindelik kon my “groot” nefie, Johan (wat maar net ‘n jaar ouer as ek is, maar in my oë alles kon doen) my leer ry. Ek dink die sukses van die fietsrylesse het meer in selfvertroue as vaardigheid of balans gelê, want hy het agter my aangehardloop en heeltyd geskree: “Ek het jou, ek het jou! Trap net!” Ek is redelik seker dat hy my eintlik na ‘n paar treetjies gelos het om self te ry. Ek onthou goed hoe ek amper altyd oor my skouer gekyk het, gesien het dat hy nie meer die fiets vashou nie … en dan geval het!

Nou moet ek byvoeg dat ek later ‘n meester was van saggies val. Tussen die twee sementstroke van die oprit was ‘n strook gras en na ‘n paar nerf-af knieë en elmboë het ek dit meestal reggekry om op die gras te val. Dit was maar Vrystaat-gras, beslis nie altyd lowergroen en sag nie, maar darem beter as die growwe, grys sement. Nog iets wat in my guns getel het, was my verbete vasberadenheid. My pa het ‘n onverbiddelike reël gehad dat ek nie in die straat met my fiets mag kom voordat ek nie behoorlik kon ry nie – en ek wou só graag saam met my nefie gaan ry! Van moed opgee was daar geen sprake nie. (Dit was voor die dae van beskermende helms en skerms vir knieë en elmboë!) Ek het maar op my tande gebyt, die trane weggeknip, as dit nodig was die bloed afgevee en teruggeklim op die fiets wat my liewe, streng leermeester teen daardie tyd alweer regop gehou het.

Kan ons mekaar nie ook maar só help om die lewe se fiets te ry nie? Dit is mos nie soveel moeite om iemand vir die eerste paar treetjies regop te hou nie. Jy sal gou-gou ongemerk kan laat gaan, maar steeds naby genoeg bly om aanmoediging te gee, en as dit dan nodig is, bietjie spoegies aansmeer waar die nerwe gewaai het as dinge tóg skeefloop. Hoekom nie die val-slag bietjie sagter maak as jy kan nie? Jy kan mos maar help met die herstel-poging, al is dit net deur die fiets weer op te tel. Dit is darem só die moeite werd om saam op en af te spring en hande te klap as jou leerling die kuns bemeester om alléén reg te kom!

Ons moet ook dalk leer om nie so maklik moed op te gee nie. Die verlies aan waardigheid as ons misluk, weeg waarskynlik vir ons te swaar. As ons val, is ons eerste reaksie mos om te kyk wie het gesien! Pleks ons maar opstaan en weer probeer – die gekneusde ego sal gou plek maak vir die bevrediging van sukses. En ons moet leer om aan te hou trap, al is dit deur ‘n paar versteekte trane, en nié heeltyd oor ons skouer te kyk nie. Vertrou jouself, en die een wat jou help.

Dink net aan die vreugde as jy met die wind in jou hare en jou fietsklokkie wat vrolik lui, die straat af jaag!

Categories
Die Lewe

Jy mag ophou voor die einde

Ek is lid van ‘n paar “boekwurm-groepe” op sosiale media. Onlangs vra iemand of ander leesgieriges ook al ‘n boek begin het, maar dan eenkant gesit het en nie klaar gelees het nie. En daar ontketen dit toe amper ‘n klein oorloggie!

Ek hoef maar net na myself te kyk om te sien dat boekmense vreeslik passievol kan wees oor boek-verwante onderwerpe. Die heen-en-weer stryery oor die verpligting om ‘n boek klaar te lees of nie, het my aan die dink gesit oor ‘n ooreenkoms tussen ons verhoudings met boeke en dié met mense om ons.

Dit het al baie met my gebeur dat ek ‘n boek begin lees, maar dan glad nie daardeur geboei word nie, of dat ek ná ‘n paar hoofstukke doodeenvoudig nie meer verder wil of kan lees nie. Partykeer is die karakters net nie na my sin nie – een van die boeke waar dit gebeur het, was nogal ‘n blitsverkoper en is daarna in ‘n suksesvolle film verwerk – The Girl on the Train. Ek kon eenvoudig nie van één karakter hou nie! Dit gebeur ook dat die karakters te suikersoet en onverteerbaar goed is. Partykeer is die storie te gewelddadig, partykeer weer te saai, soms is daar iets in die skryfstyl wat my irriteer, dalk is die intriges te veel of te ingewikkeld, te min of te voorspelbaar. Dit gebeur ook dat die skrywer se naam, die boek se titel, of die omslag-ontwerp my aangetrek het, maar toe nie aan my verwagtinge voldoen het nie.

Nét so werk dit met mense en hulle verhoudings. Ek praat nou van alle verhoudings – werkverhoudings, vriendskappe, familieverhoudings en ja, selfs romantiese verhoudings. Soms is twee mense net nie pasmaats nie. Soms wil die vonkie net nie in ‘n behoorlike vlam ontwikkel nie. Partykeer is een of albei partye te negatief, of dalk te saggeaard. Dit mag wees dat almal wat hulle ken, dink die twee karakters is “blitsverkopers”, maar die kombinasie werk net nie uit nie. Party verhoudings het ongelukkig te veel geweld, party is weer te saai. Soms is daar te veel irritasies, te veel intriges, dalk is daar te min vonk, te veel bagasie … net soos met boeke en lesers. En net soos my laaste boeke-voorbeeld, partykeer het ‘n uiterlike voorkoms of reputasie aanloklik voorgekom, maar toe nie diep genoeg gestrek nie, of die werklikheid was nie soos die ideaal nie.

En wat dan gemaak? My standpunt oor boeke kan amper net so toegepas word op mense.

Daar is genoeg mooi boeke in die wêreld, ek hóéf nie te worstel met ‘n boek wat ek nie geniet nie. Net so is daar genoeg mense in die wêreld met wie ek gemaklik in ‘n verhouding kan wees, sodat ek nie nodig het om my lewe te kompliseer met mense wat nie waarde daaraan toevoeg nie. Dit klink koelbloedig, ja, maar is ek dit nie aan myself verskuldig om my omgewing te suiwer van konflik en negatiwiteit nie? Onthou, ek sit hierdie boek eers neer nadat ek ‘n paar hoofstukke gelees het – ek gooi dit nie sommer eenkant toe net oor ek iets daaroor gehoor of gelees het nie. Nee, ek probeer eers, dink en oorweeg, en dan besluit ek. Baie belangrik – ek respekteer steeds daardie boek, en die skrywer: ek skeur dit nie uitmekaar en gooi dit in die vuur nie. Nee, ek maak dit net toe en bêre dit. Kan ons dit nie maar met mense ook so ‘n bietjie sagter doen nie? Sou die wêreld nie ‘n beter plek gewees het as mense mekaar minder verskeur en verbrand het nie?

