Categories
Die Lewe

Jy mag ophou voor die einde

Ek is lid van ‘n paar “boekwurm-groepe” op sosiale media. Onlangs vra iemand of ander leesgieriges ook al ‘n boek begin het, maar dan eenkant gesit het en nie klaar gelees het nie. En daar ontketen dit toe amper ‘n klein oorloggie!

Ek hoef maar net na myself te kyk om te sien dat boekmense vreeslik passievol kan wees oor boek-verwante onderwerpe. Die heen-en-weer stryery oor die verpligting om ‘n boek klaar te lees of nie, het my aan die dink gesit oor ‘n ooreenkoms tussen ons verhoudings met boeke en dié met mense om ons.

Dit het al baie met my gebeur dat ek ‘n boek begin lees, maar dan glad nie daardeur geboei word nie, of dat ek ná ‘n paar hoofstukke doodeenvoudig nie meer verder wil of kan lees nie. Partykeer is die karakters net nie na my sin nie – een van die boeke waar dit gebeur het, was nogal ‘n blitsverkoper en is daarna in ‘n suksesvolle film verwerk – The Girl on the Train. Ek kon eenvoudig nie van één karakter hou nie! Dit gebeur ook dat die karakters te suikersoet en onverteerbaar goed is. Partykeer is die storie te gewelddadig, partykeer weer te saai, soms is daar iets in die skryfstyl wat my irriteer, dalk is die intriges te veel of te ingewikkeld, te min of te voorspelbaar. Dit gebeur ook dat die skrywer se naam, die boek se titel, of die omslag-ontwerp my aangetrek het, maar toe nie aan my verwagtinge voldoen het nie.

Nét so werk dit met mense en hulle verhoudings. Ek praat nou van alle verhoudings – werkverhoudings, vriendskappe, familieverhoudings en ja, selfs romantiese verhoudings. Soms is twee mense net nie pasmaats nie. Soms wil die vonkie net nie in ‘n behoorlike vlam ontwikkel nie. Partykeer is een of albei partye te negatief, of dalk te saggeaard. Dit mag wees dat almal wat hulle ken, dink die twee karakters is “blitsverkopers”, maar die kombinasie werk net nie uit nie. Party verhoudings het ongelukkig te veel geweld, party is weer te saai. Soms is daar te veel irritasies, te veel intriges, dalk is daar te min vonk, te veel bagasie … net soos met boeke en lesers. En net soos my laaste boeke-voorbeeld, partykeer het ‘n uiterlike voorkoms of reputasie aanloklik voorgekom, maar toe nie diep genoeg gestrek nie, of die werklikheid was nie soos die ideaal nie.

En wat dan gemaak? My standpunt oor boeke kan amper net so toegepas word op mense.

Daar is genoeg mooi boeke in die wêreld, ek hóéf nie te worstel met ‘n boek wat ek nie geniet nie. Net so is daar genoeg mense in die wêreld met wie ek gemaklik in ‘n verhouding kan wees, sodat ek nie nodig het om my lewe te kompliseer met mense wat nie waarde daaraan toevoeg nie. Dit klink koelbloedig, ja, maar is ek dit nie aan myself verskuldig om my omgewing te suiwer van konflik en negatiwiteit nie? Onthou, ek sit hierdie boek eers neer nadat ek ‘n paar hoofstukke gelees het – ek gooi dit nie sommer eenkant toe net oor ek iets daaroor gehoor of gelees het nie. Nee, ek probeer eers, dink en oorweeg, en dan besluit ek. Baie belangrik – ek respekteer steeds daardie boek, en die skrywer: ek skeur dit nie uitmekaar en gooi dit in die vuur nie. Nee, ek maak dit net toe en bêre dit. Kan ons dit nie maar met mense ook so ‘n bietjie sagter doen nie? Sou die wêreld nie ‘n beter plek gewees het as mense mekaar minder verskeur en verbrand het nie?

Dit het wel ook al gebeur dat ek ‘n boek eenkant sit, net om dit later (soms jare later) weer op te tel, en dan geniet ek elke woord. Ek was dalk net nie met my eerste probeerslag reg ingestel nie, of op daardie stadium nie op die regte plek daarvoor nie. Dinge kan verander. Die boek kan nie, maar ék kan! Hoeveel wroeging sou ons gespaar wees as ons dit ook van mense kon onthou – ek kan nie die ander mens verander nie, maar ék kan wel verander, die konteks kan verander, my perspektief kan verskuif, my denkwyse kan verbreed … en dan kan dinge dalk anders uitwerk.

Maar as dit nié gebeur nie, en daardie boek word nooit klaar gelees nie, is dit ook nie die einde van die wêreld nie. Daar is ander mense wat daardie boek gaan geniet, en daar is ander boeke wat ek gaan geniet. Mense, soos boeke, verdien soms ‘n tweede kans en soms is ‘n ander kombinasie nodig.

Maar een ding bly waar – ék, en net ek, kan my boeke uitkies, en besluit tot waar ek gaan lees. Net soos my mense.

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

8 replies on “Jy mag ophou voor die einde”

Hier gooi jy nou weer ń spul waarhede op my skoot uit waaraan ek moet herkou. Veral ek. Ek is aan die een kant nie ń sosiale mens nie, maar tog is dit vir my heerlik om nuwe mense te ontmoet. Nes met boeke, soos jy sê. Boeke hou egter nie sommer my aandag nie.
Ek gaan oor jou skrywe moet dink, Christa. Ernstig. Dalk beweeg ek te vinnig aan.
Ai tog.
🌺

Liked by 1 person

Ek hou baie van jou vergelyking! Dit is treffend en baie waar! Mense is geneigd om ander so gou te oordeel – en baie mense doen dit op grond wat ander se – en die ‘ander’ gebruik hul geleentheid om hulself in ‘n goeie/beter lig te plaas om so die ander persoon in ‘n slegter lig te plaas – wat onregverdig is teenoor daardie persoon. Mense moet mense kans gee – nes die boeke waarvan jy praat. Jy moet die boek self lees – al is dit na ‘n baie lang tyd – en so agterkom dat die boek eintlik ook sy goeie dele het.

Liked by 1 person

Leave a comment