Categories
Die Lewe

Om saggies te val, op te klim en wéér te ry …

Een van baie dinge waarmee ek in my lewe gesukkel het, maar darem uiteindelik reggekry het, is fietsry. Ek kon my kleintyd verkyk aan my groot sussies wat met hulle swaar skooltasse agterop hulle fietse ewe flink in die oprit van ons huis “free” terwyl hulle kruisbeen op die een trap staan – en dan, sodra hulle deur die hek is, behendig die ander been oor die saal swaai, elegant gaan sit en terwyl ek die hek toemaak, straat-af verdwyn! Ek moet nou bysê dat hierdie sussies 8 en 10 jaar ouer as ek is, en dat hierdie herinnering kom van voordat ek skool toe is.

Ek was seker so 10 of 11 jaar oud toe ek een van hulle se blou Raleigh fiets geërf het. Ai, ek het my menigmale disnis geval in daardie einste oprit, soos ek hardkoppig probeer het om die kuns te bemeester. Uiteindelik kon my “groot” nefie, Johan (wat maar net ‘n jaar ouer as ek is, maar in my oë alles kon doen) my leer ry. Ek dink die sukses van die fietsrylesse het meer in selfvertroue as vaardigheid of balans gelê, want hy het agter my aangehardloop en heeltyd geskree: “Ek het jou, ek het jou! Trap net!” Ek is redelik seker dat hy my eintlik na ‘n paar treetjies gelos het om self te ry. Ek onthou goed hoe ek amper altyd oor my skouer gekyk het, gesien het dat hy nie meer die fiets vashou nie … en dan geval het!

Nou moet ek byvoeg dat ek later ‘n meester was van saggies val. Tussen die twee sementstroke van die oprit was ‘n strook gras en na ‘n paar nerf-af knieë en elmboë het ek dit meestal reggekry om op die gras te val. Dit was maar Vrystaat-gras, beslis nie altyd lowergroen en sag nie, maar darem beter as die growwe, grys sement. Nog iets wat in my guns getel het, was my verbete vasberadenheid. My pa het ‘n onverbiddelike reël gehad dat ek nie in die straat met my fiets mag kom voordat ek nie behoorlik kon ry nie – en ek wou só graag saam met my nefie gaan ry! Van moed opgee was daar geen sprake nie. (Dit was voor die dae van beskermende helms en skerms vir knieë en elmboë!) Ek het maar op my tande gebyt, die trane weggeknip, as dit nodig was die bloed afgevee en teruggeklim op die fiets wat my liewe, streng leermeester teen daardie tyd alweer regop gehou het.

Kan ons mekaar nie ook maar só help om die lewe se fiets te ry nie? Dit is mos nie soveel moeite om iemand vir die eerste paar treetjies regop te hou nie. Jy sal gou-gou ongemerk kan laat gaan, maar steeds naby genoeg bly om aanmoediging te gee, en as dit dan nodig is, bietjie spoegies aansmeer waar die nerwe gewaai het as dinge tóg skeefloop. Hoekom nie die val-slag bietjie sagter maak as jy kan nie? Jy kan mos maar help met die herstel-poging, al is dit net deur die fiets weer op te tel. Dit is darem só die moeite werd om saam op en af te spring en hande te klap as jou leerling die kuns bemeester om alléén reg te kom!

Ons moet ook dalk leer om nie so maklik moed op te gee nie. Die verlies aan waardigheid as ons misluk, weeg waarskynlik vir ons te swaar. As ons val, is ons eerste reaksie mos om te kyk wie het gesien! Pleks ons maar opstaan en weer probeer – die gekneusde ego sal gou plek maak vir die bevrediging van sukses. En ons moet leer om aan te hou trap, al is dit deur ‘n paar versteekte trane, en nié heeltyd oor ons skouer te kyk nie. Vertrou jouself, en die een wat jou help.

Dink net aan die vreugde as jy met die wind in jou hare en jou fietsklokkie wat vrolik lui, die straat af jaag!

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

One reply on “Om saggies te val, op te klim en wéér te ry …”

Leave a comment