Dit het wel ook al gebeur dat ek ‘n boek eenkant sit, net om dit later (soms jare later) weer op te tel, en dan geniet ek elke woord. Ek was dalk net nie met my eerste probeerslag reg ingestel nie, of op daardie stadium nie op die regte plek daarvoor nie. Dinge kan verander. Die boek kan nie, maar ék kan! Hoeveel wroeging sou ons gespaar wees as ons dit ook van mense kon onthou – ek kan nie die ander mens verander nie, maar ék kan wel verander, die konteks kan verander, my perspektief kan verskuif, my denkwyse kan verbreed … en dan kan dinge dalk anders uitwerk.

Maar as dit nié gebeur nie, en daardie boek word nooit klaar gelees nie, is dit ook nie die einde van die wêreld nie. Daar is ander mense wat daardie boek gaan geniet, en daar is ander boeke wat ek gaan geniet. Mense, soos boeke, verdien soms ‘n tweede kans en soms is ‘n ander kombinasie nodig.

Maar een ding bly waar – ék, en net ek, kan my boeke uitkies, en besluit tot waar ek gaan lees. Net soos my mense.

Categories
Die Lewe Motivering

Reëls, rooi kaarte en rebellie

‘n Mens moet mooi dink voordat jy reëls maak. Behalwe dat ‘n groot deel van die aarde se bevolking glo dat reëls daar is om gebreek te word, is dit ‘n baie groot taak om reëls toe te pas. Die aard van die menslike natuur laat ons ook nie toe om, nadat ons ‘n reël gemaak het, maklik te erken dat dit nou regtig ‘n simpel idee was nie – ons sal eerder met ongekende ywer aanhou om daardie reël af te dwing as om terug te staan en dit liewer te herroep.

Natuurlik is dit dikwels ‘n kwessie van opinie. Dieselfde reël wat vir my absoluut sinneloos is, is vir iemand anders lewensbelangrik. Ai, ek moes in my jonger dae baie keer so hard op my tande byt en reëls gehoorsaam en toepas wat vir my bitter min tot geen sin gehad het. Ja, dit sou prysenswaardig wees as ek ewe rebels met my vuis in die lug kon staan en protes aanteken teen daardie ondeurdagte verordeninge, waarvan baie vandag nie meer bestaan nie, dankie tog. Die feit is ongelukkig dat ek dan waarskynlik in die tronk sou beland, of my werk sou verloor het. Dit maak my skuldig, ek weet – deel van die skynheilige skare.

Baie van die reëls waarmee ek grootgeword het, was ‘n weerspieëling van die skynheilige samelewing van daardie tyd. Toe ek begin skoolhou, is dames toegelaat om in die winter langbroekpakke te dra, mits die baadjie “polslengte” was. Ek het behoorlik kopgekrap oor dié pols-storie, totdat ek besef het dat dit eintlik beteken het dat die baadjie my boude moes bedek – maar dáárdie skandalige woord kon sekerlik nie in die Riglyne vir Damespersoneel verskyn nie. Nie baie lank gelede nie het ek en my vroulike kollegas nog geskater van die lag oor die vereiste dat dames ten alle tye “formele vormdrag” moes dra – sekerlik ‘n oorblyfsel uit die patriargale tyd toe omies in donker pakke die “skoolkommissie” was wat saans nadat hulle van die Rapportryers- of Kerkraadsvergadering af gekom het, skoolreëls uitgedink het.

Breaking The Rules Of Scale — DESIGNED
(Carla Aston)

Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek hou van dissipline. Ek verstaan dat reëls ‘n mens veilig laat voel, dat orde ‘n natuurlike instink is. Ja, ek is rebels (ek is in die sestigs gebore, natuurlik rebelleer ek!) maar die groot dryfveer agter my betoog is dat regverdigheid tog net die botoon moet voer. Wat vir die een geld, moet ook vir die ander geld. As ‘n reël die lewe onnodig kompliseer, moet dit her-dink word. As dit nie duidelik is hoekom die reël daar is nie, moet dit nie daar wees nie. As dit nie die wêreld beter maak nie, moet dit (en sommer die persoon wat dit uitgedink het) verwyder word. As daar gereeld uitsonderings gemaak moet word, moes die reël nooit bestaan het nie.

Daar behoort ook ‘n reël te wees teen die blindelingse gehoorsaam van reëls. Ek is telkemale in my onderwys-loopbaan tereggewys omdat ek die kinders in my klas aangemoedig het om dinge te bevraagteken. Net omdat dit in ‘n boek staan, of omdat ‘n grootmens dit sê, maak dit nie waar nie. Dink vir jouself, vertrou jou hart, doen wat reg voel, het ek hulle probeer leer. Ai, hoe hoop ek dat hulle dit doen!

Rugby en ander sportsoorte het nogal ‘n goeie reël, wat ons meer in die alledaagse lewe moet toepas: as iemand, of ‘n reël, ontwrigtend is, of negatief, of nie bydra tot die vooruitgang van die spel nie, hier is ‘n rooi kaart. Skoert!

Eintlik, in die dieptes van my hippie-siel, glo ek dat ons elkeen ‘n volledige stel reëls in ons menswees ingeweef het. As ons daarby sou hou, sou ons gawer, beter en sommer mooier gewees het, en ons wêreld sou nie so uitgerafel, afgetakel en opgemors gewees het nie.

Verbeel jou, sê-nou-net, die grondwet van die wêreld kon uit sulke eenvoudige reëls bestaan:

As dit nie vir iemand iets positiefs kan beteken nie, moet dit nie sê nie. As dit iemand of iets anders gaan benadeel, moet dit nie doen nie. As dit nie vir jou goed is nie, moenie deel daarvan wees nie.

Hou net genoeg vir jouself en deel die res.

Gee meer as wat jy vat.

Laat ander toe om van jou te verskil.

Wees onverskrokke as jy doen wat reg is.

Wees goed vir ander, en vir jouself.

680 T shirt design ideas in 2021
(Carolyn Flack)
Categories
Die Lewe

Handewas help nie

Janus was ‘n Romeinse god. Sy bynaam was Tweegesig omdat hy altyd uitgebeeld is met twee gesigte wat in teenoorgestelde rigtings kyk. Die Romeine het geglo dat Janus boosheid uit hulle huise en geboue moes hou. Hy was besonder geskik vir dié taak omdat hy beide die verlede en die toekoms kon sien. Die maand Januarie is ook na hom vernoem, en hy was, anders as party ander mitologiese figure, nie ‘n boelie nie. Moderne tweegesigte, daarenteen, is wel vreesaanjaend. Kom ek verduidelik.

