Categories
Die Lewe Positiwiteit

Binne sekondes splinternuut

Met manlief wat ‘n geesdriftige motorsport-kyker is, het ek maar so deur die jare ook begin saamkyk. Dit is nogal opwindend, veral as mens ‘n bietjie meer weet van die samestelling van die spanne, die reëls, die persoonlikhede en politiek. Een aspek wat my nog altyd op die punt van my stoel laat sit het, is die kuipestoppe.

Die vinnigste kuipestop ooit is in 2019 in Brazilië aangeteken. Die charismatiese Max Verstappen se kuipespan het in ‘n verstommende 1.82 sekondes ál vier die Red Bull renmotor se bande vervang.

As dinge skeefloop op die baan, is ‘n vinnige besoek aan die kuipe dikwels ál wat tussen die eindstreep en onttrek staan. Daardie spanne kan wondere verrig, en dit in baie kort tydjies! As twee van die vierwiel-blitse te naby aan mekaar gekom het, of ‘n ander struikelblok soos ‘n muur of ‘n wal beland in die pad, kan groot en klein dele van die motor, natuurlik binne sekere reëls, blitsig vervang word.

Nou dink ek … sê nou maar ek het so ‘n vaardige kuipespan gehad wat my binne sekondes kon vernuwe? (En nee, ek dink nié nou aan skoonheids-gurus met kwassies, roompies en spuitnaalde nie!)

As ek gou ‘n draai in die kop-kuipe kon gaan maak, waar een spanlid blitsig die dekseltjie afskroef terwyl die volgende een regstaan met ‘n nuwe dinkmasjien … blinkskoon en sonder ou, verroeste denkwyses, maar darem nog met die wortels in die realiteit. Uit met die konvensionele, in met die revolusionêre! Weg met uitgediende tradisies, welkom aan verligte idees! Woerts-warts, in met die nuwe, skroef toe, en daar gaat ek weer! Wroeeem, sommer met nuwe woema! Dink net, man …

Ek sou ook nie nee dankie sê vir ‘n vinnige besoek aan die kyk-kuipe nie: net om weer ‘n slag ‘n vars perspektief te kry, blink-gepolitoerde oë wat dwarsdeur negatiewe perspektiewe kan kyk en die reënboog raaksien, in plaas van die donderwolke!

Wat van die praat-pits waar hulle binne sekondes my manier van praat oordoen? Weg met skinder, kla en kerm – dié word vinnig uitgepluk en in ‘n oogwenk vervang met positiewe, bemoedigende en hoopvolle praatjies, mooi stories en slegs bewese waarhede.

Dan is daar nog die hande-kuipe. Daar kry ek ‘n flukse paar hande wat nie afbreek nie, nie vuiste maak nie, nie dwarsklappe uitdeel nie (alhoewel dié probleem al by die praat-pits ook aangespreek is) maar eerder bou, help, uitdeel, groet, gee … alles sonder om erkenning te verwag, natuurlik.

My voete kan ook vervang word, natuurlik – met ‘n splinternuwe paar wat nie bang is om op onbekende paadjies te stap nie, dapper stappers wat kan lei as dit nodig is maar ook ‘n waardige leier kan volg, en soms sommer net alleen ook die pad kan aandurf, al is dit dalk vreemd en selfs ‘n bietjie vreesaanjaend. Die nuwes is ook vinniger uit die blokke – ai, hoeveel tyd is al gemors deur ‘n nuttelose gewag voordat iets aangepak word?

Sal my slim span vir my ‘n nuwe hart ook kan organiseer? Groter, sagter, maar partykeer harder, kleiner …

Daar is nog ‘n hele paar dele wat vervang kan word, maar laat ek liewer nie my wenslysie te lank maak nie – twee sekondes is ook net só lank!

My enjin brul sommer van opgewondenheid!

By Christa

Writing about ordinary things that inspire me ...

Leave a comment