Categories
Die Lewe

Handewas help nie

Janus was ‘n Romeinse god. Sy bynaam was Tweegesig omdat hy altyd uitgebeeld is met twee gesigte wat in teenoorgestelde rigtings kyk. Die Romeine het geglo dat Janus boosheid uit hulle huise en geboue moes hou. Hy was besonder geskik vir dié taak omdat hy beide die verlede en die toekoms kon sien. Die maand Januarie is ook na hom vernoem, en hy was, anders as party ander mitologiese figure, nie ‘n boelie nie. Moderne tweegesigte, daarenteen, is wel vreesaanjaend. Kom ek verduidelik.

Dubbele standaarde is ‘n vreeslike monster. Dit verander van vorm en het baie verskillende name. Dit het skerp kloue en giftige tande wat oral ingeslaan word. Ons noem dit soms sommer skynheiligheid. Partykeer is dit ongevraagde raad wat oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe uitgedeel word: godsdiens, die huwelik, ouerskap, dissipline, werk-etiek … ongelukkig is die raadgewer dikwels hoegenaamd nie ‘n voorbeeld van die vrugte van dié raad nie.

Soms verskyn die monster in die vorm van uitsprake en stellings wat gemaak word oor aktuele sake. ‘n Onlangse voorbeeld is die dame wat in haar kantoor of woonkamer sit en ‘n nuusberig raaksien van militêre konflik ‘n paar duisend kilometer van haar veilige, voorstedelike kokon. Sy kies dadelik kant, waarskynlik gegrond op haar oppervlakkige wêreldkennis, of dalk selfs ‘n stukkie onthou van ‘n laerskool-geskiedenisles of ‘n Kinderbybel-oorlogstorie. Nou moedig sy “haar span” geesdriftig aan, basuin dit op haar sosiale media platforms uit, verander selfs haar profiel-foto om haar voorkeur te wys.

Intussen breek daar ‘n opstand naby aan haar uit. Mense is kwaad oor dienslewering, of die gebrek daaraan. Hulle gooi klippe, brand bande, versper paaie. Onmiddellik is dieselfde dame woedend. “Geweld kan nooit goedgekeur word nie!” gil sy op dieselfde sosiale media. Hartroerend beskryf sy die angs in haar moederhart as sy haar kinders by die skool moet gaan haal omdat dit so gevaarlik is om hulle daar te los. “Die polisie is nutteloos! Hulle moet die moeilikheidmakers voor die voet skiet!” beveel sy aan. En die ironie is nie vir haar, wat sekondes gelede geweld verdoem het, sigbaar nie.

Ai, mevrou, verduidelik vir my hoe geweld in ‘n ander land vermaaklik is, prysenswaardig selfs, maar as dit nader aan jou drumpel kom, is dit skielik sinloos en verwerplik? Besef jy dat daardie missiele wat jy gister toegejuig het, ook op kinders, pappas en mammas geval het? Verstaan jy régtig nie dat bomme, klippe, brandende bande en polisiekoeëls, ongeag uit watter rigting dit kom, almal geweld pleeg nie?

En jy, meneer, wat jou kop skud dat jou veelvuldige kenne bewe oor die meisies wat skamel-gekleed op loopplanke of skerms verskyn? Terwyl jy hoogheilig jou pofferhandjies oor jou boep vou, veroordeel jy hulle omdat hulle geen respek vir hulle liggame het nie, en ag jouself gelukkig dat dit nie jóú dogter / vrou / meisie is nie. Regtig? Is die gemorskos, drank en sigarette waarmee jy jou liggaam bombardeer jou manier om respek te betoon? Wanneer jy uit die Bybel aanhaal om die jonges se tatoeëermerke, lewenstyl en modes te verdoem, onthou jy dat vuil taal, onbehoorlike gedagtes, en ja, ‘n geskinder, deur dieselfde Bybel afgekeur word?

Die ouer wat so genadeloos kritiek uitspreek oor onderwysers wat nie beheer het oor die kinders in hulle klasse nie, en dan nog wil aanspraak maak op ‘n behoorlike salaris – besef jy dat jóú kind se gebrek aan selfdissipline en respek (wat hy waarskynlik by jou leer) die oorsaak is dat die arme onderwyser moed verloor? Of verwag jy dat daardie “slegte” onderwyser vir jou kind daardie basiese lewensvaardighede moet aanleer voordat hy by die akademiese werk kan uitkom? Wanneer jy ‘n liegstorie uitdink en ‘n baie deursigtige verskoningsbriefie skool toe stuur nadat jy jou kind op ‘n selfgemaakte langnaweek geneem het, verstaan jy dat jy hom leer dat oneerlikheid en pligsversuim aanvaarbaar is – solank dit nie deur iemand anders gepleeg word nie?

Onderwyser – jy wat saam met jou leerders moedeloos kwaad en ontmoedig word omdat keuring vir sportspanne, beurse en toelating tot akademiese instellings nie op meriete gedoen word nie, maar op grond van allerlei ander kwotas en kriteria, besef jy dat jy dieselfde doen as jy sekere kinders in jou klas anders behandel as ander?

Die voorbeelde is legio, die skuldiges ontelbaar. Wie is nié skuldig daaraan om ‘n sappige storie te deel nadat jy net eers gesê het “Ek wil nou nie skinder / oordeel / lelik wees nie…” of “Ek is nie ‘n rassis nie …”? Pontius Pilatus het al gesien dat daardie ritueel van jou hande in onskuld was, nie werk nie. Jy bly skuldig.

Dalk moes ons vir Janus met die twee gesigte kon inroep: eerstens sodat ons kan sien dat ‘n tweegesig regtig nie aantreklik is nie; en ook sodat hy ons betyds kon herinner aan die reël dat dit wat vir ander geld, ook vir mý geld. En andersom. Veral andersom.

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

Leave a comment