Dubbele standaarde is ‘n vreeslike monster. Dit verander van vorm en het baie verskillende name. Dit het skerp kloue en giftige tande wat oral ingeslaan word. Ons noem dit soms sommer skynheiligheid. Partykeer is dit ongevraagde raad wat oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe uitgedeel word: godsdiens, die huwelik, ouerskap, dissipline, werk-etiek … ongelukkig is die raadgewer dikwels hoegenaamd nie ‘n voorbeeld van die vrugte van dié raad nie.

Soms verskyn die monster in die vorm van uitsprake en stellings wat gemaak word oor aktuele sake. ‘n Onlangse voorbeeld is die dame wat in haar kantoor of woonkamer sit en ‘n nuusberig raaksien van militêre konflik ‘n paar duisend kilometer van haar veilige, voorstedelike kokon. Sy kies dadelik kant, waarskynlik gegrond op haar oppervlakkige wêreldkennis, of dalk selfs ‘n stukkie onthou van ‘n laerskool-geskiedenisles of ‘n Kinderbybel-oorlogstorie. Nou moedig sy “haar span” geesdriftig aan, basuin dit op haar sosiale media platforms uit, verander selfs haar profiel-foto om haar voorkeur te wys.

Intussen breek daar ‘n opstand naby aan haar uit. Mense is kwaad oor dienslewering, of die gebrek daaraan. Hulle gooi klippe, brand bande, versper paaie. Onmiddellik is dieselfde dame woedend. “Geweld kan nooit goedgekeur word nie!” gil sy op dieselfde sosiale media. Hartroerend beskryf sy die angs in haar moederhart as sy haar kinders by die skool moet gaan haal omdat dit so gevaarlik is om hulle daar te los. “Die polisie is nutteloos! Hulle moet die moeilikheidmakers voor die voet skiet!” beveel sy aan. En die ironie is nie vir haar, wat sekondes gelede geweld verdoem het, sigbaar nie.

Ai, mevrou, verduidelik vir my hoe geweld in ‘n ander land vermaaklik is, prysenswaardig selfs, maar as dit nader aan jou drumpel kom, is dit skielik sinloos en verwerplik? Besef jy dat daardie missiele wat jy gister toegejuig het, ook op kinders, pappas en mammas geval het? Verstaan jy régtig nie dat bomme, klippe, brandende bande en polisiekoeëls, ongeag uit watter rigting dit kom, almal geweld pleeg nie?

En jy, meneer, wat jou kop skud dat jou veelvuldige kenne bewe oor die meisies wat skamel-gekleed op loopplanke of skerms verskyn? Terwyl jy hoogheilig jou pofferhandjies oor jou boep vou, veroordeel jy hulle omdat hulle geen respek vir hulle liggame het nie, en ag jouself gelukkig dat dit nie jóú dogter / vrou / meisie is nie. Regtig? Is die gemorskos, drank en sigarette waarmee jy jou liggaam bombardeer jou manier om respek te betoon? Wanneer jy uit die Bybel aanhaal om die jonges se tatoeëermerke, lewenstyl en modes te verdoem, onthou jy dat vuil taal, onbehoorlike gedagtes, en ja, ‘n geskinder, deur dieselfde Bybel afgekeur word?

Die ouer wat so genadeloos kritiek uitspreek oor onderwysers wat nie beheer het oor die kinders in hulle klasse nie, en dan nog wil aanspraak maak op ‘n behoorlike salaris – besef jy dat jóú kind se gebrek aan selfdissipline en respek (wat hy waarskynlik by jou leer) die oorsaak is dat die arme onderwyser moed verloor? Of verwag jy dat daardie “slegte” onderwyser vir jou kind daardie basiese lewensvaardighede moet aanleer voordat hy by die akademiese werk kan uitkom? Wanneer jy ‘n liegstorie uitdink en ‘n baie deursigtige verskoningsbriefie skool toe stuur nadat jy jou kind op ‘n selfgemaakte langnaweek geneem het, verstaan jy dat jy hom leer dat oneerlikheid en pligsversuim aanvaarbaar is – solank dit nie deur iemand anders gepleeg word nie?

Onderwyser – jy wat saam met jou leerders moedeloos kwaad en ontmoedig word omdat keuring vir sportspanne, beurse en toelating tot akademiese instellings nie op meriete gedoen word nie, maar op grond van allerlei ander kwotas en kriteria, besef jy dat jy dieselfde doen as jy sekere kinders in jou klas anders behandel as ander?

Die voorbeelde is legio, die skuldiges ontelbaar. Wie is nié skuldig daaraan om ‘n sappige storie te deel nadat jy net eers gesê het “Ek wil nou nie skinder / oordeel / lelik wees nie…” of “Ek is nie ‘n rassis nie …”? Pontius Pilatus het al gesien dat daardie ritueel van jou hande in onskuld was, nie werk nie. Jy bly skuldig.

Dalk moes ons vir Janus met die twee gesigte kon inroep: eerstens sodat ons kan sien dat ‘n tweegesig regtig nie aantreklik is nie; en ook sodat hy ons betyds kon herinner aan die reël dat dit wat vir ander geld, ook vir mý geld. En andersom. Veral andersom.

Categories
Die Lewe

Watsenaam

Shakespeare het lankal gewonder oor wat alles in ‘n naam opgesluit is. Hy was eintlik van mening dat ‘n naam net ‘n betekenislose etiket is wat nie veel sê oor die draer daarvan nie. Hy het sy Juliet-karakter hartroerend laat betoog dat ‘n naam soos ‘n hoed is, wat net afgehaal kan word!

In die verlede, en selfs nou nog, moes party kinders baie swaar dra aan indrukwekkende stringe familiename. Moderne ouers gee deesdae vir hulle kindertjies name wat meer sê oor die hoop en drome wat hulle vir die kleinding se toekoms koester as oor die familiegeskiedenis. Dan is daar natuurlik ook die neiging om name saam te stel uit stukkies van die ouers en grootouers se name, of sommer stukkies van ander betekenisvolle name of woorde. Baie van hierdie skeppings klink vir my meer na die name van deftige wynsoorte of eksotiese disse, om nie eens te praat van die oneindige moeilikheid as dit by die spelling kom nie. Dis strepies, deeltekens, afkappingstekens en koppeltekens net waar jy kyk … of skryf!

Daar is ook nog die “letter-name” – partykeer is dit ‘n poging om die groot mondvol van grootjie Hendrikus Wilhelmus makliker te maak, en nou is kleinboet net H.W. Maar daar is ook alweer ‘n nuwe slaggat, want ek het al ewe onskuldig vir oupa Barend Johannes se nasaat “Bee Jee” gesê, net om streng daarop gewys te word dat dit “Bie Djy” is!

