Categories
Die Lewe

Kies die beste opsie …

Ons onthou mos almal daardie vragies in toetse en eksamens – monkey puzzles het ons dit ewe minagtend genoem – waar jy die beste antwoord moet kies uit ‘n paar opsies. Saam met die jare het die besef gekom dat daardie vragies eintlik baie moeiliker was as wat dit op die oog af lyk. Partykeer is dit beslis makliker om net die antwoord uit jou geheue op te diep (of te raai, in ‘n noodgeval!) as om te kies uit ‘n klomp antwoorde wat almal ewe reg, of ewe verkeerd lyk. Boonop het party van daardie vragies nog ‘n angel in die stert ook gehad, en ‘n opsie bygevoeg wat sê “Al bogenoemde”, of “Geen van bogenoemde” – net plein wreed!

Tog – die maak van keuses is eintlik ‘n luukse, maar soos die meeste luukses kom dit teen ‘n prys. As skooljuffrou en as mamma het ek baie vir die kinders gesê dat dit een van die nadele van grootword is: jy het meer opsies, maar jy moet sélf verantwoordelikheid neem vir jou keuses!

My sus het die volgende prentjie vir my gestuur met die boodskap dat dit my dalk sal inspireer om iets te skryf. Ek hoop nie dit was die heks-konteks van die prentjie wat haar aan my laat dink het nie, maar as dit was, sien ek dit steeds as ‘n kompliment. Ek kies om ‘n goeie, gawe heks te wees. Hopelik sal die kinders en studente waarmee ek gewerk het, ook so dink. Ek is beslis ‘n mengsel van ‘n heks en ‘n hippie, en ai, ek wéns, ek wéns my besem kon vlieg!

Dankie, Bren!

Toe ons van die platteland af na ‘n groter plek getrek het, was dit skielik vir my baie lekker om soveel keuses te hê as ek inkopies doen. Dit het net vir ‘n rukkie lekker gebly – deesdae is dit amper te erg om al daardie besluite te moet neem en nog die beursie ook in ag te neem: los tamaties of ‘n pakkie? Margarien met 50%, 40%, 25% vet, geen versadigde vet, of sommer botter, propvol vet? Skottelgoedseep wat soos suurlemoen, pomelo of bessies ruik? Melk in ‘n sakkie, ‘n boksie of ‘n bottel? Vloeibare of poeierseep vir wasgoed? Kla ek nou met ‘n witbrood onder die arm – maar is daardie brood glutenvry, volkoring, lae GI, gesny of nie?

Inkopie-besluite is darem nie so erg nie – die besluit wat jy daar tussen die rakke neem, gaan behalwe vir ‘n plastieksmaak in jou mond, te min of te veel skuim in die wasbak of ‘n olielagie in jou koffiebeker darem nie ‘n langtermyn-invloed op jou lewe hê nie. Party besluite het wel ‘n groter en meer blywende invloed. Dink maar aan besluite wat jy geneem het en waaroor jy vandag baie dankbaar, of dalk baie spyt is! Ek kan aan baie sulke besluite dink.

Ek bly tog by my stelling dat keuses ‘n luukse is. Ek is so bly dat ek kan kies wie en wat ek in my kop toelaat. Die vet weet, daar is darem baie mense waarvan ek lees en hoor, of by wie ek verbygaan, en dan net met verligting kan dink: “Dankie tog ek hoef nie met jóú interaksie te hê nie!” Ek gaan nie name noem nie, maar ek sluit politici, kunstenaars, mense in die supermark-ry en karakters in die storie van die lewe in. Ek moet erken, dit verg baiekeer nogal ‘n stywe dosis selfbeheer om daardie interaksie te vermy, en dit is ‘n stryd wat ek daagliks stry en nog te dikwels verloor.

Ek besef deesdae wat ‘n groot voorreg dit is om te mag kies hoe ek my tyd deurbring. Wel, die meeste daarvan darem. Dit is inderdaad ‘n ongekende luukse om nie klokke, roosters en skedules te hê wat my bewegings dikteer nie. Ek geniet dit soveel meer om die voëltjies in my tuin dop te hou en hulle te probeer identifiseer deur na hulle vere, snawels en bene te kyk, as om met tieners te lawaai omdat hulle skoolbroeke te styf, rompe te kort, oorbelle te groot, lippe te pienk of hare te lank is!

Die eenvoudige keuse tussen “ja” en “nee” is moeiliker as wat dit klink, né? Ons het mos almal al die verstomming in iemand se oë gesien as jy ‘n versoek, of selfs ‘n uitnodiging, weier. Erger nog – in die werksituasie is ‘n opdrag gereeld as ‘n versoek opgedis, op só ‘n manier dat mens nie kon weier nie! So saam met die senioriteit kry ons nou ook die luukse om te kan “nee” sê sonder om verskonings te verskaf. Ek kan sê ek is te besig, sonder om te jok – as ek dinge doen waarvan ek hou, selfs al is dit iets soos lees, musiek luister, TV kyk, net sit met voëltjiesang in my ore en wierook in my neus, dan ís ek mos besig!

Ongelukkig is ons nie altyd so gelukkig om te kan kies nie – as mens kon kies watter hartseer, kwale en siektes oor jou pad kom, sou die lewe heelwat makliker gewees het. Ons het ook nie beheer oor die keuses wat ander uitoefen nie, en hulle keuses beïnvloed dikwels ook ons lewens. Wat ons wél kan kies, is ons reaksies op, en ons houdings oor hierdie dinge wat ons lewenspaadjies kruis en ons soms onderstebo hardloop. So … dankie dat jy gekies het om tot hier te lees, en kom ons kies van nou af elke keer nie net die BESTE opsie nie, maar beslis ook die POSITIEFSTE een!

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

3 replies on “Kies die beste opsie …”

Scrapy, die oomblik wanneer ‘n onderwyser die negatiwiteit die oorhand laat kry, is dit verby vir onnie én kinders! Ek is in my skoolhou-dae van “onrealistiese positiwiteit” beskuldig … maar dit het my deurgedra.

Liked by 1 person

Leave a comment