Categories
Die Lewe

Wie sal oorleef?

Daar is ‘n idioom wat iets te sê het oor twee honde wat oor ‘n been baklei, en die derde hond wat dan daarmee wegkom. In my ondervinding van honde is dit selde akkuraat – eerder dat die sterkste hond die been sal kry. Die kanse dat die derde hond maar net sal saambaklei is baie beter, en as dié derde hond dan die sterkste is, ja – dán sal hy of sy die been kry. Daar is ook ‘n kans dat al die honde mekaar morsdood sal baklei, en niemand op die ou einde die been kry nie …

Kom ons bly ‘n bietjie by die been-metafoor: as ek so rondom my kyk en lees, sal die derde (en waarskynlik ook ‘n vierde en vyfde) hond sommer in die geveg inspring sonder om te weet oor watter soort been dit gaan, of inderdaad of dit enigsins oor ‘n been gaan. Te oordeel aan die hedendaagse debatte, of eintlik meer die deelnemers daaraan, sal elke kat, kraai of haas wat verbygaan, ook sommer inspring en ‘n paar happe en gromme in die geveg belê! As die haas dan nou die geveg wen, die been kry en besef dat hy nie eintlik weet wat om daarmee te doen nie … wel, dan vertel hy sommer wyd en syd dat deesdae se slaaikoppe hulleself kwaadwillig as bene vermom, waarskynlik omdat hulle ‘n fyn-uitgewerkte plan het om van alle hase ontslae te raak! As die haas ‘n tand of twee verloor omdat hy sonder om te dink of ondersoek in te stel aan die been gehap het, sal dit nie sy skuld wees nie – nee, dit sal beslis die skuld wees van die honde wat oorspronklik die geveg begin het, die kat wat tydens die geveg te hard gemiaau het, die mens wat die been weggegooi het, die slaaikoppe wat die wêreld wil oorneem of die dier wie se been dit oorspronklik was. Nóóit sy eie skuld nie.

Clipart-library.com

Jy kry die boodskap, né?

Charles Darwin het jare gelede uitgewerk dat elke organisme nie sommer net kan oorleef nie – om dit te doen, moet hy beter as die ander aanpas en verander om die beste uit sy omgewing te haal. Sy teorie dat alle mense afstam van ‘n gemeenskaplike voorsaat, is nog steeds die onderwerp van baie vurige argumente. En al het baie mense en organisasies hom tot in die diepste afgronde verdoem, het Australië darem ‘n stad na hom vernoem!

Ek is nie genoeg van ‘n wetenskaplike om ‘n behoorlike opinie oor die teorie van evolusie of natuurlike seleksie, of die oorlewing van die sterkste te gee nie – my verbeelding gaan meng mos gedurig in met die wetenskaplike feite – ek weet wel dat ás daar so ‘n gemeenskaplike voorsaat was, hy (of sy) waarskynlik sy kop in skaamte sou laat sak, of dalk onbedaarlik aan’t lag gaan, oor die mannewales wat ons deesdae uithaal. Dit sou, te oordeel aan die toestand van ons planeet, gewis beter gewees het as ons maar liewer in die boomtoppe gebly het. As ons luister en lees wat die hoogs-ontwikkelde spesie van ons sê en skryf, was die ontwikkeling van taal ‘n tree agteruit en nie vooruitgang nie, né? (Sou ons Engelse familielede dit dalk “survival of the loudest” noem?)

Ek wonder maar net – sou dit dalk makliker wees om in ‘n grot te bly (al is jy aan jou hare soontoe gesleep) en jou afstammelinge daar binne te beveilig teen die elemente deur ‘n vuur voor die ingang te maak, as om nie net oor kernwapens, klimaatsverandering en beurtkrag wakker te lê nie, maar ook nog te moet baklei teen oningeligte, halfgebakte en doodeenvoudig onnosel uitsprake waarmee jy uit die kuberruim gebombardeer word? Dit voel vir my minder gekompliseerd om te besluit tussen neute en bessies vir ete, as tussen die effekte van geneties-gemanipuleerde groente, bestraalde melk of vleis wat met onbekende middels ingespuit is. Dit sou net makliker en vinniger wees om te kies – skreeu ek vir my buurvrou, stuur ek ‘n rooksein, of gooi ek ‘n klip in haar grot in om haar aandag te trek? Deesdae moet ek my bekommer oor die dodelike strale wat my brein binnedring as ek haar bel en die bose magte wat my dophou as ek vir haar ‘n boodskap stuur!

Ek dink ek wil die eerste hond wees. Dan gryp ek daardie been, hardloop na my grot toe, en vreet hom alleen op terwyl ek met onaardse gromme alle moontlike mededingers ontmoedig! Solank daar nou net nie ‘n mikroskyfie ingeplant is nie …

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

Leave a comment