Ek het al vlugtig gewonder of kinders nie maar toegelaat kan word om hulle eie name te kies sodra hulle genoeg verstand het nie. Simpel idee, ek weet. Want wanneer het ‘n kind genoeg verstand vir só ‘n gewigtige besluit? As ek so rondom my kyk na die besluite (nie naam-verwant nie) wat sommige grootmense neem, nooit! Wat ek wel weet, na aanleiding van baie kinders wat al met met moeite hulle name vir my moes spel in my juffrou-dae, is dat heelwat van hulle eenvoudiger name sou kies. Dan het ek nog nie eens iets gesê oor die uitspraak nie! Maar hoe moeilik dit ookal is om ‘n naam te skryf of te sê, ek glo dat elke kind se naam met groot sorg en liefde uitgedink en gegee is.

Die gebruik om ‘n familienaam te laat voortgaan, het natuurlik ook al gelei tot dinge soos Ouwillem se seun Grootwillem wat vir Kleinwillem die naam aangee. En dan is daar nog die nefies, Willempie, Willie en Willietjie … en so aan.

Tog, dit bly kosbaar as die familie se trots en geskiedenis só in die name bly voortbestaan. Veral vir ‘n seun is so ‘n stewige dubbeldoor van ‘n naam vir my pragtig. Selfs vir ‘n dogter, as daar so ‘n splintertjie van ‘n ouma of mamma se naam oorgebly het, is dit spesiaal.

So, jammer William Shakespeare … dié keer stem ek nie met jou saam nie. Daar is inderdaad baie in ‘n naam opgesluit!

Categories
Die Lewe

Sê nou net …

Toe ek klein was, het my sussie my vertel dat ons poppe in die nag lewendig word en met mekaar en die ander speelgoed speel. My heel groot sus, wat toe lankal nie meer popgespeel het nie, het ‘n glas-teestelletjie gehad wat sy in ‘n bruin tassie onder-in haar kas gebêre het. Partykeer het sy my daarmee laat speel. Ek het gevra of ons dit nie kan uithaal sodat die poppe daarmee kan teepartytjie hou nie. Ek onthou haar glimlag (sy was vir my die mooiste mens op aarde) en hoe sy my oortuig het dat die poppe bietjie rof was en dit dalk net sou breek. Ai, hoe het ek menige aand probeer wakker bly, vasbeslote om die poppe se rowwe spelery te sien … maar die vaak het altyd gewen.

Ek is nou lankal nie meer klein nie, maar my verbeelding het nog geensins oud of koud geword nie. Inteendeel. So sit ek nou eendag en beskou my boekrak. Iewers in daardie oor-aktiewe verbeelding raak twee draadjies aan mekaar … en daar spat die vonke!

Sê nou, sê nou net die karakters in daardie boeke kon lewendig word en uitklim? Natuurlik nie almal gelyk nie – en streng op versoek. Party van hulle wil ek regtig nie graag in lewende lywe ontmoet nie. Ek wonder watter karakters sou ek wél nooi om uit die rak te spring en saam met my te kuier? Onthou nou, my boekrak huisves die vrugte van die geniale breine van Langenhoven, J.K. Rowling, Roald Dahl, Andrè P. Brink, Wilbur Smith, Jeffrey Archer, Ken Follett, Dalene Matthee, Annelie Botes, Alan Paton, Stieg Larsson, om maar ‘n paar te noem. Selfs Shakespeare is daar, en Tolstoy, en ‘n hele paar uitgawes van die Bybel. Dan is daar ook nog biografieë van sportsterre, politieke figure, kunstenaars …

Matewis (my Alta-kind se nuutste baba) in ‘n fantasie-rakkie van my boekrak!

Ek sien myself kopstukke gesels met Albus Dumbledore, Tom Builder, Willy Wonka, Sean Courtney, Nelson Mandela, Charlize Theron en Chris Barnard. Ek sou graag met Morrie wou gesels, daardie wyse-wyse karakter van Mitch Albom. En daar is ‘n groot klomp Bybel-karakters vir wie ek ‘n lang lys vrae het. Dink net watter interessante gesprekke sou daar kon wees as ek die karakters twee-twee kon uitnooi! Verbeel jou hoe die karakters van Jane Austen en E.L. James by mekaar sou kers opsteek?! Stel jou voor hoe lekker Dumbledore en Mandela wyshede sou kon uitruil, en ek dink Brolloks en Bittergal sou goed aanklank vind by sekere karakters uit Roald Dahl se pen.

My oog val op die woordeboeke. Daar is nogal ‘n hele paar. En skielik dink ek – sê nou die woorde kon uitklim? Bollemakiesie, boksemdais, harlaboerla, onhebbelik, vabond, daar is só baie woorde wat prentjies in my kop oproep! Daardie prentjie raak baie vinnig chaoties, en ek besluit om my liewer te verbeel dat die verskillende woordsóórte kon lewe kry … dink byvoorbeeld hoe sou die byvoeglike naamwoorde en bywoorde ‘n vaal, vervelige dag kon opkikker! Ek stel my voor hoe die klein, besige voorsetsels deur die huis dartel en alles wat in of op moet wees maar uit en onder is, bêre. Hopelik sal daar ‘n paar werkwoorde wees wat hulle werk sal doen – soos regpak, orden, poets en poleer!

A.G. Visser het mos in ons kleintyd-versie gesê: “Sê-nou is ‘n lekker sê: Alles wat ‘n mens wil hê, Alles wat jou hart begeer, Kry jy daarmee en nog meer …”

Dankie tog vir boeke, vir verbeelding, en vir sê-nou!

Categories
Persoonlik

Graadkry

My babakind se PhD is vandag amptelik toegeken op die UFS se virtuele gradeplegtigheid. Dit was nogal ‘n mengsel van ‘n groot hoogtepunt en ‘n anti-klimaks. Wat ‘n feestelike dag in 2020 moes wees, met Santa en Cobus wat van die Kaap af kom, almal wat opdress, ‘n waardige geleentheid met togas en applous, is afgradeer na ‘n baie flou virtuele aanbieding met goor musiek en name wat alfabeties oor ‘n skerm rol.

Maar dit bly ‘n Groot Dag. Sussie en swaerie het vroeg-oggend al die link gesoek om in die Kaap te kyk. Die program is afgelaai, Alta se naam gesoek en die kort biografie en opsomming van haar verhandeling gretig gelees. Pappa en Mamma het in Welkom gekyk. Ek het ‘ma-tuurlik’ bietjie gehuil, hoe dan anders? In Bloemfontein was kleinsus opgetof in haar rooi toga en pofhoed … vir ‘n selfie saam met die rekenaar.

‘n Hogwarts-graad sou dalk met meer verbeelding toegeken word …


Hierdie kind het op skool gekyk hoe haar Santa-sus ure voor haar boeke deurbring, en dit in ag geneem toe sy vakke kies: “Nee, ek gaan nie so baie huiswerk doen nie!” Daar was vir haar te veel aspekte van skoollewe wat tyd moes kry! En daardie skooljare is ten volle geniet en propvol met prestasies op baie gebiede. Tog, toe sy eers op Universiteit kom en haar passie ontdek, was daar baie keer te min ure vir die boeke! Maar sy het dit gedoen, partykeer selfs teen die “odds” vasgebyt, deurgedruk en is nou amptelik Dr. Alta Grobbelaar.

Ons het dit gemis om saam daar te wees, saam hande te klap, foto’s te neem. Ons het selfs die warmkry en die lang sit in die Callie gemis, die toesprake en amper ritualistiese seremonies, die lang kyk na die ander studente, en uiteindelik: “Daar’s sy nou!”

… maar hierdie graad is nie met “magic” behaal nie!


Tog was ons op ‘n manier saam. Ons besef dat Corona-tyd soos oorlogtyd is en dat dinge nie net normaal kon aangaan nie. Ons gesin is almal gesond en gelukkig. Ons is dankbaar en besef ons is geseënd. Net vir vandag sal ons maar maak asof daar nie ‘n virus is nie, asof hierdie maar is soos almal graadkry.

Tech savvy Santa in die Kaap het ‘n video gemaak met die perfekte agtergrondmusiek terwyl ons moedig die trots-trane gesluk het!


Ons is hartbreek-trots op jou, Doktor Alta!

Categories
Die Lewe

Wie sal oorleef?

Daar is ‘n idioom wat iets te sê het oor twee honde wat oor ‘n been baklei, en die derde hond wat dan daarmee wegkom. In my ondervinding van honde is dit selde akkuraat – eerder dat die sterkste hond die been sal kry. Die kanse dat die derde hond maar net sal saambaklei is baie beter, en as dié derde hond dan die sterkste is, ja – dán sal hy of sy die been kry. Daar is ook ‘n kans dat al die honde mekaar morsdood sal baklei, en niemand op die ou einde die been kry nie …

Kom ons bly ‘n bietjie by die been-metafoor: as ek so rondom my kyk en lees, sal die derde (en waarskynlik ook ‘n vierde en vyfde) hond sommer in die geveg inspring sonder om te weet oor watter soort been dit gaan, of inderdaad of dit enigsins oor ‘n been gaan. Te oordeel aan die hedendaagse debatte, of eintlik meer die deelnemers daaraan, sal elke kat, kraai of haas wat verbygaan, ook sommer inspring en ‘n paar happe en gromme in die geveg belê! As die haas dan nou die geveg wen, die been kry en besef dat hy nie eintlik weet wat om daarmee te doen nie … wel, dan vertel hy sommer wyd en syd dat deesdae se slaaikoppe hulleself kwaadwillig as bene vermom, waarskynlik omdat hulle ‘n fyn-uitgewerkte plan het om van alle hase ontslae te raak! As die haas ‘n tand of twee verloor omdat hy sonder om te dink of ondersoek in te stel aan die been gehap het, sal dit nie sy skuld wees nie – nee, dit sal beslis die skuld wees van die honde wat oorspronklik die geveg begin het, die kat wat tydens die geveg te hard gemiaau het, die mens wat die been weggegooi het, die slaaikoppe wat die wêreld wil oorneem of die dier wie se been dit oorspronklik was. Nóóit sy eie skuld nie.

Clipart-library.com

Jy kry die boodskap, né?

Charles Darwin het jare gelede uitgewerk dat elke organisme nie sommer net kan oorleef nie – om dit te doen, moet hy beter as die ander aanpas en verander om die beste uit sy omgewing te haal. Sy teorie dat alle mense afstam van ‘n gemeenskaplike voorsaat, is nog steeds die onderwerp van baie vurige argumente. En al het baie mense en organisasies hom tot in die diepste afgronde verdoem, het Australië darem ‘n stad na hom vernoem!

Ek is nie genoeg van ‘n wetenskaplike om ‘n behoorlike opinie oor die teorie van evolusie of natuurlike seleksie, of die oorlewing van die sterkste te gee nie – my verbeelding gaan meng mos gedurig in met die wetenskaplike feite – ek weet wel dat ás daar so ‘n gemeenskaplike voorsaat was, hy (of sy) waarskynlik sy kop in skaamte sou laat sak, of dalk onbedaarlik aan’t lag gaan, oor die mannewales wat ons deesdae uithaal. Dit sou, te oordeel aan die toestand van ons planeet, gewis beter gewees het as ons maar liewer in die boomtoppe gebly het. As ons luister en lees wat die hoogs-ontwikkelde spesie van ons sê en skryf, was die ontwikkeling van taal ‘n tree agteruit en nie vooruitgang nie, né? (Sou ons Engelse familielede dit dalk “survival of the loudest” noem?)

Ek wonder maar net – sou dit dalk makliker wees om in ‘n grot te bly (al is jy aan jou hare soontoe gesleep) en jou afstammelinge daar binne te beveilig teen die elemente deur ‘n vuur voor die ingang te maak, as om nie net oor kernwapens, klimaatsverandering en beurtkrag wakker te lê nie, maar ook nog te moet baklei teen oningeligte, halfgebakte en doodeenvoudig onnosel uitsprake waarmee jy uit die kuberruim gebombardeer word? Dit voel vir my minder gekompliseerd om te besluit tussen neute en bessies vir ete, as tussen die effekte van geneties-gemanipuleerde groente, bestraalde melk of vleis wat met onbekende middels ingespuit is. Dit sou net makliker en vinniger wees om te kies – skreeu ek vir my buurvrou, stuur ek ‘n rooksein, of gooi ek ‘n klip in haar grot in om haar aandag te trek? Deesdae moet ek my bekommer oor die dodelike strale wat my brein binnedring as ek haar bel en die bose magte wat my dophou as ek vir haar ‘n boodskap stuur!

Ek dink ek wil die eerste hond wees. Dan gryp ek daardie been, hardloop na my grot toe, en vreet hom alleen op terwyl ek met onaardse gromme alle moontlike mededingers ontmoedig! Solank daar nou net nie ‘n mikroskyfie ingeplant is nie …

Categories
Die Lewe

Kies die beste opsie …

Ons onthou mos almal daardie vragies in toetse en eksamens – monkey puzzles het ons dit ewe minagtend genoem – waar jy die beste antwoord moet kies uit ‘n paar opsies. Saam met die jare het die besef gekom dat daardie vragies eintlik baie moeiliker was as wat dit op die oog af lyk. Partykeer is dit beslis makliker om net die antwoord uit jou geheue op te diep (of te raai, in ‘n noodgeval!) as om te kies uit ‘n klomp antwoorde wat almal ewe reg, of ewe verkeerd lyk. Boonop het party van daardie vragies nog ‘n angel in die stert ook gehad, en ‘n opsie bygevoeg wat sê “Al bogenoemde”, of “Geen van bogenoemde” – net plein wreed!

Tog – die maak van keuses is eintlik ‘n luukse, maar soos die meeste luukses kom dit teen ‘n prys. As skooljuffrou en as mamma het ek baie vir die kinders gesê dat dit een van die nadele van grootword is: jy het meer opsies, maar jy moet sélf verantwoordelikheid neem vir jou keuses!

My sus het die volgende prentjie vir my gestuur met die boodskap dat dit my dalk sal inspireer om iets te skryf. Ek hoop nie dit was die heks-konteks van die prentjie wat haar aan my laat dink het nie, maar as dit was, sien ek dit steeds as ‘n kompliment. Ek kies om ‘n goeie, gawe heks te wees. Hopelik sal die kinders en studente waarmee ek gewerk het, ook so dink. Ek is beslis ‘n mengsel van ‘n heks en ‘n hippie, en ai, ek wéns, ek wéns my besem kon vlieg!

Dankie, Bren!

Toe ons van die platteland af na ‘n groter plek getrek het, was dit skielik vir my baie lekker om soveel keuses te hê as ek inkopies doen. Dit het net vir ‘n rukkie lekker gebly – deesdae is dit amper te erg om al daardie besluite te moet neem en nog die beursie ook in ag te neem: los tamaties of ‘n pakkie? Margarien met 50%, 40%, 25% vet, geen versadigde vet, of sommer botter, propvol vet? Skottelgoedseep wat soos suurlemoen, pomelo of bessies ruik? Melk in ‘n sakkie, ‘n boksie of ‘n bottel? Vloeibare of poeierseep vir wasgoed? Kla ek nou met ‘n witbrood onder die arm – maar is daardie brood glutenvry, volkoring, lae GI, gesny of nie?

Inkopie-besluite is darem nie so erg nie – die besluit wat jy daar tussen die rakke neem, gaan behalwe vir ‘n plastieksmaak in jou mond, te min of te veel skuim in die wasbak of ‘n olielagie in jou koffiebeker darem nie ‘n langtermyn-invloed op jou lewe hê nie. Party besluite het wel ‘n groter en meer blywende invloed. Dink maar aan besluite wat jy geneem het en waaroor jy vandag baie dankbaar, of dalk baie spyt is! Ek kan aan baie sulke besluite dink.

Ek bly tog by my stelling dat keuses ‘n luukse is. Ek is so bly dat ek kan kies wie en wat ek in my kop toelaat. Die vet weet, daar is darem baie mense waarvan ek lees en hoor, of by wie ek verbygaan, en dan net met verligting kan dink: “Dankie tog ek hoef nie met jóú interaksie te hê nie!” Ek gaan nie name noem nie, maar ek sluit politici, kunstenaars, mense in die supermark-ry en karakters in die storie van die lewe in. Ek moet erken, dit verg baiekeer nogal ‘n stywe dosis selfbeheer om daardie interaksie te vermy, en dit is ‘n stryd wat ek daagliks stry en nog te dikwels verloor.

Ek besef deesdae wat ‘n groot voorreg dit is om te mag kies hoe ek my tyd deurbring. Wel, die meeste daarvan darem. Dit is inderdaad ‘n ongekende luukse om nie klokke, roosters en skedules te hê wat my bewegings dikteer nie. Ek geniet dit soveel meer om die voëltjies in my tuin dop te hou en hulle te probeer identifiseer deur na hulle vere, snawels en bene te kyk, as om met tieners te lawaai omdat hulle skoolbroeke te styf, rompe te kort, oorbelle te groot, lippe te pienk of hare te lank is!

Die eenvoudige keuse tussen “ja” en “nee” is moeiliker as wat dit klink, né? Ons het mos almal al die verstomming in iemand se oë gesien as jy ‘n versoek, of selfs ‘n uitnodiging, weier. Erger nog – in die werksituasie is ‘n opdrag gereeld as ‘n versoek opgedis, op só ‘n manier dat mens nie kon weier nie! So saam met die senioriteit kry ons nou ook die luukse om te kan “nee” sê sonder om verskonings te verskaf. Ek kan sê ek is te besig, sonder om te jok – as ek dinge doen waarvan ek hou, selfs al is dit iets soos lees, musiek luister, TV kyk, net sit met voëltjiesang in my ore en wierook in my neus, dan ís ek mos besig!

Ongelukkig is ons nie altyd so gelukkig om te kan kies nie – as mens kon kies watter hartseer, kwale en siektes oor jou pad kom, sou die lewe heelwat makliker gewees het. Ons het ook nie beheer oor die keuses wat ander uitoefen nie, en hulle keuses beïnvloed dikwels ook ons lewens. Wat ons wél kan kies, is ons reaksies op, en ons houdings oor hierdie dinge wat ons lewenspaadjies kruis en ons soms onderstebo hardloop. So … dankie dat jy gekies het om tot hier te lees, en kom ons kies van nou af elke keer nie net die BESTE opsie nie, maar beslis ook die POSITIEFSTE een!

Categories
Humor

Kom ons hou prysuitdeling

Ek lees dat die Black Lives Matter-beweging in die VSA vir die Nobel-vredesprys benoem is. Donald Trump ook. Ek wil my glad nie uitlaat oor die meriete van hierdie benoemings nie. Wat my wel opgeval het, is die kontras – dit het jou seker ook getref toe ek BLM en Donald Trump hierbo so amper in een asem genoem het! Die prys is al 101 keer aan 135 mense of organisasies toegeken.

Interessant genoeg is die prys van 1914 tot 1918 nie toegeken nie, en ook nie van 1939 tot 1943 nie. In 1944 is dit aan die Internasionale Rooikruis toegeken. Heel gepas. As die hele wêreld fokus daarop om mekaar uit te moor, verdien niemand ‘n vredesprys nie. Die Rooikruis het die prys in 1963 weer gewen.

Ek wou nie eintlik oor die geskiedenis van die Nobelprys skryf nie. Die ironie van sommige van die benoemings, veral die BLM-Trump kombinasie, het my aan die dink gesit, en my laat besluit dat ek sommer self ‘n paar pryse wil uitdeel. Al my wenners is suiwer op grond van my persoonlike oortuigings gekies – party met my tong lekker stewig in my kies! Die pryse word in alfabetiese volgorde gelys. Ek wil tog nou nie hê iemand moet aanstoot neem omdat hy/sy voor of na iemand anders genoem word nie:

*Aanhoudende, herhalende en irriterende TV-advertensies: Outsurance

*Absolute onbeholpenheid en nutteloosheid: Nkosinjani Speelman (Die burgemeester van my woonplek – ek glo hy kan hierdie prys deel met baie van sy eweknieë in ander dorpe en stede)

*Arrogansie en oneerlikheid, swak leierskap en ‘n gebrek aan morele waardes: Jacob Zuma

*Buigsaamheid, aanpasbaarheid en taaiheid: Elke eienaar van ‘n klein besigheid wat weier om moed op te gee

*Dapperheid en onselfsugtigheid: Alle dokters, verpleegsters en ander gesondheidswerkers

*Dubbele standaarde: Die meerderheid strukture oor die hele spektrum van georganiseerde godsdiens (Die gevaar bestaan dat daar ‘n geweldige geveg gaan ontstaan oor die verdeling van hierdie prys, want elkeen hier dink mos hy/sy/hulle het alleenreg op alles!)

*Eindelose vernuwende denke en aanpassing: Elke onderwyser in alle fases van onderwys

*Geduld en deursettingsvermoë in die aangesig van meedoënlose teenstand en kritiek: Cyril Ramaphosa

*Grenslose geduld en takt: Regter Raymond Zondo (Ek wou hierdie prys aan my man toeken, maar ek wil nie van Nepotisme beskuldig word nie!)

*Ondeurdagte uitsprake sonder enige logiese gronde: Die Facebook- en ander sosiale media-brigade (Ek weet nie hoe gaan ons hierdie prys verdeel nie, maar toemaar … hulle sal nie agterkom nie!)

*Onnoselheid: Die spul wat na amper ‘n jaar nog steeds nie verstaan dat ‘n masker oor jou mond én neus moet wees nie. (Regtig – dit neem minder tyd om ‘n kleuter te “potty train”!)

*Onverskrokkenheid en eerlikheid, basies al die teenoorgesteldes van die prys wat aan Jacob Zuma toegeken is: Thuli Madonsela

*Relevante satire en humorsin in reklame: Nando’s

*Volgehoue pogings om teen alles en almal te wees, en soveel moontlik sinlose uitsprake te maak terwyl alle logika uitgedaag word: Julius Malema

En dan, laastens, ‘n prys wat ek só graag persoonlik sou wou oorhandig, net omdat ek regtigwaar geëerd sou wees om dié man se hand te skud. Ek sukkel om op te som waarvoor ek die prys sal toeken, maar dit is iets soos onbaatsugtige en onbevooroordeelde hulpverlening aan ALMAL wat in die nood is, wêreldwyd en sonder enige voorbehoud: Imtiaz Suleiman van Gift of the Givers.

Categories
Die Lewe

Nog voëltjie-lesse

My vorige skryfsel, waarin ek genoem het dat daar baie idiome is wat met voëls te make het, het my laat besef hoe baie voëls bydra tot ons daaglikse spreektaal, en ook hoeveel ons by die veervolkies kan leer.

Die negatiewe siele onder ons hou mos graag alles met ‘n valkoog dop, met die hoop dat daar tog net ‘n sweempie slegte nuus sal wees waarin hulle kan rol. (En as daar nie is nie, skep hulle sommer bietjie fopnuus en versprei dit met verstommende toegewydheid, bygestaan deur diegene wat eindelose plesier daaruit put om bangmaakstories te vertel!) Daar is seker ‘n rede hoekom die Engelse taal praat van “bird-brained” as iemand nie kan of wil dink nie … alhoewel ek dink dit nogal ‘n belediging is vir die voëls. Meeste van hulle is nogal slim.

Verlede jaar het ‘n uil-paar drie kuikens in my buurvrou se skoorsteen uitgebroei en ons het eindelose plesier gehad van die kleintjies wat eers lomp op die dak rondgestrompel het, en toe later oral rond begin vlieg het. Hierdie jaar is hier heelwat uile en ons hoor hulle amper elke aand roep. Ons sien hulle ook gereeld teen skemer op hulle uitkykposte, maar waar hulle hierdie jaar gebroei het, is ‘n goed-bewaarde geheim. Vanoggend sit ‘n uil in die einste skoorsteen se opening wat na my erf toe wys, vir my en manlief en kyk terwyl ons vroeg-oggend die rose bekyk. Ek wonder toe – as uile nou sosiale media gehad het, sou ons nie nodig gehad het om te wonder nie, né? Ons sou met woorde en foto’s ingelig gewees het oor waar en hoeveel kuikens daar hierdie jaar was, hoekom hulle nie weer in die skoorsteen gebroei het nie, en ook wie die nuwe intrekker is! Dan giggel ek weer oor die mense wat so gretig is om inligting oor elke ete, nuwe aankoop en amper elke beweging te deel, maar hulle kwel (en my irriteer) oor toepassings wat toestemming wil hê om jou besonderhede te gebruik! As jy geheime wil hê, sê my uil-buurman, moet dit nie deel nie – nêrens nie!

Foto: Janaline

Wanneer ek soggens en laatmiddag vir die tuinvoëltjies saadjies op die pophuis se dak gooi, kan ek my verkyk aan hulle maniere. Die vinkies en mossies is gewoonlik eerste daar. Die ringnekkies sit en wag geduldig vir ‘n beurt. Namate die partytjie vorder, kuier almal heerlik saam, en gesels luidrugtig, elkeen in sy eie taal of op sy eie wysie. Sou dit nie dalk tot die mensdom se voordeel gestrek het as ons kon leer om so saam-saam te verkeer en dit wat beskikbaar is met mekaar te deel nie?

Daar is natuurlik altyd ‘n paar boelies, net soos in die menswêreld, maar die kleintjies laat hulle gewoonlik nie heeltemal afskrik nie – hulle gaan sit net op ‘n afstand en skel en gebruik gou-gou weer hulle kans om iets te ete te kry. Moet ons nie ook maar soos hulle, nie te gou wees om die aftog te blaas in die aangesig van boelies nie? Ek dink in baie gevalle wen die boelies in die menswêreld nie omdat hulle so sterk is nie, maar omdat hulle slagoffers te maklik stilbly en liewer iewers gaan sit en selfbejammerend kerm, eerder as om te raas en aan te hou probeer.

Nou ja, elke voël sing soos hy gebek is – ek verkies om op goeie dinge te fokus, al is dit soms maar moeilik. Ja, natuurlik raak ek angstig en bedruk, maar ek kies doelbewus om dit nie oral rond te verkondig nie. Ek sien die vreesaanjaende dinge raak, ek voel dit aan my lyf en in my hart en kop, maar ek hoef dit nie aan te dik en dan die wêreld in te stuur nie. Dit is nie volstruispolitiek nie, dit is my beskermingsmeganisme.

Categories
Die Lewe

Voëlkyk

Afrikaans, soos die meeste ander tale, het nogal baie idiome oor voëls. Nie al hierdie uitdrukkings is positief nie. Niemand wil seker graag ‘n aasvoël of ‘n kapokhaantjie genoem word nie. Aan die ander kant, ek beskou “mossie maar man” nogal as ‘n kompliment, want ek het nog nooit geglo dat fisiese afmetings belangriker is as innerlike krag nie.

Vir ‘n gewone voorstedelike tuin in ‘n stad, ver van enige natuurlike woude of bosse, is ek baie bevoorreg. Ek kry baie plesier uit die mossies wat so vrolik gesels, die raserige rooi- en geelvinke, die skamerige rooikopvinkies wat gewoonlik bietjie laat opdaag, maar dan ewe geduldig wag vir ‘n beurt by die kossies. Die koringvoëltjies, wat ek eers met mossies verwar het, is maar ongeskik en jaag gereeld die ander weg. Die hoep-hoep steur hom nie aan die gepeupel nie – hy stap ewe deftig vroeg-oggend op die gras rond en vang sy eie brekfis, baie dankie. Die kuifkophoutkapper stel nie belang in die saadjies wat die klein voëltjies eet nie – maar hy sit graag op die telefoondraad en bekyk na hulle baldadigheid. So nou en dan laat hoor hy ‘n luidrugtige “krrrrrr…” – of dit aanmoediging of afkeuring is, weet net hy! Tiptol is eerste om te sing in die oggend, en laaste in die aand, maar hy hou homself baie skaars en ek het hom nog net een keer gesien.

Kuifkophoutkapper (Foto: Pinterest)

Ons het sysies en kraalogies in die suurlemoenboom – die ou kleinstetjies wat my eindeloos vermaak as ek deur die kombuisvenster na hulle mannewales kyk. Dan is daar natuurlik die pragtige ou ringnek-duifies en die ongeskikte hadedas. Baie mense is driftig oor die Indiese mynas wat indringers is, maar hier by ons is hulle darem nie te veel nie, en ek het nog nie gesien dat hulle geniepsig is met die ander nie. (Hoewel ek glo dat hulle seker maar kanse vat!) Die kwikstertjies stap sommer tot op die stoep, en dan is daar natuurlik die stoute Piet-my-vrou wat antwoord as ek fluit, maar hy moet nie dink ek weet nie dat hy sy eiers in die ander voëls se nessies lê nie!

Ek verstaan hoekom daar so baie idiome is wat mense met voëls vergelyk. Daar is baie ooreenkomste. As ek so deur my vriende-, familie- en kennisse-boek blaai, sien ek hulle almal. Die raseriges wat heerlik kuier saam met almal, die skames wat liewer van ‘n afstand af die partytjie geniet, die laatkommers, die goed- en sleg-gemanierdes, die boelies. Daar is ook dié wat liewer gehoor as gesien word, en ook soos die tiptol baie graag die ander se geluide namaak, maar self nie juis sigbaar is nie. Party kom hoogmoedig voor, maar dalk is hulle maar net versigtig of bang. Oral is die hadedas en mynas … raserig, ongeskik en morsig. En het ons nie al almal paaie gekruis met ‘n Piet-my-vrou wat so graag verantwoordelikhede in ‘n ander skoot gooi nie?

Dankie tog vir dié wat meer plesier as irritasie veroorsaak. En veral, dankie vir dié wat tot op die stoep kom, al weet hulle nie sonder twyfel wat die gevolg gaan wees nie! Partykeer moet ons kanse vat, vertrou, hoop vir die beste …

Ek herken myself in baie van hulle.

Categories
Uncategorized

It’s raining, it’s pouring!

Rainy season in Thailand is from July to October. It is not the most popular tourist season. Monsoon rain is probably not the kind of weather you appreciate if you only have a week or two to enjoy a holiday.

I am deeply grateful for the rain. It provides a welcome reprieve from the heat. Yes, it is inconvenient sometimes, but in my case the pros far outweigh the cons. I love many things about rain, and maybe because the rain is so much more intense (and regular) here, those things become more pronounced:

I love umbrellas. When I was a little girl, one of the best gifts I received was a small plastic umbrella. I distinctly remember standing under the spray from the oscillating garden sprinkler, feeling like a magician under the protection of my own little dome. Here in Thailand, very few people go anywhere without an umbrella. Most students have theirs hanging from their backpacks. The colours, shapes and sizes are just part of the fun. They get up to all kinds of mischief with their umbrellas and it provides a visual feast in front of the classroom doors where they leave them during lessons.

I love the children’s sense of fun. I never tire of watching them jumping over, and very often into, puddles. Of course they splash each other “accidentally” – they are children! I love how they instantly remove their shoes (sometimes, but not always, producing a pair of plastic or rubber slip-ons from their backpacks) and keep going through the water which is often ankle-deep. Remember, this is monsoon rain – it does not drain away instantly. It remains entertaining to watch a student shaking a tree branch to drench unsuspecting friends after a downpour. The best part is how nobody is ever annoyed by this – the victims, onlookers and perpetrator always join together in uproarious laughter!

I love getting drenched. Luckily I do, because it happens to me quite often. I cannot stay indoors when rain is in the air as that is virtually all the time. So, when I’m out on a ride and the rain starts, I have to stop and put on my raincoat (which is always in the handlebar basket) but by the time I’m covered up, it’s actually too late. So lately I just enjoy the shower and dry off again. Apparently Thai germs cannot swim, as I have not yet had even as much as a light cold.

I love thunder and other rain sounds. Being a Free State child, I have always loved that deep and powerful rumbling. It sounds exactly the same here, and I must admit, it does spark a bit of homesickness. The sound of the rain on the corrugated iron roof is much, much louder here – not just because the roof is a bit lower but because the rain comes down here like nothing I have ever experienced. It literally crashes down, blinding, deafening and seemingly non-stop. It always stops, yes. Eventually. Even the serious tropical storm Sonca which has caused havoc in my immediate surroundings, is moving away after three days of constant rain.

I love how the sun always comes back after the rain. There is a life lesson here, of course. I will refrain from pointing out the obvious …

Lastly, and very importantly of course, I absolutely love rainbows. I don’t care what scientists say about reflection, refraction and light spectrums. Rainbows are magic miracles and I will never cease to be awed by their appearance. I see many rainbows here, probably because the sun grasps every opportunity, however short, to appear between the very frequent showers. And even though I’ve often said that Asia is a totally different world, the rainbow colours here do not differ from those in South Africa. They shimmer over these kind, fun-loving people in exactly the same combination and order as over my own rainbow nation at the bottom end of Africa.

Unfortunately, despite being named for the magic arc, my people don’t appear to understand the harmony that goes with a rainbow. Maybe someday we will learn.